KABOEM!!!

September 16, 2010 in Sonder kategorie

Soos ek Zeppie belowe het, sal ek julle nou verveel met ‘n verduideliking oor die verskil tussen plofstof en springstof. Omdat ek in die afgelope tien jaar aan die buitewyke van die plofstofbedryf beweeg en self tans slegs met ‘n spesifieke tipe te doen kry, gaan ek my nou nie voordoen as ‘n kenner nie, maar ek deel die bietjie kennis wat ek het.

 

Wanneer mens van plofstrof voor sekere mense praat, gaan hulle harte wild aan die klop en hulle bloeddruk styg. Dis gewoonlik spesialiste soos taakmaglede en ander verwantes met hulle nasate, direkte familie en boesemvriende. Baie gou word jy daarop attend gemaak dat dit springstof is. Hulle is gesteld daarop. Hulle sal nagte daaroor wakker lê. Daar sal aan jou uitgewys word dat wanneer jy ‘n jong dametjie se broekierek wegtrek van haar lyf af en hom laat skiet met die gevolglike wolkie fyn wit poeier wat opwalm, dáái ding wat jy dáár waarneem, dít is plofstof.

 

Hierdie hele verwarring moet by sy wortel aangespreek word. Dit is die Afrikaanse taalvaders wat die direkte oorsprong van hierdie misverstand is. Sien, die saak staan so dat alle ontplofbare materiale sorteer onder die hofie explosives, vertaal as plofstof. Maar nou word dit verder in twee groepe verdeel, naamlik low explosives en high explosives, onderskeidelik vertaal as plofstof en springstof. Dus is springstof net van toepassing op high explosives. Plofstof daarinteen verwys óf na low explosives óf na explosives in die algemeen.

 

Die plofstofveld is baie wyd en sluit selfs pirotegniese toestelle soos rookbomme, traangas, vuurwerke en dies meer in, selfs die toestelle wat jou motor se lugsakke laat ontplooi. Plofstof oftewel low explosives deflagreer. Deflagrasie is waar die ontbrandingspoed subsonies of laer as die spoed van klank is. Springstof of high explosives detoneer, met ander woorde die ontbrandingspoed is supersonies of hoër as die spoed van klank. Daar was al vurige debatte, maar dit word algemeen aanvaar dat tydens ontbranding kan ‘n stof oorgaan van deflagrasie na detonasie maar nie omgekeerd nie.

 

Hier is vir julle ‘n interessante stukkie nuttelose inligting. Een kilogram margarien bevat meer energie as een kilogram TNT. Voor jy nou yskas toe hol met gedagtes omtrent jou skoonma, onthou die volgende. Die verskil tussen margarien en TNT is die tempo waarteen energie vrygestel word. Margarien neem dae, TNT breukdele van ‘n breukdeel van ‘n sekonde.

 

Die veld tussen kommersiële en militêre plofstowwe is so wyd as die ooste van die weste. Kommersiële plofstof word grootmaat vervaardig en is in die algemeen baie eenvoudig. Militêre plofstowwe, insluitend bomme, is baie gevorderd, duursaam en uiters gevorderd. Alhoewel die militêre veld hoofsaaklik van springstowwe gebruik maak, is dit tegnies nog steeds nie verkeerd om daarna as plofstof te verwys nie.

 

Kommersiële plofstof se eenvoud strek vandag so ver dat daar meestal gebruik gemaak word van ammoniumnitraat en diesel. Dit vind tweërlei plaas. Vir ondergrondse gebruik kom dit in worsies wat in die geboorde gate ingedruk word. Vir bogrondse gebruik kom dit agterop ‘n groot vragmotor met twee tenks wat die twee materiale apart hou. Wanneer dit dan in die gate, wat baie groot is, ingepomp word, word dit gemeng tydens die pomp proses.

 

Springstowwe is ‘n perd van ‘n ander kleur en die ontwerp van munisies is ingewikkeld. Baie munisies soos vliegtuig- of artilleriebomme, maak gebruik van ‘n explosive train beginsel. Dit kom daarop neer dat daar drie komponente nodig is om dit te laat werk, ‘n ontsteker, ‘n primêre lading en ‘n sekondêre lading. ‘n Eenvoudige voorbeeld is vuurhoutjies, vuuraansteker en houtskool. Jy kan nie die houtskool met ‘n vuurhoutjie aan die brand kry nie, en by homself beteken ‘n vuuraansteker ook niks. Die korstondige vlam van die vuurhoutjie is genoeg om die vuuraansteker aan die gang te kry, wat op sy beurt met ‘n groter energie uitset die houtskool laat funksioneer, dit wat op die einde die vleis gaar kry.

 

So werk dit met munisies. Primêre ladings of boosters neig om maklik te detoneer en onstabiel te wees, maar hulle kraguitset is minimaal gereken teen die van sekondêre ladings. Sekondêre ladings daarenteen kom moeilik aan die gang en is stabiel, maar as hy eers gaan, gaan hy groot. Huistoe gaan is nie ‘n opsie nie. Wat interessant is, is dat die primêre lading deur die vlam van die ontsteker geaktiveer word, die sekondêre lading word egter geaktiveer deur die skokgolf wat die primêre lading se ontploffing veroorsaak.

 

Nou hoekom ontplof ‘n artilleriebom nie in die kanon as gevolg van die skok wanneer hy afgevuur word nie? Ek is bly jy vra. Sien, wanneer daar onsuiwerhede in die springstof is, of as daar krake of barste vorm na dit vervaardig is, maak dit die bom onstabiel. Hierdie onsuiwerhede en krake word hotspots genoem. Dis hoekom daar soms mikroskopiese klein glasballetjies by springstowwe gevoeg word, juis om sensitiwiteit te verhoog. Met die vervaardiging van ‘n tipiese artilleriebom, is die springstof in ‘n warm vloeibare vorm. Die bom staan regop en word van bo af gevul met ‘n ‘vinger’. Hierdie ‘vinger’ se opening is heeltyd onder die oppervlak van die springstof en word stelselmatig opgetrek soos wat die bom vul. Bo by die opening is ‘n tregter en die bom word oorvul sodat daar van die lading daar lê. Soos wat die lading afkoel en stol, krimp dit en die oortollige lading word ingetrek. Daarna word die bom stelselmatig met lang siklusse verhit en afgekoel om te verhoed dat krake of hotspots ontstaan tydens stolling. Aan die einde van hierdie siklus word elke bom nagegaan met ‘n x-straal proses om te verseker dat daar geen krake in die lading is nie. En dit dames en here, is hoekom dit 15 dae neem om ‘n G5 bom te maak.

 

En dan skiet jy hom in sekondes weg.

8 antwoorde op KABOEM!!!

  1. Dit was nou interessant!

  2. Ek het met vrees en bewing gedagtig aan jou geskryf. Wat noem julle artillariste dit, ‘n projektiel, koeël of bom?

  3. OK , hier’s ‘n lame een. Ek gaan nie vandag blog nie want ek het te veel werk. Maar vir tannie sal ek spesinjaal gou ‘n lame enetjie opsit.

  4. Hierdie is maar oppervlakkig, jy sal nie glo wat alles daar buite aangaan nie.

  5. ‘n Man met begrip.

  6. zephur het gesê op September 20, 2010

    Thanx Papeslaai vir die bydrae…

    Ja ‘n mens staan verwonder aan plastiese springstof…een oomblik kan jy met hom speel soos klei en jou maatjies gooi met die goed…en ander oomblik as alles in plek is skiet hy ‘n Citi Golf dat die badge met supersoniese spoed by jou verby vlieg…

  7. Ek verstaan jou springstof sensitiwiteit synde ek nou weet jy was ‘n genie man. Ironies genoeg, soos ek nou hier skryf speel Goeienag Generaal van Piet Botha.

    “Maar Whitey jou oë op daai dag was blou net soos die lug en toe ons weer so kyk het ‘n AK jou fucked-up geskiet. Goeienag generaal.”

  8. zephur het gesê op Oktober 5, 2010

    Genie ‘n f.. om nie

    Ja nou is daar absoluut f-all oor van die genie nie…wel van die weermag nie

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.