Maak groot oop en sê “aaah”

April 11, 2010 in Sonder kategorie

“Geografiese tong. Mnr Lewies, u het ‘n geografiese tong” konstateer die dokter ingenome.

 

“wha.. wha, ish..”

 

“Laat ek net eers my vingers uit u mond kry dan kan u praat. U wou sê?”

 

“Geografiese tong? Wat op aarde is dit?”

 

“Laat ek net gou een van my naslaanwerke raadpleeg dan vertel ek u in leke terme”

 

Die dokter swaai sy stoel om en krap in ‘n boekrak. Dan swaai hy terug met ‘n publikasie in sy hand wat ontstellend baie na ‘n ou Reader’s Digest lyk.  Hy lek oor sy lippe en met ‘n frons op sy voorkop lees hy. Dan sê hy, “Geografiese tong is ‘n  kondisie van die tong”.   Hy klap die publikasie toe en kyk triomfantelik na my.

 

“Uhhm ja, dokter, ek dink dis hoekom ek hier is.”

 

“Inderdaad. Die kondisie manifesteer as beduidende orale ulkusse aan die papillae binne die mond, veral op die linguale perifere en surfaas.  Die voorkoms van die kondisie vergelyk met die geografiese voorkoms van kontinente soos dit uitgebeeld word in wêreldkaart”.

 

“Dok meen my bek lyk binne soos ‘n atlas? Amper soos my oë wat Maandagoggende soos padkaarte lyk!” sê ek met familiêre gemeensaamheid.

Die dokter sit regop. Sy oë flits skerp na my deur sy swartraambril. Hy kyk lank en stip na my. Ek kriewel ongemaklik op die deurgeskifte stoel. Dan vra hy met afgemete artikulasie, sy stemtoon gemoduleerd, maar subtiel dreigend. Hy klink soos Riaan Cruywagen wat die luisteraars waarsku dat die volgende videogreep ontstellende beeldmateriaal bevat wat sensitiewe kykers mag, wel, ontstel.

 

“Presies hoeveel drink u, Meneer Lewies?” Die s-klanke seil sissende  tussen sy tande deur.

 

“Nee, nee, Dokter, ek drink nie eintlik nie. Ek drink net met Nagmaal en deesdae gaan ek nie juis kerk toe nie, so…” My stem raak weg as die dokter vooroor leun. Sy gesig is naby myne, sy oë is groot en wasig agter die dik lense van sy bril, dit lyk soos lasagne in ‘n Pyrex bak.*

 

“Meneer Lewies, lyk my u ligsinnige lewenstyl mag aandadig wees aan u kondisie. As u in liggaam en gees gesond wil lewe moet u hou by hierdie maksim: Corpus sanum in mente sana”

 

“O, ek ken daai een van my Standerd ses Latyn dae af, maar dit het anders gegaan, Mens sana…”

 

“Nee, die liggaam moet gesond wees, dan is die gees gesond” sê hy met driftige oortuiging. Sy vinger wat hy hier voor my neus rondswaai ruik na KY jellie.

 

“Ek sal u ‘n voorskrif gee vir die kondisie van die tong”

“Kan Dok my dalk so ‘n paar dae afboek, asseblief?” vra ek opprtunisties, die vooruitsig van ‘n paar dae weg van die werk uitlokkend in my gedagtes.

 

“Nee! U kondisie reverdig nie ‘n siekte nota nie!  Werk is die regte medisyne, dit sal u aandag van u kondisie aflei. Is daar dalk nog iets wat pla?”

 

“Ja wel, Dok, noudat jy dit noem. Man jy weet, hier op my jare begin dit mos lol as ‘n man, jy weet, as ‘n man nou …as dit nou hier by die huiswerk begin kom…”

 

“Wat bedoel u, Meneer Lewies? Wat se lollery praat u van?”

 

“Jy weet Dok, ‘n man se kragte begin afneem” sê ek veelbetekenend, “ Afneem, af. Jy weet mos”

 

“U sal meer spesifiek moet wees, ek weet nie wat u bedoel nie.”

 

“Nee kyk Dok, die kwessie van styfheid, dinge wat moet styf wees is nie styf nie en dinge wat nie moet styf wees nie, die is styf”

 

“O, ek begryp. Maak los u broek en buk vooroor”

 

“Vir wat?” wil ek onthuts weet.

 

“Ek gaan u ‘n Voltaren-inspuiting gee vir die styfheid”

 

“Fok Dok, verstaan jy nie? EK kla nie oor die styfheid nie…”

 

“Meneer Lewies, u roekelose taalgebruik is vir my voldoende bewys dat u kondisie te wyte is aan u onbeheersde lewenstyl”

 

“Jy meen my tong ontwikkel beduidende orale ulkusse aan die papillae binne die mond, veral op die linguale perifere en surfaas omdat ek so nou en dan kru taal gebruik?”

 

“Juistemint, Meneer Lewies. Na my medies-gefundeerde opninie is dit een van die primêre oorsake. Meneer Lewies, sit, ons het nog nie die oorsaak van die probleem van u styfheid bepaal nie! Waarheen gaan u?”

 

“Ek gaan ‘n ander dokter soek, toordokter Malema Mushiwari sal my beter kan help!”

 

“Meneer Lewies, moenie die deur so hard klap nie!”

 

 

 

* Ek het hierdie vergelyking geleen (gesteel want ek gebruik dit gereeld!) by ‘n blogger, ek kan nie meer onthou wie nie. Dus, met erkenning aan die anonieme blogger)

 

 

15 antwoorde op Maak groot oop en sê “aaah”

  1. Lag ek nou my hele gat af veral vir die dokter se verkeerdom verstaan. Dankie Lewies jy het nou my hele dag toetentaal gemaak!!!!!!

  2. HeavyHenry het gesê op April 11, 2010

    “wat ontstellend baie na ‘n ou Reader’s Digest lyk”

    KaKaKa!

    Nice een, meneer Mymer!

  3. plankloper het gesê op April 11, 2010

    Ai, my ou maat… Ek het nou trane in my oe. Eers oor ek so lekker gelag het en toe oor ek myself so duidelik herken het in jou skrywe. Nie as die dokter nie maar as die pasient. Hier is raad. Kry vir jou ‘n vroue dokter. Hulle gan vir jou dieselfde goed se, maar met baie meer medelye en simpatie, en dit maak die bitter pil baie makliker om te sluk!

  4. dinkweer het gesê op April 11, 2010

    Lyk my Noordwes is ‘n plek om weg te bly. Van polities tot medies… Hy het nie gesê of jy ‘n Asiatiese kaart of Afrikakaart op jou tong het nie?

  5. maninblack het gesê op April 11, 2010

    Jou dokter is blykbaar verhewe bo die lyflike.

  6. pasella het gesê op April 11, 2010

    Hi Monica, ek is bly ek kon jou behoorlik welkom heet hier oppie blogs!

  7. pasella het gesê op April 11, 2010

    Hallo Henry! ek dink jy verstaan wat ek meen!

  8. pasella het gesê op April 11, 2010

    Hallo Maankind! Dankie!! Ek waardeer’n kompliment van jou kant af!

  9. pasella het gesê op April 11, 2010

    Hi Therina! Plonk maak my dronk!! Shesheshe!

  10. pasella het gesê op April 11, 2010

    Dankie vir die raad Plankies! As ek nou daaraan dink, is die vroulike middelvinger ook ‘n aks dunner, she goes easily!!

  11. pasella het gesê op April 11, 2010

    Hei DW, dis gevaarlike wêreld die !

  12. pasella het gesê op April 11, 2010

    ‘n Regte suurpoes, Andre!!

    (Skuus vir die lelike woord, maar ek haal Riana Scheepers aan!)

  13. vuurklip het gesê op April 11, 2010

    “Kan ‘n man dan nie?”

  14. pasella het gesê op April 11, 2010

    ‘n Man moet as hy moet!!

  15. pasella het gesê op April 11, 2010

    Naandsê Flenters!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.