Jy blaai in die argief vir 2012 Junie.

Nare ervaring

Junie 4, 2012 in Sonder kategorie

Dit voel of my vreemde ervarings geen einde kry nie!Ek kuier die afgelope naweek in die Kaap by my dogter.Omdat haar woonplekkie klein is,bly ek in ‘n hotel naby haar nessie.Vreeslike oulike hotel,nuut en skoon,definitief gebou met die oog op die nou vergete Wêreldbekersokker.Die personeel is gaaf en die kamer het ‘n sitkamer-kombuisie,waar mens lekker kan kuier,TV kyk en selfs ietsie in ‘n mikrogolf kan gaarmaak.

Na ‘n heerlike dag in die Kompanjiestuine,besoek aan die kunsmuseum,draai by die Rhodes-monument en ete daar langs die gepilaarde marmer gedenkplek (wat ‘n massiewe stuk lelikheid,wat seker baie geld gekos het..vir ‘n man wat ook maar sy sakke lekker gevul het uit die swaarkry van ander!)keer ons terug hotel toe.Gewapen met Woollies vrugte,aarbeie en jellielekkertjies,maak ons twee ons tuis voor die TV.

Skielik bars ‘n onaardse lawaai los.Dit kom vanuit die kamer langsaan.Eers dag ons hulle juig oor die rugby,wat pas begin het,maar met verdrag,besef ek en dogtertjie-lief,dat hier iets anders aangaan.Sy reken dis ‘n duiwelsuitdryf-sessie,want sy het dit in haar koshuisdae beleef,met al die kulture en gelowe,daar saamgegooi.

Ons gaan staan buite die kamerdeur en snak na ons asems..hoor ‘n mansstem,wat duidelik verwoed opruiend raak en ‘n vrou wat heeltyd benoud gil..”the fire,the fire!”Die verdere onaardse geluide wat daar uitkom,is haas onmoontlik om te beskryf en ons twee besluit dat ons gaan kla as dit nie ophou nie.Gelukkig daal daar toe stilte neer.Ons glo daaraan om almal ruimte te gee,maar die volgende oomblik begin dit weer en ons sit maar die TV lekker hard en wag om te sien wat gebeur.

Dit hou maklik nog vir twee ure so aan,met tussenposes van doodse stilte.Elke keer as dit begin,is daar ‘n geskop en gestamp teen die mure.Naderhand storm ek daar uit.Voor die gewraakte kamerdeur is twee van die hotelpersoneel met oë so groot soos pierings.Ek vra wat aangaan en sê vir hulle dis onaanvaarbaar.Die een vertel dat ander gaste ook gekla het en dat hulle nie die deur kan oopkry nie en dat die”gaste”ook nie die foon antwoord nie.Ek laat haar duidelik verstaan hoe ontsteld ek is en die arme vrou sê sy gaan vir my ‘n planmaak.

Skaars vyf minute later kry ek ‘n pragkamer,met ‘n uitsig oor Tafelberg en die see..natuurlik in ‘n duurder prysklas maar vir my teen geen ekstra koste nie.Sjoe,wat ‘n verligting!

Later die aand toe ek my dogter gaan afsien,is daar ‘n groot gewerskaf by daai einste kamer.Al die beddegoed is buite en daar word groot skoongemaak.Ek wonder nou nog presies wat daar aangegaan het.Dit ontstel my,om te dink,dat iemand aan die ontvangkant van sulke misplaaste denke was.

Ek gee nou nie om wie wat sê nie,maar dis een van die goeie redes hoekom ek nie glo in duiwels,gode, engele en allerhande bo-natuurlikhede nie!