‘n Insident in blou, con majestuosa tempestuosa

Maart 5, 2014 in Uncategorized

Ek en Vroukie sit hier op die agterstoep, so geselsend oor die Oscar Show, wou aanvanklik nie kyk nie maar loer nou kort-kort, dis baie meer opwindend as die Protea-Chokers se no show. Vroukie sit op die trappie en doen iets aan haar voete, skrop, vyl en begin dan haar toonnaels verf. Dan sien ek dit. Blou. So asof sy die toonnael met ‘n hamer kon raakgeslaan het of dalk die slagoffer kon wees van ‘n kataklismiese besering aan diens, dis immers al tien tone wat betrokke is. ‘n Nadere bekyking bring aan die lig dat sy sowaar besig is om die toonnaels blou te verf, so asof sy ‘n Pikt is wat nou regmaak om die vyand aan te durf. Nee, kwit, dink ek by myselwers, Vroukie is nou besig om uit te haak. Sy oordoen hierdie forever young versugting nou heeltemal. Dis alles die Glam Guru se skuld. Sy is immers ‘n dame in haar senior wordende jare en as sulks moet sy mos ‘n waardige betaamlikheid handhaaf. Hierdie uitspattige bont naels is ‘n verspottigheid waarmee die jonger geslag hulle mee kan besig hou. Rooi, ‘n ouer dame se toonaels moet ‘n stemmige rooi wees om haar statige waardigheid te pas as die mater familias . Onnadenkend spreek ek hierdie gedagtes hardop uit, in wat genoem kan word “n Ligte mistykie”
Voukie sit so met haar een voet in haar hand, in die ander hand is die Cutex kwassie. Sy kyk vir my. Daar is nie ‘n twienkel in haar oog nie, maar wel ‘n baie duidelike boodskap, ‘n boodskap in hoofletters, in vetdruk. Sans serif. Die letters is HKGK. Sy sit my so en kyk. Dan staan sy op en vat my hand. “Kom saam” se sy. Sy lei my na ons slaapkamer toe. Uh huh, dalk het ek verkeerd gelees, dit was dalk tog ‘n twienkel. In die slaapkamer loop sy na my klerekas toe. Sy pluk die deur oop en skep ‘n klompie broeke uit die rak. (Dis definitief HKGK.)
“Wag nou Vroukie, wag nou. Wat maak jy?”
“Ek gaan jou Salvation Army klerekas uitgooi. Dis hoog tyd dat jy bietjie bykom en meer byderwetse klere dra. Dan sal jy ok nie meer so oud lyk nie” Net so se sy.
“Fok Vroukie…
“Los die gefokkery Lewies, jy weet ek hou nie daarvan as jy so lelik praat nie”
“Ja maar jy kan mos nie my klere begin uitgooi nie. Daardie is my werksbroeke…”
“Jy werk mos nie meer nie. Jy kan bietjie meer ontspanne aantrek. Dan sal jy ok nie meer so oud lyk nie. Kyk net hier, bruin broek, beige broek, navy broek, bruin broek, beige broek, navy broek so uit die oude doos. “
“Ja maar dis kwaliteit, ek het dit by Woollies gekoop, het my blerriewil R50 stuk gekos .”
“Kwaliteit” snork sy.”Die goed se gatte is blink gesit.”
Nou gryp sy my hemde.
“Kyk hier. Two tone Ventersdorp styl. Kry iets wat jou sal laat jonger lyk”
“Ja maar…”
“En kyk hier, hierdie onderbroeke van jou, die goed is verflenter. Jy sal koue vang as jy die goed dra.”
“Ja maar…”
Sy gooi dit op die hoop klere .
“Ek moet omsien na my belange” se sy.
Nou pluk sy my skoene uit die kas.
“Net nie my grys Grasshoppers nie!”
“Jy het die bleddie goed nog nooit gedra nie! Waarvoor bere jy dit?”
“Dalk kry ek dit eendag nodig, jy weet, as ek oud is en dalk probleme met liddorings het. Ek het dit vir ‘n bargain gekoop by Kara’s”
“Nou gaan koop vir jou iets wat jou minder oud laat lyk. ‘n Paar stapsandale sodat jy kan bybly as ons op die cliff path stap”
Fokkit. Net so se sy. Ek besluit om maar die vrede te bewaar. ‘n Huismoles in hierdie 24/7 situasie kan nogal pynlik wees.
“Kom Lewies.”
‘’Waarheen gaan ons.”
“Dorp toe. En bring jou beursie saam.”

Die swye van Lewies Mymer

Februarie 27, 2014 in Uncategorized

Die swye van Lewies is te wyte aan ‘n besoek daar in die Noorde, Bethlehem, Klerksdorp en Kroonstad, waar ons familie en vriende gaan besoek het en my tante wat in Kroonstad woon, vir wee weke hier na ons in Hermanus gebring het. Toe ek nou my blog oopmaak, sien ek my avatar is geskaak. Dalk een of ander wonderwerker-toordokter wat ‘n dolosbeentjie vir sy doepa benodig? Ek kies toe ‘n ander avatar, die Gansies van Gansbaai-hawe, wat nie ganse is nie maar drie kleurvolle vissersbote wat in die hawe voor anker le. Ek het alles gedoen soos ek dink dit gedoen moes word, maar dis hels of die avatar verander. Toe probeer ek die foto op hierdie inskrywing plaas, maar lyk my dit geluk ook nie. Om sout in my wonde te vryf sit ek hier met ‘n nuwe rekenaar, gelaai met Windows 8, wat ‘n geniepsige stukkie tegnologie is. Ek vind die laptop se sleutelbord ook ‘n bliksem om baas te raak.

Tina se smile uitdaging

Januarie 20, 2014 in Uncategorized

Kara en Mia

Kara en Mia

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kara en Mia speel drama-drama.

So moet mens mos TV kyk

Januarie 16, 2014 in Uncategorized

Photo1601

 

 

 

 

 

 

 

Na ‘n helske gesukkel kry ek weer ‘n foto geplaas, die een is van Liam, wat ontspan voor die TV.

As die wag voor jou mond sluimer…

Januarie 5, 2014 in Uncategorized

Hier in die Lewies huishouding kan die staatkundige bestel beskryf word as ‘n goedaardige diktatuur bestaande uit ‘n regerende party en ‘n opposisie party, waar die uwe die rol van die opposisie  onder korrektiewe toesig vertolk.  “Onthou jy, Vroukie, verlede Woensdag…” “Nee Lewies, dit was Dinsdag” redigeer sy my storie nog voordat ek kan verder uitbrei. “Ja, dit was die dag toe ons die Halitosis Brunica geplant het…” “Nee,” korrigeer sy, “dit was die Halitosis Salponica” So vertel ek aan vriende dat die 24/7 met Vroukie nogal ‘n aanpassing is vir my noudat ons nie meer werk nie. “Nee, ” kommentaar Vroukie, “dis nie vir my ‘n aanpassing nie” “Ja Vroukie, dis oor ek ‘n nicer mens is as jy om by te wees” Sy kyk vir my, ‘n kyk wat die uitdrukking “till Hell freezes over” na ‘n besliste moontlikheid laat lyk.  Eish, dis die vierde dag van ‘n nuwe jaar wat voorlê, 365/12.

 

Kerswense

Desember 21, 2013 in Uncategorized

Ons had die afgelope week gaste uit die Noorde, soos die Hermanussers sê, Vroukie se sus en onse swaer het hier gekuier.  Die weer het nie juis saamgespeel vir seeplesier nie, maar ons het die geleentheid gebruik om rond te ry en plekke soos Dassiesfontein en Greyton vir hulle te wys. Daarby het ons Hermanus se interessante straatjies plategeloop en by elke winkeltjie ingeloer. Hulle het vanoggend vroeg weer die pad gevat huis toe en skielik is ons huis stil. Ek het selfs tyd om vinnig hier by die blogs in te loer en om vir al my blogmaters ‘n geseënde Kersfees saam met die mense vir wie julle lief is toe te wens. Laat ons te midde van die klatergety nie die ware boodskap van medemenslikheid vergeet nie. Selwers gaan ek en Vroukie die dag in Stanford deurbring met ons kinders en kleinklinders, die heel eerste Kersfees wat ons so bymekaar sal wees. Vir die uwe is dit nou die tjerrie op die koek.

Sy

November 30, 2013 in Uncategorized

Sy, ja sy wat my lewensmaat van veertig jaar is, sy wat die moeder van ons kinders is en die ouma van ons kleinkinders, sy wat medepligtig was dat ek laat by die werk opgedaag het, ja sy, sy bekruip my soos die pes wat bedags wandel, soos ‘n dief in die nag, terwyl ek in gedagtes versonke voor die rekenaar sit, terwyl ek nie een van die 7 biljoen mense op hierdie Moeder Aarde henner nie. Sy bekruip my met ‘n partytjiefluitjie, bekruip my van agter en blaas die ding hier skuins agter my oor. Ek skrik my eers moer toe toe die pienk papiertong verby my flits, en toe skrik ek my weer terug van moer af  toe die skel  geskal my ore laat tuit. My bloed briek sidderend  tot stilstand in my are, my hart bokspring soos ‘n bulkalf in die lente, my mond raak stofdroog, ‘n paar swetswoorde presenteer sigselwers.

“Vroukie, ek sweer ek sal jou terugkry, ek sweer dit op die graf van Arnoldus Pannevis. Ek sal jou terugkry”

 En nou, nou die ultimate blooming cheek, sy kom vorentoe, vat my wange in ‘n knypgreep tussen haar duime en voorvingers en sê in so ‘n koetsjie-koetsjie stemmetjie: “Het hy geskrikkies? Groot geskrikkies? Amper dood geskrikkies?”

 “Fok, Vroukie, dis nie iets om oor te spot nie. Natuurlik het ek geblerrieskrik. Enige normale mens sou. Jy sluip dan hier van agter af en blaas daai blerrie fluitjie in my oor. “

 Sy kyk na my met so ‘n skelm soort van smaail. Ek kan sweer daar is ‘n twienkel in haar oog.

 “Nou hoe groot het jy geskrik Lewies? Heeltemal onkapabel, of net so effentjies? “

 Ek voel hoe my skrik sak.  “Ons sal moet uitvind Vroukie. En ek weet net van een manier.”

 Gelukkig werk ek nie meer nie, anders was ek weer laat.

 

 

Overbergse toeval

November 26, 2013 in Uncategorized

Hoe toevallig kan dinge nie verloop nie.  Hier in Hermanus in is dit amper gebruiklik dat mense jou sal vra of jy ‘n local is. Dan sê jy ja, maar ek is nog ‘n inkommer, pas hier beland. Dit maak dan die pad oop vir ‘n uitvraery van ‘n ander wêreld, vanwaar kom jy? Ken jy dalk vir so en so? En dan is daar blye verbasing as daar wel ‘n gemeenskaplike kennis is. So ontmoet ons iemand hier en na ‘n kuier of twee kom dit uit dat sy en Vroukie in dieselfe skool op Kroonstad was, weliswaar nie op dieselfde tyd nie maar tussen hulle onthou hulle ‘n klomp skoolmaats en onderwysers , en wat nou werkilik toevallig is aan die storie is dat die persoon se broer getroud is met die meisie wat veertig jaar gelede ons strooimeisie was!

‘n Groter toevalligheid, eintlik ‘n bietjie eerie, gebeur een Saterdagoggend toe ek en Vroukie by die kontreimark rondflenter. Vroukie sien haar eerste, ‘n ou bekende uit Klerksdorp se dae, wat nege jaar gelede saam met haar kinders Amerika toe ge-emigreer het. Vroukie se verbaasde uitroep het my amper hoendervleis gegee, sien sy ‘n spook helder oordag?  Haar broer lê op sterwe in Stellenbosch, verduidelik  sy, en sy het hom vir oulaas kom besoek.  Sy kuier vir die naweek by vriende in Hermanus, en vlieg weer die Maandag terug Amerika toe.  Dink nou net watter permutasies moes gejel het sodat  ons mekaar op daai spesifieke oomblik moes raakloop.

 

 

Mymerend op dese Vrydagagtermiddag

November 8, 2013 in Uncategorized

Ek vind dit die afgelope tyd moeilik om ‘n onderwerp te kry om oor te skryf. As ek teruglees op my inskrywings sien ek dat dit die afgelope jaar veel te doen gehad het met my aftrede en ons verhuising na Hermanus en die nuwe lewe hier. Maar dis nou verby en daar moet seker iets anders wees waaroor ek kan skryf. Maar soek en dink en kopkrap soos ek wil, ek kry niks. Nada, ziggolo, fokkol. Toe dink ek die “fokkol”, is darem maar ‘n lekker woord (dis nou vir my), en nie soseer “fokkol” nie as “fok”.  Dis nou ‘n woord wat my bemoerde gemoed kan ontlaai soos wat ‘n weerligafleier ‘n bliksemskig onskadelik stel. Maar dan moet mens hom mening sê, en bedoel, anders is hy nie meer verbale noodhulp vir moerigheid nie maar net nog ‘n skollie swetswoord. Kyk,as mens hom nou sê, so in slow motion, dan byt jy eers met die voortande op die onderlip as jy die frikatief “f” vorm. Dink nou aan byt, tande en frikatief (friksie, friction) en daar het jy drie kagtige elemente van aggressie. Nou vorm die lippe “o”, en as jy jouselwers sou betrag in die spieël as die lippe so gerond is, lyk dit asof daar na die aanvanklike aggressie nou ‘n oomblik van besinning is, so asof jy nadink of jy die woordbom werklik wil gooi, want as hy gegooi is, is hy gegooi, die koeël is deur die kerk. Dan: triomfantelik en gee nie ‘n duiwel om nie, die klapknal van die slot “k”. Kyk nou net die agressie element wat na vore kom: klap, soos in oorveeg, taai klap, skote wat klap, en knal, weer eens skote wat knal, en slot, die einde, tot hiertoe en nie verder nie. Pure vuur, die klein woordjie, moet hom nie op sy verslete baadjie takseer nie!

 

 

Die naaimasjien

Oktober 5, 2013 in Uncategorized

‘n Eenakter in ‘n kort bedryf

Personae dramatis

Lewies, pasgeworde vier en sestigjarige emeritus

Vroukie, vroutjie van Lewies, emerita in die fleur van haar senior jare

Lewies en Vroukie sit by ‘n tafeltjie in ‘n opelug restaurant neffens die seefront in Hermanus. Hulle teug aan ‘n verkilde wit wyntjie. (Cabernet sauvignon blanc, ‘n ondeunde wyntjie met ‘n parmantige boeket en dralende nasmake van aspersies, gekneusde fynbos, appelkoos, enigiets behalwe blerrie druiwe)

‘n Bakkie met ‘n advertensie ” Overberg Sewing Machine Centre” kom verby. (Dis ‘n ietwat faktap wit Nissan 1400 bakkie, maar enige ander bakkie sal ook doen). ‘n Man wat op die oog af lyk of hy weet van sewing machines is aan die stuur.

Vroukie: “Dit herinner my. Daar is fout met my masjien. Ek moet dit invat dat die man daarna kan kyk. Wat is dit nou Lewies? Wat smaail jy so skelm?”

Lewies: “Jy meen jy wil hê die man moet na jou naaimasjien kyk?”

Vroukie (Ietwat verontwaardig) “Lewies!!”

Finis.