by

Die Dood vir Brekfis

Maart 28, 2011 in Sonder kategorie

Ek het Vrydag so ‘n half uitsonderlike belewenis gehad. Vroegoggend, oppad werk toe. Dis elke oggend se ding…ons sit almal vas in Zambezirylaan, daar by die Zambezi Mall en wag om regs te draai, in die Molotto-pad in. Partykeer dam die verkeer tot so ‘n halfkilometer ver op en mens moet maar geduldig wees. Ek geniet daardie tydjie eintlik baie, want dis een van die dele van Pretoria waar voorstedelike uitbreiding en die wildernis mekaar nog met groot simpatie omhels. Links van my is ‘n lusernland, heerlik groen, so met wilde afrika grasse op die sypaadjie. Ek raak altyd heerlik verdiep as die grasse so lui rondwaai in die wind…allerhande verskillende soorte. voorlangs, is daar die met so ‘n klein, blinkswart pluimpie. En agterlangs die hogere soorte wat so met die draai van die seisoen na die lieflikste pienk verkleur. Dan, as ekstra bonus vir die retina, is daar ook die tyd van die jaar die wilde opslag Jacob-regops. Mal-oranje! En saam met hulle die moring glory met sy middernagblou blomme.

So sit ek toe vrydag met hierdie meesleurende herfs display om my, toe ‘n blouvalkie skielik neerswiep en hier reg langs my, op die middelmannetjie vir ‘hom ‘n vet rot vang. Hy tik die aarde net so liggies en toe klap hy weer sy vlerke om hoogte te kry, die rot wriemelend in sy heldergeel kloutjies. Ongelukkig swiep hy voor die aankomende verkeer in en ‘n Jeep kom reg op hom afgepeil! Ek bid hom behoorlik bokant die Jeep uit en die mis hom gelukkig met ‘n haarbreedte. Toe maak hy ‘n swierige draai bo-oor my kar en verdwyn iewers in die lusernland om sy brekfis te gaan nuttig.

Die res van die oggend was als net soveel helderder en mooier, selfs die manier hoe die son van die karwrakke by die scrapyard in silverton af reflekteer, het my hart laat sing.

Dis verblydend ook vir my om te sien hoe wildlewe by ‘n veranderende omgewing  kan aanpas!

Ek sit toe nog lank en peins oor die feit dat hierdie miniskule klein drama, met tragiese gevolge vir die rot, my weer op so ‘n diep vlak met die lewe kan laat connect. En terug by die huis het ek vergeefs probeer om Blouvalk-blou met my verf te meng.  Vir iemand met so ‘n kitsch siel soos ek is dit eenvoudig net te subtiel. julle sal moet settle vir so ‘n “lectric blue disco valk ongedierte…

(of miskien moet ek eerder gaan vir Speursersant se “bonker” blou)

9 antwoorde op Die Dood vir Brekfis

  1. TS het gesê op Maart 28, 2011

    ag hoe mooi … soms leef ons so by die lewe verby…

  2. so mooi geskryf ook!

  3. pbroere het gesê op Maart 28, 2011

    Lyk my ons bly naby mekaar. Ek het vir dieselfde valk sit en kyk in die selfde verkeer.

  4. palamino het gesê op Maart 28, 2011

    Ag ek is so bly nog mense het dit gesien. Ek het gewonder daaroor 😀

  5. palamino het gesê op Maart 28, 2011

    O gaats nee Pennestrepe, ek kan gladnie skryf nie!

  6. palamino het gesê op Maart 28, 2011

    Dis so Tina, en die lewe is hier reg onder ons neuse.

  7. palamino het gesê op Maart 28, 2011

    Dit was rerig uit die bloute…asof ‘n stukkie blou lug solied raak en afduik aarde toe…totale Magik (jy sal verstaan wat ek bedoel)

  8. Ag, ek het so baie van hierdie inskrywing van jou gehou! Ek hou sommer net baie van jou! Jou uitkyk, die klein dingetjies wat jy raaksien, die helderheid van jou siel! Wow. Sal graag weer hier op hierdie blog lees. Snaaks hoe ‘n ouma in die Karoo en ‘n werkende vrou in Pretoria soveel in gemeen kan he. Liefde vir die natuur, dierelewe, positiwiteit.

  9. palamino het gesê op Maart 29, 2011

    Baie dankie Joanna! Ek dooi oor die Karoo. Elke vierkante millimeter bars absoluut van lewe met die eienaardigste plantjies en wesens en mosse en klippe en kleure. As ek daar is, is ek met my neus teen die grond, ek wil niks mis nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.