Jy blaai in die argief vir 2012 Oktober.

Optrede kring uit

Oktober 24, 2012 in Uncategorized

Maandag was blou.Ek moes my tuinier na ‘n ander kliniek toe neem om daar te herregistreer,nadat die vorige privaatgesubsidieerde kliniek bankrot gespeel het,weens wanbestuur!

‘n Maand gelede het ons met die privaatkliniek se oorplasingsbief na ons dorpskliniek in Benoni gegaan om daar vir hom ‘n leer oop te maak.Toe se die dame daar,hy het mos nou medisyne gekry en hy moet maar eers oor ‘n maand kom,dan registreer sy hom.Verlede Woensdag gaan hy toe op sy eie en einste dame stuur hom weg en se hy moet na Boksburg se kliniek gaan.Ek was woedend,want dit is ver en sy het dan laas gese hy kan daar inval.

Nietemin,ons ry toe Boksburg toe.Buite die stadsentrum,klim jy oor maande se gemors en ek is toe al klaar opgeklits!Dis dan nou die sitkamer van jou dorp wat so lyk.In die kliniek sit honderde verwese mense en daar is ‘n piepklein ruitjie waar jy aanmeld.Dit sit op die swakste plek moontlik,want jy moet tussen die stoele en sittendes deurvleg om daar te kom.Ek gee toe die nodige papiere in,verduidelik my storie en toe ek ‘n afskrif van tuinier se ID gee,word ek ingelig die oorspronklike is nodig.Ek het vir hom vooraf gese hy moet sy ID saambring,maar toe hy vergeet,het ek ‘n afskrif wat ek gehad het,saam gebring.

Ek vra toe vir die dame of die afskrif nie reg is nie en sy spin ‘n lang storie,waarna ek nie eers behoorlik geluister het nie,want toe verloor ek dit heeltemal.Ek moet eerlik se ek verloor nooit my humeur in die openbaar nie en ek is altyd rustig en geduldig,maar iets buite myself het net die vark in my losgemaak!Dametjie seg toe ek moet kalmeer,anders help sy my nie.Gelukkig was dit ‘n blanke,anders was ek sekerlik vir rassisme aangekla!Ek het vreeslik verskoning gevra en sy stel toe voor dat ek weer Benoni toe gaan,want hulle moet Jakob (skuilnaam) daar toelaat,want dis waar hy woon en werk.Gewapen met haar naam en telefoonnommer is ons weer vort Benoni-kliniek toe.Sy het gese dat hulle haar moet bel as daar enige nonsens is.

By Benoni-kliniek sit ons in geen lang ry nie,kom gou by die venster waar ons moet aanmeld en sonder enige storie(nie eers die ID was nodig nie)word ‘n leer oopgemaak en Jakob kan in die tou gaan sit en wag vir sy medisyne!Hy lig my toe in dat dit die vrou in die ander glashokkie is,wat hom weggestuur het,dieselfde een wat daardie dag te lui was om hom te registreer toe ek saam met hom gegaan het!

Haar optrede (luiheid om ‘n leer oop te maak),het veroorsaak:1.Ons het ‘n maand gelede petrol uitgery om daar te kom..onnodig!2.Jakob het treingeld en sy tyd gemors om verlede week daar te kom.3.Ons het petrol en tyd spandeer om by Boksburgkliniek te kom.4.Ek het my soos ‘n vark gedra en heeldag ‘n kopseer gehad en my dood geskaam vir myself! 5.Ons moes weer Benoni toe ry..weer brandstof!

Daai antie kan bly wees dat ons nie weer by haar venstertjie beland het nie..ek was lus vir oorlog!

(Skuus,ek kon nie my kappies en deeltekens regkry nie.Het iemand raad?)

Vrek gesukkel

Oktober 20, 2012 in Uncategorized

Ek het nou skoon ‘n spasma in my nek.Ek het al die verkeerde knoppe gedruk en op die end geëindig met ‘n vis bo-aan my blad.Hopelik gaan dit nie ‘n stink vis wees nie,maar hier is ek nou!

Verder is dit ‘n pienk spulletjie,maar dit moet nou maar vireers so bly.

Groot Trek

Oktober 17, 2012 in Sonder kategorie

Mag ons trek ook so mooi afloop soos hierdie gemsbokke se trek oor die wye vlaktes van Tsondabvallei!

Sielige skat

Oktober 13, 2012 in Sonder kategorie

Hierdie ou dierasie is my “kleinkind” en ek moes hom verlede naweek oppas.Ek het sy kombers gewas en oor die tuinstoele gegooi om droog te word.Toe ek weer kyk,sit ta daar met die mismoedigste uitdrukking op sy gesig.Hy wil mens die heeltyd sien en toe ons hom ignoreer en rugby in die sitkamer kyk,het hy daar opgeklim,seker “om beter te kan sien my kind”(alla Rooikappie se ouma).

Die ou het ‘n hele uur daar deurgebring en net al treuriger en treuriger begin lyk.Hy is ‘n regte ou skattebol en wie se hart sal nou nie week word by aanskoue van so ‘n hanggevreet nie?

Die foto’s is bietjie greinerig,want ek het dit met my selfoon geneem.

Verrassings in die gras

Oktober 12, 2012 in Sonder kategorie

Groot was ons vreugde toe ons onverwags op hierdie lieflike kat afkom.Die luiperd bly maar een van die mooiste diere op aarde.Elke keer wanneer ek een sien,snak ek na my asem en kry koue rillings van aandoening.

Nog ‘n bonus,was die uiters skaars en bedreigde Bastergemsbokke.Hulle is verskriklik sku en neem omtrent ‘n lang tyd om genoeg moed bymekaar te skraap vir ‘n lekseltjie water.Hulle kyk eers die kat goed uit die boom uit en hardloop omtrent drie of vier keer weg,voordat hulle uiteindelik water drink!

Hier was dit weer sulke tyd en die senuweeagtige kalfie skrik sommer vir sy eie skaduwee.Let op na die groot donkie-ore en die gemsbokagtige horings,wat heelwat korter is as dié van die gemsbok.

Naas die Eland is die Bastergemsbok die grootste boksoort in Afrika met ‘n gemiddelde massa van 270kg.

Asemrowende gesig!

Oktober 11, 2012 in Sonder kategorie

Een oggend vroeg word ons deur hierdie asemrowende gesig begroet.In die verte sien ons net ‘n stofstreep en soos dit naderkom,verskyn Afrika se grootste,gevaarlikste diere uit die stofnewels!Seker maklik sewehonderd buffels was op ‘n drafstap,agter mekaar oppad water toe.

Die eerstes bereik die water en steek dorstige snoete in die koel lafenis in.

Die voorstes drink al en nog steeds kom hulle aangestreep!

Nadat gedrink is,is daar tyd vir bad en rol in die modder!

Niks kom by die atmosfeer van sagte gebulk,die geswoesj van water en die ongelooflike interaksie van buffels in ‘n trop nie!

Hwange weereens

Oktober 10, 2012 in Sonder kategorie

Ek plaas ‘n paar foto’s van die kampe waar ons gebly het,om ‘n idee te kry hoe dit daar lyk.

Shumbakamp waar ons drie dae gekamp het.Let op hoe lendelam die draad is.Wanneer die hekke toe is,kan ‘n leeu regop onderdeur loop!

Grasafdakkie en piekniektafels waar dagbesoekers kan uitspan.Agter die reuse wurgvy,is die toilette.

Oom Olifant het juis in die nag oor die lae draad geklim en heerlik gesmul aan die vyeboom.

Dit was angswekkend,want ons was bang hy stoot sommer die boom om.Gelukkig het hy na ‘n angsvolle

uur of wat,sy lyf weer oor die draad gelig!

Ons tent met kombuisie en stort agter.Gelukkig was daar ‘n donkie waarin David,

die kampopsigter, vir ons vuur gemaak het.Die stort was heerlik warm.

Ons volgende kampplek was Kennedy 1.Hier is ons reg langs die oulike kombuisie geparkeer.

Die opsigter,Simon, en sy vrou,hou die plek tip-top met die minimum geriewe soos skoonmaakmiddels,

ens.tot hul beskikking.Horingou, deurgewaste,dun handdoeke uit ‘n vervloeë kolonialistiese era,hang silwerskoon

langs die buitelug wasbakke. 

Ngweshla Piekniekplek.Ons het nie hier oornag nie,maar twee keer hier aangery vir middagete.

Die mense wat die kamp gehuur het,was vreeslik beïndruk met die opsigter,Vincent.

Hy het sommer hul klere ook gegryp en gewas sonder dat hulle gevra het!Wat ‘n skatlike omie,

oud al,maar so hardwerkend en hulpvaardig..het ons skottelgoed ook gegryp en gewas!

Die ingang tot Ngweshla.Vincent is baie trots op sy versierings en hark en vee heeldag!

Hwange herleef

Oktober 9, 2012 in Sonder kategorie

Ons was sowat drie weke gelede in die Hwange-natuurreservaat in Zimbabwe.Die afgelope paar jare,tydens die krisis in Zimbabwe,het hierdie wonderlike plek heeltemal ten gronde gegaan.Dinge is egter besig om stadig maar seker te verbeter.

Die eens goeie hoofpad in die reservaat,bestaan tans uit flentertjies teer met groot gate daarin,maar is darem redelik rybaar langsaan!Die grondpaaie word geskraap en met ‘n viertrek voertuig is dit heel gangbaar.Daar is nog nie baie besoekers nie,maar heelparty safari maatskappye het nou kampe in die reservaat en hulle kry heelwat buitelandse besoekers.

Ons het in twee kampe oorgebly.Dis klein privaatkampies en jy huur die hele kamp vir jouself plus vriende.Die kampies is “omhein”,sodanig dat oom olifant sommer maklik bo-oor die draad geklim het en ons in die nag op hol gehad het soos hy takke breek bokant ons tent!

By elke kamp is daar ‘n persoon wat die kampie onderhou,vir jou vuurmaak,skottelgoed was en die heel skaflike badkamers skoonhou.Bedags kom die safarigroepe daar verby en mag die kamp se geriewe gebruik en daar piekniek hou,al het jy die kamp gehuur.Dit was gladnie hinderlik nie en ons kon lekker gesels en inligting uitruil met die mense.

Dit was ontsettend droog,maar daar is heelwat watergate wat aan die gang gehou word deur skenkers en vriende van Hwange.Wanneer alles eendag weer heeltemal reg gaan kom,sal net oom Bob en sy tjomme weet. Intussen is daar mense wat onverpoosd werk om dié eens spogwildtuin te bly bewaar!

Bobbie Bobbejaan kom haastig aangehardloop,vir ‘n vinnige slukkie water voordat die son sak!

Die laaste sonstrale skyn deur die stof.

Hierdie olifantkarkas is die harde werklikheid van die lewe..dood is altyd op die drumpel!

Een van die skaarsste boksoorte,wat dit die moeite werd maak om so ver te ry..

die pragtige Swartwitpens! 

Sonsondergang is oral mooi,al is dit dor en droog.

Hopelik gaan hierdie wonderwêreld weer herleef tot sy eertydse glorie.

Pelgrimstog

Oktober 5, 2012 in Sonder kategorie

Ek en manlief was gister op ‘n pelgrimstog vir die dag Vrystaat toe.Ons het sommer gevlieg,want Bloemfontein is ‘n skrale vyf-en-veertig minute van OR-Tambo af.My ontbyt was nog in my keel,toe land ons al doer in die dorre Vrystaat!

Die rede vir die besoek was om ‘n onafgehandelde saak reg te stel.Manlief se pa is elf maande gelede oorlede en van die nege kinders wat hul eens was,is daar nog net drie suters oor..almal in hul tagtigs.Die oudste van die drie is al ‘n hele ruk lank siek en manlief het sy pa belowe dat hy hom sou neem om haar te gaan besoek.Met Pa se skielike dood het dit nooit gebeur nie en manlief het ontsettend hartseer daaroor gevoel.

Gister was dit tyd om dit reg te stel.Ek kan nie genoeg vertel van die mense se gasvryheid nie.Die siek tante bly by haar weduwee-dogter en die ander twee susters was ook daar,spesiaal vir ons besoek.Daar was nog ander niggies en twee agterkleingoed,’n hele huis vol.

Middagete was ‘n ware ete soos net boerevrouens kan voorsit..wil nie eers daaraan dink nie,dan is ek van vooraf honger!Voor die tyd natuurlik tee,koeksisters en souttertjies ook gehad.Vir nagereg elkeen twee pannekoeke.Vandag is dit pure droogte en rou wortels hier!

Ons het albei afsonderlik ‘n alleentydjie met die tante gehad.Sy is ‘n besondere mens, het haar ouers op ‘n vroeë ouderdom verloor en moes inklim om die jonger susters te versorg.Longkanker is onlangs by haar gediagnoseer en sy het besluit niks gaan daaraan gedoen word nie.Sy spandeer nou kwaliteit tyd saam met haar geliefdes en hulle versorg haar pragtig.Haar bed kyk uit op ‘n tuintjie met vrolike blomme en hangmandjies,wat haar dogters spesiaal vir haar ontwerp het.Dit maak sommer die siekekamer ‘n vrolike plek.Sy kla nooit nie en is altyd besorgd oor ander mense.

Toe ons daar aankom,het sy ons staande gegroet.Dit het baie inspanning geverg en sy weet nie hoe geëerd ons gevoel het nie!Sy het amper heeltyd in die geselskap gesit,al het sy kort-kort vreeslik gehoes.Toe ons laatmiddag loop,was sy sekerlik gedaan.

Met ons tuiskoms het ons besef,Pa sou baie bly gewees het en dit was soos ‘n las van manlief se skouers af dat hy nooit sy pa se wens vervul het nie.Hierdie besoek was nou wel tweede-beste,maar die vreugde wat dit gebring het,het alle skuld gedelg!

Die les..moet nooit uitstel om sekere dinge te doen nie!

Duskant die rivier

Oktober 1, 2012 in Sonder kategorie

Ek sien ons is darem nog duskant die rivier.Met hierdie dagbreekfoto,word daar bewys dat die son altyd iewers sal opkom,al voel dit nie altyd so nie.

Blykbaar moet ons odes oor mekaar skryf.Ek sal nie weet waar om te begin nie!

Tina en I like silly things..grapjasse met ernstige kante ook,Vega,Carol en Katrina..onderwysers met al hulle oulike skoolstories,Ek-Myself en Net Ek..altyd iets interessants,(ek raak altyd deurmekaar met julle twee!),Latino..foto’s en skrywes oor daardie verre land waar baie Afrikaners bly, hysmal..my gunsteling digter,Ouboet..die stoute skeppende digter en navorser,Blikskottel wat altyd politieke roeringe veroorsaak,Henry..man van min woorde,waarvan “nice foties” sy gunstelinge is,exi-on-perfexi..ook digter en “stirrer”,Jeanne..oulike jong ma,wat heerlik skryf oor allerdaagse gebeure,Bruggie..soms kostelik en spreek politieke en sosiale kwessies aan,Tannie frann..liewe vrou wat ons op hoogte hou van die kultuurdinge,Lora..plat op die aarde,georganiseerd en met ‘n respekte vir goeie kos,Beate..sagte mens met ‘n deernis vir ander,Druktyd..ook ‘n jong ma wat allerdaagse gebeure kan laat leef in haar skryfsels,Madhatter..heerlike skryftrant oor allerhande dinge en ook met ‘n skerp humor, Abrham..die geheimsinnige man met sy oupa en kind gesprekke,wat mens altyd laat dink,Neander..die nugter akademikus en musikant, by wie ons altyd iets leer,Wonkeytrolley..hardwerkend en interessante stories oor sy fabriek,Pronknografie met haar pragtige kleurvolle blad en interessante skryfsels,Lou..nugter vrou,altyd met goeie raad,ou Fransie..altyd op ‘n uitk@ksessie teen onse mensies,maar ook met ‘n sagte kantjie iewers(hy wil dit net nie erken nie),Hennie van Deventer..lekker stories uit sy joernalisdae en ook uit die natuur,Zeppie..onse man in die uur van nood,bystand verleen oor die grote skuif,Frik en Deon met hulle musiekkennis,Krokowaan wat deesdae min skryf en laastens my gunsteling……….LEWIES! Ai,die man kan skryf en hy het ‘n humorsin soos min!Amper vergeet ek die liewe roosdoring wat altyd daar uit die verte ons op hoogte hou van alles oorkant die groot dam!

As ek iemand uitgelaat het,laat weet net,dan skryf ek vir jou ‘n spesiale ode!Almal hier is besondere siele!

Sien julle,die son het weer opgekom!