Dominee Drolkop

Julie 8, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie is ‘n toetslopie vir ‘n brief wat in wording is:

Dominee,

Ek stuur hierdie brief na my ma se eposadres – siende jy lees haar boodskappe glo ek hierdie een sal ook by jou uitkom.

Eerstens wil ek noem dat jy dalk hierdie brief sal lees en, in kenmerkende wyse, sal glo dat dit nie op jou van toepassing is nie.  Jy sal sê my ma het onregmatig uit julle huis gepraat.  Jy sal sekerlik byvoeg dat sy ons nie alles vertel het nie en dat dit glad nie waar is nie.  Jy is reg dat my ma my vertel het wat in julle huis aangegaan het.  In die vyf jaar wat julle getroud was het sy iemand nodig gehad om mee te praat en ek is baie dankbaar dat sy my in haar vertroue geneem het.  Ek bid dat ek en my dogter dieselfde verhouding sal hê.

In ‘n vorige epos (aan my ma, wat jy skelm gelees het) het ek jou Dominee Drolkop genoem.  Jy is glo woedend daaroor.  Graag wil ek jou meedeel dat dit die makste woord is wat by my opgekom het, maar ek aanvaar die geimpliseerde kritiek: Ordentlike mense praat nie so nie.  “Fuck off back to Benoni, bitch!”  Is dit dalk woorde wat ordentlike mense sou uiter?  Dan neem ek aan jy is nie so ordentlik as wat jy voorgee nie.

Ek verstaan volkome dat jy voel dat die “man van die huis” die geld van albei eggenote moet beheer.  My ma weer, voel dat sy haar geld op ‘n bekwame wyse kan belê en nie nodig het om haar geld oor te lewer nie.  Persoonlik stem ek saam met haar.  Sy het nog altyd baie goed met haar geld gewerk en ek ken haar immers 38 jaar lank.  In vergelyking met die 6 wat jy haar ken.    In my opinie moes geld nooit ‘n strydpunt geword het nie.  Ek onthou baie goed ‘n dag by die lughawe, toe jy, my ma en ek by ‘n tafel gesit het en vir julle vlug gewag het.  Jy het oorgeleun, jou gesig baie naby aan myne, en plegtig belowe:  “Jy hoef nie bekommerd te wees nie, ek sal mooi na jou ma kyk.”  Ek het jou nooit gevra om so ‘n belofte te maak nie, dit was uit eie beweging.  Verder het jy, op die dag van julle troue, my man genader en presies dieselfde belofte aan hom gemaak.  Nou verbaas dit jou dat ek woedend is dat jy jou belofte verbreek het?  Waar is jou eer?  Ek het verstaan, uit jou belofte, dat jy my ma sou onderhou en sou sorg dat sy gemaklik sou lewe.  Daarom het jy haar mos oortuig om te bedank van haar werk in Johannesburg en saam met jou Suidkus toe te trek, nie waar nie? Duidelik het jy bedoel jy sal vir haar sorg met jou geselskap – solank dit net nie geld kos nie!

Natuurlik dra my ma ook skuld.  Sy was dom (of verlief) genoeg om ‘n huwelikskontrak te teken wat haar slegs met haar eie geld sou los, sou iets skeefloop.  Lyk vir my jy het met ‘n plan gewerk, né!  As jy nie met haar getrou het nie, haar nie oortuig het om saam met jou te trek nie, en nie jou belofte verbreek het nie, sou sy nog gemaklik in haar eie huis geleef het.  Jy het, sonder ‘n sweempie se skuldgevoel, jou finansiele verantwoordelikheid, myne gemaak.  Ek is lief vir my ma en ek sal na die beste van my vermoë vir haar sorg.  Duidelik was jy nie lief genoeg vir haar om dit te doen nie. 

Dan weer, ek het nog nooit ‘n dominee teëgekom wat nie geld bo alles stel nie. Mammon heers. Vra maar vir ‘n dominee wat ek ondersoek het in my forensiese dae.  Geld gesteel van wese en weduwees om homself te verryk.

Natuurlik is ek bewus daarvan dat my ma foute het, maar mens leer mos om saam met iemand se foute te leef – ons almal doen dit tog.  Tensy daar ‘n ander, ryk, weduwee is wat in die voue wag.  Tyd sal seker leer.

Daar is dit nou en ek voel tog beter dat my woede nou op papier is. Woede vir die manier wat jy my ma behandel het.  Woede oor die goed wat jy vir haar gesê het en woedend dat jy haar nou aan die genade oorlaat.  Sou jou kinders nie presies dieselfde gevoel het indien iemand anders dit aan hulle ma gedoen het nie?

PS. Sy het ongelukkig geen bewyse nie, maar my ma het my ook vertel van die webwerwe wat jy laat in die aand besoek.  Wie sou ooit kon dink jy hou so baie van diere!  Siek bliksem.

Wanneer ‘n man dit net nie kan vat nie…

April 6, 2011 in Sonder kategorie

Taaipit het dit aangestuur. Perskepit vang die skimp.

Die Suid Afrikaanse “hillbillies” is hier!

April 1, 2011 in Sonder kategorie

Die Pitte het Nassau, Bahamas binnegestrompel, swaar dra aan al die tasse.  Hulle is begroet met wuivende palmbome, sonskyn, blou lug, wit sand en die helderste van waters.

 

Die lokale mense het reuse, wit glimlagte en selfs vreemdelinge sal ‘n vriendelike “hallo” roep as hulle jou op straat verbygaan. In Hong Kong sal hulle jou aangluur asof jy geestelik versteurd is as jy so iets dom sou aanvang (geestelik versteurd is meer polities korrek as mal, ne?)

 

Die Blue Waters Resort, ten spyte daarvan dat dit as luuks beskryf word op hulle webtuiste, was oud en moeg.  Die diens was vrot en die matte was vuil.  Maar, as jy verby die verslete uiterlike kon kyk, het die swembad en die see meer as opgemaak daarvoor.

 

Die Pitte moes eerstens proviand gaan koop en is straat-af opsoek na ‘n supermark.  Taaipit het ‘n permanente vrag van 12 kilogram op sy heup (Kleinpit) so die Pitte het besluit om sommer een van hulle groot, nou uitgepakte tasse saam te neem supermark toe…  ‘n Uur later is hulle terug met ‘n tas vol kos…  Die kyke wat die Pitte ontvang het, soos hulle hulle kruideniersware in die tas gepak het in die supermark, het gewissel van ongeloof tot vermaak.  Hey, die Pitte het hulleself nog nooit as “classy” uitgegee nie!

 

I’m a Big, Big Girl

Maart 30, 2011 in Sonder kategorie

in a big, big world…  kyk, alles in Amerika is groot: die huise, die karre, die winkelsentrums. die paaie en die mense.

Hierdie feit het nie Kleinpit se kraalogies ontsnap nie, maar laat ek voor begin:  Die Pitte het afgesit winkels toe vir inkopies.  Slegs om die VSA te help deur hulle huidige ekonomiese krisis.  Dis nou nie asof ons geld wou spandeer nie (dis nou nie ‘n bodemlose put nie), maar mens moet jou medemens maar bystaan.  Dis jou plig, sien.

 

Wyl die Pitte wag om te betaal vir Kleinpit se spiksplinternuwe pienk Crocs, val Kleinpit se oog op ‘n kassiere wat naby staan.  Hierdie dame se klere was veels te kein vir haar lyf en sy het beslis nie ‘n nommer 8 rok gedra nie…  Perskepit probeer aan ‘n beter, meer polities korrekte manier dink om dit te sê maar sy is haastig:  die vrou was vet.  Erg oorgewig. 

 

Taaipit en Perskepit was in gesprek met Kleinpit wat op Taaipit se arm gesit het.  Trek die kind nie los in ‘n luide, klokhelder stemmetjie nie:  “A beeee-eeeeeeg aunty” (die “big” was uitgerek in in ‘n lae stemtoon geuiter).

 

Perskepit het in Kleinpit se gesigsveld inbeweeg om sodoende haar aandag af te trek maar Kleinpit het om haar ma gekyk en haarself net luider herhaal…  Die Pitte het hulle aankope en hulle kind gegryp en laat spaander.

 

 Later die dag was die Pitte in die swembad en Kleinpit, wat water in haar tweejarige gesiggie haat, het toegekyk hoe Taaipit gesig-eerste die water induik.  Gewoonlik, as Kleinpit nie huil wanneer haar hare gewas word nie, word sy geprys.  Sy het Taaipit ernstig aangekyk en toe hy deur die oppervlak breek en wyd vir haar glimlag het sy net so groot geglimlag en gesê:  “Well done, Pappa, you’re such a big girl!”

 

Groetnis van al die Pit-girls!

Wat om te vermy tydens ‘n lang reis

Maart 29, 2011 in Sonder kategorie

1.  Kleuters.
Indien jy een het wat jy nie kan teruggee nie, sal jy dit nie kan vermy nie. Probeer in elk geval.

2.  Lufthansa. 
Selfs al is hulle soms die goedkoopste.  Mag die Pitte nooit weer van aangesig tot aangesig kom met die suurgesig lugwaardinne of die suurkool vir middagete  nie (wat het hulle gedink? Kool vir 600 mense wat elmboog aan elmboog sit met geen kans van ontsnapping nie).

3. Amerikaanse immigrasie. 
Die Pitte is welbewus van die persepsies oor wit Suid Afrikaners in die buiteland.  Toe hulle dus die enigste swart immigrasie beampte trek het Perskepit se mond al droog geword.  Die persoon is oorspronklik van Uganda en het die Pitte behoorlik ondervra. 

  

Perskepit weet sy “volunteer” gewoonlik veels te veel inligting en het haar lippe toegebyt.  Taaipit het die antwoorde soos ‘n “pro” geantwoord:

“Where do you live?”  (Die regte antwoord is: “We don’t really have a home at the moment”, dit sou dalk nie die beste antwoord onder omstandighede gewees het nie…)

Taaipit: “Hong Kong”
“What do you do there?” 

Taaipit: “Work”
“What work do you do?”

Taaipit: “I work for a bank”
“Do you speak the Hong Kong language?” (Ek lieg nie, dit was regtig ‘n vraag). 

Taapit: “No”
“Then how can you work there?”

Taaipit (nog geduldig en met gelyke stem): “English is widely spoken.”

Die beampte het boonop ‘n vreemde gewoonte gehad.  Hy het sy tande ontbloot tussen sinne en dan soos ‘n dol hond aan sy kougom gevreet.

Hy het ons paspoorte bestudeer, skielik opgekyk, sy tande onbloot wyl hy indringend in elke Pit se wye ogies gestaar het.  Dan wys hy weer sy tande, gee ‘n paar woeste koue en kyk weer af.

Hierdie vreemde gedrag het nogal lank geduur maar die Pitte was so gefassineer met sy gedrag dat hulle sekerlik soos bobbejane gelyk het wat na ‘n slang staar. 

  

Stempel, stempel in die paspoorte.
“OK”
Die Pitte: “Thanks”
Immigrasie beampte, soos die Pitte wegloop: “Have you ever been in Uganda?”
Die Pitte (nou meer uit die veld geslaan as ooit) “No.  But we would like to go…” (so laaste liegie voor ons die VSA betree).

4.  Vlugvoosheid:

Onmoontlik om te vermy met bogenoemde kleuter.  Oë wat oopgerek word deur klein vingertjies 3:30 in die oggend is minder lekker.  Gelukkig hou dit net vir ‘n paar dae…

5.  Doekloosheid.
Die Pitte reis lig(gerig).  Hulle het aangeneem dat, soos in Suid Afrika, Hong Kong, Singapoer, winkelsentrums groot supermarkte sal hê om by proviand aan te skaf.  O nee, daar is winkels wat alles en nog wat verkoop maar geen doek in sig nie.  Gelukkig het die vriendelike Amerikaners sommer vir ons doeke gegee as ons so navraag doen oor waar om te koop.   Natuurlik het die Pitte, na 3 ure se soektog, uitgevind daar is ‘n supermark reg agter die hotel waarheen hulle kon stap…

Gelukkig kon hulle uitsien na die volgende vlug: Nassau, Bahamas – die Pitte is oppad!

The Amazing Race

Maart 28, 2011 in Sonder kategorie

Een van Perskepit se slegste eienskappe is haar kompeterene geaardheid.  Sy skryf dit toe aan die feit dat sy saam met ‘n ouer broer grootgeword het (“ag, jou sissie, kan jy nie eers tot die bo-punt van die boom klim nie/bodem van die swembad duik nie/deur die bul se kampie hardloop nie”, het sy gereeld gehoor).  Net om die geterg stil te maak en sodat sy terug kon gaan na haar boeke, het sy dus die boom geklim, in die swembad geduik en deur die bul se kampie gehardloop.

Dit het veroorsaak dat sy weier om te verloor, wat weer veroorsaak het dat geen vriend of familielid Perskepit as ‘n spanmaat met Thirty Seconds wil hê nie.  Sissies! 

In elk geval, terug by die vakansie.  As gevolg van Perskepit se kompeterende probleempie kan dit soms effe moeilik wees om saam met haar te reis.  Sy wil in haar beste broekie bollie as hulle ‘n trein mis (al is daar in 20 minute weer een) of as iemand voor haar wil indruk.

Dus was Perskepit heel eerste in die ferrie kaartjiekantoor se ry (haar vuis triomfantlik in die lug en Taaipit wat net sy kop meewarig skud) in Bellagio.  Na ‘n uur se bootreis het die Pitte in Como arriveer waar hulle moes hardloop om ‘n taxi te vind sodat hulle betyds die eerste trein Zurich toe kom vang.

As gevolg van akkurate beplanning aan Taaipit se kant en natuurlik sy brute krag (hy moes die reuse tasse rondkarwei, Perskepit het net vir Kleinpit gehad om rond te dra) het hulle die stasie gehaal met baie tyd te spaar.

Die drie-uur treinrit het gou verbygegaan met Kleinpit wat ‘n maatjie gemaak het en met die pragtige sjokoladeboks prentjies van Switzerland wat ons aandag getrek het.

Die trein was 5 minute laat (moes die Italiaanse kant gewees het – kan nie dink dat die Switzers laat sou wees nie) en die Pitte het soos koplose hoenders op die stasie rondgeskarrel op soek na die regte perron.  Perskepit het om hulp gevra (Taaipit sou nie) en hulle is na perron nommer 12 gestuur.  Baie hardloop, hyg en sweet het gevolg.  Perskepit het Kleinpit op die trein gelaai en arme Taaipit het die tasse opgeslinger.  Hy het mos gesê hy wil oefening inkry…  Die trein het vertrek soos Taaipit met die laaste tas opgeklim het.  Phew! Nog steeds voor in die denkbeeldige Amazing Race!

So het hulle in Frankfurt aangekom om die aand daar deur te bring voor die vlug na Miami.  Moet eerste daar wees.  Mag nie verloor nie…

 

Dit was die hond!!

Maart 22, 2011 in Sonder kategorie

Kleuters hou mens besig.  Dit is seker maar soos om te sê gras is groen.

Kleinpit is besig met potty training.  Of miskien is dit eerder Perskepit wat besig is met potty training en Kleinpit besluit wanneer sy wil en wanneer sy nie wil nie.  Dit is soos ‘n goudmyn hier by die Pitte: ‘n sterretjie vir elke ongelukvrye dag en na vyf ongelukvrye dae kry sy ‘n klein ietsie.  Vier goeie dae toe begin die ongelukke.

Die argelose piepies as sy “in” die televisie is, is nog een ding maar vandag was daar ‘n Gebeurtenis.

Perskepit het ‘n universiteitsvriendin met wie sy kuier noudat die Pitte terug in SA is.  Sy het saam met die Pitte geswot en was in dieselfde lyn.  Sy is ook nou ‘n tuisbly-ma met ‘n kleintjie en nog een op pad (arme ding).  Die verskil is dat haar man baie ryk is en hulle besit ‘n keurig-gemeubileerde paleis.  Nie dat dit Perskepit afsit van goeie geselskap nie – dis net ter agtergrond.

Perskepit het Kleinpit dadelik laat piepie toe hulle daar aangekom het.  Geen probleme.  So halfuur later het sy haar weer geneem: geen resultate.  Die twee kleintjies het heerlik begin speel in die sitkamer en die ma’s het gesels in die kombuis.  Perskepit het gemeen iets ruik ietwat af maar Vriendin se kleintjie is ‘n berugte stink-skyter dus het Perskepit nie onraad vermoed nie.

Na ‘n rukkie se kuier wil Vriendin se kleintjie Barney gaan kyk en die Pitte moet eers weer kleinhuisie toe gaan voor Barney gekyk kan word sonder ‘n luier.  Sal Kleinpit nie sowaar van die badkamer terughardloop sitkamer toe om verder te speel nie.  Perskepit is agterna om haar te gaan haal en toe sien sy dit:  ‘n reuse drol in die middel van die vloer.  Verbaas vra sy: “Kleinpit, wie s’n is dit?”  Trots antwoord Kleinpit: “Mine!”  Perskepit se eerste gedagte was om haar vriendin te roep sodat sy saam met haar kan lag maar skielik het die smaakvolle banke en fluweelgordyne Perskepit tot stilstand gemaan.

Toe gryp sy twee stukke kombuispapier en skep die stuk stront behendig (dis alles in die gewrig) op.  Sy was bang dat sy die toilet sou verstop en Vriendin het skielik ingestap toe gooi sy dit maar in die asblik…  Nie slim nie.  Vriendin se huismense gaan seker wonder wat die geurtjie is wat vanuit die kombuis nader drentel.  Gelukkig is haar man ‘n bekende kak-prater.  Dalk red dít die Pitte se reputasie!

Pasop vir die trappe!

Maart 18, 2011 in Sonder kategorie

Die Pitte het van Milan af getrein tot by Lake Como. Vandaar het hulle op’n ferrie gespring tot in Bellagio, ‘n dorpie langs die meer.  Dit is ‘n droomdorpie, ten spyte van die woonstel wat Perskepit op die internet bespreek het…  Gelukkig was die Pitte vir so 4 aande daar en, na die eerste aand het hulle gou ‘n ander plekkie gevind wat mooier, skoner en beter geleë was.

Perskepit het daar ‘n vreemde verskynsel ervaar: Italiaanse kos en wyn laat jou klere krimp.  Hoe dit op die klere beland sou Perskepit nou nie kon sê nie…

Die Pitte het een oggend besluit om ‘n kar te huur om die res van die omgewing te verken.  Die Italianer agter die toonbank het die kleinste rooi motortjie aan die Pitte toegeken, ‘n karstoeltjie ingesit en daar gaat hulle, bult af.

Na ‘n uur se rondritsery het die groter Pitte se gestelle vreeslik gevra na kaffiëne en hulle het naarstigtelik begin soek na ‘n oop ristorante.  Kleinpit het teen hierdie tyd ‘n keel opgesit: “Out Mommy, out!”.  Perskepit het gewonder of Kleinpit dalk gesmeek het om uit die kar gegooi te word want Perskepit was heel gewillig om gehoor te gee.  Dit was dalk net die kaffiëne onttrekking.  Of nie.  In ieder geval, die Pitte vat ‘n draai en ry so reg in ‘n dorpie in.  Die straatjies was nou en die senuwees rou. 

Skielik merk Taaipit ‘n bordjie wat koffie adverteer en is ook nie links nie – skerp draai om die hoek.  “Waaaahhhhh!!!” gil Perskepit, “daar is trappe!”  Taaipit gooi ankers en die drie Pitte sit stomgeslaan en kyk.  Die piepklein rooi Pit-mobiel se neusie kyk oor die trappe wat teen die bult af loop en ‘n ou Italiaanse oom sukkel met sy kierie opwaarts, kop meewarig aan die skud.

Perskepit: “Draai om, Taaipit, ons kan mos nie hier af nie”

Taaipit: “Kate Moss kan nie eers tussen die kar en die muur deurskuif nie, hoe de &%$# moet ek omdraai? Miskien moet ons af probeer ry…”

Perskepit: “Nee! Die versekeringsmaatskappy sal vir ons lag!”

Taaipit het sowaar daai karretjie omgedraai gekry.  Met Perskepit wat voor staan en instruksies in Afrikaans skree, die ou oom wat agter staan en instruksies in Italiaans skree en Kleinpit wat in Babataal net skree.  Taaipit se kaakspiere het gewerk en Perskepit het geweet dat die rit terug in stilte moes geskied.  As sy geweet het wat goed is vir haar…  Kaffeiëne onttrekking is ‘n lelike ding.

Van Hong Kong na… Hong Kong

Maart 16, 2011 in Sonder kategorie

Die Pitte se eerste vlug van Hong Kong na Milan was, genadiglik, sonder voorval.

Dit sou gou verander.  Kleinpit het haarself natgepiepie terwyl die Pitte vir hulle tasse gestaan en wag het (sy moet haar ouers iets gee om te doen, mors van tyd om net te staan en wag).  Sy het net gewag dat Perskepit haar droog aangetrek het toe sy, vir die eerste keer in haar (toe) 22 maande-oue lewetjie, ‘n kat geskiet het.  Perskepit het sommer die halfverteerde appels en jogurt (geen wonder die kind het gekots nie) in die natgepiepiede klere gevang, in ‘n bondel gerol en alles in die asblik geskiet. 

Kort nadat die Pitte hulle pakaas (onthou, reis vir 6 maande word nie met twee handtassies gedoen nie…) opgetel het, is hulle na hulle hotel in Milan.  Hulle het hulle tasse neergegooi en dadelik kos gaan soek.  Nadat hulle twee blokke vergeloop het, verby die een Chinese restaurant na die ander, het Taaipit gestop, vir Perskepit gekyk en gevra: “Het ons Hong Kong verlaat?” 

Dit blyk dat Perskepit sowaar ‘n hotel geboek het in die middel van Milan se China Town.  Uh-uhm.  Sy hou van rys en noedels maar darem nie so baie nie!  Die eerste pasta was fantasties, die wyn was ook skaflik en die espresso haar-opwekkend.

Natuurlik het vlugvoosheid veroorsaak dat Kleinpit die volgende oggend 3 uur op was.  Reg vir die dag se speel!  Perskepit het laaggelê totat Taaipit en Kleinpit verdiep was in ‘n legkaart.  Sy het ‘n lang arm laat seil na haar bedkassie, haar Economist  (sy het nog nooit gesê sy is “exciting” nie!) nadergetrek en met skrefiesogies bly lê en lees.  5 uur die oggend was al drie die Pitte weer aan die slaap en teen 7 uur was hulle reg vir die dag!

Na ontbyt het hulle die pad gevat na Milan se….nee, nie wonderlike museums nie.  Nee, ook nie die duur winkels of die smullekker restaurante nie.  Maar ja, na die speelparkie…  wat gelukkig naby ‘n ou kasteel was, so almal was gelukkig…

Back with a Bang

Maart 15, 2011 in Sonder kategorie

Die Pitte het ses maande afgevat en rondgereis.  Dit was mal, lekker, ongelooflik, dekadent, vreesaanjaend, skrikwekkend en iets waaroor hulle nooit spyt sal wees nie.

Die plan was om terug te keer Hong Kong toe maar, wyl hulle hier in Suid Afrika kuier, keer Taaipit se vorige baas hom voor en oortuig hom dat Suid Afrika die land van melk en heuning is (geld, bevordering, beter werksure is belowe).

Perskepit huil haarself aan die slaap want sy was beslis nie reg om terug te keer nie.  Sy is nie eers seker of sy ooit sou reg wees om terug te keer nie.  Maar dit daar gelaat – dit was ‘n gesamentlike besluit en die Pitte hoop vir die beste.  Geen besluit is immers omonkeerbaar nie.

Die ses maande was natuurlik ook ‘n teelaarde vir ander onhebbelikhede en verlede week was Perskepit oortuig sy was swanger… sy het pas uitgevind sy is nie en sit nou met ‘n verskriklike skuldgevoel:  soveel mense probeer hard om kinders te kry en sy en Taaipit was oorval met verligting.  Natuurlik bloot uit selfsugtige redes:

* Kinders is duur en nog enetjie sou die fyn berekende plannetjies omver gewerp het;

* Perskepit wil graag, wanneer Kleinpit kleuterskool toe gaan, weer begin werk.  ‘n Nuwe enetjie sou die planne met nog ten minste vier jaar uitskuif;

* Perskepit en Kleinpit is besig om ontslae te raak van die doeke… net om weer te begin met ‘n nuwe ene?

* Reis (Perskepit se verslawing) is besonder moeilik met meer as een skreebekkie.

Die skuldgevoelens wat spruit uit bogenoemde dinge word ge”counter” deur skuldgevoelens oor Kleinpit:

* Is dit regverdig (op Kleinpit) om ‘n enigste kind groot te maak?

* Wat as sy ‘n sosiale “misfit” is omdat sy nie ‘n boetie of ‘n sussie het nie?

* Is dit regverdig dat sy eendag alleen die bekommernisse oor verouderende en sieklike ouers moet dra? (Finansieel is ons reeds besig om voorsiening te maak sodat daar darem nie so ‘n las op haar is nie).

Daar is so baie voordele en nadele van “enigstes” maar behoort mens kinders te kry vir jou kinders se onthalwe of moet mens teel omdat jy, en jou ander helfte, graag nog kinders wil hê?