Ek is op ‘n lekker plek in my lewe

September 8, 2011 in Sonder kategorie

Klaar met kinders grootmaak en rondspring om almal terwille te wees, is ek uiteindelik my eie mens. Ek het nou tyd om te dink, terug te kyk op wat verby is en ‘n voorraadopname te maak van my lewe.Miskien sou ek ‘n paar dinge anders gedoen het, maar oor die algemeen is ek baie tevrede.

Daar was tye van swaarkry, smart, drama, siekte, ellende…maar dis deel van die lewe. Die beter dinge was baie meer en tans leef ek in die paradys. My grootste liefde is die natuur en daarom skiet ek en wederhelfte so veel as moontlik uit na allerhande wonderlike plekke.

Ons is nou ook nie meer gebonde aan naweke en vakansies nie en kan sommer enige tyd gaan waar ons wil. Met Manlief, gewapen met sy kamera en ek met boeke oor enige denkbare onderwerp in die natuur, vorm ons ‘n gedugte span. Hy kyk deur die klein venstertjie en ek sien die groter prentjie! 

Ons was juis weer die afgelope week op so ‘n wegbreek. Die interaksie van mens en natuur kom ter sprake wanneer ‘n mens so baie daarbuite kom.Dan eers besef ‘n mens hoe futiel ons hele bestaan geraak het. Losgemaak van die omgewing, jagend na status en rykdom, pret en plesier, het ons eintlik onsself versaak.Ongelukkig kon dit nie veel anders uitwerk nie, want die ontwikkeling van homo sapiens het hom in hierdie bestaan vasgeverf.

Die enigste manier hoe balans weer herstel kan word, is ‘n grootskaalse uitwissing van die mens met al sy speelgoedjies en geite! Dit sluit ongelukkig kameras, rekenaars en Landrovers in! Maar tot dan, maak ons tweetjies die meeste daarvan om na snaakse interessante plekke te gaan. 

  

2 antwoorde op Ek is op ‘n lekker plek in my lewe

  1. wurmpie het gesê op September 8, 2011

    jou lewe klink idilies. geniet dit!

  2. Sprokie, my lewe is soos ‘n sprokie.Ek weet nie hoe lank dit gaan duur nie, maar ek gaan die golf ry solank ek kan!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.