You are browsing the archive for 2016 October.

Profile photo of PATTY

by PATTY

Ver Ver terug

October 17, 2016 in Uncategorized

Ek het die laaste laai seker bietjie hard toegebliksem.  – Ek vra omverskoning.  – Onthou-frustrasies.

Jy onthou as jy nie WIL onthou nie.  Dan vloek mens en frustrasie lok ongevraagde hardhandigheid uit.  (Tog hoop ek die laai is so hard toegeklap hy sal nie weer KAN oop nie)

Party van ons recover nie so vining van emosionele pyn nie.

Bondel-Ek lyk min gepla.  “waarheen nou?” piep ek

‘Ons gaan vorentoe – ver terug – jy moet gaan kyk – daar.”

Ek brom nors ek wil nie – sleepvoet tog agterna.  “Hier”  Haar mou se sliert vee oor my gesig toe sy beduie na iets op die grond.  ‘n Piepklein Houtkisse.

“Sjit,, dis vrek mooi”   snak ek.  My gedagtes sê dadelik vir my dis klein – daar kan nie veel daarin wees nie.  En dis beeldskoon.

“Hmmm”   Haar aansteker kliek terwyl ek op my kniee neersak voor die kissie.  Ek gaan sit soos kind met voete agtertoe . terwyl ek die kissie optel.  “Hoe werk hy?” vra ek half oor my skouer.  Geen antwoord.  Demmit Bondel.  Dis al weer net ek met die kis in my hande.

Ek sukkel om agter te kom hoe die affêre werk wat hom ontsluit.   Draai, vroetel, skud hom langs my oor.   Beskou hom van naderby,   Aha moment. –  Daar steek klein pennetjie langs die kant uit.

Ek moes geweet het.

Klein Kissie Groot stront.

Want ek is skielik weer 13 jaar oud.  En terug in ons tuin.  Ek sit en snik voor ‘n bondel grond.  Niemand weet ek sit hier nie, dis agter die groot bos in die hoekbedding.  En ek huil oor Karel.  Hier het ek hom begrawe.  My rondloper kat.  Swart, maer verweerde Karel. En ek het die aardsonde gepleeg deur hom kos te gee.  Pappa het dadelik gesê die kat moet skoert.  Ek het geweet al was mamma streng was haar hart week vir diere.  En ek het gesmeek.  Asseblief Mamma, kan ek nie vir hom kos gee nie – ek belowe hy sal buite bly.  Hy ken my.  Hy kom sê elke dag net hallo.  Ek belowe Mamma, regtig!    En Mamma het ja gesê.

Ek het die klein pieringkie vol kos buite gaan neersit en die middag na skool gewag vir Karel om hom te vertel hy was nou myne en hy kon bly by my.

Maar Karel was dood.  Pa het vir hom gewag – en hom doodgemaak.  En mamma het geweet.  Gesê dis beter so, hy was oud en verniel.

Ek was dertien jaar oud.  Ek sou vir Karel lief wees, hom gesond kry – hy was myne.  En hulle het hom doodgemaak.  Hoe verstaan ‘n kind verraad?  Die grootmense-se-goed-bedoelde-verraad.  Ek het ‘n klein tuintjie bo-op sy graffie gemaak.  Net gesit en huil.  Oor Karel en oor Mamma se verraad.

Dit was die begin van vele verrade.  Ek was een van vier susters.  Altyd die kind wat  vir mamma wou wys ek kan ‘n gehoorsame kind wees.  Punch gevat vir my susters se rebellies teen mamma.  Onnodige slae gekry.  Geen verskoning OOIT as die waarhede wel uitgekom het nie.    Want mamma was altyd in haar kamer, met ‘n snaakse reuk as mens daar verbysluip.

Later sou ons leer dis whiskey.  En pille.  Ons mag haar nie pla nie want sy moet rus.  Maar hoekom Pappa?  vra ek.  “Sy is siek”  sê hy net.

Ek hardloop weer in TARA se gange rond – pa het ons na mamma gebring waar sy in die “hospitaal”is.  Sy is siek en moet gesond word.  Ons het ons besig gehou en gange verken en ons verkyk aan die ander “siek’ mense.  Mamma het nie gepraat nie.  Sy het soos die ander siek mense gelyk – ons het nie gedink sy weet ons is daar nie.

Ek is amoer 17.  Mamma is beter, maar sy raak nog af en toe siek en sluit haarself dae lank in haar kamer toe.  Ek verstaan nou beter.  Dis oor ons nie luister en haar gelukkig maak nie.  Die kinders by die skool lag vir my ma.  Ek vat nie meer maats huis toe nie.  My susters maak op vir my part en voer steeds rebellies teen die gesag uit met kêrels by dosyne.  Ek bly glo ek moet beter vaar – mamma sal gelukkig wees as sy sien ek probeer   – ek moet aanhou.

En dan sien ek myself.  Klaar met skool.  Wat nou.

Pa se ek moet gaan werk.  Ek gaan werk in die dorp se supermark.  En ek haat dit.  Ek haat die dorp.  Ek haat die mense. Ek haat my ma en my pa.  Maar ek bly by mamma.

Ek smyt die kis op die grond neer.  Ek wil nie verder sien nie

Want ek WEET wat kom.

“Ek wil hier uit!  Hoor jy my?” skree ek in die donker in.

Net stilte as antwoord.

Ek ruk soos ek skrik toe ek afkyk.

Die kis le weer in my hande en my keel trek toe soos die deksel weer begin oplig

 

 

Profile photo of PATTY

by PATTY

Nar-sis-me

October 16, 2016 in Uncategorized

Tyd spandeer in die hede.

Dis ‘n hele ruk sedert ek met Bondel_Ek gepraat het – en ek erken – ek mis die gevoel wat ek ervaar met haar.  Sy maak dinge duidelik?  Dalk nie

Ek moet terug.

Die laaste laai was ‘n slegte plek.  My laaste besef  – soos sy gese het – dit wat ek gedink het daar was  – was nooit daar  nie.

Ek hang oor die gat – skree  Is jy daar?  – Nie dat ek wag vir antwoord nie.  Ek het weer ver geloop in my drome.  Baie dooies besoek.  En in  verskrikte hiperventilasie besef ek is wakker.

– My gedagtes bly egter agter in die drome.    Bondel – Ek is ook terug in my kop.

Haar plek steeds misterieus en donker.  Ligte veraf in die niet.  Ek mik daarvoor.

Die nikotien reuk slaan in my neus op

“Jy’t geweet ek kom – gin mens kan jou suprize nie”‘

Die aansteker kliek.  ” Maar gewag tot jy klaar jou hede-dans dans – ekt geweet jy sou verder kom soek.”  Sy skuur verby my, lang swart slierte agterna soos hande wat wink.  “kom dan” se sy oor haar skouer.  Skapie na slagpale weer.

Sy stop so skielik slierte slaan teen my vas.  “Hier, Maak oop”   Die kas is selfs mooier as die voriges.  ” – Hoe mooier bo-op hoe leliker binnekant  ”  dink ek.

” Jy weet jy sit met ‘n narsis in jou lewe”  Stelling – dis nie meer ‘n vraag nie.  “Met ‘n narsis is alles bolängs mooi”  sigaretrook maak ‘n draaiende streep agter haar hand aan – “maak oop – kyk daar binne

Watter een?  Mak oë toe – voel voel – eerste handvatsel wat ek raakvat trek ek oop.

Terug.  Van rehab af.  Eks skoon.  Droog soos hulle sê.  Dis stil in die kar oppad huis toe.  Ek weet nie of ek wil teruggaan, aangaan nie.  Hy se net : “ons begin nou van voor af”

Tuis.  My huis. Alles is deurmekaar – lag vuilheid oor alles. Hy ry.  Los my daar – ek weet ek word “toegesluit”  –  ek mag nie alleen uit nie.  Meskien goed so.  Hy wil my help.

Vat hier, los daar.   Maak die yskas oop. Die inhoud slaan my soos vuishou.  Eks alleen.  Met ‘n hele yskas vol drank.

Ek val soos ‘n klip in ‘n put af.  Val, val, val.

Dis soos orkaan wat afwaarts werk.  En hy en sy familie is deel van die orkaan.  Stukke word uit my lyf gepluk.  My siel word verpletter.

WOU hy my help of WOU hy my net daar hou – daar waar ek moet aanhou pleit en dankbaar wees vir nog ‘n kans?

Die hele put is vol drank.

En dan slaan ek bodem.  Harde grond.

En ek kan staan.  Ek iseers verbaas want ek besef ek staan alleen en ek val nie

“was jy toe al daar?” ek draai om na haar.

Haar lip krul terwyl sy die rook uitblaas.  “Natuurlik”

“En jy het geweet ek kon alleen aangaan.  Hoekom nie toe al vir my daar uitgevat nie?”

Sy trek ‘n wenkbrou op  ” en mis al die aksie daarna?  Soveel laaie wag nog”

“Kom.”