Skoonpa se patente

Augustus 3, 2009 in Sonder kategorie

Ek het melding gemaak van Skoonpa se kreatiewe denke en sy merkwaardige patente. Hier is nog so ‘n paar. In die somermaande is die klein miertjies baie lastig, al in die teepot, die suikerpot en die jêmpot.Skoonpa sien toe so ‘n rytjie miere wat van buite die huis in marsjeer.Hy vat toe ‘n blikkie en maak ‘n gaatjie op twaalfuur en nog een op drie uur. Hy gooi so bietjie suiker water in die blikkie en sit hom in die miere se pad neer sodat hulle by die twaalfuur gaatjie moet ingaan. Nou glo hy hulle gaan by die drie uur gaatjie uit en loop dan weg van die huis af. Hy merk selfs die hekke In en Uit, asof die miere kan lees! Die vlieë is net so lastig in die somermaande. Skoonpa glo as hulle by die agterdeur inkom, vlieg hulle net so ‘n draai deur die huis, asof hulle verken soos ou Kaleb in Kanaan. Dan maak hy die kombuisvenster oop sodat hulle kan uitgaan. Hy stry nogal: hulle kom by die deur in en gaan by die venster uit, nie andersom nie. ‘n Paar jaar gelede is sy bakkie herdistribueer. Hy koop toe sy suster se Passat, ongeveer 1974-uitgawe. Die Passat het so ‘n paar battle scars. Skoonpa dent doctor dit gou en effektief met pleister, Elastoplast, wat die roesmerke netjies verdoesel. Een naweek toe ons hom besoek sien ek dat sy roosbome se blare baie gesond blink. By nadere ondersoek blyk dit dat hy die blare met goue sterretjies beplak het. “Ja” sê hy, “Die blare het so vaal en verlep gelyk, toe moes ek maar ‘n plan maak” Deesdae begeef hy sy hand aan blommerangskikking. HY druk drie kannablare in ‘n blompot, die een is verlep, die ander op pad verlep toe en die derde mooi vars. Die tema is “Yesterday, today and tomorrow”. ‘n Paar jaar gelede, nie lank na Skoonma se afsterwe nie, het hy uit die appelkoosboom in die erf geval en sy pelvis gebreek. Hy het appelkose gepluk om konfyt te kook, soos hy en Skoonma al die jare gedoen het. Na ‘n paar weke in ‘n ouetehuis se versorging het hy so herstel dat hy normaal voortgaan met sy lewe. Hy het darem nie weer in die appelkoosboom geklim nie. Ons glimlag oor al sy dinge, en is trots dat hy so positief is. As hy kla is dit oor ‘n onreg wat ander aangedoen word. As kind het hy die bynaam Felix gekry, en so ken almal hom nou nog, ek glo nie sy enkele vriende wat nog oorleef ken sy doopname nie. Die Latiniste onder julle sal weet dat felix gelukkig beteken, in die sin van lewensgelukkig. Daar is geen meer gepaste beskrywing vir hom nie.

12 antwoorde op Skoonpa se patente

  1. absoluut!

  2. ek gaan die ding met die miere probeer!

  3. Ai Lewies, hy klink na ‘n regte dierbare mens.

    Dankie vir die tips oor die miere en die vliee.

  4. bloukaap het gesê op Augustus 4, 2009

    groot inskrywing

  5. pasella het gesê op Augustus 4, 2009

    Hallo Flenters–hy is ‘n praktiese no nonsense mens.

  6. pasella het gesê op Augustus 4, 2009

    Moenie die rigtingaanwysers vergeet nie, Trouby!

  7. pasella het gesê op Augustus 4, 2009

    Met so ‘n bietjie afrigting vaar sy goed Murphy! Dankie vir die blinkertjies!

  8. pasella het gesê op Augustus 4, 2009

    Hy is voorwaar, Lou.

  9. pasella het gesê op Augustus 4, 2009

    Dankie Pruim!

  10. Ek was hier! Nice een Oom!

  11. pasella het gesê op Augustus 5, 2009

    Hallo DsP!

  12. pasella het gesê op Augustus 5, 2009

    Ai Therina, too much wine and too much song, will not make me live very long!
    Dankie vir die shiners!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.