Toutrek

September 19, 2010 in Sonder kategorie

Ek was toe gister by die toutrek. Ek het vir mammie gesê ek gaan net ’n uur of twee, toe kom ek sewe ure later tuis. Ek sal nie sê sy was de moer in nie, maar sy wás ongelukkig. Ek dink meer oor ek met die bakkie gery het en sy gestrand was by die huis.

 

Nietemin het ek dit geniet. Dis nie aldag wat jy top toutrek sien nie, en boonop verniet. Hierdie kampioenskappe moes eerder in die Kaap gehou gewees het want ek hoor toe gister dat daar nie een klub in Gauteng of noordelike deel van die land oor is nie. Al die Suid-Afrikaanse trekkers vir hierdie kampioenskappe kom vanaf die Kaap want daar blyk toutrek nog gesond te wees. Wat ’n skande. Maar nou ja, noord van die Oranje wil almal mos net rugby en suip.

 

Toutrek was nog altyd sterk in die suide, selfs skole beoefen dit. Soos Flenters opgemerk het, Goudini was en is nog steeds van formaat, en toe ek getrek het was Rawsonville se manne en Valsbaai ook bo aan die voedselketting. Griekwas was taaier as ratels. Goudini blyk gister goed verteenwoordig te gewees het. So twintig jaar gelede was daar ’n poging om toutrek in Transvaal by skole te vestig, maar hulle kon net sowel tuinbou probeer bevorder het.

 

Nou ja, in 2002 was die wêreldkampioenskappe ook hier, ook op Tuks se velde, dieselfde velde waar hulle die week getrek het. Daar was egter ’n groot verskil. Destyds was hier ’n horde oorsese toeskouers met die sterkste verteenwoordiging uit Nederland en Switserland. Daar was hierdie groot blok oranje met rasieleiers en elke ding. Die Switsers het ’n spannetjie op die oorkantste pawiljoen gehad met reuse klokke wat ritmies hulle trekkers aangemoedig het met ’n kakofoniese klimaks elke keer as hulle wen. Gister? Wel, die skare van nul was bra stil.

 

Oorsee in Europa is toutrek groot en duisende toeskouers, selfs tot 20,000 by ’n klub wedstryd is die norm. Toe ek getrek het was jy gelukkig as jou familie kom kyk het. Europese spanne was nog altyd dominant, veral Engeland, Switserland en Nederland. Gister het die Swede hulle goed van hulle taak gekwyt, en Ierland is ook een wat selde aan die agterspeen suig. Toe ek gister oggend arriveer, was hulle besig met die 600kg mans o/23 en 600kg gemeng. Die gemengde afdeling is ’n nuwe toevoeging tot die sport vanaf hierdie jaar. Die span moet helfte mans en helfte vrouens wees, maar hulle hoef nie in ’n spesifieke volgorde te trek nie.

 

Ná hierdie twee groepe, was dit die 640kg mans en 500kg vrouens. Dis toe waar my moeilikheid begin, want ek wou die 640 klaar kyk. Toutrek neem lank. Die trekke mag dalk nie so lank wees nie, maar daar is rustye tussen trekke en jy moet teen al die spanne in die groep trek. Daar was tien spanne vir die 640 en dit het meer as vier ure geneem om af te handel.

 

Sedert ek twintig jaar gelede opgehou trek het, het ’n paar dinge verander. In my tyd was daar vyf gewigsklasse vir mans, nou is daar drie. Vandag word daar met nylontou getrek. Uitdunne was altyd op ’n ‘beste uit drie’ basis gedoen, nou trek jy net twee keer. Die ‘beste uit drie’ reël geld nou net in die semifinaal en finaal. Die punte toekenning verskil ook effens. Voorheen het jy ’n punt vir elke wen gekry en ’n bonuspunt as jy met die eerste twee trekke gewen het. Nou kry jy ’n punt vir ’n wen en ’n bonuspunt as jy altwee trekke wen.

 

In die uitdunne trek al die spanne teen mekaar en die vier wat bo aan die punteleer eindig, gaan deur na die semifinaal. Daar vind ’n loting plaas tussen die twee spanne wat derde en vierdie geeïndig het, en die verloorder van die loot trek teen die wenner van die uitdunne. Die twee wenners van die twee semifinaal trekke vat mekaar dan aan in die finaal vir goud en silwer. Die twee verloorders trek vir brons. Dit beteken dat al eindig jy eerste in die uitdunne, kan jy nog steeds sonder ’n medalje huistoe gaan.

 

Ek het een van my ou trekmaats en sy pa, wat ons afrigter was, daar raakgeloop. Die manne was maar krities. Sien, die veld is baie hard en volgens hulle het die uitlanders ’n lessie daaruit geleer in 2002 en spesiaal op harde grond geoefen vir hierdie kampioenskap, die Suid-Afrikaners nie.

 

Nou ja, terwyl die 640kg mans aan die gang was, het ons so tussendeur na die 500kg vroue op die veld langsaan ook gekyk. Ek kan onomwonde sê dat die Suid-Afrikaanse vroue definitief die swakste span was en dat hulle pateties getrek het. Daarenteen was Chinese Taipei kookwater. Dis eintlik Taiwan maar op China se aandrang moet hulle so heet vir alle internasionale sportbyeenkomste. Ek verstaan dis eintlik hulle binnenshuise span, maar hulle was baie goed op grond. Die hele span is gesinchroniseerd en lyk soos ’n stoomlokomotief in beweging. Hulle skree selfs in harmonie saam met hulle trekbewegings. Hulle het almal gestoomroller behalwe vir Swede teen wie hulle bietjie vasgeval het, al kon Swede net een trek teen hulle wen. Hulle het op die einde weer teen Swede getrek vir goud, maar toe was Swede se fut uit.

 

In die 640kg mans het Suid-Afrika tweedelaaste geeïndig. Hulle kon net een trek teen Amerika wen en het Italië, wat nie een trek gewen het nie, oorrompel. Dit beteken egter nie hulle het swak getrek nie. Hulle was inteendeel in goeie vorm, het die ander spanne laat bloed sweet en het vir baie van die langer trekke gesorg, maar helaas.

 

Ek het ook twee observasies gemaak. Maak nie saak van watter land jy kom en watter taal jy praat nie, eerstens maak almal dieselfde geluide aan die tou, en tweedens bly jy ‘n poephol as jy dronk is. O ja, daar is geen transformasie in Suid-Afrikaanse toutrek nie.

 

Hierdie was die eerste trekke in die 640kg mans. Op die voorgrond het Nederland klaar met Italië in 12 sekondes afgereken. Op die tweede tou is dit Ierland teen Suid-Afrika, en agter spook Switserland en Amerika sake uit.

 

Nederland wys hulle perfekte styl. Hulle het net twee trekke afgestaan in die uitdunne en deurgegaan om die goud gewen.

 

Sien julle die man tweede van agter in die groen trui van Ierland? Hy is 72 jaar oud! Ierland het vierde geeïndig in die uitdunne en weggestap met die brons.

 

Hierdie is Switserland in die 600kg gemeng. Die man heel agter op anker is ook nie ver van 60 af nie. Die twee dametjies wat voor hom trek, se pa trek heel voor (buite sig) op nommer 1. Hy self het meer as twintig jaar gelede ook in Suid-Afrika kom toer. Agter kan julle die leë pawiljoen sien.

 

So lyk ‘n rugbyveld as toutrekkers met hom klaar is.

10 antwoorde op Toutrek

  1. Hier is dit dood, lank lewe toutrek in Gauteng!

  2. En dit kom net met baie harde oefening.

  3. Dit doen antie, dit doen.

  4. Gautengers hou meer van riemruk…

  5. Die Gatengers hou van niks wat inspannend is nie.

  6. Interessant. Hoekom bly almal aanie selle kant vannie tou?

  7. Dis hoe die sport werk. Ek dink in uiterste gevalle mag ‘n individu aan die ‘verkeerde’ kant trek mits daar vooraf toestemming van die skeidsregters verkry word, maar ek is nie seker wat die reëls sê nie.

  8. Issit nie gatkant om virrie lefties nie?

  9. Sou nie kon sê nie, ek’s nie links nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.

Jy mag hierdie HTML-merkers en eienskappe gebruik: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>