Jy blaai in die argief vir 2009 Mei.

Lewies kyk in ‘n spieël in ‘n raaisel

Mei 27, 2009 in Sonder kategorie

 

Verlede Sondag besluit ek om stuk klere of twee te gaan koop voordat die winter rêrig toeslaan. Terwyl Vroukie daar in Woollies oor die kinderklere oe en a, en meer koop as wat ons begroting eintlik toelaat, kry ek ‘n broek in ‘n sindelike bruin skakering wat lyk of hy die ding sal doen. Reg gesize ook, 34. Lyk ook nie of Vroukie jaarts van die pype sal hoef af te sny nie. Net om mooi doodseker te maak, gaan pas ek hom aan, sommer met ‘n hemperige jersie ook, wat noodsaak dat ek my hemp moet uittrek.

Toe ek nou so kaal bolyf daar staan, kry ek skielik ‘n gevoel dat daar iemand saam met my in die aantrekhokkie is. Tog onmoontlik. My oog vang die spieël. Inderdaad. Dis nie alles ek in die weerkaatsing nie. Lyk soos een of ander figuur uit ‘n cheap horror movie, Dough Man. Is daai vleis alles myne? Het die ou wat die hokkie voor my gebruik het dit nie dalk hier vergeet nie? Ek draai die kant toe en daai kant toe, Dough Man aap my bewegings sekuur na. Dit is wragtag ek! Al daai vleis in die spieël is myne! G’n wonder die broek pas nie. Uit die hokkie langsaan hoor ek ‘n mansstem lamenteer “Nee, Vrou, hy pas nie,. As ‘n man ‘n bles en ‘n boeppens het pas klere nie meer vir jou nie” Ek is darem nie die enigste ontnugterde siel in die bootjie nie.

“Kon jy nie iets kry waarvan jy hou nie?” vra Vroukie op pad na die kar.

“Hulle maak nie meer my size nie” brom ek.

“Nou wat is jou size?”

“Vier en dertig en ‘n kwart”

“ Jy weet wat om te doen. Meer gereeld gym, minder alkohol”

“Ek was verlede week in die gym, en ek het mos gesê van more af niks te drinke in die week nie.”

“ Het jy gewetensbesware om Sondag te oefen, hmm Skapie?”

“Maar jy weet mos die gym is al toe”

“Dis nie daai soort oefen wat ek in gedagte gehad het nie” Daar is ‘n twienkel in haar oë, die “daai” is liggies benadruk, haar stem is lig en swewend soos ‘n swaeltjie in vlug, soos ‘n veertije wat grond toe dwarrel.

“Jong, ons gaan dan vanmiddag by die Jansens braai”

“Ons kan mos maar ‘n bietjie laat kom”

En ons het!

Die Ja woord, ‘n lawwe rympie

Mei 25, 2009 in Sonder kategorie

 

Toe ek haar vra

se sy ja

“Maar vra vir ma”

Ek vra

vir ma

en ma se ja

“Maar vra vir pa”

Ek vra

vir pa

pa se uhm en pa se aa

maar dan, hoera

se pa ook ja!

(Om een of ander onverklaarbare rede besluit Word om nie meer die kappie op die e te sit nie)

Oor die Bulls en ander bull

Mei 23, 2009 in Sonder kategorie

Ek is nie ‘n Bulls fan nie, nie eens toe Mannetjies Roux en Frik du Preez vir die ou Noord-Transvaal uitgedraf het nie, maar as ek vanaand brandewyn gehad het sou ek brandewyn en coke gedrink het as ek coke gehad het. Mooi so Bulls, volgende week is ek weer saam met julle! (Eina, maak seer om dit te erken!)

Lewies boer by Nampo

Mei 19, 2009 in Sonder kategorie

 

Soos ek nou die dag vertel het, was ek en Vroukie verlede Vrydag by die Nampo oesfees net hier anderkant onse dorp. Op pad soontoe is die gesellige atmosfeer wat mens daar kan verwag gul adverteer. ‘n Gastehuis net buite Orkney beloof ”Lekker slaapplek, lekker eetplek, moerse lekker drinkplek”. Nou ja, die wat daarin belangstel is seker nie lus vir die boerdery ding op Nampo nie.

Hier is van alles en nog wat te koop—en nie net vir die boere nie. Die uitstallers spits hulle toe op die skoner geslag, allerhande mooi goed, vir die huis, vir die tuin, vir die lyf. Hier in een van die stalletjies sit ou Portchie in lewende lywe sy blou boompies en Red Bull kindertjies en verf, daar smous ‘n klomp ouens Turkse matte, hier verkondig ‘n ander een dat jy nou wragtag nie sonder hierdie mixer maler mincer shredder sal kan klaarkom nie. Portchie het nou ‘n nuwe tema ontdek, ‘n vrou wat ‘n instrument hier tussen haar bene speel, kan ‘n tjello wees, sy is in seksie rooi geklee en sit so oop ketel, maar dit lyk of die tjello op pad Nampo toe van die lorrie afgeval het.

Lekker atmosfeer, almal is vrolik en ontspanne, die kleintjies vreet roomys dat die spoeg spat, die toue mense by die eetplekke is lank en geduldig. En dis skoon, die Nampo gangers gooi hul vullis in die blikke. By die toilette is daar pal skoonmakers aan diens, jy staan nog by die krip dan kom help hulle afskud!

En te midde van al hierdie oorvloed wat aangebied word, wat koop Vroukie? Koop sy juweliersware, koop sy ‘n Portchie skildery, koop sy ‘n Turkse mat? Nee. Sy koop vier skopgrawe, opgewerk en opgeroes.

“Net R25 stuk, Lewies! By ‘n antieke winkel sal jy baie meer as dit betaal!”

“Maar Vroukie, die goed is faktap! Wat wil jy daarmee maak?”

“Teen die tuinmuur by die swembad ophang”, antwoord sy

Sjoe, sug ek verlig. Dis darem nie bedoel om in die tuin mee te werk nie!

En so ver ons kar toe loop met die grawe onder die arm, kommenteer die verbygangers.

“Koop jy daai geroeste grawe hier? Nampo het ook maar sleg agteruitgegaan!”

“Jy het daai grawe seker laas jaar hier vergeet!”

“Jy moet daai grawe goud spray paint en op die pelmet sit!”

Ag ja, dis lekker op Nampo!

Aan Vadersknie

Mei 17, 2009 in Sonder kategorie

 
So sit ek gistermiddag hier op die agterstoep met ‘n beker koffie na die dag se dinge. Buurman Van der Merwe hier agter is besig om ‘n afdak op te sit. Hy is ‘n boilermaker op die myn en heel bedrewe met sweis en staalwerk. Sy twee seuns, Shawn, so sestien se kant, en Jean – Jacques, heelwat jonger, so ses, sewe, help.

Buurman is bo-op ‘n leer, besig om te sweis.

“Sjon!”

“Nja Pa!”

“Gee vir my die flux hammer aan!”

“Huh Pa?”

“Die flux hammer, gee hom vir my!”

“Nja Pa!”

“Dis nie die fokken flux hammer nie! Gee vir my die fokken flux hammer!”

“Sorry Pa, ek dog dis die fokken flux hammer!”

“Boetie, ek gaan vir jou bliksem as jy so vloek! Dis daai een wat lyk soos ‘n pik”

“Sorry Pa, hier’s hy Pa”

Tjing tjieng tik tik.

“Sjon!!”

“Huh Pa?”

“Gee daar vir my ‘n 7mm welding rod”

“Huh Pa?”

“Gee daar vir my ‘n 7mm welding rod”

“Nja Pa!”

“Sjon, ek het gese 7mm, hierdie rod is te fokken dun”

“Sorry Pa, ek het gedog dis ‘n fokken 7mm”

“Boetie, ek gaan vir jou bliksem as jy so vloek! Kyk daar in die toolbox.”

“Sorry Pa, hier’s hy, Pa”

Bzzzzzt!!! Brrrrt!!

Nou maak Ma haar opwagting met Coke.

“Hier’s vir julle Coke. Ai, my groot seuns werk so hard saam met pappa. So leer julle al die dinge van mansmense, ne Jean Jacquekie?”

“ Ja Ma” antwoord die kleinste.”Ek het vandag al fokken baie geleer!”

oor die prys

Mei 15, 2009 in Sonder kategorie

Ek wou vir julle vertel van my besoek aan die Nampo oesfees (Jissie Lewies, artikuleer nou versigtig met daai uitspraak, pasop vir progressiewe assimilasie!), maar toe ek my blog oopmaak sien ek dat Faansie ‘n prys aan my toegeken het. My stert is in die lug! Ek gaan nou eers ‘n knertsie gooi om te vier! More vertel ek julle alles. 

Soos elke ander blogger skryf ek nie om ‘n prys te wen nie, soms kom daar ‘n gedagte by my op wat ek in woorde kan omskep en ek deel dit graag met julle, ek dink dit is die gemeenskaplike deler van die bloggers, almal het iets om te se. Soms is dit alledaagse gebeurtenisse, soms hartseer ervaringe, soms die mees allerpersoonlikste gedigte, soms sommer net  lighartige vertellings. Dis lekker om te weet ander bloggers lees jou skryfsels en het kommentaar daaroor te lewer. En ons mag maar van mekaar verskil. 

Gaar gort

Mei 14, 2009 in Sonder kategorie

Gisteraand maak Vroukie vir ons ‘n lekker wintersop, gort en lensies en ander goete wat mens in sop gooi. lekker geëet man, maar vanoggend is die gort gaar! Dankie tog vir Charco tabs!

Lewies vaar oos

Mei 12, 2009 in Sonder kategorie

So ‘n jaar gelede is ek en Vroukie op ‘n Italiaanse plesierboot op ‘n vaart in die Mosambiekkanaal. Dis die kaptein se gebruik om deur die dag tussen die passassiers deur te beweeg en dan ‘n groepie te nooi om die aand aan die kapteinstafel aan te sit vir ete. Dit is nogal ‘n groot eer en voorreg om so uitverkore te wees.

So stap ek en Vroukie laatmiddag op die dek. Toe ons by die agterste boeg kom, loop ons ons vas in die kaptein en een van sy offisiere . Hulle steek soos een man vas, asof op ‘n onhoorbare bevel. Hulle het spierwit uniforms aan, langbroeke met kortmou hemde.Op hul skouers is swierige epoulette, die kaptein s’n versier met goue ankers en sabels. Hy kyk woordeloos na ons. “I am Capitano Mario Salvati”, verbreek hy dan die swye. “Buona sera signor e signora”

Hy klap sy hakke flink teen mekaar en draai na Vroukie. Hy maak ‘n effense buiging en neem haar hand galant in syne en soen haar op die rug van haar hand. Hy kyk op na haar, en glimlag dat sy tande glinster teen sy swoel gelaat. Vroukie glimlag lieftallig en sê “ Enchantee, mon capitaine” “Fok Vroukie, dis Frans!” “Toemaar, hy verstaan”

Nou stel ons onself voor. “I am Lewies”

“No no no, on my sheep you issa Luigi! Nice Italian a name. I wanta you anda your beautiful wife to joina me for da dinner atta Capitano’s table. We will have a frommagio, insalate verde, pasta carbonara anda crayfeesh, and fora dessert, gelato di cioccolata!”

Hy klap sy vingers. “Giovanni, do we hava special wine forra bella donna?”

“Si, Capitano”, antwoord Giovanni. “We still hava Mausoleum Rubicon anno Domini due millequincento”

Die kaptein kyk vererg na Giovanni en gee hom dan ‘n stewige oorveeg teen die kop. Donk!!

“Stupido!! Imbecilio!! You haffa no brain!! Say “Cray…feesh”

“Cray..feesh! O, excusa Capitano, por favore. It is da feesh!! We drinka da white wine wida feesh. We hav da vino blanco della Camponara di Stefano Gampi.”

“Excellentio!” hy gryp Giovanni aan die wange en knyp dit tussen duim en wysvinger dat sy oë traan “ Bravo! bravo!! Putta inna cooler, room temperatura, 22 degrees Celsio. Notta 38 lika stupido restaurant inna Pretoria. Pronto! Pronto! Andante tempestuoso!”

“Si Capitano!”

Met die woorde spring Giovanni weg en hol teen die trappe op.

“Belissima mia” sê die kaptein op ‘n sangtoon vir Vroukie ,“We will meet atta Capitano’s table”

Hy soen weer haar hand en sê gevoelvol “Che gelida manina” As hy haar hand los, rus sy oë lank op haar halslyn. So ‘n bliksem! Dis mos hier waar Vroukie se lyftaal hom moer toe moet stuur, maar aikona, daar is ‘n ligte blos in haar nek en sy kyk hom skalks aan. “Enchantee, mon capitaine”, sê sy.

“Arrividerci carissima” hy blaas nog eers ‘n soentjie in haar rigting en draai dan om en trippel die trappe uit. Maar dan trap hy die boonste trappie mis en slaan op die dek neer. As hy opstaan roep hy “Giovanni!! Stupido!! I told you to fixa da fokken step! Vene, vene , simplicio!!” Donk! Donk!

“Fokkit Vroukie, die bleddie man loer tot amper by jou naeltjie in jou cleavage af!! Wat is dit met jou!”

“Wat is dit met my? Dalk is daar iets aan my wat hy mooi en misterieus vind”

“Ja, dis jou…dis jou…”

“Wat nou Luigi? Is jy dalk bietjie jaloers?” Haar stem is speels en ondeund. ‘ Mon capitaine het maar net ‘n bietjie aandag aan my gegee, wanneer laas het jy my hand gesoen, of ‘n soentjie gewaai, of in my cleavage afgekyk tot by my naeltjie?” As sy na my kyk is daar ‘n twienkel in haar oë.

“Je t’aime” sê sy.

Ja, en toe daag ons laat op by die Capitano se tafel, darem betyds vir die Italian Kisses!

Die galery

Mei 10, 2009 in Sonder kategorie

Vroukie plak die kunswerkies van die beach babes op die yskas met sulke cute magneetjies. Twee scenarios:Een: Die magnetiese velde gaan die yskas se enjin opfok Twee: Ons moet nog ‘n yskas koop om die kunswerkies uit te stal.

In die land van die blindes en op plekke van onthou

Mei 10, 2009 in Sonder kategorie

 
Ek was in die week vir twee dae in Mafikeng by ‘n workshop waar daar ook ‘n klompie blindes en gesiggestremdes was. Dit was opvallend hoe hulle saamgestaan het en mekaar gehelp het. Die van hulle wat darem bietjie sig het het vol vertroue die res onder die vlerk geneem. Op ‘n deernisvolle manier was dit nogal snaaks om te sien hoe Eenoog voorloop en deur sy makkers gevolg word, so in enkel gelid, die een met die hand op die ou voor hom se skouer.

Dit het my laat dink aan oorle Oom Coenraad, my ouma se broer, wat glo deur ‘n rinkhals in sy linker oog gespoeg is en toe blind geword het. Ons kleintjies was skytbang vir die oom wat ons met die wit oog aangegluur het. By die familiefeeste het Oom Coenraad so met sy elmboë langs sy bord kos gesit en almal aangemoedig “Eet, kêrels, eet daar is nog baie” terwyl die sous hier langs sy kiewe afdribbel.

By een so ‘n byeenkoms vra my ouma vir Nant, een van die nefies, “Wil jou nog iets hê?” waarop hy, reeds moeg geëet, antwoord “Vleith Ouma,vleith”

Nou onlangs kuier ons by ons nuutste swaer en soonsuster op hul plaas. Hy is enige kind se droom oupa, want “Nee” vir die kleinkinders bestaan nie in sy woordeskat nie. By die geleentheid sit ons op die stoep. Daar is ‘n tafel met allerhande lekkernye, broodjies, kaas, biltong en wat nog. Die jongste kleinkind, ‘n laatie van so om en by twee, pak lekker in. Sy ma en ouma probeer keer, maar die oupa sê net “Los die kind, hy groei, hy moet eet”

Toe die outjie nog ‘n stukkie kaas probeer inprop, staan hy hier by my, en ek kon sweer ek sien hoe lê die kos reeds kant aan wal hier in sy keelgat. Die volgende oomblik, sonder enige waarskuwing, kots hy geluidloos dog skouspelagtig. Konsternasie. Oupa word pront uitgekak, Ouma storm vir ‘n lap, Ma raap die laatie op, hy lyk doodverbaas oor die ding wat hy nou reggekry het. In die harwar sluip Lendelam, die mank plaashond, opportunisties nader en met ‘n paar happe en lekke maak hy skoon. Toe lyk dit of almal wil saam kots en arme Lendelam kry ‘n skop onder die gat. Daarmee is die party toe in sy moer.

Aan al die moeders en oumas, ag sommer vir die moeders en oumas to be ook, mag julle ‘n memorabele Moedersdag beleef! Vroukie het ‘n pakkie uit die Kaap gekry, met allerhande lekker en interessante dinge, en natuurlik kunswerke van die twee beach babes. Maar ek is nie jaloers nie, Vadersdag kom.( Moedersdag is mos nege maande na Vadersdag!)