You are browsing the archive for 2013 July.

Frankie…

July 17, 2013 in Sonder kategorie

Ses maande gelede het jy hier aangekom,saam met Tienkie,twee klein bondeltjies harige liefde,met die oulikste baardjies en wenkbroue.Sedertdien het jy diep in ons harte ingekruip.Aanvanklik was jy so lomp en het gedurig geval as Tienkie,woes met jou speel.Sy is ‘n maand ouer as jy,maar jy het gou sterk geword en haar verby gegroei.

Jy kielie ons soggens wakker met jou besembekkie.Wanneer jy jou wit en blou truitjie aanhet,lyk jy nes ‘n vlootadmiraal met jou woeste baard en Genis-wenkbroue!Jy is die liefderikste dingetjie en kan my soms so intens aankyk,dat ek eintlik wonder of jy gedagtes kan lees.

Onlangs het jy die langpad saam met ons Namibië toe aangepak.Jy was maar karsiekerig en olik en het heeltyd geslaap.Op elke plek waar ons oornag het,was jy egter Koos Kordaat en het gemaak of die plek aan jou behoort!

Laatmiddag se uitstappies duine toe,het jou uit jou vel laat spring.Jy het so lekker duin-op en duin-af gehardloop.Heerlik was die ontdekking dat hondekind kan grawe dat die sand in alle rigtings spat.Die see was nie een van jou gunstelinge nie,maar al die lekker uitspoelsels op die strand,het jou rosyntjieneusie oortyd laat snuffel.Jy en Tienkie het selfs twee keer skelm uit die erf geglip en alleen iewers gaan speel.Ons weet nou nog nie waar julle was nie,net dat julle papnat teruggekom het!Natuurlik het ons ‘n stokkie voor die wandelings gesteek en die ontsnaproete versper!

Gister het ons die ontstellende nuus gehoor ,dat jy aan erge “pulmonic stenosis” ly!Dis ‘n harttoestand,waar die hartklep nie goed sluit en dan vloei daar nie genoeg bloed deur die hartkamer nie.Die hartspier moet dan vreeslik hard werk en vergroot sodanig dat die hartkamer al hoe kleiner word.Later gaan daar nie meer genoeg suurstofryke bloed deur nie en hondjielief kan skielike floutes kry of summier dood neerslaan.’n Operasie is hoë risiko en word glo nie in SA gedoen nie.Verder is daar niks aan te doen nie.

Liefste Frankie,hier waar jy op my skoot sit,rol my trane oor jou blink geborselde koppie en kyk jy na my met vraende ogies….

Frankie

Pas gewas en geskeer.

 

Besondere Besoekers

July 2, 2013 in Sonder kategorie

Sowat ‘n maand gelede hoor ek helder oordag ‘n baie vreemde voëlgeluid.Ek storm opgewonde buitentoe en sowaar,daar sit ‘n Kaalwangvalkkuiken in ons bure se krismisboom!Bokant hom is daar ‘n gekrys van gryskopmeeue en ‘n vlerkgeklap soos hulle nog twee van hierdie praggeveerdes aanval en probeer verdryf!

Dis ‘n hele aardigheid om hulle dop te hou,want die volwassenes duik en swiep soos vegvliegtuie deur die blou lug,terwyl die jongetjie sy keel rou skree in die boomtop.Hierdie besondere valksoort kom voor in beboste gebiede en dis daarom vreemd om hulle hier te sien op die kaal Oosrand.’n Mens vergeet egter dat die omgewing al so verander is,dat ons hier op die sg grasvlaktes van die oostelike hoëveld nou al in ‘n semi-oerwoud bly.

‘n Besondere kenmerk is die kaal geel vel op die gesig,wat pienk of rooi kan word,wanneer hy bloos of opgewonde raak!Verder het sy lang geel bene, slaplittige enkels,sodat dit agteroor en uitwaarts kan buig.Sodoende kan hy sy poot lekker ronddraai in gate en skeure in bome en rotswande.So grawe hy rond vir prooi soos klein soogdiere,voëls,eiers,kuikens paddas en insekte.

Die foto’s wat ek geneem het is nie baie goed nie,maar sal darem min of meer ‘n idee gee van die verrassende besoek.

Die jongetjie is gewoonlik donker-of ligbruin.

Die mannetjie het heeltyd rondgevlieg en die rasende meeue weggelok van die kuiken af.

Die wyfie was heeltyd naby die kuiken op ‘n boomtop.

Die mannetjie sweef grasieus deur die blou lug.Hierdie valk staan ook bekend as African Harrier-Hawk/Gymnogene in Engels.