Ek pomp by die werk

Maart 13, 2009 in Sonder kategorie

 

In die “stationery” kamer. Tussen potlode, penne, ‘n hoop ou koerante en ‘n stofsuier. Dit suig. Die stofsuier en die pompery…

Ek hoop nie iemand hoor die ritmiese geluid van buite af nie, maar gelukkig kan ek die deur sluit van binne. My grootste vrees is dat iemand onverwags sal inkom en my sal sien. Soos ‘n verskrikte springhaas in die ligte van ‘n 4×4. Borste ontbloot. Swetend in die warm kamertjie.

Ek dink boonop dat my baas my dophou. Hy het iets genoem van die tyd wat ek in die skryfbehoeftekamertjie spandeer. Almal in die kantoor weet wat daarbinne aangaan. Nou brand my wange bloedrooiskaam elke keer wanneer ek die skryfbehoeftekamertjie betree… Dit is stresvol en dit voel soms of daar niks wil gebeur vir ‘n paar lang m-i-n-u-t-e nie. Dan. Aaaahh, wonderlike verlossing van die kloppende dringendheid wat al begin opbou het van vroeg die oggend. Ek sou dit graag wou stopsit, hierdie pompery, maar dit is net onmoontlik.

Dit suig nog steeds. Hierdie noodsaaklike trekkery aan my tepels. Is dit nie veronderstel om lekkerder te wees nie? Nou is dit net ongemaklik en ek wil dit nie eintlik doen nie, maar dit moet – vir almal se onthalwe.

Net iemand wat al melk moes uitpomp vir haar baba sal weet hoe dit voel! Het julle al ‘n borspomp gesien? Dit lyk soos iets uit die middeleeue, spesiaal ontwerp om verneukende vrouens ‘n les te leer! Die twee plastiektregtertjies word aangehits deur ‘n motortjie – vroom-vroom, vroom-vroom vreet hulle ‘n mens se borste leeg. Dit is sekerlik die onsexyste aktiwiteit in die hele wêreld. Maar hopelik kon ek dit darem bietjie beter laat klink as wat dit werklik is!

6 antwoorde op Ek pomp by die werk

  1. zephur het gesê op Maart 13, 2009

    Genugtig jy het my nou gehad daar…

    Welkom by Blogville.

  2. perskepit het gesê op Maart 13, 2009

    Dankie! Was voorheen op News24.com se blogs maar het nou oorgeskuif Litnet toe.

  3. net myself het gesê op Maart 13, 2009

    vir ‘n oomblik het ek gedink: wat??????

    en toe giggel ek lekker. Ek het gelukkig nog nie een van daardie pompe nodig gehad nie, maar ek sidder. Is dit nie seer nie??

  4. perskepit het gesê op Maart 13, 2009

    Aan net myself: aan die begin is dit nogal seer en dan… nee eintlik bly dit altyd bleddie seer!

  5. perskepit het gesê op Maart 13, 2009

    Dankie Annemari, ja-nee, hierdie is industriele masjiene – toepaslik vir Blommetjie-die-koei… Dankie vir die geluk, het nog BAIE stories om te vertel…

  6. Trakie het gesê op Maart 13, 2009

    Jy’t geslaag! Dit het soooo sexy geklink.

    Welkom hier by ons!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.