Ons hou konsert

Oktober 25, 2014 in Twakpraatjies

Roar

Verlede week was weer Durbanville Voorbereidingskool se jaarlikse konsert.  Waar almal in die skool aan deelneem.  En dit maak nie saak wat hulle opvoer nie, daar is altyd plek genoeg plek vir almal.  Hierdie week was geen uitsondering nie. Ons het die Vrydagaandvertoning gaan bywoon.

Roar!  (Lion King).

Ons daag vroeg op.  My vrou het gesê ons moet.  Neem rustig ons plekke in.  Daar is baie min mense nog, maar rondom ons begin mense plaasneem en stemme opklink.  Agter ons klink ‘n vreemde aksent op.  Dis amper Afrikaans, maar ek verstaan dit net-net nie.  Dit blyk Vlaams te wees.  Ek wonder of Jan van Riebeek en sy pelle ook so vinnig gepraat het.

‘n Gesin wat oor drie geslagte strek skuif in die ry voor ons in.  Die man is groot.  Gelukkig skuif hulle verby.  Maar ek het nie rekening gehou met hoe baie hulle is nie.  Uiteindelik neem die groot man tog reg voor my plaas.  Nou het ek ‘n perfekte uitsig van ‘n borselkop met twee ore reg voor my.  Pikant, maar nie heeltemal waarvoor ek gekom het nie.  Ek kan darem weerskante van hom verbykyk.  Nou nie altwee kante gelyk nie, alternerend, bedoel ek nou.

Die konsert begin.  Die openingstoneel is die Circle of Life.  Die props en die kostuums is vernuftig.  Kameelperde, luiperds, zebras, en natuurlik die leeu clan.  Die koreografie skep hierdie konstante kleurvolle beweging saam met die musiek.  Hoendervleismateriaal.

Die olifante wat opkom se kopstukke neem my terug na my eerste blootstelling aan die toneelwêreld.  In sub A was ek ‘n muis in die konsert gewees.  Ons het muispakke aangehad met ‘n keëlvorming kartongesig wat met broekiekouse oor ons koppe getrek is en dan agter ons ore vasgekram is dat dit nie afval nie.  Toe juffrou Baard die kopstuk vir Anton moet vaskram, toe druk sy die kram deur Anton se oorlel.  Per ongeluk natuurlik.  Toe sy egter die tweede kram ook per ongeluk deur Anton se ander oor vaskram, toe was hy heelwat minder vergewensgesind oor die ongelukkie.  Ek het al baie agterna gewonder oor hierdie ongelukkie.

Sorrie, ek dwaal bietjie af.

Die musiek is soms lekker tong-in-die-kies.  In die tweede toneel word die morning report aangekondig met die SAUK se nuuskenwysie.  Afrikaanse liedjies en ook Mango Groove se musiek verleen ‘n unieke Afrika(anse) karakter aan die toneelstuk.

Daar is so baie om te sien met al die baie karakters op die verhoog.  Jy moet mooi kyk, maar jy mis steeds klomp detail, soos die jong wyfieleeu, Nala, wat agteraf ‘n gesig trek vir Zazu, die oorlamse voël.  En elke keer as die hiënas so hulle gatte wil aflag, dan wil ek ook.   Veral in die Elephant Graveyard toneel.

Soms gebeur die grootste pret op die agtergrond, alhoewel grootliks onbedoeld.  Die hoofakteurs is uiteraard gekies op sterkte van hul vaardigheid in toneelspel.  Die span in die agtergrond is dikwels daar, wel, omdat hulle in die skool is.  Hulle het nie noodwendig ‘n passie of ‘n aanleg vir hierdie klas van goed nie.  Met van die danspassies lyk van die agtergrondkunstenaars bloot só ongemaklik en uit plek uit.  Dis natuurlik deels die rede waarom hulle op die agtergrond is, maar dis eintlik baie dierbaar.  Hier is een uit ritme uit, ‘n ander een dans verkeerde kant toe.  Van die seunsvuurvliegies is ooglopend nie gemaak om met dogtertjievuurvliegies te dans nie.

Die toneel waar die buffels vir Mufasa doodtrap is baie vernuftig gedoen.  Ten spyte van die feit dat die buffels eintlik op een plek staan, simmuleer hulle oortuigend die stormloop, elkeen met twee buffelkoppe wat hulle beweeg.

In toneel 7 ontmoet ons vir Pumba en Timone.  Dit moet groot pret wees om die oddballs in só ‘n toneelstuk te speel.  Daardie twee gesiggies is net te ougat.  Pumba het ‘n kostuum aan wat nes die vlakvark lyk (ek weet dis die hele idee, maar ek meen nou maar).  Fenomenaal.  Ek stel my voor die afgunstige kyke wat ek sal kry as ek met daardie kostuum deur Tygervallei se winkelsentrum sou stap.

“Put your behind in your past”, adviseer Pumba.

Hakuna Mutata.

Met ‘n luide flatelasie tussendeur.

Die musiek is vernuftig gekies en die gepaardgaande koreografie puik, dikwels amusant.  Op die maat van Waka-Waka kry ons ‘n vertoning deur veral twee graad-een leerders wat duidelik al voorheen gedans het.  Op die maat van “Everybody does kung-fu fighting” sien Simba uiteindelik vir Scar reg.

Die toneelstuk eindig met Kate Perry se “Roar”.

Lekker man, lekker.

Dis ongelooflik wat die onderwysers met hierdie klompie graad 1 – 3 kindertjies regkry.  Dis doodgewoon briljant.  Dit gee mens hoop.

Hakuna Mutata, ek sê.

See, sand en die mooi meisie

Februarie 24, 2014 in Twakpraatjies

Saterdag sit ek en vroulief in ‘n restaurant in Muizenberg.

Knead

Ons het ‘n paar uur wat ons moet verwyl, en watter beter manier kan daar nou wees as om by die see te sit. Dis ‘n winderige dag. Gelukkig, anders sou dit vrek warm gewees het. Ons sit in Knead restaurant, met net die ruit wat ons skei van die besige sypaadjie in Beach road, met die see net anderkant dit.

Muizenberg

Dis ‘n fassinerende mengelmoes van mense wat voor ons verby beweeg. Alle vorms, groottes, drag, gedrag, kleure, geure, die werke. Vroulief werk bietjie aan ‘n taak op haar iPad. Ek het ‘n boek saamgeneem om te lees, maar ek kom nie daarby uit nie. Die mense is te interessant om dop te hou. Sommige van hulle is nogals mooier as ander. Sommiges se bikinis is heelwat kleiner as die ander s’n.

Laatmiddag raak dit tyd om te gaan. Ek stel voor vroulief wag in die restaurant dat ek liewer die motor gaan haal. Ek is ‘n entjie weg geparkeer op ‘n plek waar ek nie te onnodig veilig voel nie. Selfs nie die motorwag van die Noord-Kaap wat onderneem het om ons motor op te pas laat my rustiger voel nie. Hy moet aan ‘n gemeente behoort wat Saterdae kerk het, want dis duidelik dat hy al die oggend nagmaal gehad het. En mens weet mos nou nie of hy dalk die aanddiens ook gaan bywoon nie.

Dis toe hoeka so. Toe ek by die motor kom is dit verlate. Nie eens die motorwag is daar nie. Ek vind dat die eenrigtings bietjie teen my werk. Ek moet eers ‘n ent weg ry om omdraaiplek te kry. Dié kry ek in ‘n (nou reeds) verlate parkeerarea.

Toe ek daar inry vang ek ‘n dame uit die hoek van my oog wat hard probeer om my aandag te trek. Ek probeer haar vermy, maar dis onmoontlik; ek moet teen haar verby ry op pad uit die parkering uit. Ek draai my ruit ‘n entjie af.

“Halo oom, hoe gaan dit moet oom?!” Sy is baie mooi en baie vriendelik. En dis dydlik dat sy my ken, maar wraggies, ek herken haar glad nie.

“Kan oom nie vir my ‘n lift gee nie?” vra sy.

? OK, ek het ‘n lang verduideliking van nee, ek draai net hier om, dan gaan ek my vrou by die restaurant oplaai, dan gaan ek my dogter in Pelican Park oplaai, dan gaan ek …… So ek dog toe ek hou dit maar kort en sê nee, jammer, ek kan jou nie ‘n lift gee nie.

“Nou maar waarheen gaan oom?”

Mmmm….. dit klink dan nou half bekend. Ek het al voorheen so ‘n tipe gesprek gehad, waarna my vrou my vertel het ek is naief.

Alhoewel ek haar nie eintlik ‘n antwoord skuld nie sê ek nietemin vir die meisie waarheen ek gaan. Wat my laat dink, was sy nie eintlik veronderstel om éérs te vra waarheen ek gaan voordat sy aanvanklik die geleentheid gevra het nie?

Toe ek volstaan daarmee dat ek nie vir haar ‘n lift wil gee nie, vra sy of ek dan nie vir haar ‘n R5 kan gee “om uit hierdie plek uit” te kom nie. Nou, weer eens kan ek vir haar sê ek het nie R5 by my nie – wat toevallig die waarheid sou wees – maar wie gaan dit glo. Ek sê toe maar nee, ek gaan ook nie vir jou R5 gee nie.

In ‘n oogwink verander die vriendelik meisie in ‘n, wel, minder vriendelike meisie. Sy slaan teen my ruit dat ek dog sy breek dit. Sy draai om en stap woedend weg. Met die wegstap sien die halfgedrinkte bierbottel wat agter by haar broek ingedruk is. Wel, dis seker nie ‘n slegte bêreplek nie. Kan jy dink hoe potensieel ontstellend dit kon lyk as sy dit voor in haar broek ingedruk het.

Ek probeer nou nog steeds uitwerk of ek die meisie in die steek gelaat het, en of ek iets vrygespring het wat ongemaklik kon geraak het.

Gourits – Deel 7: Huis toe

Januarie 17, 2014 in Gourits vakansies

Die dag voor die vertrek terug huis toe bly maar so half ‘n simpel dag.  Ons neem ons altyd voor om die dag ten volle te geniet, en eers namiddag te begin oppak.  Maar mens vang jouself dat jy maar goed begin netjies maak en opruim in afwagting van die groot pak.

Ek gaan swem vir oulaas in die branders.  Dis heerlik.

Terug by die kamp begin die oppak in meer erns.

Ek het twee entoesiastiese assistente.

hulp

En dis maar hoe die res van die dag verloop.  Teen sonsak is alles ingepak in die bakkie en die karavaan wat kan in.  Een tent staan nog vir Klein-Jan en Sussie om in te slaap.  Die Raleigh tent staan voor die karavaan om die goed wat nie nou al in die karavaan pas nie te beskerm teen die dou.

Ons stap deur die kamp en groet ‘n paar mense.

Vrydag, 3 Januarie 2014

Dis ‘n warm oggend.  Teen die tyd wat ons tien voor agt gehaak en gegroet het en gereed is om te ry, is ek omtrent natgesweet.

Ons stop op pad vir ‘n ontbyt by die Wimpy op Riversdal.

Wanneer ons in Worcester inry is dit bloedig warm.  Ek skat so naby aan 40 grade.  Die lugversorging kom eintlik nie heeltemal die mas op nie.  Ons kruie deur die dorp in digte vakansieverkeer.  Oor die brug net voor die brandweer gee die bakkie ‘n hewige ruk-ruk.  Petrolarmoede, raai ek.  Maar die bakkie ry darem verder.

Ons wik en weeg of ons ‘n laaste pit stop sal maak by die Ultra-City.  Ons is nou so naby aan die huis.   Ons besluit om maar vinnig te stop dat almal ‘n laaste draai kan loop.

Tussen Worcester en die Rawsonville weegbrug voel ek ‘n paar keer die bakkie verloor krag, dan kom dit weer terug.  Ek besef ons het ‘n probleem.  Die vraag is nou of ons deurhou en kyk of ons op hierdie manier by die huis kom, en of ons ‘n ander plan maak.

Ons trek af by die Rawsonville weegbrug.  Hier kan ek onder ‘n boom stop.  As die bakkie my elders laat staan, dan staan ek langs die pad in bloedige hitte.  Of dalk in die Hugenote tonnel.  Dís ‘n gedagte wat my laat ril.  Stel jou dit voor.

Ek besluit om maar die versekering se insleepdiens te skakel.  Dat sal my vierde insleep wees in ‘n jaar se tyd met die bakkie.  Dit vat ‘n tydjie vir die ouens om uit te figure waar ek op die landkaart is, en wat die naaste dorp is.  Die probleem nou is dat dit nie help hulle sleep my na die naaste motorhawe toe nie.  Dis Vrydagmiddag, my bakkie is vol gelaai, my karavaan is vol gelaai, ek moet die voertuie en my gesin by die huis kry.  Na ‘n uur is ek en Padbystand op dieselfde bladsy.  Hulle stuur iemand uit die Kaap uit, maar om my by die huis te besorg verg ‘n stewige bybetaling wat vir my eie sak is.  Enige sleep verder as 50 km is vir my eie rekening.

Twee-en-‘n-half uur later stop George met sy trok by my ons.  Ek is besorgd.  Hulle het gesê hulle stuur twee trokke, een vir die bakkie en een vir die karavaan.  George sê ek moenie bekommerd wees nie, hy doen altwee.

My bakkie op die vragmotor gelaai en die karavaan gehaak.  Die bolhak van die vragmotor kan hidrolies stel vir die regte hoogte.  Ek wil ook so een hê!

Hier staan ek die proses en gade slaan.  Maar ek is eintlik lus en slaan daai bakkie se gade vir hom vuurwarm.

Gehaak

Voor die tonnel word die trok gestop.  Hy moet ‘n pas kry wat sê dat al sy agterligte gecheck is.  Een van die liggies wat ons in die karavaan se venster geplaas het, is dood.  Dié maak George gou reg.  Ons kry ons pas en ry verder deur die tonnel.

By die Stellenbosch afdraai word ons beduie na die weegbrug toe.  Ek het nog altyd gewonder wat my karavaan weeg as hy gelaai is.  Ek probeer al die swaar goed in die bakkie laai, en die ligte bulky goed in die karavaan.  Die stem oor die luidspreker sê ons kan maar ry.  Teen die muur sien ek die digitale vertoning van die aste se onderskeie massas.  Die onderste een besef ek moet die karavaan se gewig wees.

Ek sal maar volgende keer nog méér goedjies in die bakkie moet pak, sien ek.

Ons is net so voor ses by die huis.  Die bure sien die trek verbykom en staan in die straat en neem foto’s van ons.  Hulle is seker bly om ons weer te sien.  Ek het nie besef ons was só lank weg nie.

‘n Interessante einde aan ‘n goeie vakansie, voorwaar.

Gourits – Deel 6

Januarie 16, 2014 in Gourits vakansies

Kersdag woon ons die derde van drie kerkdienste by.  Jy moet eintlik op ‘n kaart kyk hoe groot Gouritsmond is om te begryp  hoe onverstaanbaar dit is dat daar genoeg mense is om ‘n halwe kerk vol te sit, nevermind drie dienste.

Gourits

[Van Google Maps af]

Ná kerk drink ons tee saam met die bure.  Klein-Jan se maatjie kom uitasem aangehardloop en rapporteer dat ons nou besonders vinnig sal moet kom want Klein-Jan het op die teer geval dat sy kop eintelik so hop en hy is baie jammer dit was ‘n ongeluk dit was nie so bedoel nie en Klein-Jan se bene bloei en hy huil en hy het seergekry en tannie moet nou gou maak asseblief tannie.

Met só ‘n rapport verg dit min aanmoediging om gou te maak.  Ons wikkel oor na die aangeduide plek.  ‘n Hele skare is saamgedrom rondom Klein-Jan wat in pyn op die teerpad in die karavaanpark lê.  ‘n Man wat dalk ‘n dokter of ‘n para-medic is het hom toe reeds deurgekyk en raporteer dat hy gaan leef.  Klein-Jan steun en snik en kners op sy tande.

Ek tel hom op en dra hom na ons karavaan toe.  Op pad sountoe verduidelik hy so tussen die gekners deur dat hy voor op die maatjie se fiets se handle bars gery het, toe doen die maatjie ‘n paar toertjies.  Maar dis duidelik dat die maatjie nog bietjie moes geoefen het aan die laaste toertjie wat hy probeer het, want dis juis in die uitvoering van hierdie toertjie wat die ongeluk plaasgevind het.

In die karavaan besigtig ons die skade.  Oeps.  Daar is nerf-af plekke wat heelwat groter is as enige pleister wat ons byderhand het.  Dit kan nou ‘n lastigheid afgee.  Gelukkig moet buurman se boot ‘n mediese tas hê wat een of ander inspeksie moes geslaag het.  Onder andere lewer hierdie tassie ‘n paar verbande op.  Ons kry ‘n dokter wat ook daar vakansie hou om vinnig net te loer of ons maar kan toebind en of ons moet hospitaal toe.   Die dokter sê ons kan maar toebind, en hy het nie harsingskudding nie.

My Boet en sy familie kom kuier.  Sy twee seuns slaap by Ouboet in die tent, en hy en sy vrou slaap op Albertinia in die Albertinia hotel.

Skoonsus gaan vir ‘n swem in die getypoel.  Daar is baie mense.  Sy sien ‘n kindertjie aan die diep kant besig om te verdrink en red haar.  Sy gee sommer gou die kleintjie ‘n swemles.  Toe sy omkyk toe staan ‘n hele ry kindertjies agter haar:  “Antie, Antie, ekke wil ook leer swem!”

Sy was nogals lank daar besig.

‘n Paar dae voor die Oujaar gaan ons Klein-Jan se maatjie op Stilbaai haal.  Stilbaai voel soos klein Durbanville.  Orals sien jy bekendes.

Ons ontdek Mengelmoes.

Mengelmoes

Dis ‘n winkeltjie wat tuisgebak verkoop, en op die stoep is ‘n kabeldrom of twee vir ‘n tafel opgestel waar jy kan sit en eet wat jy binne gekoop het.

Spyskaart

Die kos wat ons daar kry is so lekker en so billik geprys, ons bestel sommer vir ons aandete daar wat ons daar optel voordat ons terug ry Gouritsmond toe.

Ouboet is intussen terug huis toe en stuur ‘n foto van sy Tek uitslae.  Daremte kry hy sy diploma.

Nuwejaarsdag is die getypoel tjok en blok vol mense.  Lorrievragte vol mense.  Ok, ek lieg bietjie, daar was net een lorrievrag mense, maar verder heelwat ander voertuie.  Ek kom nou agter die onderbroeke wat my vrou onlangs vir my gekry het is eintlik swemdrag.  Ek het dit nooit geweet nie.

Die swemstrand is ook so vol mense, meerder as gewoonlik, maar daar is darem meer spasie.

Davelin is ‘n besige mannetjie.  Ek skat hom so vyf jaar oud.  Jy hoef nie te kyk waar hy is nie.  Jy hoor sommer.  “Davelin! Moenie!”  “Daveliiiiiinn!”  Vermoedelik sy ma.  En sy suster.  En sy antie.  En min of meer almal rondom hom.

So haloep Davelin voor my deur die water en plas my moedswillig nat terwyl hy met ‘n groot glimlag oor sy skouer loer om te sien of hy suksesvol was.  Hy lyk eintlik na ‘n heel like-able klein stoutgat.

Ons kry ‘n skrik met ‘n sleurgolf wat van die kinders gryp.  Gelukkig kom hulle self uit, maar ek sien die lewensredders moes inswem om ‘n man te help om uit te kom.

En so kom die vakansie op ‘n einde.  Wat oorbly is inpak en huis toe ry.

Maar die reis is deel van enige vakansie storie.  Ek kom nog daarby.

Gouritsmond – Deel 5: Worsie hou Kersfees

Januarie 12, 2014 in Gourits vakansies

Dinsdag, 24 Desember

Dis ‘n luilekker vakansie.

Dinge word bietjie opgekikker toe een van die naby kampers ‘n geelslang in die kragboks gewaar.  Die boks is toe, maar die flappie waar die karavane se onderskeie kragdrade na binne toe gaan was groot genoeg vir Ta om daar in te klim.

Kragboks

Solank Ta nou in die kragboks sit, is dit natuurlik nie ‘n probleem nie.  Die lastigheid is net wanneer hy besluit om uit te kom, veral aangesien daardie boks twee tree weg is van die naaste karavaan.  ‘n Paar brawe kampers staan nader om die geelslang te oortuig om te gaan.

Ta steek sy kop by die flappie uit om te kyk waaroor die rumoer gaan.  Een kamper kry sy neus  in ‘n braaitang vas (die slang s’n nou) en probeer hom uitsleep.  Dit pas gald nie die geelslang nie.  Hy klou vir dood binne vas, en kry dit later reg om sy neus uit die braaitang uit te verlos en terug te glip in die kragboks in.  Nou word die boks weer versigtig oopgemaak, maar die slang is weg!  Die kragboks het ‘n dubbele wand, en iewers daar rond lê die geelslang nou, maar buite sig.  Toe alle pogings om die slang uit te lok onsuksesvol is, maak hulle toe maar weer die deur toe, en plak die flappie ook toe dat die slang nie kan uitkom nie.  Dit moes half snoesig warm daarbinne geraak het, maar daremte hou slange mos daarvan.  Nie dat ek ‘n slang-entoesias is nie, maar ek wil darem graag klink of ek ‘n bewaringsentoesias is.

Oukersaand bak ons ‘n potbrood.  Hy’t gelukkig beter gesmaak as wat hy gelyk het.

Potbrood

Ons kersboom van dryfhout is behang met liggies en skep ‘n lekker atmosfeer.

Kersboom

Maalvleis en roerbraai, saam met sjokolade vir poeding rond die ete af.

Dit kuier gesellig tussen ons en die leërskare wat by die bure kuier.  Ons dra Kersfeeshoede.  Vroulief het sulke snaakse “goeters” aan in plaas van ‘n hoed.

Goeters

Almal is mal oor vroulief se “goeters”.  Ek was later nie meer seker of dit ‘n goeie ding is dat almal mal is oor haar goeters nie.

Ons deel persente uit.  Ek is baie happy met my bandana en my fluitjie wat ek kry.  Dis ‘n rietfluitjie, wat amper werk soos ‘n skuiftrompet.  Dit klink soos ‘n voëltjie.  Sussie verduidelik ek blaas dit verkeerd.  Dis eintlik ‘n ‘fail’-fluitjie.  Jy weet die ‘fail’-klank wat jy soms kry in animasie flieke wanneer iets fout gaan.  Ek kry dit mooi onder die knie.

Ons stap later oor na die bure toe.  Hulle het ook klaar geskenke uitgedeel en kort bietjie hulpbronne om die kersliedjies sonder begeleiding baas te raak.  Ons begin met Stille Nag.  Die wysie is goed, maar almal is bietjie verroes op die woorde.

So by die tweede reëltjie van die volgende kerslied besluit Pikkie die worshond (‘n tydelike kuiergas) dat Klein-Jan nou sy nuwe beste maatjie is.  Hy begin entoesiasties Klein-Jan se been homp.

Die gewyde atmosfeer kraak  effentjies, maar dit hou, met hier en daar ‘n proes-lag wat deurglip.  Die aanslag is egter te groot.  Die gewyde atmosfeer versplinter later heeltemal as die pogings om die lag te onderdruk begin te faal.   Jy weet hoe dit is as iets snaaks in die kerk gebeur.

Almal lag uiteindelik uitbundig.  Behalwe Pikkie se eienaar.  Hy gryp verleë vir Pikkie en sit hom op sy skoot.  Pikkie is baie tevrede.  Klein-Jan is bly Pikkie hou so baie van hom, hy is ook tevrede.

Eintlik ‘n bakgat geskenk dié, dink ek, toe ek my ‘fail’-fluitjie blaas.

 

Gouritsmond deel 4 – Klein-Jan vang ‘n vis

Januarie 9, 2014 in Gourits vakansies

Saterdag, 21 Desember

Die getypoel is ‘n gawe lengte.  Langer as ‘n half-olimpiese standaard swembad, so mens kan lekker lengtes swem vir oefening.

Getypoel

Een oggend swem ek bietjie vir oefening.  ‘n Swart labrador raak baie ontsteld oor my in die water en probeer my red deur van die kant af op my in die water te spring.  Ek dink nie hy het dit goed deurdink nie.  In elk geval wil ek ook nie gered word nie.  Ouboet red op sy beurt die labrador uit die water uit.  Die labrador wil ook nie eintlik gered word nie.  Ek stop by die kant dat die eienaar kans kry om die hond weg te neem.

Maar van die getypoel gepraat, Gourits strand is deesdae ‘n Blouvlagstrand.

Blouvlagstrand

Die stranddiensspan is baie bedrywig.  Ek merk op die program dat hulle ook ‘n tee vir die oor-sestigerjariges aanbied.  Mmmm….  Binnekort kan ons (ouer vriende) ook deelneem aan die stranddiens aktiwiteite.

Vir die jongklomp word ‘n talentkonsert gehou in die kerk.  Die kerk raak elke jaar lyk my voller met hierdie konsert.  Dit sit omtrent chock en blok vol.

Ouboet maak ‘n jong man stil wat kliphard sit en praat terwyl  Klein-Jan sy kitaar vertoning lewer.  Toe Ouboet later loop om verder saam met sy pelle te kuier, toe hang die kêrel wat hy stilgemaak het buite rond saam met sy vrinne.  Volgens ouboet het die man toe heelwat te sê gehad, maar veral met klem op die p-woord.  Maar nou nie woorde soos “pampoen” of “pamperlang” nie.  Gelukkig het die man sonder voortande darem nie handgemeen geraak nie.

Die volgende oggend gaan ek en vroulief kerk toe om vir ons en die ou sonder tande te bid.  Ons is die enigste mense daar.  Daar is nie vanoggend ‘n diens nie.  Ons gesels maar met die koster wat besig is om alles reg te kry vir die aanddiens.  Maar soos die naam aandui, gaan dié eers heelwat later plaasvind.

 

So teen drie-uur namiddag nooi buurman vir Klein-Jan vir ‘n visvang op die boot op die rivier.  Klein-Jan is in die swewende hemel.  Hy wil graag opgradeer van vissies met ‘n net vang na regte visse vang met ‘n visstok.  So oor die loop van twee jaar het vroulief vir Klein-Jan ‘n visstok en ‘n katrol bymekaargesit.   Buurman verstaan mooi van visvang.  Hy is heel tevrede met Klein-Jan se toerusting.  Die katrol het die vereiste aantal bearings wat dit blykbaar ‘n gangbare katrol maak, en die stok is blykbaar ook nie te onaaklig nie.

Ek gaan saam, maar as ‘n toeskouer.  Buurman lag nou nog oor ek laasjaar geblikte ipv rou vissies gaan koop het vir aas.  Daai geblikte vis werk regtig nie goed nie.  Dit breek in stukke.  Ek het later die seevoëls daarmee gegooi,  want visvang kon ons nie daarmee nie.  Ek weet nie onnodig baie van visvang af nie.

Op pad rivier toe stop die Hessequa wetstoepassingsbeamptes  ons.  Rumour has it dat hulle fluks kaartjies uitskryf vir ouens wat aan die verkeerde kant van die pad parkeer, of wat nie heeltemal stilhou by stopstrate nie – wat niemand vermoedelik doen nie.  Ons word darem nie beboet oor die sleepwa se nommerplaat binne-in die boot ipv aan die sleepwa is nie.

Dit bly natuurlik ‘n wonderlike sensasie om op ‘n boot op die water te wees.  Die 40 perdekrag Mariner stoot ons teen ‘n flink spoed rivier op.  Ons gooi anker na ‘n tydjie om aas te vang met ‘n vangnet.  Verskeie gooie later lewer drie vissies op vir aas.  Mmm…..  Klink nie soos ‘n goeie begin vir ‘n visvang ekspedisie nie.  Gelukkig het buurman ander aas ook aan boord.

Ons vaar verder die rivier op, en doen aan by ander kampers wat op hul bote visvang, en ook by buurman se broer wat op sy boot daar visvang.  Niemand het nog iets gevang nie.

Die visse is natuurlik moedswillig.  Terwyl niemand niks gevang kry nie, spring die visse links en regs uit die water uit.  Ek is seker een het vir ons middelvinger gewys, maar dit was so vinnig, ek kan nie met sekerheid sê nie.  Dit kon ‘n ander vinger gewees het.

Ons gooi anker, en buurman begin Klein-Jan se visstok voor te berei terwyl hy hom ook die nodige onderrig gee.  Die onontbeerlike stukkie aas kom aan die hoek vas en word met dun rek vasgedraai net om die speelveld gelyk te maak.  Dit sal onsportief wees as ‘n vis rustig die aas kan gryp en loop sonder ‘n billike kans aan ons kant om hom aan die hoek gehaak te kry.

Uiteindelik sit die drie van ons met vier visstokke.  Daar gebeur nie iets nie.  Nie dat dit saak maak nie.  Dis soos jag.  Jy hoef nie iets te skiet om dit te geniet nie.  Die hele ervaring is lekker.  Na ‘n paar keer se ingooi begin ek self oefen aan die gooi-tegniek.  Dis eintlik meer fun as om te probeer visvang,  veral oor niks visse byt nie.

Boot

Dan kry Klein-Jan iets aan sy hoek.  Hy begin worstel met die vis.  Ná ‘n tydjie se geskoop kry hy die vis ingekatrol.  Dis ‘n Barber.  Ek verstaan die Barber is nie gewild vir enige iets sinvol wat ‘n visserman kan uitdink nie.  Dus word hy weer losgelaat.

Die een statiese stok wat op die stellasie agter die boot rus kry ‘n byt.  Buurman oorhandig die stok aan Klein-Jan dat hy die inkatrol werk kan doen.  Dit vat ‘n tydjie.  Klein-Jan sukkel dat dit bars, maar hy kry nie daai vis ingekatrol nie.  Dan is hy dié kant van die boot, dan aan die ánderkant van die boot, maar daai vis spook.  Klein-Jan is later uitasem van baklei met die vis.  Later kan ons al die blink lyf van die vis sien, maar daai ou geen nie op nie.    Uiteindelik is die Leervis aan boord.  Dis ‘n stewige vis, maar ver ondermaat, so ons gooi hom terug.  Ek moet sê, as ‘n ondermaat leervis só ‘n geveg kan opsit, is daar geen manier hoe Klein-Jan ‘n volgrootte een sal kan inkatrol nie.

Klein-Jan se oë blink.

Happy

Buurman kry later ‘n byt, en gee weer oor vir Klein-Jan om in te katrol.  Hierdie keer gaan dit makliker.  Dalk is hierdie vis nie so sterk soos die vorige een nie.  Of dalk is die bokkoors nou bietjie onder beheer.  Dis weer ‘n ondermaat Leervis.  Hy gaan ook terug van waar hy gekom het.

Teen half-ses stoot ‘n lekker luggie.  Ons pak op en lig anker.  Dis ‘n lekker vaart terug na die slip toe.

Klein-Jan is erg tevrede.  Sy eerste regte visvang, met ‘n regte vis aan die hoek.

 

Gouritsmond – Deel 3: Die Verlore Seun

Januarie 7, 2014 in Gourits vakansies

Klein-Jan meld vroeg een oggend aan.  Hy het ‘n allergiese reaksie op iets wat hy verkeerd geëet het, hy ly aan voedsel allergieë en moes dalk veral nie al daai bubblegum gekou het nie.  Dit lyk asof ‘n by hom 5 keer op sy lip gesteek het.  Geswel, nie vol gate nie, bedoel  ek nou.

Ek klop Gouritsmond se Annique agent agtuur op om iets te kry wat ons uit ondervinding weet werk. Sy is baie gaaf en het al die Rescue rome wat ons nodig het. Dit lyk of sy vir ons staan en wag het.  Toegegee, met hoe vroeg die son opkom was sy waarskynlik al van vyfuur af op.  Rooibos-rome, Antihistamine en bietjie aandag en Klein-Jan raak op ons bed aan die slaap.  Ons monitor maar die swelling dat mens kan weet of hy moet dokter toe gaan en of dit vanself gaan regkom.

Mens hoor baie voëls as mens so luister vir jou kind wat slaap en jou oë knipper teen ‘n lui lui wat uit jou boek uit opslaan. Swaels swiep agter muggies aan, mossies, kwikkies, kiewiete, patryse en daai wipsterte daar onder die Monatoka boom doen allerande dinge. Dit is glo nie wipsterte nie, dit is muise wat daar loer en saggies skarrel.

Met net een kind op die werf (wat slaap) is daar meer geleentheid vir ons om ook vakansie te hou en te doen wat ons wil.  Wat hoofsaaklik niks doen, lees en koekies eet is.

Ek kry ‘n oproep  van die sekuriteitsmaatskappy dat my alarm het afgegaan.  Ai.  Ek het gedog die skelms hou ook vakansie.  Ek meen, net om darem die speelveld gelyk te hou. Ek bel vir Ouboet.  Hy is nie tuis nie, maar hy is op pad huis toe.  Ek bel ‘n buurtwag buurman om gou te gaan loer wat by my huis aangaan.  Hy rapporteer dat my voordeur nog sit.  Hy is braaf genoeg om sommer oor my muur te klim en te kyk waar daar ingebreek is.  Geen fout nie, dit was ‘n vals alarm.  Wat goeie nuus is, behalwe dat ek weet ek het nou dalk ‘n probleem op my alarmstelsel.

Klein-Jan  ontwaak.  Sy lip is maar geswel, maar hy lyk vroliker.  Vyf van sy vriende daag op vir huisbesoek, en hulle speel kaart onder die gazibo.

Besoekers

Vroulief besoek Aloe Ferox op Albertinia.  Sy kom terug met allerhande goodies.  Dit lyk of aalwyn vir enige iets van nagblindheid tot ingroei toonnaels help. Toevallig ook vir gebarste hakke.  Sussie arriveer darem ook weer terug van haar uitslaap by die Korinterivierdam.

Op van hierdie warm dae dan sit ek onder my gazibo en geniet die wind wat oor my waai.  Dan kan ek nie anders as om aan Bob Dylan te dink nie.

The answer my friend, is sitting in the wind.

Of iets in dier voege.

 

Vrydag, 20 Desember

Vrydag, 20 Desember is Ouboet se laaste werksdag.  Hy kom môre deur Gouritsmond toe.  Ek verdink hom daarvan dat hy dalk vandag gaan ry. Met die oog daarop slaan ek maar solank sy tent en sy kampbed op en sit die lig in sy tent, en so aan.  Dan moet ek met vroulief Riversdal toe om ‘n tandards te gaan soek. Die springmielies het haar ‘n stopsel gekos.

Ons stock op by Riversdal se Spar en Albertinia se slaghuis. Die tandarts gaan ook op vakansie net na hy vroulief se tand gestop het.

Ouboet werk tot 12h00.  Om 12h01 WhatsApp hy my om te vra of Gouritsmond op ons GPS is.  Hy het die GPS by hom.  So ek reken hy is nou op pad, hy behoort vieruur op Gouritsmond te wees.   Ons is drie-uur terug in die kamp met die gestopte tand en lekker Albertinia lam en wors.

Ek gaan sit en lees onder die gazibo.  Ek sit só dat ek die ingang van die karavaanpark kan dophou.  Dit moet wees hoe die verlore seun se pa elke dag gesit en wag het vir hom, reken ek.  Gelukkig het my seun ‘n GPS en dalk kom hy vanaand.

Teen half-ses is ek al erg besorgd.  Daar is geen beweging op Ouboet se WhatsApp nie.  Ek stuur ‘n WhatsApp om te hoor wat hy doen.  Hy laat weet hy is by ‘n vriendin.  Ek glo hom nie, maar ten minste weet ek hy is nog veilig.  Ek aanvaar maar later hy het tot by sy tannie op Montagu gery om daar te oornag.

Sewe-uur kom Ouboet baie vrolik by die kamp ingery, erg tevrede met die surprise wat hy afgetrek het.  Klein b***sempie.  Hy hét gejok van die vriendin by wie hy was.  Ons is baie dankbaar hy is veilig by die kamp.

Anders as wat die plan was steek ons dadelik vuur aan om ‘n vleisie op te sit.  Die Gouritsmond weergawe van die gemesde kalf, Albertinia lam, ‘n fees. Nou is al my kinders tuis, ons is saam op vakansie. My vrou sê ek is ‘n regte pansy, dalk selfs ‘n Baberton Daisy.  Ek ken gelukkig niks van daardie soort diere nie.

Gouritsmond – Deel 2

Januarie 6, 2014 in Gourits vakansies

Sondag, 15 Desember

Vandag word Madiba op Qunu begrawe, maar ons is nie genooi nie.  Anders sou ons mos gegaan het.

Ek word wakker soos een wat narkose gehad het.  Al die pennie inslaan en inpak en uitpak het my moeg gemaak.  Ook die min slaap voor ons vertrek het.  Dit voel of al my olies uit my gewrigte uitgeloop het.  Gelukkig jaag niks my om op te staan nie.

Ons slaan die laaste paar goedjies op en rig ons kamp klaar in.

Opgeslaan

Die wind waai redelik sterk en peak teen so drie-uur die middag met 24 knope rukwinde. Mens kla nie daaroor nie.  Dis net so lekker om onder ‘n gazibo in die wind te sit.  Dis soos ‘n gebeurtenis op sigself.  Teen braai-tyd, egter, het die wind gaan lê en is dit weer ‘n perfekte stil aand.

Ons braai karoo lam en wors saam met braaibroodjies.  Teen halftien raak Klein-Jan vanself aan die slaap.  Sy gô is uitgespeel.

 

Maandag, 16 Desember

Madiba is nou klaar begrawe en die wêreld het teruggekeer na normaal toe:  Australiese toeriste is beroof op Leeukop, ‘n boervrou in Natal is vermoor op ‘n plaas, motorongelukke op die paaie, almal daai dinge.

Vroegoggend begin dit te reën.  My karavaan lek.  Ek het hierdie keer moeite gedoen om die karavaan mooi mooi waterpas te trek.  Maar helaas, een van die remediërende stappe wat ek moet doen om die lekprobleem beter te maak is om die karavaan effens afdraende na agter te laat loop.  Dit lyk of die water dan spoed kry en agter afloop, eerder as om in te lek.  Nou sit my karavaan weer op sy hurke om lekker op die gras te kan lek.

Ek gaan koop die tweedelaaste buis silikon by die winkel by die hek.  Dit lol om orals by te kom, want die karavaan se tent is in die pad.  Ek knoei maar voort tot ek al die moontlike lekplekke dig gestop het.

Silikon

Ek reken die karavaan is nou waterdig – solank dit net nie reën nie.

Sussie begin stemming maak om saam met maats vir 2 nagte uit te slaap by die Korenterivierdam by Riversdal.  Vir my klink dit stupid.  Ons ry al die pad hierheen om te kom vakansie hou, nou gaan hou sy elders vakansie.  Sug.  Dis seker wat gebeur as hulle grootword.  Ek het net gedink sy’s nog nie baie groot nie.  Sy’s nou eers klaar met skool.

Daar is skilpaaie en oewerkonyne op Gouritsmond.  Ek verstaan beide is bedreig.  Hierdie spesies is nie altwee ewe vinnig nie.  Dit neem ‘n skilpad 13 sekondes om oor die teerpad te stap.  Jy kan hom bietjie aanhelp deur sy rug te kielie, dan gaan dit vinniger, maar ek weet nou ongelukkig nie hoeveel sekondes vinniger nie.

Skilpad

 

Dinsdag, 17 Desember

Vanoggend is Gouritsmond se biblioteek se jaarlikse boekeverkoping.  Ek reken op hierdie uitverkoping om my leesstof vir die vakansie aan te koop.  Ons gaan gou nege-uur om ‘n paar boeke vir die vakansie, en pannekoeke vir die oggend, te kry.  Boeke wissel van R7 tot R15.  En nie sommer sulke boeke nie.  Bekroonde moderne boeke en al daai ook.  Nou is ons gerat om behoorlik vakansie te hou.

Boekverkoping

Ek neem vir Klein-Jan see toe waar hy eers boogie bord ry.  Hy is nou net mooi op die ouderdom waar hy half te groot raak vir die stranddiensspan se kiddies aktiwiteite, maar nog nie heeltemal inpas by die tieners se ding nie.  Hy gaan sluit later diskreet aan by die stranddiensspan se poging om “die grootste sandkasteel ooit” te bou.  Hulle kan nou maar vir die kindertjies vertel net wat hulle wil, en so entoesiasties soos hulle wil, maar ek kan vir hulle maar sommer sê daai was nie die grootste sandkasteel ooit nie.

Sussie vertrek na die Korenterivierdam toe saam met maats.  ‘n Rubberduck en ski-toerusting gaan saam.  My onsportiewe kind gaan ski….

Ek stel Klein-Jan se fiets se remme op.  ‘n Fiets se mechanics bly vir my ‘n misterie.  Dis veronderstel om baie eenvoudig te wees, maar die vet weet, party goed draai altoos verkeerde kant toe, en doen nie wat ek dink dit moet nie.  Ek is mos nie eintlik onnodig handig nie.  Ek is ongemaklik om met ‘n fiets ry waarvan ek aan die remme gestel het, maar dit blyk dat Klein-Jan nie enige vooroordele het oor my vaardighede nie.

Teen sonsak braai ons saam met die bure.  Die laaste van ons karoo lam wat saamgekom het.  Die wonderlike ding van hierdie vleis is dat die meesterlik smaak ten spyte van my pogings.

Vanweë ‘n oordosis koffie kan ek nie slaap nie en lees tot laataand toe aan een van my boeke.

Boeke

This is life, ek sê.

Gouritsmond Desember 2013 – Deel 1

Januarie 5, 2014 in Gourits vakansies

Vooraf

Laasjaar toe ons van Gouritsmond af huis toe ry het my bakkie twee keer op die pad so ‘n ruk gegee, so erg dat ek later stilgehou en gekyk het.  Ek weet glad nie waarvoor nie.  Ek het om die bakkie en die karavaan gestap, die bakkie se bande geskop, met my hande gevoel of die karavaan se wiele warm was, en toe maar weer verder gery.  Ek het dit toegeskryf aan die geweldig sterk wind van voor af.

Paasnaweek leen ‘n vriend die bakkie.  Hy bel my van Botrivier af en en vra of dit maar reg is dat die bakkie so moet ruk teen die bulte uit.  Ek sê nee, dis nie hoe die vervaardigers dit eintlik beplan het nie.  Gelukkig maak hy dit darem veilig huis toe.  Ek laat die bakkie diens, en die probleem was toe opgelos.  Dink ek.

September laat staan die bakkie my seun een donkeraand in die reën op die N1.  Laataand laai ‘n lowbed trok die bakkie en my seun voor die huis af.  Dit blyk dat die petrolpomp ophou werk het.

Die stukkende petrolpomp sit binne-in die petroltenk.  En dit kos 20x duurder (letterlik) as die vervangende pomp wat my motorwerktuigkundige toe onder die enjinkap inbou.  Maar drie dae later laat staan die nuwe petrolpomp my ook en sleep my motorwerktuigkundige my weer in.  Die stukkende pomp in die tenk wil nie petrol deurlaat nie.  Nou moet die tenk in elk geval afgehaal word en die ou pomp verwyder word.  Daarna werk alles reg.

Maar in die twee weke voor ons Gouritsmond toe vertrek raak ek onrustig.  ‘n Paar keer sukkel die bakkie in die oggend om aan te skakel, en ek kan sien dat daar geen petrol in die petrolfilter is nie, alhoewel ek die pomp (baie luidkeels) kan hoor pomp.  En toe, met ‘n week om te gaan, weier die bakkie om te start.  Hierdie keer gelukkig binne-in my erf.

Ek sleep my bakkie na die werkswinkel toe.  Die motorwerktuigkundige vervang die vervangende pomp met ‘n meer bekende fabrikaat.  Nou’s als weer reg.  Hy sê my as dit sou gebeur dat ek petrolarmoede ervaar, wat nie behoort te gebeur nie, dan moet ek net die terugvloei pypie van die vergasser na die petroltenk afblok – dis wat die pomp se vervaardigers voorstel.  Yeah, right.  Ek ry nie eens met ‘n fiets as ek self die brieke reggemaak het nie.

Twee dae voordat ons vertrek ervaar ek skielik ‘n dringendheid om die karavaan se spaarwiel se band te vervang.  Buiten dat die band waarskynlik twintig jaar oud is, is dit verskeie groottes te groot – dis maar hoe ek hom gekry het toe ek 7 jaar gelede die karavaan gekoop het.

Maar ten minste is alles nou reg vir reis.

Saterdag, 14 Desember:  Vertrek

Ons pak Vrydagaand tot laat in, en wen in die proses ‘n dag op die inpakkery.  Ons vertrek ‘n dag vroeër.  Ons kry nie eintlik geslaap nie.  Van vier-uur die oggend af lê en veg ek teen die wakker en wag ek dat die moet lig word. Ek wil nie donkernag se ure ry nie, en ons ry so kwart voor sewe Saterdagoggend by die huis weg.

Twintig kilometer verder bars die karavaan se linkerband met ‘n groot slag.  Ek moet stop op ‘n baie slegte plek op die N1, met ‘n reëling aan my linkerkant wat maak dat ek nie heeltemal van die pad af kan trek nie.  Ons sit die nood-driehoeke uit en begin vinnig die wiel omruil.  Genadiglik dat die spaarwiel nou reg is!  Ek het altyd gewonder hoe mens ‘n karavaan se band ruil as jy langs die pad.  Nou weet ek.

Gebarste band

Ek kom agter dat die hidroliese 4-ton domkrag wat ek 13 jaar gelede vir die bakkie gekoop het, te kort is.  Gelukkig het ek dit nog nooit nodig gehad nie.  Met die kombinasie van die domkrag en die karavaan se eie corner-steadies kry ek darem karavaan hoog genoeg opgelig om die wiel te kan ruil.

Die band het die karavaan bietjie seergemaak, maar gelukkig nie te erg nie.

Skade

Die bandeplek in die Paarl maak eers agtuur oop. Ons moet ‘n halfuur wag.  Kwart oor agt vertrek ons met ‘n nuwe band.

Net voor een die middag trek ons by Gouritsmond in.

Gourits dorp

Met die bure se hulp is ons spoedig opgeslaan en ingerig.

Opgeslaan

Dis ‘n perfekte windstil aand.  Ons gaan slaap vroeg.  Ek slaap soos ‘n dooie.

Fietstrap

Oktober 27, 2013 in Twakpraatjies

Saterdag help ek en vroulief as baanbeamptes by die Hoërskool se pret-trap.  Daar is ‘n padfiets wedren en ‘n bergfiets een.  Gelukkig is ons betrokke by die bergfiets een.  Mens kan mos nie in die donker bergfiets ry nie.  Dus hoef ons nie te vroeg op te staan nie.

Dit is dus ‘n heel billike uur to ons plek inneem op ‘n punt in die veld.  Vroulief beman ‘n oop hek met ‘n rooi vlag.  Haar instruksie is: “Sê vir die mense reguit aan en hulle moet stadig die bult af.”  Dis eenvoudig genoeg.  Die stukkie grondpad bultaf en redelik slote in, so ek kan dink jy kan maklik val as jy met spoed daar afgaan.

Ek stap verder op met die bult.  Heel bo sien ek is ‘n draadheining met iets soos ‘n sitbankie gebou.   Die ouens kom afgejaag met ‘n bult, dan is daar ‘n gestreepte lint wat vir hulle aandui hulle moet stop en daar oor die heining klim.  Ek besluit om daar plek in te neem.

Tafelberg is half toe onder wolke.  Die wind maak darem dat dit nie te gloeiend warm raak nie.  Dit vat egter amper twee ure vir die eerste ouens om op te daag.  Teen daardie tyd het ek nou al die duisendpoot familie mooi bestudeer.  Dis ‘n genade hierdie voetjiesgoggas hoef nie skoene te dra nie.

‘n Enkele fietsryer kom oor die bult en afgejaag met die eenspoor paadjie.  Lyk soos ‘n professionele jaer.  Hy ry reguit na die oorklim punt toe, gooi sy fiets oor sy skouer, trap op die steppie, en daar gaan hy.  Dan is dit vir lank stil.  Ek besluit later hierdie ou kan onmoontlik nie deel van die wedren wees nie.  Hy is doodgewoon te ver voor die volgende ryers wat opdaag.  Miskien het hy die fiets gesteel dat hy so haastig was.  Ek het hoeka my ADT geborgde glimbaadjie van die buurtwag aangehad.  Dalk het hy gedink ek is ‘n wetstoepasser.

Dan begin die fietsryers opdaag.  Almal natuurlik fikse manne, veral die voorstes.

Dis egter gou duidelik dat om met ‘n fiets oor ‘n heining te klim, nié deel maak van wat bergfietsryers as pret beskou nie.  Opmerkings wissel van “Nee, jy speel,” of “Ag, nie nóg een nie,”  tot meer kleurvolles wat nie hier publiseerbaar is nie.   Sommiges moet ek terugroep.  Hulle kan bloot nie glo dis deel van die wedren nie, en ry by my en die lint verby.

Daar blyk ook nie ‘n universeel aanvaarbare tegniek te wees nie.  Sommiges (moet sê, dit lyk soos die pro’s) gooi hul fiets oor die skouer, klim met een of twee hale oor die hindernis, spring op die fiets en gaan.   Ander sit eers die fiets neer en verwerk die skok dat hulle alweer oor ‘n heining moet klim.  Drink ‘n ietsie uit hul bottel uit.  Sug.  Tel die fiets oor die heining.  Dis nogal verbasend hoe onstabiel fikse fietsers kan wees in hul poging om oor die heining te klim.  Maar ek skat na 22 km se bergfiets ry is jou bene seker al bietjie jellierig.  Sommige tegnieke was nietemin prettig om te aanskou.

Sommiges wil net gou praatjies maak, terwyl ander nie links of regs afwyk van hul gedetermineerde baan nie.

Anders as met seiljagvaart, egter, is daar duidelik ‘n kameraderie tussen fietsryers.  Ouens sal omdraai om die een agter hulle te help om die fiets oor die heining te tel.  Ek het gedink dis nogals nice.

Intussen moedig vroulief almal aan wie daar by haar verbykom, en maan hulle om reguit in die pad te hou (om een of ander rede mik almal links) en om stadig te ry.  Niemand steur hulle eintlik aan die vermaning om stadig te ry nie.  Wat seker sin maak, aangesien dit ‘n wedren is.

Een groepie dames wat by haar verbykom kry ook die gebruiklike vermaning.  Sy hoor die een vir haar maats sê:  “Wat sê sy, moet ons stadig ry?  Cool, ons kan dit doen.”

Die stroom ryers droog later op.  Ryer nommer 239 (ek het hulle getel, daar was after all niks anders om te doen nie) is ‘n laerskoolseun.  Hy kan doodgwoon net nie sy fiets oor die heining kry  nie oor hy so kort is.  Ek help hom.

Kort na ryer nommer 240 daar verby is kom die span “sweeps” verby wat die agterhoede dek.

Mens is nogals moeg van so ‘n halwe se in die son staan.  Maar ek aanvaar dis niks in vergelyking met hoe die fietsryers gevoel het nie.