You are browsing the archive for 2013 November.

Die lekkerste nuwe ding is

November 16, 2013 in Sonder kategorie

‘n splinternuwe musiekstuk.

Wanneer ek die nuwe boek so oopvou en die heerlike reuk van papier inasem,raak ek sommer opgewonde!Daardie regskuif voor die klavier,die vinnige deurkyk van die note,voor ek begin tokkel,is soos ‘n ontdekkingsreis.Eers loer ek in watter toonaard die musiek geskryf is,dus hoeveel kruise en molle (dis nou daardie snaakse goetertjies wat lyk soos vlieë wat in ink geval het) daar is.Daarna kyk ek na die maatslag,dws hoeveel van watter soort note in ‘n maat is,of makliker nog,dis die ritme van die musiek.Dan word daar gekyk na die spoed en al die ander Italiaanse woorde soos:allegro,andante,presto,allergando,ritardando,dolce,forte,fortissimo,piano,pianissimo en nog honderde meer.Ek moes dit alles in my kop kry toe ek skaars in standerd een was.Gelukkig onthou ek dit nog.Vroeg ingeskerpte leerstof,is om een of ander rede die maklikste om uit my breinkomputer uit op te diep.

Die afwagting is nou groot,want die lekkerste is die val van die skone klanke op my ore.Soms begin dit maar sukkel-sukkel,afhangende van die moeilikheidsgraad.Ek worstel eers deur die hele stuk om te hoor hoe dit klink en daarna word die musiek in dele verdeel en stukkie vir stukkie fyn gekou.Dis lekker om te sien hoe ‘n slim komponis die musiek volgens ‘n patroon geskryf het en dis nog lekkerder om die struktuur uit te pluis en te sien hoe alles soos ‘n legkaart inmekaar pas.

Wanneer ek die spulletjie onder die knie,ag ek bedoel onder die vingers het,moet ek weet in watter tydperk die musiek geskryf is en volgens die styl van daardie tyd speel.Dit help nie om Bach te probeer speel soos Beethoven nie,want die Baroktydperk verskil hemelsbreed van die Romantiese tydperk. Al wat ek weet,is dat die speel van musiek my brein geweldig stimuleer,want mens moet op een slag kyk na honderd-en-tien verskillende dinge en die boodskap na jou vingers en voete stuur om die regte ding te doen.

Elke nuwe stuk laat my latente,dor breinselle weer nuwe lewe kry!

_MG_9102a

Wat sal jy doen as……

November 11, 2013 in Sonder kategorie

jy ‘n smaaklike happie slaai vat en behaaglik kou aan die stukkie fetakaas en dan besef die tekstuur is net nie REG nie?

Gister het ons weer ‘n heerlike familiedag gehad.Die kinders wat altyd rondgehardloop het en sulke dae veeleisend gemaak het,sit so ewetjies rustig op ‘n kombers onder die Vaderlandswilg in die agterplaas.Hulle is nou almal volwassenes en koer oor die twee babas wat hierdie jaar by ons hegte familie aangesluit het.Selfs die twee ongetroude mans word kort-kort met ‘n baba in die arms betrap.Ons klein brakkie-kinders hol die hele wêreld vol en snuif ook so nou en dan nuuskierig aan ‘n babavoetjie.Geluksalige prentjie van ‘n baie gelukkige groepie mense.Natuurlik braai die jong manne die vleis en die ouer garde sit lekker lui onder die lapa….hoogtyd…jou beurt is jou beurt!

Aan etenstafel sien ek Broertjielief probeer my oog vang,maar ek kop nie lekker nie.Later met ‘n dankie-sê sms aan my suster(by wie ons gekuier het) laat weet hy haar,die slaai was vreeslik lekker,maar die stukkie kougom wat hy aangesien het vir fetakaas,was nie presies wat hy verwag het vir ekstra geur nie!

Vinnige spioenasiewerk laat Sus besef,die skuldige een was haar dogter se skoonma.Díé het die slaai aanmekaar geflans,al kouende en pratende en op ‘n stadium was haar kougom net weg…

Broertjielief sê hy sal nooit weer met dieselfde oge na fetakaas kyk nie!

 

Tekstuur en werklikheid

November 7, 2013 in Sonder kategorie

Vanoggend ry ek vir die tweede keer hierdie week op die “snelweg” vanaf die Oosrand na Randburg.Maak nie saak hoe laat of vroeg jy ry nie,een of ander tyd knars die verkeer tot stilstand.Dit gebeur meestal voor Gillooly’s wissellaar,of net daarna,oppad verby Alexandra.Terwyl ek so twintig kilometer per uur voortkruie,dink ek toe maar aan tekstuur.

Die stuurwiel waaraan ek so gespanne vasklou,is sag onder my hande en my vingers pas netjies in die grepies wat soos babatoontjies om die wiel gespasieer is.Die sitplek het die heerlike fluweelgevoel van sagte leer.Op die vloer gaan dinge bietjie woes.Daar trap my een voet meer op die harde rubberrem,as op die petrol.Gelukkig is my voertuigie outomaties,anders het ek seker ‘n spasma in my been gehad van koppelaar intrap.

Intussen is my emosies een warboel van teksture.Eers spoel ongeduld soos ‘n vuil rivier oor my.Dis nat en voel grillerig..vol allerhande opdrifsels..dis daardie bestuurders wat sommer langs die pad hul eie pad maak en voor gaan indruk.Daarna oorval angs my en knyp my vas soos twee benerige hande,wat vratterig teen my wang skuur.Dis vir die vark wat pas deur die klankgrens gebars het en my met ‘n lemmetjiebreedte gemis het soos hy deur die verkeer vleg.Kophou skop nou in en kalmte gly soos gladde roomys in my keel af.Gelukkig kan Classic-FM se soet klanke my bonsende hart tot stilstand masseer.Hierdie emosionele teksture is deel van ons daaglikse bestaan,al dink mens nie altyd so nie.

Die Gautrein beter nou vinnig uitbrei,want soos dinge nou staan,staar ‘n nare werklikheid ons in die gesig..die nuwe paaie is reeds onvoldoende en dis dit net ‘n kwessie van tyd voordat die verkeer finaal stilstaan.Die end van die jaar is daar nog ‘n hele klompie ekstra motors op die pad,wanneer skoolverlaters en nuwe studente ook deel van die een-per-voertuig-miljoene op ons paaie word!