You are browsing the archive for 2016 August.

Profile photo of PATTY

by PATTY

Vlug of Vlug?

August 16, 2016 in Uncategorized

“Ek wil nie sien hoe die drank die blomme doodgemaak het nie”

Bitter gal stoot steeds in my keel op as ek dit moet onthou.  NEE.  Dit was dekades gelede.   Oor en uit.  Ek het aangegaan – blerrie goed ook.

Bondel-Ek lyk effens minder hard.  “Nou goed, ons los dit daar vir eers – daar is nog baie, kom.”

Asof van nêrens is die volgende laai daar.  Hoewel mooi, is die handvatsel amper soos ‘n klou.  Ek staar nog daarna toe dit uitskiet en my hand gryp.

Ek rem aan die handvatsel.  Eks los.  – Die laai is oop.  – Bondel-Ek het iewers tussen die droewige rookkrulle verdwyn.  Sjit.  Eks alleen voor hierdie laai.

En ek sien die tyd het aansienlike vlug geneem.

Ons is in ons eerste huis.  ONS sin.  Ons is nou vier in ons nuwe huis.  Steeds ons twee en twee produkte van ons saamwees.  Met my drankduiwel verslane is ek weer op volspoed.  Ek gedy in my rol as ma.  As vrou van die huis.  Ons is nie ryk nie maar ons is gelukkig.  Ek lag vir myself.  So onkuldig steeds.  So naief steeds!    Ons gaan ons huis mooi maak.  Ek en Hy.    En Hy sê:  ”  Ons maak nou SO hier, en SO daar, en dan maak ons daardie deel sus en so aan en so voorts ”   Dit was nooit ‘n  vraag of insluiting in sy planne nie besef ek nou wrang.  HY het gesê.   HY het so gemaak.  EK het gevolg en hom aanbid vir sy knap insette.  Ek sien myself tralies aandra, Ek help dakke bou.  Ek breek mure uit.  Ek was deel van die uitvoer van die planne – dit was net nie MY planne nie.  Maar sy plan het ek saam met hom uitgevoer.  Tog was dit TOE goed so ook.  Ons kinders kry hondjies.  Ons is doodnormaal.  Werk hard vir wat ons het.  Doen alles self.  Trots.  Gelukkige gesinnetjie.  En ons vreet viskoekies want daars nie geld vir luxuries nie.  Maar ons is gelukkig.

En ek sien hom weer soos gister – hy het hard gewerk aan ons huis.  En dit IS mooi.

Dan draai dinge.  Hy – ons – maak ‘n gesamentlike  u-draai.  Want hy wil vir homself werk.  Hy KAN en hy gaan.  En ja hy het.  Hy het.  En ja die viskoekie budget het NOG gekrimp.  Nou is daar MINDER as niks.  Maar ek hou uit.  Hou my werk.  Hou ons aan die lewe en sy droom lewendig so goed ek kan.  Ek word die balk wat alles dra.  Sonder dat ek weet. leun almal op die balk.  En die balk buig en kraak – maar hy breek nie.  Hy kan nie.  – EK kan nie.  Sy droom moet lewe.  Myne kan wag.  Tog is dit steeds goed so.

En ek sien hom weer – onseker jonk – maar tog so vol missie en ambisie.  En sy skaam-eerste-trots toe erkenning en sukses begin lewendig raak in sy droom.  En my hart swel saam trots.  So trots op hom.  Ek kyk dieper in die laai.  Daars iets wat skort.  ” Hou op krap ”  –  Ek ruk soos ek skrik   –  Bondel-Ek leun teen die laaikas, beduie met die sigaret na die oop laai  “Dit WAS nooit daar nie – sien jy NOU?  – Besef jy NOU?”

En my oë begin brand want ek WEET  sy is reg.

 

 

 

 

 

 

 

Profile photo of PATTY

by PATTY

Balans ?

August 10, 2016 in Uncategorized

” Ek wil nie sien nie ”

Net ‘n sagte laggie as antwoord.  Bondel-Ek.  Nou in beheer, en Ek is nou die patetiese bondel.

” Hier ”  Dis ‘n sigaret.  Aangesteek.  Ek gryp dit amper.

” Kom.  Tyd vir jou stroll down memory lane.  Probeer byhou”  Sy lyk nie meer so dreigend nie.  Meskien omdat sy weet ek is niks in haar wêreld nie.

Tas rond en kry houvas aan een van die lang swart slierte van die rok wat sy aanhet.  Sy sweef  – ek volg.  DIe skapie na die slagpaal.

Deur digte droewige rook-krulle.

Dan lig.  Helder.

Ek staan weer in my geblomde rok in my piepklein eersste EIE-Kombuisie.  Was skottlegoed.  – Tevrede en trots.  MY klein kombuisie – MY klein huisietjie.  Alles Myne en Syne.  Ons baba doodtevrede – met sy kleinboet groeind in my.

My Ma is dood.  Ek is 25.  Tog is ek steeds vol moed – ek het vir hom en ons babas.  ONS is sterk.  Die Nuwe Kleine soos tasbare belofte binne my – Mamma is dood – maar ek het nuwe lewe om te vier.

Bondel – Ek staan skielik langs my.   ” Kyk hoe mooi is ons.  Jy dra blomme.”

Ek rol my oë as ek na ons kyk.  Nou.  Albei in Swart.  Rou ons?

” Tja, niks meer om te vier nie nê? ” voltooi sy weer my gedagtegang.  “Ons is oud.  Verniel en verweer deur ‘n leeftyd se houe”

” Eerste ding wat jy praat wat sin maak ” merk ek droog op.

“So vertel my – wat gaan aan hierso?” sy beduie na die geblomde prentjie.

Maar die blomme op my rok het verwelk sien ek.  Hulle is swart en droog.  ” Ek het nog STEEDS hoop gehad hier jy weet ”  – ek sê dit vinnig voor sy  weer sjit opmerkings kan  maak.  Maar sy doen dit in elk geval.

” Die blomme het gevrek.  Jyt hulle versuip in drank.”

JA.  Ek het, dink ek bitter.  Net EEN van die harde houe op ‘n jongvrou lyf.

“Jy kon daardeur kom?  Wat maak dinge 15 jaar later dan so anders? ”

” Kom,   Daars nog laaie.  Ons het nou eers begin ”

Die gif van al die onthou gaan my doodmaak dink ek.