Profile photo of pbroere

by pbroere

Tandartse

Julie 16, 2013 in Uncategorized

Ek was gister weer ‘n slag by die tandarts. Nie oor ek glo in die elke 6 maande ding nie. Nee, ek het ‘n seer kiestand.

Ek het Sondagnag feitlik nie ‘n oog toegemaak nie. Die enigste mediese prosedure wat meer jou waardigheid aantas is seker ‘n prostaat ondersoek. As ek ‘n vrou was sou ‘n ginekologiese ondersoek seker ook dit getop het maar ek het helaas nie ‘n opinie daaroor nie.

Na ek by ontvangs aangemeld het en die dame oor en oor verseker het dat absoluut niks van die besonderhede wat sy nodig het in die vyf jaar wat ek laas daar was verander het nie, laat sit sy my en wag. So outydse benoude stoel, kleiner as ‘n vliegtuigsitplek.

Sit en blaai ek deur ‘n ou Huisgenoot wat verslag doen oor ‘n Currybeker wedstryd en hoe Noord Transvaal se vaste vyf, Jan Lock, Uli Schmidt, Heinrich Rogers, Adolf Malan en Adri Geldenhuys die wedtryd oorheers het terwyl Naas Botha ook soos altyd ‘n waardevolle bydrae gelewer het.

By die toonbank staan ‘n rep wat pepper spray verkoop wat beter is as al die ander pepper spray op die mark, 3 bottels vir die prys van een hoor ek met die een oor terwyl die ander oor luister vir die gedempte gille wat uit die spreekkamer se rigting opklink, met die boor wat daai zwiieee geluid maak. Ek sien sommer in my gedagtes hoe die ellendeling met sy bek oopgespalk daar lê terwyl die dokter allerhande kraggereedskap gebruik.

Volgende kom so fris vrou uit die gebou se binneste. Meneer, jy is volgende, kom asseblief saam met my, roep sy my. Ek spring sommer op van benoudgeid, vergeet skoon van die klein stoel wat nou al so geheg geraak het aan my dat hy sommer saam opstaan tot ek heeltemal regop is toe druk my rug hom los van my boude af. Met die moerse slag agter my spring ek amper in die vrou voor my se arms.

In die spreekkamer groet dr Norak my ewe vriendelik en sê, “kom sit gerus hier op my nuwe blou leunstoel meneer”. Terwyl ek bewerig gaan sit loer ek diskreet of ek enige bloedvlekke of tande iewers sien en ek wonder vlugtigof daar iets in die ou testament staan van Norakiete en of sy dalk ‘n afstammeling is. Die klomp was mos redelik bloeddorstig. Gelukkig sien ek niks en ek ontspan effens, sê maar van 9 uit 10 na 8 toe uit 10.

Terwyl die goeie dokter my agteroor tilt dag ek miskien moet ek maar voorstelle maak om toekomstige kliente se ervaring meer aangenaam te maak. Ek vra haar of sy al oorweeg het om ‘n TV teen die dak te sit. Ja, sê sy, om die waarheid te sê het sy al. Dan kan jy lekker lê en kyk na die naweek se rugby toe die WP die Bulls gewen het. Mmmm, dink ek, daai sadistiese streep sit maar vlak, dis kwalik bedek. My volgende voorstel was dat sy dalk by ontvangs ‘n Valium of twee aanbied, dalk met ‘n vodka of iets om dit af te sluk. Haar reaksie was dat sy dink sy sal meer voordeel daaruit trek om dit eerder self te gebruik. Teen die tyd is die stoel al so ver agteroor getilt dat ek voel ek begin afgly. Nou ja, dink ek, terwyl ek begin voel vir vashou plek, hou eerder jou bek.

“Maak groot oop asseblief”, is haar volgende woorde. Terwyl ek weerloos daar lê druk sy iets met sulke skerp hoeke in mond, hier teen die kiestande en sê, “neem”. Die proses herhaal sy aan elke kant bo en onder.

“Menéér”, sê sy, “ek is baie teleurgestel in jou”. O vrek dink ek, daar is seker baie skade g’n wonder sy lyk opgeruk nie. “Ek gaan vir jou ‘n pak toffies gee want jou tande makeer niks”, tjirp sy. Dis toe X-strale wat hulle neem om te kyk vir gate.

Ag dankie tog, nou kan ek opstaan uit die verdomde stoel sonder kraggereedskap in my mond. Maar nee. “Meneer, jy weet ek moet ook skoolgeld, en skoolklere en ‘n nuwe kar betaal so jy sal meer gereeld moet kom. Dis baaie belangrik. En jy weet ons moet seker maak dat jy nie aan halitose begin ly nie so ek gaan nou eers al die kalk verwyder wat aan die agterkant van jou tande aanpak”, terwyl sy so snaakse klein boortjie voor my oë rondswaai.

Sy het nou vrede gemaak dat sy nie haar bloedlus op my gaan bevredig nie, nou gesels sy ewe vriendelik terwyl die boor in my bek is en die assistant met die een hand water spuit en met die ander hand dit weer uitsuig. Terwyl ek probeer om nie te verstik nie wil sy weet watse werk ek doen.

“Geg gegk grk ge goigigagie gaaggaggy.”

“Mm, dis interessant”, sê sy.

Yeah right, hulle leer seker op universiteit hoe om ‘n gesprek te voer met ‘n mond vol tools.

Toe nog tanne polish ook met so klein angle grindertjie, en einde ten laaste is ek regop en in beheer van die situasie.

“Die seer tand is seker maar as gevolg van iets wat jy hard gekou het, kou maar aan die ander kant vir ‘n rukkie en vlos elke dag.”

“Dankie en totsiens” groet ek beleefd terwyl my glimlag lyk soos iemand wat ‘n mielie vasbyt, so groot en wit is dit.

Sien julle hopelik eers weer oor vyf jaar

Profile photo of pbroere

by pbroere

Die twee Ronnies

Julie 4, 2013 in Uncategorized

So week of twee gelede was ons vir ‘n vinnige wegbreek Krugerwildtuin toe.

Om die waarheid te sê was dit die week voor die toets teen skotland in Nelspruit want ons het Adriaan Strauss en van sy kanakkas by Tshokwane gesien die Woensdag. Plaas hulle eerder ge-oefen het want dit was maar naelskraaps. Skotland het daar ‘n nederlaag uit die kake van ‘n oorwinning getrek. Maar hulle lyk darem na nederige mense. Lekker vir foto’s gepose saam met die ou tannies.

In elk geval, in Satara het ons langs die twee ou ooms gebly. Twee broers. Laat my baie aan die twee ronnies dink hence die titel van my skrywe. Vir die wat dit nie ken nie, Google “the two ronnies”, Dis vrek snaaks, vir my in elk geval.

Die eerste aand wat hulle langs ons bly sit hulle maar op die stoep. Die een drink bier en die ander een wyn, Kan nie veel van die gesprek hoor nie behalwe, “Ag tog, laat ons maar restaurant toe gaan”. Hulle voel duidelik dieselfde as ek oor KNP se eetplekke.

Die volgende oggend is daar chaos. Die resident trop blouape het die ooms se kosboks ontdek. Die swerkaters het lankal geleer hoe om trommels en bokse wat toeknip oop te maak. Ek dink as die ANC ‘n week of twee spandeer sal hulle selfs leer waar om die kruisie te trek. So verdedig ons maar die ooms se kos met ‘n eierspaan en ‘n braaitang, maar een het ‘n vol pak Wheatbix gekry. Een groot mannetjie het mamma so teen die bakkie vasgekeer en staan en besluit waar wil hy haar byt toe ek opdaag. Gelukkig herken hy darem die top of the food chain en hardloop. Ek kon darem die boks Wheatbix red.

In Februarie by Krokodilbrug het ‘n blouaap ‘n foelie aartappel uit die vuur gevat terwyl ons hom sit en dophou. Ek dag die klein kak loop net verby. Ek het hom so 200m moes jaag en uit ‘n boom skud voor hy my aartappel opgegee het. Hoop sy vingertjies het gebrand.

Maar ek dwaal nou bietjie af. Ek was eintlik besig om skottelgoed te was toe die ape hulle raid gedoen het. Toe als nou weer onder beheer is kom die oudste oom by die kommunale kombuis aangeloop met sy kierie, op soek na kookwater vir koffie. Na ons mekaar behoorlik ontmoet het vra oom Eben waar hy kookwater kan tap.

Terwyl ek hom beduie vertel ek hom sommer, “Oom die ape het julle geraid vanoggend”.

Terwyl hy hom so stut op die kierietjie knak hy sy kop so skuins en vra “Waarheen het die ape gery ou seun?”

Terwyl ek probeer om nie te glimlag nie antwoord ek “Nee oom, ge-raid, hulle het julle kos gesteel”

“O, ge-raid, ek sien”

Terug by die rondawel is oom Edward besig om die verliese gelate gade te slaan. Hy vra vir oom Eben, waar is die Wheatbix. Enter die hero van die dag, hier is oom se kos, die ape het dit gesteel.

Hy kyk my so en sê “sulke bliksems”. Terwyl hy so ghe ghe ghe uit sy maag lag, “ek hoop hulle het dit geniet. Sulke bliksems”

Later hoor ek mamma is daar maar toe is dit meer in die lyn van “die pestilensies”.

Die aand toe leer ken ons mekaar weer beter. Oom Eben is 85 en bly in Springs en Oom Edward is 80 en bly in Stellenbosch. Hy het sy ouboet bietjie wildtuin toe gebring.

Oom Edward braai en oom Eben moet braaibroodtjies maak. So halfpad deur die braai lui oom Eben se foon, pure Mozart. Terwyl hy sy kierie bymekaar maak en kamer toe sukkel om die foon te antwoord, is oom Edward se roep, jy moet gou maak, ‘n vuur lewe net so lank.

Nou hoor ons oom Eben se kant van die gesprek. Hullou Bernadientjie. Hoe gaan dit? Sorry, die foon is op charge in die kamer. Vadersdag? Wanneer is vadersdag? OK, ek weet nie. Kan nie onthou nie. Nee dit sal lekker wees.

Klop oom Edward aan die deur. Hoe ver is die brood? die vuur gaan dood.

Oom Eben: OK Bernadientjie, ek moet gaan, daar is goed waarvoor ek verantwoordelik is.

Oom Edward: Maak gou.

Oom Eben: OK Tata. Dan kom hy by die deur uitgesukkel met die kierie. Die donnerse Bernadientjie, sy bel altyd op so ongelee tyd.

Partymaal is dit ander mense wat die vakansie bietjie kleur gee.

Darem ‘n paar boeke gelees, onder andere Shaping Kruger deur Mitch Reardon. Dit verduidelik die interafhanklikheid tussen spesies en die verreikende gevolge van goedbedoelde maar katastofiese gevolge van inmenging deur die mens. ‘n Voortreflike publikasie.

Geniet julle naweek.

PB

 

 

 

 

Profile photo of pbroere

by pbroere

Die jagter loop sy rieme styf

April 10, 2013 in Uncategorized

Selfs ek wat min blog voel nou al skuldig oor ek amper nooit blog nie, so hier is ietsie vir julle.

Die perdeby maak so moddernes met kompartemente en stop dit vol spinnekoppe wat sy verlam en preserveer en ‘n eier in lê wat dan die larwe voed. Ek ken dit as ‘n pottebakkers perdeby. In engels ‘n “mud dauber”.

Die ene het ongelukkig besluit om bietjie bo haar gewig te gaan boks.

‘n Bruin knopie spinnekop vat nie sommer k@k van kabouters nie.

“The female of the species”. Toevallig is albei van die vegters vroulik.

Lekker so, al die idiome.

 

Profile photo of pbroere

by pbroere

Borspyne

Maart 13, 2013 in Uncategorized

Ek het gister ‘n baie belangrike les geleer.

Moet nooit ooit by ‘n hospitaal se ongevalle eenheid instap en jou bors vashou terwyl jy vra om ‘n dokter te sien nie.

Die vrou fluit en skree sommer daar voor al die wagtendes phwiet, Josep, Joseph, triage, triage, kry ‘n stretcher, maak gou, maak gou. Ek dink triage is ‘n mediese kodewoord vir hier is groot k@k, of dalk groot geld.

Ek probeer nog verduidelik my hart is OK, ek dink dis net ‘n rib wat seer is maar niemand luister nie.

Meneer, waar is jou fonds kaart, moenie worry oor die res nie, ons doen die papierwerk terwyl hulle besig is met jou.

5 min later is ek aan ‘n bloedruk masjien, ‘n alarm wat so biep biep en EKG masjien vasgeplak. Die suster vra my elke denkbare vraag, allergies, operasies, kroniese siektes, wanneer laas tande geborsel tot die n de orde. 4 mense sit en staan rondom my en hou my dop, een maak sommer notas ook.

Nou begin ek self benoud en bewerig voel, sê nou maar net?

Een ou, David wil sommer ‘n drip opstart. Ek keer wat ek kan, ho nou, waarvoor is dit?

In case iets erger gebeur meneer, is sy sinistere antwoord. Ons moet bloed trek ook. Langs hom staan ‘n staalbakkie met so 12 proefbuise in, bloues en geeles en party staan STAT op met sulke groot blokletters. Dit lyk asof hulle nie kan wag om my met daai sjokmasjien by te kom nie.

Kom ons wag vir die EKG om klaar te maak, ek loop nou al 4 dae met die pyn, dis nie my hart nie. Nou konfereer hulle in Sotho terwyl hulle my noukeurig dophou. OK, se David, kom ons check gou. Die EKG volgens sy kenners oog lyk nie te erg nie, ons wag maar met die drip.

Met dié begin die belangstelling in my wel en wee ook taan. Hulle is darem nou oortuig die ou met die lang swart jas en die sekel staan nie ook daar rond nie, in elk geval nie langs my bed nie.

Later kom die dokter ook en na sy my weer al die vrae gevra het om te kyk of nie gejok het die eerste keer nie verklaar sy my buite gevaar.

“Maar ons moet volledig wees meneer. Ons gaan jou stuur vir X-strale en bloedtoetse, dit sal so uur vat. Lê nou maar lekker en ontspan, die laboratorium mense sal nou hier wees. Kan ek jou iets spuit vir pyn?”

“Nee wat, dankie.”

“Is jy seker?”

“Ja dankie”

“Ek dink ons moet jou iets spuit”

“Ok dan maar”

David trek die doepa met ‘n naald soos dié wat ek gebruik as ons skaapbraai. Ek sê vir hom, jy kan my nie met daai moerse naald spuit nie. “Nee meneer sê hy, ek gaan ‘n mooi dunne gebruik dit sal nie seer wees nie.

Yeah right, nie seerder as wat ek in elk geval het nie.

Nou maar lê en wag, iets waarmee ek gladnie goed is nie. Teen die muur is daar so klomp sakkies wat netjies opgeskryf staan, “laaste getel 28 Feb 2013” met allerande mediese goeters in. Een sakkie is so donkergroen soos die sharks na laasjaar se Curriebeker final. Daarin is ‘n ding wat ‘n Ryles tube genoem word. Gelukkig het ek my foon byderhand nou Google ek maar, kennis is mag jy sien.

Nog ‘n sakkie, so donkerblou soos Bakkies Botha se opponent na ‘n wedstryd, het ‘n ander ding in: ‘n Foley Balloon Catheter.

Sjoe, miskien is te veel van ‘n goeie ding ook nie goed. Veral nie as jy half weerloos voel nie. Jou verbeelding is genadeloos as jy wonder wat sulke goed in ‘n trauma sentrum soek.

Lees maar eerder blogs, Fanjan sin in besonder.

Gelukkig kom die laboratorium mense aan, en kan bloed trek. Darem net 4 buise en niks waarop STAT staan wat ek kon sien nie.

Dankie tog dink ek, my rug is nou al seer gelê, nou kan ons darem stap en gaan foto’s neem. Moenie glo nie, ek is nog steeds ‘n hoë risiko, netnou val ek dalk om. Daar gaat ons met die ou bedjie deur die ontvangs waar almal seker wonder wat de moer makeer die ou, hy lyk nie eers siek nie.

Na ek daar nog 20 minute gelê en blogs lees het wil die mooi X-straal meisie ewe besorg weet of ek sal kan opstaan. Ewe dapper kners ek dit uit, ja ek dink ek sal kan maar dis baie seer. Siestog meneer, ons sal gou wees, staan net so en haal diep asem. Draai so en haal diep asem. Dankie meneer. Sterkte, nou kan jy weer met jou foon speel. Bid jou dit aan.

Weer op my ou bedjie terug ongevalle toe. Maak eerder oë toe en lyk bewusteloos as ons deur ontvangs trek.

Na so 15minute laat weet hulle ons moet terug X strale toe, hulle moet nog foto’s neem. Toe sit ek ferm maar beslis voet neer en verklaar, nou stap ons. OK, OK, meneer, is jy seker? Geen duiselig? Nee, kom ons loop.

Nog ‘n foto en weer sit en wag. Die slag kan ek darem die plakate teen die muur staan en bekyk. Het julle geweet jy kry ‘n “spine acceleration injury”? Whiplash soos ons dit altyd noem as iemand in jou vasry. Daar is nogal vreesaanjaende goed op die plakaat. Ek hoop ek bly dit gespaar.

Hier kom die X-straal meisie weer terug. Meneer, ons sal nog ‘n foto moet neem. Hoekom? Wat gaan aan? Meneer, dit lyk of jy hemothoraks het, ons moet net die een spesiaal neem. Foto geneem, hello Google my old friend, I came to see you once again.

O my genade, hemothorax is groot k@k. Uiteinde van dit kan borspyn en selfs dood wees. Nou sit ek onwillekeurig. Ek is selfs sieker as wat ek eintlik gedink het. Ek dog ek het dalk ‘n ribbebeen gebreek maar inwendige bloeding?

Stadig stap ek terug ongevalle toe. As ek lang ore gehad het sou dit op die grond gesleep het. My lewe flits stadig voor my verby. Wat sou ek anders doen as ek nog ‘n kans kan kry?

Die dokter sê ek moet maar solank gaan koffie drink, sy wag net vir die X-strale, sy is nou baie besig, ek moet oor so half uur terug kom. Ek sien toevallig die bloedtoets uitslag, rooibloedtelling laer as normaal. Ja, dink ek, geen wonder, die bloed is nie in my are nie, dit dam op rondom my longe.

Sit skaars toe bel my vrou, die hospitaal het haar gebel, die dokter soek my dringend. Haas my langsaam terug om my vonnis aan te hoor. Hoe lank het ek nog? Daar is soveel wat ek nog wou doen.

Na nog 30 min is die dokter weer met my. Sy kyk my simpatiek aan en sê, meneer, alles lyk OK. Ek dink jy het ‘n longinfeksie en die gehoes het die kraakbeen beskadig waar jou ribbes aan die borsbeen heg en die hele spul het inflammasie wat maak dat dit seer is as jy asemhaal en veral as jy hoes. Hier is ‘n voorskrif en gedra jou rustig vir ‘n paar dae. Kom sien my weer oor ‘n week as dit nie beter word nie.

Toe ons uitstap stoot hulle ‘n kaalvoet ou met ‘n denim in wat redelik bewusteloos lyk en sy familie wat rasend van bekommernis probeer uitvind wat hom makeer.

Ek het baie om voor dankbaar te wees.

Ek is bly ek is nie ‘n dokter nie.

Profile photo of pbroere

by pbroere

Sal jy vir dit val?

September 6, 2012 in Sonder kategorie

Ek kry vandag die oortuigende dokument in my posbus. Ek sal more my inligting vir hulle gee. Letterdash wil dit ongelukkig nie in ‘n groter formaat aanvaar nie.

Profile photo of pbroere

by pbroere

Vanaand in die tuin

Augustus 23, 2012 in Sonder kategorie

Ons probeer nou ‘n ruk lank aktief om wild na ons tuin te lok.

Het nou al ‘n paar keer swartkwasmuishonde in die hoenderhok gekry, ek vermoed hulle eet die eiers want produksie het nogal afgeneem.

Vanaand het ons die klein rakker op die gras gesien.

Ek is ook besig om vlermuisbokse te bou, hopelik het ek nog besoekers.

Profile photo of pbroere

by pbroere

Ouderdom

Julie 3, 2012 in Sonder kategorie

Dis nie maklik nie.

Profile photo of pbroere

by pbroere

Plan vir die week update

April 18, 2012 in Sonder kategorie

Ek wou julle eers verveel met ‘n paar anekdotes uit my jeug. Daar was bv. die ongelukkige voorval toe ons die Marakele Nasionale Park se hek met ‘n bakkie afgery het een Vrydag oggend 1am. Dis net deur God’s genade dat ons nie arresteer is nie. Dan was daar die keer toe ek ewe onverskillik ‘n leeuwyfie geklap het. Mens leer darem soos jy ouer word. Dan was daar die keer by Tuks Jool 1992. Miskien moet ek liewers niks daaroor uitwy nie.

Maar terwyl ek die meeste van die week dit gedoen het:

Het ek en mev darem tyd gehad om interpersoonlike verhoudings op te knap. Bietjie introspeksie gedoen, doelwitte vir die toekoms weer oorweeg en so:

Aangesien bg soveel tyd in beslag geneem het, het ek besluit om maar die luigat uitweg te volg en ‘n paar foto’s te plaas wat ek in die laaste 2 dae geneem het.

Ons het nogal baie voels gesien:

Diere wat ons uit die hoogte aangluur.

Ons het in die laaste 3 dae 3 soorte katte gesien. Ongelukkig was die luiperd en cheetah kamera-sku, maar die Afrika wildekat het geduldig poseer

Sommer net mooi, vir my in elk geval

En dan my persoonlike gunsteling, SUNDOWNERS!!

Profile photo of pbroere

by pbroere

Dis my plan vir die week

April 15, 2012 in Sonder kategorie

Ek gaan elke oggend laat slaap en dan luilekker uitstrek en die dag beplan

Dan ‘n deeglike sessie van dit

Dan ‘n laatoggend ontbyt, nie noodwendig vegetaries nie

Dan dalk bietjie rondlê tot ek moeg is

Dan bietjie van die

Dan regmaak vir ietsie kouds, nie noodwendig met ‘n strooitjie nie

Dan ‘n laatmiddag stappie

Dan, JIPPIE, sundowners.

Al die foto’s bo geneem vandag en gister. Geniet julle week!!

Profile photo of pbroere

by pbroere

Naweek dinge

April 9, 2012 in Sonder kategorie

Ek het soveel planne vir die naweek gehad, ek kan nie glo dis weer verby nie.

Aangesien Vrydag eintlik as ‘n Sondag getel het, was ons maar rustig en het maar rustig ontbyt gemaak en DVD gekyk en later rugby.

Saterdagoggend het ek met ‘n lied in die hart begin met die naweek voorneme om die garage reg te pak. Deel van die was om rakke onder die afdak op te sit waar ek ‘n klomp oorskiet yster op wou pak wat nou die een hoek vol staan.

Alles mooi beplan en uitgemeet toe slaan die noodlot toe.

Die doring beland in my wysvinger, reg langs die nael in, daar steek nie ‘n stukkie uit om met ‘n tangetjie beet te kry nie en om met ‘n naald te krap is vrek seer. Ek het besef ek sou nooit ‘n goeie spioen uitmaak nie. Ek sou geheime uitlap sonder om ‘n oog te knip as iemand dit aan my doen.

So is al die goeie voornemens terstond daarmee heen. Later die dag raak dit toe al meer gevoelig. Op die stadium het ek ook nog nie geweet dis ‘n doring nie, ek dog dis ‘n stukkie yster wat my gesteek het van die ysters waarmee ek besig is. Besluit toe maar om ongevalle toe te gaan. Na ‘n tetanus inspuiting en ‘n vinnige X straal, besluit die dok daar is iets en dit sal onder verdowing moet uitgehaal word. Ek sal julle die gory details maar spaar.

Terug by die huis so halfpad deur die Leeus se rugbyklas besluit ek toe maar om die res van die naweek getrou te bly aan Spreuke, waar daar staan “slaap tot jy honger is dan eet jy tot jy vaak is”.

Die Bulls se power eerste 20min herinner my toe weer aan Spreuke 31:6 waar daar staan “gee wyn vir iemand wat hartseer is sodat sy las ligter kan word”. Toe maak ek maar so.

Later moes ek diep dink aan goed om oor hartseer te wees want die wyn saam met die pynpille en die bulls se tweede helfte het nogal die teenoorgestelde uitwerking gehad.

Maar nouja, more is dit weer hand aan die ploeg, Vrydag vertrek on KNP toe vir ‘n welverdiende wegbreek. So ek sien eers weer ‘n 5 dag werkweek in Mei.