You are browsing the archive for 2013 May.

Rasputin en ander prettige foto’s

May 22, 2013 in Sonder kategorie

Exi het gewonder of daar darem iewers in Rusland ook ‘n beeld van Raputin is.In St Pietersburg in die Peter en Paul Fortress is ‘n wasmuseum en hier het ons die “nimlike” Rasputin opgespoor.Hy was seker een van die mees omstrede figure in Rusland,tydens Tsaar Nicolaas II se bewind.Hy was ‘n eenvoudige boer van Siberië,wat homself in die Tsaar se huishouding ingewurm het,met sy sogenaamde heilige kragte.

Die Tsarina Alexandra het geglo dat Rasputin haar bloeierseun, Alexis, kon gesond maak.Blykbaar het Rasputin ‘n baie kalmerende invloed op die kind gehad en dit het Alexandra laat glo,dat hy oor spesiale kragte beskik.

Hy was blykbaar ‘n groot,vuil ou man met ‘n vreeslike seksdrang.Terwyl die Tsarina in sy heiligheid en spesiale kragte geglo het, was daar toenemende ontevredenheid onder aristokrate en ander adellikes,oor Rasputin se invloed in die koningshuis.Hy het homself as ‘n mistieke verbinding tussen die Tsaar en die gewone mense gesien.Mense wat ‘n oudiënsie met die Tsaar wou hê,moes dit deur Rasputin bewerkstellig.

Op 16 Desember 1916 is hy na die Yusupovpaleis gelok deur Prins Yusupov.Volgens oorlewering is hy vergiftigde drank en kos gevoer en na twee rewolwerskote en ‘n vreeslike hou teen die kop, het hy steeds geleef.Daarna is hy deur ‘n gat in die verysde Nevkarivier gegooi.Toe sy liggaam later uitgespoel het,is ‘n lykskouing op hom gedoen.Sy longe was vol water..’n teken dat hy steeds geleef het toe hy in die ysige water gegooi is!Voorwaar ‘n taaie skepsel!

Rasputin en Tsarovits Alexis

Lyk soos ‘n werknemer wat slaap,maar dit is ‘n wasbeeld.Ek moes mooi kyk om dit te sien.Lekker gelag vir die humor!

Ooievaar op nes..poging tot versiering in ‘n andersins miserabele agterplaas!

Doer onder sit daai gevoëlte..gee beeld van ons hoteluitsig!

Ons hotel was op die vierde verdieping,bokant ‘n pastarestaurant.Die pype wat die walms daar moes uitsuig,het dit in ons kamer ingepomp!Ek eet nooit weer pasta nie!

Suurgesig leeutjie!

Dit was opvallend hoeveel Russiese meisies met sulke hakskoene loop.Ek het ‘n hele paar lelik gesien swik op die ongelyke kobbeltjiestrate!

Fantastiese opvoering:”Feel yourself Russian” in St Pietersburg gesien.Die man spin die meisie op die brug van haar voet!

Meisies in tradisionele drag by dieselfde opvoering.Dit was ‘n wonderlike vertoning.

“Stretch-Hummer..ek het ‘n hele paar gesien.Hoop nie die manne hier kry idees nie!

 

Beelde en Monumente

May 21, 2013 in Sonder kategorie

Moskou en St Pietersburg is vol interessante beelde en monumente.Sommige is pragtige kunswerke.Ander is maar vreemd.In Moskou is ‘n beeldepark,waar mens gratis kan ingaan en jouself bevind in ‘n beeldewêreld soos min.Daar is soveel,dat ek maar net ‘n paar foto’s kan plaas.

Moskourivier met reuse monument vir Pieter die Grote.Dis eintlik ‘n lelike,maar indrukwekkende beeld!

Van naderby

By beeldpark se ingang.

Een van die min beelde van Stalin wat behoue gebly het.Let op hoe die neus vermink is.

Duisende koppe agter draad..simboliseer die mishandeling en verdwyning van vele,gedurende Stalin se bewind!

Eienaardige beeld in beeldpark.

Ook in beeldpark..beslis ‘n besoek werd

Reuse beeld wat saam met ses ander ,pilare vorm..St Pietersburg

Standbeeld van Pieter die Grote.Let op die reuse slang onder sy perd se pote…St Pietersburg

My gunsteling:In die Ruimtepark in Moskou.In hierdie park is ook reuse beelde van Yuri Gagarin en ander ruimtevaarders.Gebrek aan spasie verhoed dat ek alles plaas.

 

Fonteine en parke

May 19, 2013 in Sonder kategorie

Fontein in Gorkipark

Dieselfde fontein verkleur heeltyd

Blomtuin in Gorkipark

Tsarisynopark in die buitewyke van Moskou

Brug in Tsaritsynopark

Fontein..Tsaritsynopark

Vrouens maak tuin in een van St Pietersburg se parke.’n Rare gesig vir ‘n Suid-Afrikaner!

Fantastiese fonteine by Peterhof in St Pietersburg.Ongelukkig was die hoofpaleis onder doeke vir restourasiewerk en moes ek die foto van bo afneem.

My gunstelingfoto in Peterhof se ongelooflike park.

‘n Klein kykie op myself in ‘n bos iewers in Moskou!

Kerke en Katedrale

May 17, 2013 in Sonder kategorie

Wie van ons het nie al die alombekende uiekoepels van die Russies-Ortodokse kerke op foto’s gesien nie?Dis nogtans ‘n kultuurskok wanneer jy regtig daar staan en wonder hoe hulle dit so mooi netjies hou.Daar is heelwat sulke kerke in Moskou en St Pietersburg en volgens wat ek verneem,staan die Ortodokse geloof baie sterk by meeste Russe.Daar word gedurig onderhoud gedoen en ingangsfooie word gebruik vir die doel.

Ek het altyd gewonder wat is in die koepels en met ‘n besoek aan een van die kerke,kon ek pragtige mosaïekpanele van verskeie Bybelse figure se gesigte daarin sien..dis natuurlik as jou nek dit toelaat om so hoog op te kyk.Ek gaan nie vreeslik uitwy nie,want elke kerk is uniek en het sy eie besondere geskiedenis.’n Mens moet egter nie in elke kerk ingaan nie,want dit sal jou ‘n fortuin kos.Geniet en bekyk net van buite af,want dis al mooi genoeg.

 

Katedraal van die Smolenskikoon van die Moeder van God..deel van die Novodevichy Convent

Binnekant van Katedraal wat op die plek gebou is waar Tsaar Alexander vermoor is.Dis in St Pietersburg

Katedraal van Christus die Verlosser

Kerk op landgoed van Pieter die Grote.Dit word Pieterhof genome en is ‘n definitiewe besoek werd.Dis aan die Finse golf en ‘n bootrit ver vanafSt Pietersburg

Die kerk waar Alexander die Tweede vermoor is..van buite af.Een van die moets in St.Pietersburg.

Kerk naby my dogter se blyplek.

St.Basil’s…die groot,bekende katedraal op Rooiplein in Moskou.

Ek weet nie watter kerk dit is nie..het dit sommer so in die verbystap gefotografeer

Pragtige stasies

May 16, 2013 in Sonder kategorie

Die Moskou moltreinsisteem werk uitstekend en ek en dogtertjielief het heeltyd gebruik gemaak daarvan.Elke twee minute stop daar by enige platform dag of nag ‘n trein! Natuurlik is daar miljoene mense wat hierdie vervoer gebruik en die treine en stasies is heeltyd ‘n malende miernes.

As mens nie Russies kan lees of verstaan nie,bly jy maar daar weg! Gelukkig kan my kind die skrif lees en sy praat bietjie Russies.Sonder haar sou ek gladnie reggekom het nie.Dis so goed jy skrik wakker in ‘n volgende eeu op ‘n ander planeet! Die stasies is gladnie rolstoel-of oumensvriendelik nie.Soms klim jy honderde trappe,ry op ellelange roltrappe in die aarde se maag in en uit en loop jy kilometers in lang gange.Dis soos ‘n doolhof en by tye het ek soos ‘n mol sonder kos gevoel,,want daar was net sement en klip om te eet!

Van die stasies is pragtig versier met wonderlike mosaïek- en loodglaskunswerke.Partykeer voel dit of mens in ‘n kunsmuseum inloop.Ek sluit ‘n paar foto’s in.Die eerste drie is stasies wat reg langs en oorkant mekaar is.Jy moet weet by watter stasie jy waarheen moet gaan.Die res is van die pragtige taferele op die dak en mure..diep onder die grond!