You are browsing the archive for 2016 March.

Profile photo of PATTY

by PATTY

Wat sit dikbek in ‘n hoekie?

March 16, 2016 in Uncategorized

PATTY.  Dis wat.

Uh, ja wel, Hallo Mense,

Ek het lanklaas geskrywe – ek het in my hoekie gesit.

Ek is deur ‘n baie traumatiese ondervinding!  – ‘n TRANSFORMASIE.

– Nee ernstig.  ‘n Transformasie soos op Hannon  (eh, – dit was nou net nie by Hannon nie)

EN.  Net vir die record, Teen My Wil

Ek woon nie sulke geleenthede by nie – ek was nog nooit in my lewe eens vir ‘n “facial”of so iets nie.  Ek DOEN dit net nie.

Nou ja, dit is toe aangebring as goed bedoelde gebaar, so ek gaan maar.  TEEN my beterwete.

Daar gekom prop hulle my in ‘n stoel.  Gryp maatband en begin my te meet.  Waars die middel, hoe lank is my arms, hoe lank is my bene – wat hang, wat is nog nie aangetas deur gravitasie nie, al sulke goed.  Ek hoor ek is relatief “normaal” alhoewel my kniee tekens van ouderdom toon, my maag effe te rond is en my skouers te smal.  – Met ander woorde, ek is NIE normaal nie, ek is uit verhouding uit.  Maar goed.  Ek kwalifiseer nog vir “relatief normaal”

So vat hulle my vas in die haarkapperstoel.  En dis nou toe net daar waar die moeilikheid begin.  Hulle wil my donker gotiese hare LIG maak – ek is te oud vir so donker kleur.  Ek piep ek wil nie eintlik nie, maar hulle kan dit maar BIETJIE ligter maak as dit dan moet.  Maar NIE sny nie!!  Nee goed – net BIETJIE meer modern?  Meskien kort bob?  Ek sê “Okay!!  Maar ek soek dit nie KORT nie!” Nee nee dis reg.  Ontspan jy net.

4 ure later hyg ek na asem van die bleik walms, en my betraande oë kan nie mooi sien wat sy als aanvang met die skêr nie.

Nodeloos om te sê – hulle HET my hare gesny.  MIKRO Kuif – net so mikro bo op my kop.

Ek hyg nie meer nie  –  ek hiperventileer.

Almal jubel oor hoe pragtig dit is.  – Ek het nie woorde nie.

Die grimeerkunstenaar wals in – weer eens word ek op stoel sitgemaak.

Nou sien ek nie myself nie.  In my binnekant snik ek oor my hare en Bid vir die beste met die grimering.

Ag mense.  Weereens oe an a almal oor hoe pragtig dit is.

Ek skrik my gat af toe hulle my daar omdraai ek sê vir julle.

Wenbroue soos 2 teerpaaie bokant my oë.  Weereens het ek nie woorde nie.

Daars helaas nie tyd nie, ons moet klaarmaak vir ‘n fotosessie.

Teen hierdie tyd is my maag al op ‘n knop – ek dink ek het so pas ‘n maagseer groter as ‘n waatlemoen ontwikkel.

Ek is soos die lam oppad slagpale toe.  Soos ‘n pou met ‘n perm so vreemd voel ek.

Ek hou egter my pose voor die kamera.

Trek DIE aan!  Staan so!  Draai SO.  Kyk op.  Kyk af.  Hemel ek is later so deurmekaar ek weet nie meer watter dag dit is nie.

Einde ten laaste is hulle klaar met my.  My lippe brand van al die lipglans en ek wil net huis toe gaan.

DUS, soos julle kan aflei is ENIGE VORM van transformasie prosesse NIE my sterk punt nie.

Dit was nou snaaks die een keer.

NOU.  NOOIT WEER NIE DANKIE.