You are browsing the archive for 2013 October.

Uitdaging:Hout…ietsie anders.

October 31, 2013 in Sonder kategorie

Almal begeer altyd ‘n huisie by die see,maar ek het my eie houthuisie in Damaraland!Vanaf my agterstoep is die mooiste berge sigbaar en vorentoe is die lieflike ou groot Mopanies en Anabome,wat in  die Huabrivier groei.Dis ‘n bron van voedsel vir verskeie diere,veral vir die Woestyn-grootvoete.Sommige dae gaan dit maar swaar op daardie warm vlakte,en as ek nie gewig verloor nie,sal ek ook nie weer by my huisie se deur kan in of uit nie!Die harde lewe sal wel daarvoor sorg.

Omdat dit so vêr van alles af is,moet ek maar tevrede wees met ‘n houtraam vir ‘n kooi en ‘n oopplan (geen dak)kombuis met ‘n rietrakkie en rietkasdeur.Agterlangs is my beeste se kraal,maar dié val ook stuk-stuk uitmekaar,want die tamheid van ‘n harde lewe,het my platgeslaan.Ek kan dit darem nog regkry om ‘n paar foto’s te plaas,voordat ek heeltemal flou word van die swaarkry.

_MG_9329

My huisie van hout en modder,met mooi berge agter.

_MG_9324

Ek sukkel bietjie om by die deur uit te kom,maar een van die dae is ek dun van die ontbering en dan sal dit makliker gaan!

_MG_9327

My kombuisie met ‘n rietrakkie en riet kasdeurtjie.So saam met die hout,is dit ‘n dodelike estetiese kombinasie.

_MG_9321

My houtkooi..so ‘n paar komberse en ‘n klipkussing,en ek is reg vir droomland!

_MG_9121

Mopanieboomstam hier naby in die rivierbedding.

_MG_9689

Grootvoet stamp die boom dat die stof so staan.Dis net om die lekker sade te laat afval.Hierdie ouens breek nie sommer ‘n boom nie.Hulle weet dat kos skaars is.

 

Frankie..spesiaal vir Monica

October 29, 2013 in Sonder kategorie

Vrydagoggend neem ek toe met ‘n swaar hart vir Frankie na die veearts.Soos ek reeds vertel het,die outjie is gebore met ‘n hartprobleem…vernoude hartklep.Saterdagoggend vroeg is begin met die prosedure.Daar word net soos by mense,’n dun draadjie (of wat mens dit ookal noem in mediese terme) in die liesaar ingesteek tot binne in die hart.Vooraan is ‘n balonnetjie.Wanneer die vernouing bereik word,word die ballonnetjie vinnig opgeblaas.Dit duur sowat ‘n minuut,waartydens daar dan geen bloedvloei tussen die hartkamers kan plaasvind nie.Dan word die druk tussen die hartkamers gemeet en indien nodig word die ballonnetjie nog ‘n tweede en derde keer op-en af geblaas,totdat die druk tussen die hartkamers gelyk is.Daarna word alles weer verwyder en hopelik is die vernouing iets van die verlede.Ek hoop ek het dit reg verduidelik,want dis hoe ek dit verstaan het.

Nietemin,ons kon al Sondag vir knapie gaan haal en moet hom nou twee weke lank stil hou.Dis effe moeilik met sy lewendige maatjie,Tienkie,wat heeltyd wil speel.Frankie vier vandag sy eerste verjaarsdag…as ons dit nie laat regstel het nie,sou ons hom oor ses maande begrawe het.Ek weet dis net ‘n hond,maar as jy in daardie ogies kyk…..

IMG_0372

Frankie met sy gunsteling speelding..’n blou olifantjie.

 

Uitdaging:Gunstelinge

October 21, 2013 in Sonder kategorie

Met hierdie uitdaging kan ek heeltemal oorboord gaan.Dit gaan nie soseer oor fotografie nie,maar oor dinge waarvoor ek lief is en wel op foto’s vasgelê het.

_MG_4626

Dexter,my kinders se Airedaleterrier,Desembervakansie op Swakopmund.

353

Ek is mal oor muise en het hierdie knapie verlede jaar in die Kgalagadi afgeneem

_B0O4138

Wilde perde by Aus.Perde is vir my pragtige diere.

_MG_9666

Natuurtonele is van my gunstelinge om af te neem.Hierdie is vanuit die Huabrivier in Damaraland geneem.

IMG_0364

Nou,my heel,heel gunsteling…ons nuwe babatjie wat nou ses wekies oud is!

 

Vergete op verlate vlakte…

October 19, 2013 in Sonder kategorie

Min mense ken die verhaal van De Riet.Dit is ‘n afgeleë gehuggie in die verlatenheid van Damaraland.Op ‘n uitgestrekte,bar vlakte langs die Huabrivier woon hierdie klein gemeenskappie in sink- en houthuisies.Hulle enigste kontak met die buitewêreld,is die toeriste wat soms daar verbyry op soek na die woestyn-olifante en -leeus.

Ons was nou al ‘n paar keer daar en het al gesels met die mense.Met verstomming luister mens na die pragtige Afrikaans wat hulle praat.Ene Chris Steenkamp het tydens ons laaste besoek vir ons vertel hoe hulle daar beland het.Dis een van die vorige regering se dade wat nog steeds langtermyn gevolge vir hierdie groepie vergetenes inhou.Hulle is deel van die Riemvasmakers wat in die sewentigerjare vanaf Riemvasmaak,in Augrabies-omgewing,verskuif is.

Dit was ‘n gemeenskap wat reeds meer as ‘n eeu in die harde semi-woestyn,Noord van die Oranjerivier,omtrent 55km vanaf Kakemas gewoon het.Daar was drie etniese groeperinge,nl. Xhosas,Nama-Damaras en Kleurlinge.Die samebindende faktor was hierdie mense se suiwer,ryk,poëtiese “Oranjerivier Afrikaans” wat hulle gepraat het.Meeste van hulle het Afrikaanse vanne gehad,soos Steenkamp,Booysen,Malgas,Dawids ens.Die rede hiervoor was dat dit ‘n paspoort was om werk te kry by die wit plaasboere oorkant die rivier.Die destydse regering wou hierdie area gebruik vir militêre oefeninge en ‘n basis,asook om dit in te lyf by die Augrabiese Nasionalepark.Dit sou ook gebruik word vir ‘n teelprogram vir swartrenosters.

Die Riemvasmakers is verskuif na drie plekke.Die “Xhosas”(hulle kon nie ‘n steek Xhosa praat nie!) na Ciskei,die Nama-Damaras na De Riet in Namibië en die Kleurlinge na Gordonia.Met die oorname deur die nuwe regering in 1994,is die Riemvasmakers se grondreg herstel en vanaf 1995 het hulle stelselmatig teruggegaan na hul geboortegrond.

As julle nou egter sien hoe ver hierdie gehuggie van alles af is,kan ‘n mens verstaan dat hulle nie maklik terug SA toe kon trek nie.In Namibië moes hulle ook lank sukkel om erken te word as ‘n eie etniese groep,want daar is gereken hulle kan maar inskakel by die Damaras en Namas.Hulle boer met bokke en beeste en verder deel hulle hul sementdam se water met die woestynolifante.Hul groentetuintjies word gereeld deur die Grootvoete verwoes,dus is dit maar ‘n harde bestaan wat hulle voer!

_MG_9771

Die gedenkplaat by die begraafplaas.

_MG_9784

Die begraafplaas met die wydsheid van die omgewing duidelik sigbaar.Die gehuggie, De Riet le daaragter.

_MG_9787

Die speelparkie.Daar was nie baie kinders nie.Meeste van hulle is in skoolkoshuise op Xorigas.

_MG_9793

Die enigste kindertjies wat ons gesien het.Sulke skatlike goedjies,praat pragtige Afrikaans.Die dogtertjie se naam is Meisie en die ligte outjie se naam is Anton.Ek kon nie die ander tweetjies se name mooi hoor nie.

_MG_4251

Woestyn-olifante drink heerlik uit De Riet se enigste waterbron.Onlangs is daar vir hulle ‘n nuwe suipplek ‘n ent weg gebou.Dit sal seker ‘n tydjie neem voordat die olifante skuif,want nes die mens,het hulle ook maar vaste gewoontes.

 

Nog emosies

October 17, 2013 in Sonder kategorie

Wie sou ooit kon dink dat hierdie tema soveel moontlikhede bied? Dis seker oor die lewe eintlik een groot emosie is!

Hierdie foto’s wat ek nou gaan plaas,het my geweldig ontstel.Soos julle reeds weet was ek verlede maand in Damaraland en met ons rondryery daar in die gramadoelas het ons eensklaps op hierdie toneeltjie afgekom.Dit was naby Klein Gau-Aus,vir iemand wat dalk die area daar ken.Die emosies wat dit opgewek het,was een van verbasing,toe van skok en wonder wat die storie hieragter is.Ons het verskeie moontlikhede bespreek,maar die raaisel sal seker nie maklik opgeklaar word nie.

Ons het gedink iemand se as is dalk hier gestrooi en dat dit ‘n stapper was wat baie lief vir die natuur was.Dit kan natuurlik een of ander Damara-ritueel ook wees,want dit is hulle land.Moontlik het iemand daar verdwaal en van die dors omgekom.Wat dink julle?

_MG_0231

In die middel van nerens,vlak langs die tweespoorpaadjie…

_MG_0233

Twee blikborde in ‘n kruisvorm vasgepak met klippe.

_MG_0232

Hierdie deurgetrapte skoene is verstewig met swart plakband.

_MG_0237

Die skoene moes al ‘n rukkie hier gewees het,want binne-in het ‘n graspol gegroei.

Emosies

October 15, 2013 in Sonder kategorie

Dis al lankal ‘n mite dat net mense emosies beleef.In die natuur is baie emosies en ek plaas ‘n paar foto’s om dit te illustreer.

_MG_0011

Ken jou plek,seun!Toon respek teenoor ouderdom.

_MG_0088

Lekkerr..lekerrr..so ‘n boomstomp help teen die ongemaklike jeuk!Wat doen mammie nou?

_MG_9824

Ek is nou so nuuskierig oor die werking van hierdie stomp.

_MG_0093

Ag nee,magteloosheid,want die tak is te hoog om soos Mamsie my stert daarteen te skuur!

 

Hartseer verlatenheid

October 10, 2013 in Sonder kategorie

Terwyl ons daar in Damaraland rondgery het,het ons op hierdie ou plaashuis afgekom.Dis op die plaas,De Kroon.Damaraland is staatsgrond en sedert die Odendaalkomissie se verslag in die sewentigerjare is alle plase hier onteien en kan die Damaras oor hierdie wye area beweeg met hul vee.Die staat hou boorgate vir hulle in stand.Die voordeel is natuurlik dat toeriste ook kan ry waar hul wil en ook die vryheid geniet van die wonderlike natuurskoon.Hoe iemand in elk geval in hierdie ongenaakbare wêreld ‘n bestaan kon maak,gaan die verstand te bowe!

_MG_9586

Pragtige uitsig deur die vervalle venster

_MG_9588

Werkende windpomp sigbaar deur die venster.Ons het juis ons waterkanne hier kom volmaak.

_MG_9566

Ek weet nie wat die simboliek agter die veertjie is nie,maar dit het my laat voel of ek oortree op iemand se terrein.

_MG_9577

Die volle prentjie van verlatenheid.

_MG_9583

Fantastiese uitsig vanaf die verlate stoep.

 

 

 

Klippe en sirkels

October 9, 2013 in Sonder kategorie

Aangesien ek verlede week so gesukkel het om foto’s te plaas,het van my mooiste foto’s oor sirkels,agterweë gebly.Toevallig is dit ook klippe,dus pas dit in by hierdie week se tema.

Ons het vir drie dae langs ‘n sandsteenkoppie,naby die Huabrivier tent opgeslaan.Vandaar het ons elke dag in die rivierbedding rongery opsoek na die woestynolifante en -leeus.Ons het wel die olifante raakgeloop,maar die geheimsinnige leeus het net hul spore gelaat en nogal naby ons klein tentjies…hulle het seker snags kom kyk wie so snork!.

Dis ‘n ongelooflike ervaring om in hierdie plek rond te beweeg,so vry,so sonder grense,so deel van die natuur,weg van selfone,tegnologie,lawaai.stres…net jy en die grootsheid van die natuur.Die mens het homself eintlik verloor in al sy speelgoedjies.Hier kan jy weer kennis maak met jouself.

Ek het een middag tussen die sandstene rondgeklim en op hierdie prentjies afgekom.

_MG_9478_MG_9477_MG_9474_MG_9400_MG_9425_MG_9408

Klippe-Uitdaging

October 8, 2013 in Sonder kategorie

Ek het hierdie foto’s verlede Oktober geneem toe ons in die Skedelkus Nasionale Park was.Dis op Terracebaai,’n plek met die meeste klippe wat ek nog ooit bymekaar gesien het.Die “strand” bestaan uit sulke klipterasse (vandaar die naam “Terracebaai) en jy breek amper jou enkels op al die klippe,voordat jy by die water uitkom.Die branders wat die klippe rondmaal,maak ‘n ongelooflike lawaai en met elke skuimkop,skiet duisende klippies in die lug in!

_MG_3586

Groot rots,groot branders

_MG_3600

Duisende klippe skiet in die lug op tussen die skuimkoppe!

_MG_3558

Klipterasse sover as wat jy kan sien!

_MG_3408

Besondere klippe orals tussen die miljoene ander wat daar rondgestrooi is.

_MG_3685

Blink klippies met my beeld sigbaar in die nattigheid.

Sirkels in die natuur

October 2, 2013 in Sonder kategorie

Ek was verlede week weer in Damaraland in Namibië en het my verstom aan al die sirkels in die sandsteenformasies.Sandsteen is een van my gunstelinge om te fotografeer,want al is die dag dof en vaal of hard en ongenaakbaar,is die kleure in sandsteen altyd sag op die oog!

Ongelukkig het ek my kwota fotospasie opgebruik en volstaan ek met hierdie twee foto’s.Sal seker nou derde blog moet begin of van Photobucket gebruik maak.Ek weet net nie hoe om die foto’s van daar af  na my blog te kry nie.Help asb julle slimmes.

_MG_9365

Duisende ronde gaatjies en die drie groter gate,laat hierdie klip soos ‘n katjie met snorbaarde lyk.

_MG_9399

Nog sirkels.