Jy blaai in die argief vir 2008 November.

Vloek of nie?

November 23, 2008 in Sonder kategorie

 Ek lees op Ant Sussa se blog en kommetaar daarop ‘n paar gedagtes oor wat is vloek en wat is nie. Nou plaas ek die rympie as my kommentaar.

Anatomiese skeltaal

Dis vir my vreemd hoe ‘n man in ‘n oomblik van skielike angina

vlot kan swets met sinonieme van die vroulike vagina

as ‘n motor roekeloos voor hom inswenk

is hy dadelik in ego en waardigheid gekrenk

oor sy lippe stroom dit, sonder blik of bloos

Kan jy nie kyk waar jy ry nie, jou bleddie doos!

maar tog, vir daardie verleidelike stukkie anatomie

kan sy manlike begeerte nooit nee sê nie!

Nog ‘n Kaapse kuier

November 23, 2008 in Sonder kategorie

Vandag kom ons derde Kaapse kleindogter vir ons kuier, saam met haar ma, ons skoondogter, wie se ouers ook hier woon. Dit beteken dat ons haar nie so baie sal sien as die ander twee nie, maar dis nog steeds ‘n bonus kuier. Kan ‘n oupa nou so geseënd wees!

En die pa wat alleen moet agter bly die werk ter wille–somebody must bring home the bacon, boikie! Maar ons sal aan jou dink as ons ‘n glasie rooies skink en op jou in jou alleenheid drink en vir jou sê “Hier gaan alles flink en blink!”

Om te koop of nie

November 21, 2008 in Sonder kategorie

 Ek kom nou net van Jozi, stop by Ziggy in Potch om te kyk wat nuut is in die lyn van CDs. Klein Ziggy is nes sy pa, jy loop nie uit die winkel sonder om meer te koop as wat jy wou nie. Eintlik soek ek iets van Nick Cave, daar is egter nie voorraad nie. Koop toe ‘n versamelbundel Franse chansons, ‘n Naxos versameling met sg wedding music, die koop ek ter wille van een snit uit Boëlmann se Gotiese suite, en Carla Bruni. Ek moet darem weet of sy so mooi sing as wat sy lyk. Sover geluister na die chansons, heel bakgat. Die Naxos reeks is verstommend, nou R69, 00 stuk, ‘n lekker Kersgeskenk vir iemand.

Wat gee mens vir jou vrou? Ek is al deur vere ruikers, gedroogde ruikers, Spaanse stiervegter poppies, vase, glase, cheap scent en duur scent, Woolies geskenkbewyse, Placecol geskenkbewyse.  Sexy onderklere? Die verkoopsdames sal dink ek is ‘n pedofiel wat onsedelike voorstelle maak vir kicks. Maretha Maartens of Solly Ozrovik (seker verkeerd gespel, maar wat de fok, as dit hom pla moet hy sy naam verander) se jongste treffers? Ek gaan nou ‘n rooie skink en die saak goed deurdink.

 

Air Camry

November 19, 2008 in Sonder kategorie

 

Terwyl die rimpelinge van die water waar die padda ingeplons het, ritmies teen die oewer klots, maak ek aanstaltes om huiswaarts te keer. Teen die tyd mis my liewe vroutjie my al en die huishonde Blits en Patrollie, tjank weemoedig oor my afwesigheid. Die getroue Camry start soos altyd met die sesde probeerslag en daar skwiesh – skwiesh ek deur die modder.

Dit is bloedig warm, en toe ek die teerpad vat dans die hittegolwe op die teervlak. Dit word al digter en digter totdat dit later voel asof ek in digte mis ry, die sigbaarheid is omtrent nul. Skielik voel ek hoe die kar oneweredig begin wieg, so asof daar fout met die skokbrekers is. Dit voel soos turbulensie golwe wat ‘n vliegtuig in vlug tref. Daar kom so ‘n opening tussen die digte hittegolwe en ek kan my oë nie glo toe ek sien dat die Camry vlieg nie! Al die natuurwette van die fisika, die astro-fisika, die quantum fisika en die neuro-fisika moes in een nano sekonde in ‘n brandpunt van serendipiteit byeengekom het en het al die Newton swaartekrag wette opgehef en ongedaan gemaak met die gevolg dat die kar in die termiese trog opgestyg het, soos ‘n roofvoël in ‘n warm lugstroom. Verbasend genoeg bweeg die Camry op die bed van hittegolwe. Ek maak ‘n stuk vislyn aan die drywer en aan die passasier se deur vas. en maak die deure oop. Nou klap ek die deure soos ‘n voël sy vlerke klap, maar ek kom gou agter dat dit nie veel effek het nie en dat die kar nog steeds ewe rustig op koers is. Die lug is erg besoedel hierbo en die minuskule stofdeeltjies is gemagnetiseer deur die geweldige hitte, met die gevolg dat die atome mekaar aankleef en as’t ware ‘n teerpad hier bo in die lug vorm, sonder enige slaggate, wat traksie aan die wiele bied en wat die kar dan laat voortbeweeg.

Ek begin gou leer om die Camry te manuvreer: dit reageer as ek die stuurwiel draai, en die rathefboom werk soos ‘n vliegtuig se stuurstok: as ek dit in eerste rat druk lig die kar sy neus, en as ek dit in tweede rat druk dan duik hy. En in reverse ry hy agtertoe.

Hier van voor kom ‘n groot trop ganse in V – formasie aangevlieg. Toe hulle verbykom, kyk die leier die vlieënde Camry nuuskierig agterna totdat hy sy nek heeltemal omwring. Nou volg hy sy kop en die hele trop swenk agterna. Hulle vlieg nou in die rigting vanwaar hulle gekom het en hang lui in die vaarstroom van die Camry terwyl hulle lustig kwaak en kwetter. Ek kan sien hoe die mense daaronder verstom staar na die skouspel hier bo hulle, die vlieënde Camry en sy geveerde gevolg met hul krassende sirenes.

Dan sien ek in die verte die bekende horison van die skagtorings en mynhope van nege skag en ‘n gevoel van welgeluksalige vervulling wel in my op as ek besef my huis en haard, en my ander helfte is naby. My hart gaan op ‘n galop as ek Vroutjie visualiseer:  kompakte bouvorm, met swart hare wat sy in ‘n nes van nonchalante slierte oor haar voorkop laat hang. Klein, skerp ogies wat niks miskyk nie! Die liefde van my lewe! Daar sien ek haar nou—sjarmant in haar groen crimplene rok. Sy maak reg om my vanaand uit te neem, sy het haar oranje krullers in haar hare! Die klein vabond! Ons gaan seker weer na Dan’s Pub toe vir daarts en drienks en dalk karaoke.

Sy kyk op na die doenigheid hier bo haar en haar ogies rek soos pierings. Sy plant haar bene so effe wyd en druk haar vuiste in haar sye. Dit lyk of sy nou net van Fruit and Veg kom met twee waatlemoene onder die arms.Blits en Patrollie blaf besete en hol al om die huis dat die sooie spat. Die bure hang by die vensters uit en die hele buurt se snotneusies storm opgewonde nader. Die ganse blaas en snater terwyl hulle hier agter die Camry hang

“Lewies!” gil Vroutjie. “ Waar de donner was jy die hele tyd? Wat maak jy daarbo? Kom nou dadelik af hiernatoe, en jy bars as jy die kabouters op die lawn breek!”

O aarde, hoe gaan ek die visvangery aan haar verduidelik? En alles wat ek daar beleef het? Ek kan sien my liefde is nie bietjie omgekrap nie. Nou sal ek moet lieg vir my lewe, en ek is nie juis iemand wat kan lieg nie !

Dis dan die einde van my visvang wedervaringe daar by die Groot Kuile. Vroutjie het toe darem tot bedaring gekom. Sy het selfs vir my ‘n biltong ruiker van Manny’s Butchery gestuur toe ek daar in die ICU gelê het.

Hoera!

November 17, 2008 in Sonder kategorie

Hoera! hoera! dis Maandag! Daai dag waar alles wat kan verkeerd gaan, wel verkeerd gaan.
Maar ek is reg vir die challenge, en more is Dinsdag, my gunsteling dag van die week, want dit is die verste verwyder van Maandag! Sterkte vir almal wat challenges moet face vandag!

Boer in Beton

November 14, 2008 in Sonder kategorie

 

Die son sit al hoog toe ‘n wilde geskud en geskommel in die Camry my laat wakker skrik. Dit voel of daar ‘n woeste gevryery op die agterste sitplek op dreef is, soos in ‘n inry fliek van ouds. Ek wil omdraai om te kyk wat aan die gang is maar kan beswaarlik roer, ek sit asof in sement gegiet,. Met ‘n groot gesukkel maak ek die safety belt se gespe los en spartel uit die kar. My Blou Bul hemp skitter spierwit soos ‘n engelkleed in die helder sonlig. Dit is oortrek met miljoene der miljoene fyn kristalletjies, amper soos die sequins op Jurie Els se hemp toe hy by die Orkney Snork Nie – fees opgetree het. Die hemp is stokstyf en kliphard, soos ‘n sement afgietsel hier om my lyf.

Dit is met ‘n yslike gewriemel en gewoel dat ek uiteindelik uit die borstrok wikkel, soos Houdini op van ouds. Die hemp is so swaar soos ‘n mudsak geelmielies, en toe ek dit op die gras onder die wilgerboom neersit, bly dit staan soos ‘n klein monument. Dit lyk soos ‘n torso wat uit marmer gebeeldhou is deur ‘n meester kunstenaar. Dit is ‘n volmaakte weergawe van my liggaam, elke spier, elke kontoer is met vakmanspresisie afgeëts, selfs die skakels van my 24 klaterkaraat goue ketting wat ek by die straatsmous in Durban gekoop het, is een vir een vasgevang in die wit marmerstof. Dis net hier oor my six pack waar daar fout is. Ek vee met my hand oor die gladde oppervlak en lek ingedagte aan my vinger en proe die sout smaak van liggaamsweet. Tydens gister se urelange geveg het met die baber het ek soos ‘n renperd op Turffontein gesweet in die bloedige son. Deur die nag het die sweet verdamp en die sout neerslag het in die hemp se materiaal geset soos nat sement wat droog word. Die feit dat ek stil geslaap het nadat ek my vasgegespe het, het natuurlik die stollingsproses aangehelp.

Hier agter my bokspring die Camry soos ‘n uitgelate bulkalf na die eerste lentereën. Ek maak die kattebak oop en die padda vlieg met ‘n luide hik uit die kar soos ‘n prop uit ‘n bottel Nuwejaarsjampanje. Hy wip soos ‘n Chinese gimnas op ‘n trampolien, so hoog dat hy my vierkantig in die oë kyk terwyl daar met elke sprong ‘n polifoniese hik uit sy keel ontsnap. Die gehikkery is sweerlik die nagevolg van die medisyne van gisteraand. Sy oë is bloedbelope, dit lyk soos ‘n straatkaart van Soweto. Sy hele lyf is die ene hoendervleis. Hy kwaak rasperig, ‘n weemoedige klank van dronkverdriet en selfverwyt. Die keer het ek niks om hom mee te help nie, nie eens ‘n Grandpa poeier nie. Ek vroetel so in my gatsak en daar kry ek darem ‘n Spur peppermint. Ek voer dit vir hom en hy suig so gretig daaraan dat sy wange hol word. Onmiddellik sak die bloed in sy oë soos skottelgoedwater wat uitgetap word. Sy wilde gehikkery bedaar en sy kras gekwaak neem melodie aan. Hy klink nou soos Dozi wat ‘n slampamperliedjie in Zoeloe neurie. Hy spring flink en grasieus na die water, en net voor hy induik, kyk hy om na my en gooi my die middelvinger saluut . Dan plons hy in die water in en verdwyn onder die oppervlak.

Af geblog

November 13, 2008 in Sonder kategorie

Ons kuier tans baie lekker met die Kapenaars. Daar is nie eintlik geleentheid om te blog nie. Ek hoop om teen die einde van volgende week terug te wees met die visvangstorie. Intussen, mag die naweek wat voorlê net vreugde en plesier bring.

Salige Sondag

November 9, 2008 in Sonder kategorie

Dis ‘n wonderlike dag hier in die Wes-Transvaal, die wolke is erg swanger en nes dit lyk of hul water gaan breek, loer die son deur. Pamela die teef lê hier neffens haar baas en in die kombuis is my annerhelfte besig om met ‘n dooi hoender te stoei. Die geur verklap dat sy aan die wen is. Onse kinders uit die Kaap kom kuier en sal more hier aankom, S met die twee blonde beach babes, hul pa kom later. Hier was ‘n frenetiese geskarrel om slaapplek vir hulle in te ruim en om die twee kleintjies se kamers in dogtertjiedinge te tooi. Dit het ook ‘n trip na Game ingesluit waar allerhande lawwe dinge gekoop is, oa twee bedlampies met vissies wat al in die rondte swem, lekker kitsch maar oulik. (ook ‘n fiber optic lampie wat met ‘n battery werk, kan kitsch so mooi wees!) Vreemd hoe kleinkinders ‘n mens kinds maak.

Sunday blues se moer, vandag pla jy my nie!

Padda Deux

November 5, 2008 in Sonder kategorie

 

Hier voor my voete gee die padda so ‘n krampagtige skoppie met die linkervoet. Hy lig sy kop effens en kyk my met leepoë oor sy bleek boeppensie aan. Sy tong hang skeef uit sy bek tot op sy bors. Ek kry hom jammer en wil eers mond tot mond asemhaling toepas, maar sy asem ruik nie waffers na sy verblyf daar in die baber se pens nie, Hy kort noodhulp, en ek haal die bottel uit my gatsak en drup versigtig twee druppels van die goue voggies  op sy tong. Sy adamsappel wip op en af soos hy dorstig sluk. Hy lek oor sy lippe en dan kom daar so ‘n welgeluksalige glinstering in sy oë. Gaandeweg verkleur ‘n rosige blos sy bleek kiewe. Hy sukkel orent en steier op sy voete. Onvas strompel hy die kant toe en daai kant toe met sulke stywe beentjies. Dit gaan al hoe vinniger en vinniger, totdat ek met stomme verbasing besef dat die padda aan die dans is! Wilder en wilder gaan dit, hy dans die one step, two step, quick step, side step. Hy ruk en hy rol en hy twist en hy jive dat die stofwalms uit die modder langs die oewer opslaan. Hy is ‘n bondel ontploffende energie wat sierlik en soepel die een ingewikkelde dansbeweging na die ander akrobaties uitvoer. Sy arms swaai met lenige bewegings in die lug, terwyl sy voete staccato trap en hy die ritme met sy vingers uitklap. Hy trap ‘n riel wat Oom Dronk-maar- Regop Sluiper, die voordanser van Broeklosmaak se wêreld, hom nie kan nadoen nie. Hy gooi sy arms grasieus in die lug en draai ‘n pikante pirouette, al vinniger en vinniger tol hy totdat sy tone in die modder inboor. Ek klap my hande ritmies saam en stamp my voete in pas met die ritme van die dans—ek is so meegevoer dat ek my bekfluitjie uit my gatsak haal en begin speel. Ek ken net een liedjie, daai een van Stief Lafmeyer oor die Blou bul. Toe die eerste heimwee klanke opklink, kom daar so ‘n wasige uitdrukking in die padda se oë. Hy tol stadiger en stadiger soos ‘n non-Duracel hasie totdat hy met ‘n skor en weemoedige “kwaak” in die modder neerslaan, Vir ‘n oomblik klink hy net soos Stief daar op Loftus. Dan dop sy oë om en daar lë hy, wit pens bo. Ek dag eers dis klaar met kees, maar dan sien ek hier in sy kuiltjie tekens van ‘n hartklop, baie flou, maar darem. Dis nou sterk skemer en in die verte hoor ek die gezoei van die muskiete wat oorkant die kuil hul slagordes vir die nag se bloedige jag opstel, Ek tel die uitgeputte padda versigtig op en lê hom in die Camry se kattebak neer en klim dan in die kar. Nadat ek die laaste van die polonietoebroodjies geeët het, slaan ek die res van die raaswater weg. Ek gespe my in die kar se sitplek vas, ek wil nie weer so rondrol soos laas nag nie, en raak aan die slaap terwyl die muskiete tevergeefs spook om by die Camry in te kom.

Vogende

Air Camry

Gryp hom aan die mangel Lewies!

November 3, 2008 in Sonder kategorie

 

Ek word die volgende oggend wakker met die Camry se ratkierie wat my pynlik hier onder die kortrib karnuffel. Ek moes ‘n onrustige nag gehad het, want ek lê kopkant gatkant gatkant kopkant, so met my gesig hier onder tussen die pedale en my voete teen die kar se dak.

Ek haak die padda wat ek gister by die slang geruil het versigtig aan die hoek. Hy gee so ‘n flou rilling—goed so, vis se kind hou van lewendige aas. Ek het ook net ingegooi en ingeskink en my Bloubul hoedjie met die twee plestiek horings opgesit (hoekom lyk die horings so verlepperig?), toe die dobbertjie vir die vale begin duik en spring. Dis ‘n grote!

Ek stoei die kant toe en daai kant toe, maar die vis steek vas, kop tussen die knieë, en dan vat hy weer die lyn en seil deur die water dat die branderskuim so spat. Dis eers so skuins voor skemer toe ek voel sy kragte verslap, en eindelik katrol ek hom in na die oewer. Dis ‘n yslike baber, soos ek nog nooit gesien het nie. Sy snorbaarde is soos dik soos my duim en langer as my arm. Hulle hang soos slurpe om sy bek. Ek steek my hand uit om die vis uit te trek, en die volgende oomblik slaan hy sy tentakels om my lyf en pluk my nader terwyl sy bek hier voor my oopgaap soos ‘n myntonnel op nege skag. Ek spook en spartel, maar verniet, duim vir duim trek hy my nader, totdat hy my kop bietjie vir bietjie in sy bek insuig. Dis stikdonker daarbinne, en ‘n stank soos uit die donker diepte van die dood slaan soos ‘n slymerige warm moeraswalm in my gesig op. Dit ruik asof die oorskot van die dood self daar in sy donker duisternis nes gemaak het.

Ek haal my flits uit my gatsak en lig in die donkerte in. Hier voor in die flou lig van die flits sien ek die tamaai buikholte van die vis. Sy ribbebene span soos marmerpilare in die gewelf van ‘n Gotiese katedraal. Sy vlesige ingewande hang soos stalagtiete in die Kangogrot. Hier voor my sien ek iets wat soos die klok van ‘n sendingkerk lyk, met klepel en al. Dit kan net die vis se mangels wees. Ek gryp dit vas en dan klink dit meteens asof die koster die klok aan die tou beet kry en dit wild en wakker begin lui. Dit dreun en dawer dat hoor en sien vergaan. Die baber se grate vibreer op maat van die gebeier van die klok en dan klink dit asof die orrelis agter die orrel ingeskuif het en die stoppe een vir een oop trek.. Gewyde hallelujamusiek styg uit die vis se ingewande op terwyl die fyner visgrate ritmies in perkussie saam rittel en ratel. Die argitektuur van die vis se ingewandsvolume is ‘n akoestiese perfeksie waarin al die klanke in harmonie saam geklits word. Die onverwagse irritasie op sy mangels veroorsaak skielik ‘n hewige niesbui en slungels slym en spoeg trek soos papgekookte macaroni uit ‘n koshuiskombuis by my verby terwyl een weergalmende niessametrekking na die ander deur die baber se liggaam ruk. Soos Jona van her beland ek op my rug op die oewer van die kuil. Ek sukkel orent, net betyds om te sien hoe daai padda wat ek as aas gebruik het, op ‘n amegtige niesgolf deur die lug aangevlieg kom. Hy gryp vas aan die een horing van my Bloubul hoedjie en swaai soos ‘n paaldanseres in die Moonshine Mugu Nite Club in Mitchell’s Plain al in die rondte voordat hy op die gras hier voor my voete val. Die baber gee my ‘n laaste vuil kyk en sink dan in die dieptes van die kuil weg.

More Padda Deux