Jy blaai in die argief vir 2013 Januarie.

Koekoek-nuus!

Januarie 31, 2013 in Uncategorized

Vanmiddag sit die knapie oop en bloot op ‘n lae tak en ek gebruik my 100 tot 400 lens om hom te skiet. ‘n Rukkie later vlieg hy hoër op en Moedertjie en Vadertjie Janfrederik voer die skrouende geveerte! My nek was amper in ‘n spasma met die sware lens en kop agteroor om doerbo by te kom,maar dis die beste wat ek kon doen:

Hier wag hy geduldig,al piepende op kos!

Het hom!Die Janfrederikke is ontsettend sku en ek moes lank wag om die voerstorie vas te lê!Kyk hoe groot is hy teenoor die voerdertjie!

Lekker verrassing!

Januarie 29, 2013 in Uncategorized

Tuinier kom roep my netnou en wie sit daar in die boom..?Kwaatjie Koekoek! Hy lyk te pragtig en toe ek nader kom,vlieg hy met sterk vlerke na ‘n volgende boom.Hy sit so pragtig oop en bloot,dat ek storm vir my kamera en vinnig nog ‘n paar foto’s neem!Die Janfrederikke voer die klein skelmpie nog steeds en ek wonder wanneer gaan hy self begin kos soek!

Ai,ek voel so verheug dat hierdie sover ‘n suksesstorie is!

Kyk sy mooie veredos!

Nog steeds afhanklik van twee ooreisde Janfrederikke,maar definitief oppad na wasdom!

Lewenspad

Januarie 28, 2013 in Uncategorized

 

Frankie

Dis tog interessant om te sien hoe lewe homself herhaal.Toe ek en Manlief getroud is,het ons eers ‘n hond gekry.Al ons liefde en energie is aan hom gegee.Later toe die eerste pienkvoet sy opwagting maak,moes hondekind maar aan die agterspeen suig.Soos die tyd aanstap en nog drie pienkvoete later,is hondekind se gô uit en moes ons hom laat uitsit.

Mettertyd word nog twee diere aangeskaf…vir die kinders natuurlik! Dis ‘n wonderlike leerskool om verantwoordelikheid, respek en liefde vir diere,by ‘n kind te kweek.Na almal uit die huis is,was hierdie hondekinders ook gedaan en weereens is hulle uit hul ouderdomsellende verlos.

‘n Jaar op ons eie en die verlange na nog asempies in die huis,word heeltemal te groot.Ek het alreeds geblog oor die nuwe tweetjies se aankoms.Ons klassifiseer ook nou onder die honnemense wat tot vervelens toe oor hul honne se geite kan praat! Ek konsentreer daarop om dit nie te doen nie,maar die versoeking is maar groot.

Die geskiedenis herhaal homself oral..kinders trou,kry hond,kry pienkvoet,kry leë

Tienkie

nes,kry hond…die sirkel is voltooi!

Sommer naby

Januarie 23, 2013 in Uncategorized

‘n Mens is geneig om te dink dat mooi en interessante dinge altyd vêrweg moet wees.Soms hunker jy om weg te gaan na ander plekke en stem dit jou ongelukkig as dit nie kan gebeur nie.Die ou Engelse spreekwoord,”familiarity breeds contempt”,is só waar,wanneer ons alledaagse bestaan saai en vervelig raak en ons nie meer die mooi om ons raaksien nie!

Ek het ‘n draai in my vervelige,Gautengtuin gaan maak en besef skoonheid is slegs ‘n paar millimeters weg!Ek deel dit graag met julle.

Wilde Irisse blom hierdie jaar besonder mooi.

Klein,maar pragtig.

Wie kon dink dat ‘n Gautengsonsondergang so mooi kan wees?

Gelukkige einde

Januarie 21, 2013 in Uncategorized

Toe ek gister Kwaaitjie Koekoek se nes besoek,was hy weg en daar is geen spoor van sy uitgemergelde Janfrederik-ouers nie!Aanvanklik was ek baie hartseer,want ek het gedink die bure se kat het hom dalk bygekom.’n Rukkie later hoor ek egter die Janfrederikke se kenmerkende roep en ek sien hulle het nog wurmpies in die bek! Toe weet ek,klein Kwaaiste is nog hier iewers!Na ‘n rukkie se gesoek,sien ek hom taamlik hoog in ‘n boom en my kamera kliek vir oulaas.

Vanoggend het hy iewers anders heen geskuif,want ek hoor nog steeds die Janfrederikke se geroep.Kwaaitjie is daarby nog skelm ook..met sy gestreepte lyfie,is hy ‘n uitstekende kamoefleerder.Dis hoekom hy gaan oorleef.

Ek het ‘n lekker pad saam met hom gestap en hopelik wanneer die Piet-my-vrou volgende somer roep…wie weet,dalk is dit Kwaaitjie!

Oorlewing is ‘n sterk drang.Laaste foto,voor Piet-my-vrou die wrede wêreld aandurf!

 

Die wye wêreld wink

Januarie 19, 2013 in Uncategorized

Uitendelik is Kwaaitjie Koekoek gereed om die wêreld aan te durf! Vanoggend sit hy buite die nes op die varingblare en die twee Janfrederikke gaan vreeslik tekere soos hulle hom aanmoedig.Vanmiddag sak daar ‘n reënbui uit en ek was verniet bekommerd,want toe ek gaan kyk,sit hy slaggereed om sy vlieglesse te hervat!

Uit die nes en reg vir die wye wêreld!

Nog bietjie skrikkerig!

Balanseer nog bietjie bewerig.

Kyk ma, ek gaan vlieg!

Kopskoot..kyk my mooi ogies.

Bang,maar ek moet maar!

Koekoek-verslag

Januarie 17, 2013 in Uncategorized

Die skepseltjie in my voortuin raak sterker by die dag en sal seker binnekort begin vlieg.Hy pof homself heeltyd op en is maklik dubbel sy grootte van sewe dae gelede.

Vanoggend se foto’s wys ‘n stewige kêreltjie of nooientjie, wat nou pure koekoek lyk!

Pure Koekoek!

Reg vir aksie!Die tyd vir vlieg is naby.

Die ware Jakob

Januarie 16, 2013 in Uncategorized

Die Janfrederikke waaroor ek geskryf het,se kleintjies lyk soos hieronder.Daaruit kan mens aflei watter verskrikking dit vir die twee is, om nou skielik ‘n reuse koekoekkuiken in die nes te hê.

Die nessie kan maklik twee kleingoed huisves.Die foto is verlede jaar geneem.

Foto’s van onwelkome gas!

Januarie 16, 2013 in Uncategorized

 

Ses dae gelede..skaars sigbaar.

 

Ses dae gelede..Kwaaitjie Koekoek!

Gister,nadat ek die nes op ‘n plankie balanseer en met ‘n draadjie verstewig het.

Vandag..die nes is heeltemal flenters en Kwaaitjie sit op die plankie.

 

Groot vet skok

Januarie 16, 2013 in Uncategorized

‘n  Janfrederikpaartjie maak elke jaar nes in my voortuin en dan hou ek die broeiery en grootmakery met belangstelling dop.Verlede week roep my tuinier my en toe ek in die nes kyk,sit daar ‘n bont klein gevoëltetjie,definitief nie janfrederik se kind nie!Die knapie is vreeslik agressief en pof sy gestreepte vere op sodat hy soos ‘n broodrolletjie uitrys!

Ek besef dadelik wat aangaan en trek my voëlboek nader.Ja-nee,dis koekoek se kind! Koekoeke is nesparasiete,wat hul eiers in ander voëls se neste lê en dan salig verdwyn vir die lekker lewe sonder kommer oor bybies! Hulle eiers lyk gewoonlik soos die gasheer s’n en wanneer die kleintjies uitbroei,maak die indringerkuiken die ander kleintjies dood of skop hul uit die nes uit.

Wyfies lê sowat 23 tot 25 eiers per broeiseisoen, waarvan drie tot ses per broeisel.Hulle lê net een eier per nes en doen dit baie skelm.Dis al waargeneem waar mannetjies die gasheervoëls besig hou terwyl mammie gou die eiertjie lê!Ek vermoed hierdie is ‘n Piet-my-vrou,want hulle parasiteer op janfrederikke,kwikkies en vlieëvangers.

Ek het verlede week elke dag foto’s geneem en was verstom om te sien hoe vinnig die knapie groei.Eergister was hy al so groot,dat die nes soos ‘n halwe eierdop om sy agterent gepas het.Gister,was die nes besig om uit die mik te val en ek het ‘n plankie onder gesit en die nes met ‘n draadjie aan ‘n tak vasgemaak.Vanoggend sit hy op die plankie en die hele nes is verfomfaai!

Die janfrederikke vlieg besete op en af om die klein monster te voer en as mens naby hom kom,loods hy ‘n woedende aanval.Ek kan sommer dink wat in die janfrederikke se koppe aangaan..”Wat het ons verkeerd gedoen om so ‘n veelvraat te verdien?”

Ek sukkel om die foto’s te plaas,maar dit kom!