Sonbesie

Junie 19, 2012 in Sonder kategorie

Jou eentonige geskreeu is besig om my mal te maak.

Dis ‘n hoë geluid wat teen duisende vibrasies per sekonde in my harsspan insny!

Die stilte waarvoor ek eens so lief was,is deesdae my grootste vyand,want wanneer dit stil is boor jy in my skedel in met jou eentonige vlymskerp,wanklankige,elektroniese gejil!

Soms wissel jy effens van intonasie,maar meestal is jy slegs ‘n rusverstoorder,wat geen genade ken vir die arme slagoffer,wat dag in en dag uit met jou liederlikheid moet saamleef.

Snags druk ek my kop in my kussing,om jou deurdringende klank te smoor,maar op een of ander manier slaag jy daarin om my diepste gedagtes en stilweesplekkies ongevraagd binne te kerf met jou skerpgevylde skalpel.

Was jou naam maar Cicada,pragtige groot mot met soms deurskynende vlerke en meer dikwels met pragtige kleurpatrone in jou mikroskopiese fyn veertjies.Was dit maar jy wat so pragtig gekamoefleerd wegsink in ‘n illusie,waar jy wegkruip teen ruwe boomstamme.Was dit maar jy,wat heimwee na lang warm somermaande losspeel met die groot vliese aan die kante van jou agterlyf..’n geluid om vroutjie nader te roep.Was jy maar die einde van die siklus eier,nimf,mot..sal ek jou verdra,maar helaas jou naam is

Tinnitus!Jy tokkel sonder ophou op die sinapses in my brein en vir die laaste ses maande het ek jou verdra.Dit raak soms net te erg,maar ek sal jou moet leer aanvaar,want jy is my metgesel totdat die dood ons skei!

31 antwoorde op Sonbesie

  1. TS het gesê op Junie 19, 2012

    Mmmm wat noem mens daar siekte(sic) waar mens se kop so aanhoudend suis?

  2. Tinnitus..dit maak my mal,Tina

  3. My kat het eendag ‘n sonbesie gevang en die huis ingedra. Het jy enige idee hoeveel adrenelien mens ontwikkel drieuur in die oggend as daai sonbesie langs jou op die bed begin skree.

  4. Perdebytjie prober White Noise. Sit n tv aan in jou kamer wat nie ingestel is nie en daai suispatroon afgee. Ek hoor dit werk soms.

  5. Dankie Johan.Ek moet sê dat ek bedags met ander geluide,nie gepla is nie,maar snags is hel!

  6. Ha!ha!Jy vertel my!

  7. sirpsa het gesê op Junie 19, 2012

    Een van die teorieë oor hoekom Van Gogh sy oor afgesny het, is dat hy so ‘n sonbesie in sy kop gehad het.

    Is dit nie maar net vog op jou ore en verbygaande van aard nie?

  8. Het toetse laat doen,gehoorverlies en verkalking van die binne-oor is die oorsaak.G’n wonder Beethoven was ook depressief nie.Al is jy doof,bly die gesuis met jou.Dis nie ‘n gesuis nie..eerder soos ‘n skril elektroniese klank,amper soos ‘n tandarts se fyn boor.

  9. HeavyHenry het gesê op Junie 19, 2012

    Eish – dis rof!

  10. Het jy al ‘n regte sonbesie gesien? So lelikerige groenerige oorgroot vlieg. Niks besie aan hom nie.

  11. Ja,het opgelees oor sonbesies in Erik Holm se Inseklopedie.Daar is ten minste 160spesies,dus kan hulle deurskynende vlerke hê,soos bont motte lyk ens,maar gil,die gil hulle!

  12. Dankie vir inloer Henri.Ek pas goed aan,soms raak dit net bietjie te veel!

  13. Maankind hoekom beveel jy nie Reiki aan of druppeltjies of watookal deesdae die hot nuwe medisyne op die ou tannie network is nie.

  14. Nou verstaan ek jou nie mooi nie.Ek is mos nie Maankind nie,Johan.

  15. e-Boeke is. Sy het gister op Facebook pak gekry oor sy gesê het Reiki is ‘n kuur vir kanker. Dit was baie snaaks.

  16. O,nou verstaan ek.Dankie vir jou raad,ek gaan dit beslis probeer.Ek het nounet vir jou ‘n privaatboodskap probeer stuur,maar dit wil nie werk nie.Blykbaar is die adres verkeerd.

  17. loudavisi het gesê op Junie 19, 2012

    Ek het eenkeer vir die kinders by die skool R2 aangebied vir elke sonbesie wat hulle vir my bring…lewendig of dood. Dit het niks gehelp nie, want mens kan die klein pessies nie sien nie, of hulle is te hoog. Ek wil NOOIT aan Tinnitus lei nie – hoor my lied!
    Sterkte hoor

  18. Dankie Lou.

  19. Twaksak het gesê op Junie 20, 2012

    Myne was ‘n trompetjie in my oor tot ek ‘n Natura produk daarvoor gebruik het. Snake oil, ek weet, maar nou is daar net ‘n gesuis oor.

  20. Die gesuis is seker die slang se gesis wat in die Snakeoil vasgevang is!

    Dis maar erg en ons moet maar grappies maak daaroor!Dankie vir die inloer.

  21. krokowaan het gesê op Junie 21, 2012

    mens raak gewoond daaraan — soos krewe wat gewoond raak daaraan om lewendig in kookwater gegooi te word om gaar te word?

  22. He!he!Dis hoekom ek nie kreef eet nie!

  23. dit klink niks lekker nie….00×00

  24. Carol460 het gesê op Junie 21, 2012

    Ek weet …… dis een vreeslike skree ! Sterkte !

  25. Dankie vir die simpatie!

  26. Janee!Dankie vir kuier.

  27. dra ook so misbakseltjie in my kop rond! al vir lange jare.
    Soms erg bewus daarvan, soms vergeet jy tog en hoor dit nie regtig nie

  28. Dit troos my om te weet ek is nie alleen nie!

  29. katrina het gesê op Junie 23, 2012

    Ag nee – het net gisteraand daaraan gedink toe ek ook in die stilte bewus raak daarvan. ‘n Dierbare vriendin se man het dit in ‘n baie erge graad en hy is ‘n musikus…. Ai. Sonbesies! My hart sak in my skoene as ek hoor hulle skree iewers en beplan om na hier naby te trek. Erg, maar later vergeet ‘n mens van hulle.

  30. Die musiek help darem om die gesuis te verdoof.As dit erg raak,tokkel ek op my klavier.

  31. Theuns het gesê op Desember 29, 2012

    Die goed is regtig geen grap nie! Hoe kry jy hulle uit / weg? rook/ vuur?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.