Blaffende honde

Oktober 11, 2011 in Sonder kategorie

My bure oorkant die straat het SES worshonde. Soggens sewe-uur as die man by die hek uitry, begin hulle te blaf en blaf en blaf! Ek wil al my polse sny, maar ek besef die brakkies is alleen en verveeld en dis niemand se skuld nie. Die eienaar kan tog ook nie daarvoor help nie! Saans net na sononder is hulle stil en dan begin die boerboel in die erf agter ons .

Hy blaf so “woef!” stillllte..”woef!” stilllte….die heelnag deur. Ek het al oor die muur geloer, want party dae blaf hy ook so. Dan praat ek mooi met hom en ek kan sien dat hy vrek van eensaamheid en ‘n gebrek aan aandag en liefde. As dit ‘n maanligaand is, ween die arme skepsel. Ek weet nie of dié bure waks in hul ore het nie, want duidelik hoor hulle nie die arme dier se maanligsmekinge nie. 

Hoekom hou mense honde aan as hulle nie hierdie wonderlike skepsels deel kan maak van hul huishouding nie? Ek het nog nooit geglo in ‘n agterplaasbrak, wat net aandag kry wanneer sy kos en water terloops uitgedeel word nie! 

4 antwoorde op Blaffende honde

  1. avega het gesê op Oktober 11, 2011

    Ek het ‘n vriend wat ‘n bobaas kettieskieter is. Die honde in sy omgewing hou hom net een aand uit die slaap en nooit weer nie. Hulle loop partymaal vir ‘n rukkie met ‘n knop op die voorkop of ‘n gebreekte tand, maar daar’s vrede in die buurt.

  2. Ek kry die arme honde te jammer om hulle seer te maak, want dis eintlik die eienaars se skuld! So ek moet seker maar uithou en bekhou.

  3. Netnou het hier ‘n vrou voor my deur gestop en kom vra waar blaf die hond so, want sy en haar kinders gaan van hul koppe af. Sy bly agter hierdie worshonde en sy is nou op die oorlogspad..gaan die eienaar vanaand sien. Hopelik is daar uitweg

  4. Dit klink interessant. Ek sal bietjie uitkyk daarvoor. Die worshond was vandag stil. Ek dink daai kwaai vrou wat gister hier was, het die eienaar se kop gaan was. Hoop dit bly so!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.