Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Hier kiep – kiep

Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie

Nou gaat ek kiep. Hier oor die rekenaar teem ou Janis Joplin die Liewe Heer moet haar ‘n Merceidies Benz gee–nee wat Pearl, werk vir die blerrie kar, hy kom nie so maklik nie!

Goeie nag blog land!  Sweet dreams!

Pop

Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie

Ja, pop bars my borrel. Fokkitie fok. Was dit Jonathan Kaplan se beste vertoning as skeidsregter? Nie dat die saak sou maak aan wie die wedstryd wen  nie, van sy beslissings teen die Bulle was vir my ewe vreemd, maar dit sou dalk die frustrasie vlak verminder het. Nou ja, as jy teen die beste skrumskakel in die wêreld speel, teen die beste slotpaar in die wêreld, teen ‘n losskakel wat nie ‘n voet verkeerd sit  nie en dodelik pale toe skop, teen die grootste skare fanatici, met ‘n losskakel wat meer ten gunste van die opponente gespeel het, sy nuwe span né, (jammer vir die insinuasie, ek bedoel dit nie), moet jy wragtag goed wees om te wen. Nietemin, die Cheetahs is nog steeds die beste span! Go Cheetahs, ek staan en val nog steeds by julle, van toentertyd se Vrystaat, tot in aller ewigheid!

Askies Boikie

Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie

Klein Liam Enso, oor wie se aankoms ek so breëbors geblog het, het verlede week op die ouderdom van skaars vyf maande met die binnekant van ‘n hospitaal kennisgemaak toe hy met bronchelitis opgeneem is. Sy pa en ma het onverdrote om die beurt by hom gebly, dag en nag. Intussen moes pa Boikie bedags werk en kleinsus Mira moes ook nie afgeskeep word nie. Daarby was die hospitaal ook nie juis net om die draai nie. Nogal ‘n dramatiese ingreep in ‘n gevestigde roetine.

Nou is Liam gesond en ontslaan en die normale patroon van leef en werk is herstel.

Tydens die harwar en die heen en weer bellery, smse en e posse, wonder ek teenoor Boikie of dit werklik nodig is om voltyds by die outjie te bly, hy is immers in goeie hande. Nee, kom die antwoord met min verbloemde verotwaardiging, een van die ouers moet daar wees om gerus te laat voel, al ervaar hy die ouer teenwoordigheid ook net subliminaal.

Nou ja Boikie, nou moet ek bieg en bely. Toe jy so drie maande oud was het ons in Bethlehem gebly. Jy was siek en die plaaslike GP het jou so a la mediese netwerkbemarking na ‘n kollega (of dalk studente drinkebroer) in Pretoria verwys wat urienweginfeksie gediagnoseer het en jou vir ‘n week in ‘n hospitaal daar laat opneem het. Ek en Ma het jou met hartseer maar met vertroue in die mediese sorg daar gelos (ai, dit wil klink soos verlaat!), so op jou eie alleen.

Askies Boikie, ek moet boete doen om die skuldgevoel te besweer wat nou soos ‘n aasvoël op my skouer sit. Ek gaan nou na daai knorrige Des Fontaine se sportwinkel om daai Powell and Peralta skateboard wat jy toentertyd so begeer het maar wat ek gedink het is hopeloos te duur teen R450, 00, vir jou te koop vir Krismis! Sommer ook daai Spiderman suit!

Ossies teen die Bulle

Oktober 29, 2009 in Sonder kategorie

2005, wonderjaar, annus mirabilis, toe een Os 15 Bulle op hul moer gespeel het. Gaan Os se Ossies dit weer doen? Die wind waai effe wes, hulle speel immers teen die Springbokke, maar hulle kan. Die Cheetahspan is soos ‘n gebruikte kondoom, jy mors nie met hom nie. Ek, vir een, staan agter die Cheetahs, wen of verloor. Maar wen sal darem baie lekkerder wees!

Kriptiese leidraad

Oktober 25, 2009 in Sonder kategorie

My vorige inskrywing, oor die engele op my voorstoep, het ‘n verskuilde angel, wat dalk kan verlore gaan en die betekenis van die stuk sinloos maak. As jule dit lees neem in ag dat Gabriël God se boodskapper-engel is, wat ook die boodskap bring dat jou tydjie op hierdie ondermaanse verby is en dat die oomblik van rekenskap aangebreek het.

Dis ‘n wonderlike dag hier in die Wes-Transvaal, die lug is swanger met die belofte van sagte reën, vars en geurig. Die voëls poep en kwetter plesierig, Rapport is nog nie afgelwer nie, maw my gedagtes is nog rein en onbesoedel, niks g’n stories oor korrupsie, misdaad, kinky seks van die”sterre”. Ek moet die bleddie koerant kanselleer.

‘n Engeleskaar op my voorstoep.

Oktober 24, 2009 in Sonder kategorie

Dienggggh!

“Middag Morena”

“Middag Baas. Baas ek is Abraham. Ek soek skrop. My kinders is honger, daar is nie kos by my huis nie. Ek sal die kar was, ek soek net geld vir pap en paraffien.”

“Ek het nie werk vir jou nie, Abraham. Ek het ‘n man wat my help, maar ek sal vir jou kos gee”

“Dankie Baas”

Dienggghh!

“Middag Morena”

“Middag Baas. Ek is Daniël’

 Ek is Ezekiel

 Ek is Isak

                         Ek is Jakob

                         Ek is Johannes

                         Ek is Job

                         Ek is Petrus

                         Ek is Simon

                         Ek is Zagaria

Ek soek skrop. Ek loop die hele dag, ek kry niks. My kinders is honger, daar is nie kos by my huis nie. Ek sal die kar was, ek soek net geld vir pap en paraffien”

Eendag.

Diengggh!

“Middag Morena”

“Middag Baas. My naam is Gabriël”

Weer eens, sorry vir die kak uitleg,  te danke aan Letter fokken trash

                                   

Anner baas draai mantel (Lees saam met Abel die Cheetah)

Oktober 19, 2009 in Sonder kategorie

“Middag Abel! Hoe gaan dit?”

“Eeeh Baas! Gaan goed Baas”

“Jy het die tuin mooi opgeruim na die hael Abel. Ek het 27 sakke blare laat wegry”

“Baas?”

“Ek sê jy het die tuin mooi skooongemaak. Dit was twenty seven plastics vol blare”

“Hau bathu!”

“Kaniti. Jy het hard gewerk, dankie”

“Want ek sê ok dankie by die Baas. Jy help my altyd”

“Ons help mekaar, Abel. Ek sien jy het nou ‘n Bulls rugbyhemp aan. Is jy nou ‘n Bulls supporter”

“Baas?” Fokkit Abel!

“Ek sê ek sien jy het vandag ‘n ander hemp aan. Nou die dag het jy ‘n Cheetah hemp aangehad”

“Eeeh Baas”

“Nou watter team support jy?”

“Ek support die Bucs, Baas”

“O, ok. Maar waar kry jy die Bulls hemp”

“Dis daai anner baas, Baas.   Hy sê hy laaik nou weer daai anner hemp wat hy my gegee het, daai hemp van die Cheetahs, hy vat hom terug, hy gee my die hemp”.

“Laaik jy hierdie blou hemp?”

“Nee Baas, ek laaik hom fokkol”

“Mooi Abel! More koop ek vir jou ‘n nuwe Cheetah hemp!”

“Want ek sê dankie, Baas”

Majestuoso Tempestuoso, of te wel Die Wind kom van Binne

Oktober 16, 2009 in Sonder kategorie

 

Toe Dawid haar fyn handjies in sy forse manshande neem, weet sy hier kom moeilikheid. Haar hart bokspring in haar keel soos paddas op pad na die fontein na die lentereën,  haar hart klop soos ‘n hamermeul op die dorsvloer.

 

“Dawid…nee, ek kan nie nou nie” prewel sy onthuts, haar woorde leunagtig teenoor die emosie wat soos beskuitdeeg in haar binneste opwel, en sy besef: die ongemak wat sy nou ervaar is as gevolg van daai tweede porsie boontjiesop. Maar hoe kon sy dit van die hand wys, stomend, oorrompelend geurig op hierdie koue wintersdag.

 

“Speel vir my op die klavier. Laat jou lieflike vingers soos somer swaeltjies dartel oor die klawers, maak liefde met my in goddelike musiek, laat my vermurwe in die hemelse note.” Sy stem is skor, rasperig soos P80 skuurpapier.

 

Sy trek haar hande teensinnig terug. “Dawid, ek moet eers…”

 

“Nee,” val hy haar bruusk in die rede. “Jy moet niks anders as om my hart weg te voer met die wonderlike vaardigheid van jou vingers, ek meen nou op die klavier” voeg hy haastig by.

 

“Dawid, maar ek..” haar stemmetjie is klein, klein en benoud soos die van ‘n skoolmeisie voor langpouse. “Niks g’n gemaar nie, as musiek die voedsel van die liefde is, gee my nog, gee my tot ek oorversadig is”. Sy stem is dramaties, sonoor, lieflik en sterk op haar oor. Sy voel ‘n krieweling in haar. Sy GPS die posisie van die krieweling, senter in die afdalende kolon.

 

In haar nood besluit sy om ‘n kragtige stuk musiek aan te durf, Aus der sturm und drang der Alpinose hochland, gekomponeer deur die briljante Duitse musiek genie Adolf von Kartoffelen Salad In der Hose. Smittie Faan vertaal dit op RSG as ” ‘n Uiters hewige storm in die landelike gebied van die Alpe.”

 

Toe sy die eerste klawers ligweg betas,  voel sy hoe die drukking in haar kolon dramaties toeneem. Sy skuifel benoud rond op die klavierstoeltjie en jaag die tempo aan na molto andante.  Maar hoe meer molto sy speel hoe meer molto word die nood. Sy knyp en skuifel, knyp en skuifel, haar hande flits soos spieëlbeelde in die son, die klawers dawer freneties, spring soos ‘n quad bike teen die steilte van die magtige cresecendo, molto tempestuoso, tanto molto tempestuoso, tantissiom molto tempestuoso,  die sweet slaan op haar aanvallige voorhoof uit, haar Salon Fraai Vroutjie perm hang verlep en slierterig oor haar gesig, haar hande dartel en spring soos ‘n kudde springbokke in die lenteveld. Sy knyp en skuifel, knyp en skuifel, en dan, na wat na ‘n ewigheid voel, sien sy die oomblik van verligting voor haar soos Moses van ouds die beloofde land klaar en helder aanskou het vanaf die piek van berg Sion, die zenith van die crescendo, die absolute magiese klimaktiese stonde van die virtuose musiekstuk: majestuoso tempestuoso, wat die klank van die uitlating van die kolongasse sal kamoefleer, haar oomblik van redding! Steeds baie fyntjies en vroulik verslap sy die sluitspiere, reguleer die ontlading behendig. ‘n Glimlag ontplooi op haar gelaat, en die musiek tempo neem gaandeweg af, dralend soos stappers teen die helling van die heide.

 

“Brava! Bravissima”! Dawid se stem is jubilant. “Wonderlik! Wonderskoon! Wunderbar!! Nazdarovje!!!”

 

“Dawid, ek moet eers…”

 

“Nee, nee! Speel dit weer. Wat is die naam van die selestiale musiek”

 

“ Dit het ‘n lang Duitse naam, maar in Afrikaans staan dit bekend as “Die Storm”, maar nou moet ek eers…”

 

“Speel, speel, gee my oorvloed! Maar los net daai gedeelte waar die weerlig die lewwetrie raakslaan!”

 

 

 

 

Lewies se lekker luister liedjies

Oktober 15, 2009 in Sonder kategorie

Ja, vir my is hulle lekker, so ietwat uit die oude doos, maar nog steeds lekker om na te luister.

L          Like a rolling stone                                Bob Dylan                                           

E          End of the Line                                     Travellin’ Wilburys

W        With a little help from my friends           Joe Cocker                                                     

I           It’s my heart                                         Francoise Hardy

E          Elberta                                                  Eric Clapton

S          Sultans of swing                                    Dire Straits

Lewies is in die wolke

Oktober 14, 2009 in Sonder kategorie

 

3:47

Dis wat die wekradio se rooi liggies my vertel.

 

“Jissie, Vroukie, skuif bietjie op! Ek het nie meer plek om te lê nie!” sê ek so half fluisterend. Sy moet hoor en reageer, maar ek wil haar darem nou nie wakker maak nie.

 

Sy reageer onmiddellik. “Mmmprprmm!”murmel sy en du stywer teen my aan. Sy wen so 1cm veld. Ek druk versigtig terug maar in ‘n verrassingskuif draai sy halfpad om na my en wen nog ‘n sentimeter.

 

“Fokkit Vroukie” my fluistering is nie meer heeltemal fluisterend nie. “Lê soontoe! Ek het nie plek nie!”

 

Vroukie haal diep asem en sug behaaglik.

 

So gaan ek nie my verlore lêplek herwin nie. Ek trap vas en druk ferm teen haar. My toonaels grou grrts grrts in die laken in. Sy rol effens weg en ek wen veld. Net toe ekontspan kom sy met ‘n hernieude aanslag en skuif half onder my in. Ek hang nou soos ‘n vlermuis aan die kant van die bed.

 

Voor jy kan sê “Touch, pause, engage” slaan ek terug met ‘n stewige regterskouer, maar in ‘n klassieke Os du Randt skuif swaai sy die skrum en sit ‘n  onverwagse romaalbeweging aan die gang. Voordat ek my kan posisioneer teen die aanslag  is ons terug in my doelgebied. “Beassst!!!” sing die tinnitus in my ore.

 

Dan sê sy, “ More Skapie! Maar jy slaap te lekker vanoggend! Rustige nag gehad?”

Ek kyk op en sien haar waar sy hier by die bed staan met koffie in die hand. “Jy sal moet roer, die kallers suip uit!”

 

Dan het ek tog uiteindelik aan die slaap geraak.

 

“Nee, Vroukie, ek het nie ‘n rustige nag gehad nie. Jy het heel nag hier half bo-op my gelê. Ek het g’n plek gehad nie”

 

“En ‘n goeie more vir jou ook, Lewies”

 

“More Vroukie. Vir wat druk jy my die heel nag so van die bed af?”

 

“Ek het jou al lankal gesê die matras is hol gelê. Ons rol in die nag na mekaar toe”

 

“Die matras is so te sê splinternuut. Van wat sal hy nou al hol gelê wees?”

 

“Sê jy vir my! En die matras is nie so te sê splinternuut nie. Ek het die faktuur gaan uitgrawe. Ons het hom in 1995 gekoop. Dis hoog tyd dat hy vervang word”

 

“Hulle maak ook nie meer die goed soos in die ou dae nie, “ brom ek. “Dis vandat daar inner springs en coil springs en sulke goed in die matrasse gesit word dat dit nie meer hou nie. Daai outydse klaaperhaar matrasse waarmee ek grootgeword het was die beste.”

 

“ Jaaa, Skapie. Is net so”

 

So dwaal ons van winkel tot winkel en swerf op die internet rond. Die een is beter as die ander, die een het ‘n 2 jaar vervangingswaarborg, die ander 5 jaar. Die een kos dit die ander dat. Maar dan neem ons die gewigtige besluit.

 

Die volgende middag word die matras afgelewer, sommer met ‘n nuwe basis ook.  Vroukie maak flink bed op.

 

 “Ek het ook vir ons nuwe kussings gekoop, die ander was al so uit fatsoen uit”

 

Slapenstyd lê Vroukie al in die bed en lees toe ek uit die badkamer kom.

 

“En toe, “vra ek, “hoe’s die nuwe matras?”

 

“Kom probeer self,” nooi sy. Hoor ek iets in haar stem, dalk ‘n vaag bedekte uitnodigning?

 

“Kom sweef saam met my op cloud nine,” sê sy en klap-klap op die bed, “maar versigtig nê, onthou, die matras moet nog lank hou!”