So maak mens

Mei 14, 2010 in Sonder kategorie

 

 

Die vinger is ietwat beter, maar of dit toegeskryf kan word aan die behandeling of aan die feit dat die senuwees dalk afgevrot is sal ek eers more kan bepaal as ek die anti-biotiese pleister afhaal. Intusssen sit ek hier met my vinger in my oor, by wyse van aangepaste eufemistiese spreke. Ietwat gatvol (is dit ‘n sinspeling?) oor my onaktiwiteit ten opsigte van die daaglikse huisjoppies soos skottelgoedwas ensovoorts. Ek is nie ‘n uithalerkok nie, soos ‘n vorige blog getuig,  maar dit kos nou ook nie blou lint kulinêre vermoëns om die groente te skil en tjop terwyl Vroukie die fyner biznis aan ‘n dooie hoender doen nie. En jy sal my ook nie die skrik op die lyf jaag met ‘n hoop skottelgoed nie. In ‘n vorige lewe was ek dalk die skottelgoedwasser in die kombuis van Josef die dromer se bakker en skinker. ‘n Minderwaardige posisie, nie eens ‘n nagmerrie werd nie. Maar dan is ek ook ‘n beskeie mens sonder aspirasies na hoë ampte. Kyk nou net wat het van die arme bakker geword, of was dit nou die skinker?

 

Ek benader ‘n hoop skottelgoed met ‘n militêre strategie so oud soos die Romeinse Imperium, Divide et impera, verdeel en heers. Eers word die wynglase (Hene Vroukie, het ons gisteraand Nagmaal bedien?) en die koffiebekers eenkant gesit, (weer met ‘n uitroep van verbasing: Hene Vroukie, hier is dan meer bekers as al die mense wat ons ken tesaam!).  Dan word die graad twee besoedeling geidentifiseer, messe, vurke, lepels, teelepeltjies, koekvurkies (koekvurkies?!) klein bordjies, papbordjies, groot borde en die plethora van plestiek bakkertjies en kakkertjies wat ongemerk en ongenooid in die wasbak opeindig. Nou vir die groot kanonne, die toestelle wat ek gebruik het om vanoggend se brekfis voor te berei en allerlei ander vetterige en aangebrande potte, panne, en kastrolle wat hier vergader is. Verder is dit easy peasy. Sorg dat daar musiek op die draadloos is, lekker musiek, dooilike musiek werk nie. Op die oomblik is Eric Clapton en BB King se Ridin’ with the King koek in die hoek. O ja, darem ‘n glasie rooiwyn ook, sommer plonk, hierdie is ‘n nederige joppie en verg nie embellishment nie.

 

Dan takel ek die spulletjie met warm water, ‘n sponsie en Sunlight liquid, definitief nie ‘n goedkoop plaasvervanger nie. By die potte en panne moet ek egter meer aggresief te werk gaan  Vervang die musiek met Rodger Waters se Pros and Cons of Hitch Hiking, draai die volume effens hoër, gooi die glas weer vol, tot die meniskus rooi soos die sonsopkoms vir jou oor die glas se rand loer, en skrop freneties met staalwol en ander hulpmiddels. Gooi Vim by, Handy Andy, spuit hardnekkige aanpaksels met Zeb, beitel die heel tawwes met ‘n skroewedraaier af. In enkele gevalle van totale mislukking moet die kooktoestel  maar as verlore beskou word en afgeskryf word. Dit is egter die laaste opsie en mens kan eers twee, drie dae later bepaal of die pot of pan reddeloos verlore is of nie as die swembadsuur wat jy ten einde raad daarin gegooi het, of die aanpaksel of die erd of albei weggevreet het. Pasop egter  vir die swembadsuur, soms reageer dit hewig en volatiel met die aanpaksel, na gelang van die koolstofgehalte daarvan. Die rookwolk wat gevorm word kan ‘n amegtige hoesbui en branderige en tranende oë tot gevolg hê. (Het julle geweet ‘n Hart aluminium poaching pan kos deesdae R130, 00 by Pick’ n Pay?)

 

Raait. Dan afdroog. Dis nogal lekker as daar ‘n skoon en droë afdroogdoek byderhand is. Ek het egter al geleer dat daai fensie soort met die rooi tjeks soos Yassir Arafat se kopdoek nie werk nie. Hulle word slym-snotterig soos ‘n Pep Stores sakdoek en kan maklik breekskade tot gevolg hê. (Weet julle hoe duur is ‘n gewone wit bord deesdae by @ Home?) Die panne en potte en hout brood- en snyborde sit ek in die son by die agterdeur om lekker droog te word.  Terwyl ek afdroog pak en sommer weg ook, en tjop-tjop, en voor jy kan sê “Vukenmes” is die spulletjie opgeruim. As die finale coup de grace vee ek die wasbak uit, maak dit mooi droog en hier kiep-kiep daar kiep-kiep met die vadoek oor die kombuiskas.  Heel ten laaste vee ek die glas- en bordskerwe op en voila!! Aan die kant! Reg vir more se skottelgoed.

 

“Surpraais Vroukie! Kyk,  ek het vir jou die skottelgoed gewas!!”

 

“Ag Lewies, jy moes nie!”

12 antwoorde op So maak mens

  1. wynvdm het gesê op Mei 14, 2010

    Ek’s bevrees jy gaan verbaas wees oor die moerse litteken wat daai klein spinnekop bytjie gaan los Lewies! Maar hulle sê darem vrouens dink scars is sexy. 🙂

  2. DallaSePa het gesê op Mei 14, 2010

    Smart Oom!

  3. DallaSePa het gesê op Mei 14, 2010

    ps – ek hoop daar wag ‘n beloning vir al die swoeg en sweet …

  4. Berwick het gesê op Mei 14, 2010

    :-)) Lekker!

  5. loudavisi het gesê op Mei 14, 2010

    Lekker Lewies skrywe, Lewies!
    Soos net jy kan.

    Pst…gooi biekie Coke onder in ‘n aangebrande pot en laat staan oornag.
    En as dit werk, dink daaroor wat Coke aan mens se binnegoed kan doen.
    Seker nie so erg as wat ‘n spinnekop aan ‘n vinger kan doen nie.

  6. Jy maak my sommer lus vir skottelgoed was!
    🙂

  7. En die fosfaat in Coke wat weer uitgepiepie word is vandag een van vele besoedelings in waterbronne.

  8. Ek score lekker brownie ‘me-time’ punte met skottelgoed was. My broer is al 20 jaar getroud en hy snap nou nog nie daardie een nie, maar dan weer, hy vat ‘me-time’ soos hy lus kry.

  9. kerneelsie het gesê op Mei 15, 2010

    Uhm… Daar is nog iets wat nie gedoen is nie. Die afdroogdoek moet met groenseep ingesmeer word voor die kombuis REGTIG skoon is. NIE Jik nie. Ma se blou afdroogdoeke is nou pienk.
    Ma hou nie van pienk nie.

    Mooi naweek oom Lewis.

  10. Zaskia het gesê op Mei 15, 2010

    Ek haat skottelgoed was!!! Hoop jy het ‘n lekker naweek!!!

  11. katrina het gesê op Julie 3, 2010

    Bwahahaaa… ‘skies Lewies, dat ek nou eers so ‘n bietjie teruglees, maar aangesien ek die vingersage ook gemis het, kon ek die versoeking nie weerstaan om bietjie op te vang nie! O ja, die opskrif, natuurlik, laat my aan Esme en Jan van toentertyd dink. Ek kan nie ‘n enkele ding onthou van wat hulle ooit in die program gedoen of gese het nie!

  12. pasella het gesê op Julie 3, 2010

    Wjelkom Katrina, altyd wjelkom! Gaaf om jou te kon terugvoer na die ou dae!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.