Jy blaai in die argief vir 2012 Junie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die mens vernietig homself.

Junie 30, 2012 in Sonder kategorie

Wanneer ek oplees oor die lewe van die mens in oertye, veral Neander se blog, besef ek dat die mens van die begin af in vrees gelewe het. Daar was roofdiere wat jou heel kon insluk, reptielagtige vliegende voels wat jou kon vang en vir hul kuikens voer. Dis hoekom die arme mens in grotte gewoon het. Die gevaarlike diere daar buite kon hulle uitwis. Net die sterkste en dapperstes het bedags uitgegaan om kos te soek en terug te bring vir vrou en kind.

 

Toe begin die mens wapens maak om homself te verdedig en ook om vinniger vleis op die vuur te kry. Selfs in die Bybelse tyd was die groot gevaar vir die mens wilde diere. Hulle moes in groepe rondtrek of gaan kuier. Vind ons toe buskruit uit en maak gewere, Toe kon ons die gevaarlike diere op hulle blikslaer gee. Ons roei hulle amper uit sodat hulle vandag net in afgekampte wildreservate oorleef. Ons bly en reis toe lekker rond, slaap nie meer in grotte nie. So veilig ons kan sommer in tente slaap of in huise sonder omheinings en tralies.

 

Maar die mens rus nooit, ons begin mekaar toe verniel. algaande moet ons weer omheinings opsit en tralies voor ons deure en vensters plaas. Word toe al erger, ons moet selfs bedags op straat of daar waar ons reis en op vakansie is, rondkyk en voorbereid wees vir n aanval. Eens rustige piekniekplekke het borde op wat jou waarsku teen misdadigers.

 

Ons blaker uit dat die krokodil in Afrika 240 mense per jaar doodmaak, dis verskriklik. Ons swyg oor die 27,000 wat, net in Suid Afrika, elke jaar deur mense doodgemaak word. Of oor die 80,000 vrouens wat per jaar, net in SA, verkrag word. Intussen koop ons pepersproei, rewolwers, skokstokke en neem karate lesse, om ons self teen die gevaaarlikste dier op aarde te beskerm. Die mens.

 

Ons het die kringloop voltooi, ons is nou die gevaarlikste dier op aarde vir die mens. Terug in ons veilige grotte.

 

 

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ons wag en ons wag tot….

Junie 27, 2012 in Sonder kategorie

Ons hele lewe lank wag ons op iets. Ons wag net tot die kinders almal uit die huis is…. dan gaan ons dit en dat doen. Ons wag net tot die pensioenfonds uitbetaal, dan gaan ons… Of ons wag net tot die huis verkoop, dan… o… dan.

Ek hoor dit elke dag van my lewe onder mense. Selfs onder kinders. Wag, dat ek net matriek klaar maak, dan gaan jy sien. Of wag, dat ek net graad vang. Ons wag alewig op iets om te gebeur en dan gaan ons verskriklik gelukkig wees. Uiteindelik is alles amper verby en ons wag dan net op die dood.

Nee, o hel, ek is nou gatvol vir mense wat aanmekaar wag. Ek wil nou leef, ek wil nou gelukkig wees. Wag maak jou steriel en knak jou gees. Dis ongesond, dis verkeerd. Waag iets, doen iets, al is dit soms die verkeerde ding, leef n slag man. As die ding waarvoor jy so lank voor wag dan eendag kom, is jy vir n paar dae vreeslik gelukkig en dan wag jy weer vir die volgende ding. Ek sien en ek hoor dit al om my.

Ek kom nou van n paartjie af wat vyf jaar hier in Bloem gewag het dat hy aftree ouderdom bereik en sy pensioengeld ontvang. Toe kom dit, toe wag hulle twee jaar vir hul huis om te verkoop. Toe wag hulle twee jaar in n beknopte woonstel by die see vir die regte huis om teen die regte prys in die mark te kom. Toe wag hulle twee jaar om goeie, nuwe vriende daar te maak. Dit gebeur nie. Toe wag hulle nog n jaar dat die wind gaan le.

En nou? Hulle wag nou al ses maande lank vir die regte huis in Bloem, want hulle kom terug. En as hulle eers hier is, gaan hulle vir ewig wag dat dinge hier weer diesefde gaan word soos toe hulle hier weg is.

Dit gaan nooit gebeur nie. Dis nie die goed wat kom wat ons gelukkig gaan maak nie, dis die goed wat vandag hier is wat ons gelukkig maak.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Lag kan soms gevaarliker vir jou wees as huil.

Junie 18, 2012 in Sonder kategorie

Ek hoor n ou skreeu my naam dat die gange van Pic en Pay weergalm. Dis n groot man en hy kom met sy arms wyd oopgesprei vir n ” bear hug”. Hy druk byna my ribbes af en as ek klae lag hy dat die bottels op die spesery rak begin kantel. Dis n ou vriend van my met die duidelikste en hardste stem wat ek ken. Ook die hardste en dawerendstee lag wat ek ken. Menste kom tot stilstand en staar, almal met bree glimlagte op hul gesigte.

Ou John het drie jaar gelede ge-emigreer na Australia. Hy is sak en pak terug en het n n besigheid hier in Blooem gekoop. Hy

vertel dat hy nie regkom met die mense in daardie land nie. Was glo veertien keer in drie jaar gearresteer, na die polisiekantore geneem en getoets vir alkohol en drugs in sy bloed. Ek is verstom, ek weet hy drink net sjampyn op sy verjaarsdag en op oujaarsaand.

” No, man Outop, those people dont laugh anymore, and when I do they think I am drunk or that I am using drugs. They wont believe me when I tell them that is how  is how I always laugh. They are crazy, man,” se hy en begin weer lag. Dit dreun maar almal in die gang lag saam. Ek ook.

Die swart werker wat  goed uit sy trollie op die spesery rak pak, skud so van die lag, hy pak sommer die visspessery tussen die braaivleis spesserye.

 Soos my vrou haarself gisteraand van die stoel af gelag het toe daai tennisspeler uit frustrasie die grensregter n helse skop gegee het. Nee, die lewe is n lied, lag in die gange, lag oor die nuus, lees net die agterblad van die koerant. Bly positief.

 Ons bly in n rowwe land, maar ons het nog die vryheid om hard en dawerend te lag oor dinge.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Man bieg nie maklik nie, maar ek moet, want ek is bang my seuns vang my uit.

Junie 10, 2012 in Sonder kategorie

 

Veral die seun wat my name dra, soms voel dit of hy my kop kan lees. Nee, ek moet bieg: ek is en was nooit die sterk en tawwe Pa wat hulle gedink het ek is nie. Die ding het al begin to ek 15 jaar oud was en ek se jou ek moes al lieg soos n tandetrekker om los te kom. Sover het ek dit gemaak, maar ek is bang, daarom bieg ek eerder hier.

 

Op 15 jaar oud is ek saam met my Pa jagveld toe anderkant die Soutpansberg,waar ek die eerste kremetartbome in my lewe gesien het. Pa kon nie sy koedoe raakloop nie, toe gee hy my sy geweer en reel dat ek die hele dag by n watergat waar hulle elke oggend n groot bul se spore waargeneem het, gaan wegkruip. Ek sit in n holte van n groot kremetartboom so vyf voet bokant die grond. Daar kom rooibokke, duikers, blouwildebeeste en zebras om te drink. Hulle gewaar my nie, ek het n dodelike skuilplek naby die watergat.

 

Skielik, asof van nerens, is die reusagtige koedoebul daar. Hy ruik onrustig, sy neusvleuels maak sommer so oop en toe. As Vrystatertjie is dit die eerste koedoebul wat ek in die veld sien. Ek het n klein verkykertjie waardeur ek hom deur my kamoefleer takkies bekyk. Die geweer le reg, ek kan net aanle en skiet. Die bul se maanhare op sy nek verstom my, voor het hy ook hare onder sy keel. Sy horings is lank en dik. Sy liggaam tril van senuwees, hy vermoed daar is iewers fout. Ek kan sweer hy het iets gewaar of geruik. Doodstil bekyk ek sy kop en die uitdrukking op sy gesig; n trotse, pragtige dier, hy het seker al baie jagters uitoorle. Hy is vir my so mooi, so edel, ek kan nie ophou kyk nie. Sy oe lyk asof hy hartseer is oor iets. Ek moet hom vir Pa skiet, maar ek kan nie, ek wil net na hom kyk. Hy stap n paar meter nader, as hy skuinsdraai sien ek hoe n spiertjie aan sy boud senuweeagtig ruk en spring. Ek sit my hande om die geweer en korrel net waar Pa gese het ek moet korrel. Maar ek kan nie die sneller trek nie. Iets binne in my skreeu op my dat ek n helse sonde gaan pleeg. Ek gee naderhand n fluit en jy sien net stof en klippies spat soos hy wegtrek. Ek sien hoe elke spier saamtrek en weer los. Dit is die mooiste ding wat ek in my hele lewe nog gesien het.

 

Ek klim uit my skuiling en en staan en piepie teen die stam van die ou kremetart. Toe Pa hulle my vieruur kom haal, le daar n rooibokram wat ek geskiet het. Die swart man wat as gids optree kyk na die spore om die watergat. Hy kyk vraend na my. Ek sit my vinger op my lippe. Net ek en hy weet.

 

Dit was 48 jaar gelede. Ek het al blouwildebeeste geskiet, blesbokke, hartbeeste, duikers, elande en gemsbokke ook; maar nog nooit n koedoebul nie. Is altyd op my lys, maar nog nooiut een geskiet nie. Elke keer aspris gemis, soms as daar te veel getuies om my was, het ek dit net-net gemaak.  Almal was altyd jammer vir my, maar ek het geweet en gese dis maar my senuwees wat lol, bokkoors. Selfs met my eie seuns wat dikwels by was. Die laaste keer het die een wat my name dra, sy jagmes al saggies uitgetrek vir die keel afsny, toe mis ek. Hy het my daarna vir weke lank so skeef aangekyk, want hy het geweet ek is n goeie skut, en dat ek nog nooit n koedoe geskiet het nie. Gehoor hy se al vir ander, ‘ Die mooiste bok vir Pa is n koedbul’.  Vanjaar is n koedoe weer op my lys, maar ek skryf maar hier, ek is n slapgat, sodat almal dit maar hier kan lees.

 

Vir jare het ek hierdie ding van my sielkundig probeer ontrafel. Nooit werklik die antwoord gevind nie. Altyd maar besluit, n koedoebul is net te mooi, te adel, te trots om dood te maak vir biltong. Toe lees ek gister n artikel wat Ian Player, bekende wildbewaarder wat al 84 somers agter sy rug het, op n vraag van n joernalis gese het. Hy antwoord:

 

” It is the wildness of the animal that makes it so appealing to us. We feel a spiritual connection with wild animals because much of the wildness in ourselves has already been destroyed.”

 

n Pragtige koedoebul doen dit vir my en ek sal vanjaar seker weer tot almal se verbasing n misskoot skiet.


 

Ja, ek is toe al die jare n liegbek sissie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ou Piet Rympies word op sy oudag n ware filosoof.

Junie 9, 2012 in Sonder kategorie

Kleintyd al het ons hom gedoop as ou Piet Rympies, hy wou en kon oor enige situasie n rympie maak. Soos oor die onderwyser wat toendertyd n matriekmeisie verwagtend gemaak het.” Hy kom daar om die taaibos, en hy maak sy groot papegaai los…” Ons het dit sommer in die stoepgange gesing tot groot onsteltenis van die onnies.

 

Nou is ou Rympies oud, geplooid en rietskraal, maar nog net so taai en vol sports as destyds. Wanneer mense kuier en gesels sal hy kort, kort oor n onderwerp n vers uit die Bybel aanhaal en nogal byvoeg waar dit staan. Die ou is uniek vir my, hy kan dit so droogweg noem dat niemand ooit aanstoot neem nie, eerder verbaas dat dit wel daar staan. Ek gee n paar voorbeelde van wat die ou onlangs genoem het.

 

Onderwerp:  n vrou wat klae dat haar man tydens n braai na rugby te veel wyn gedrink het en n bietjie luiddrugtig geraak het: 1 Timotheus 5 vers 23. ” Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaaldelike ongesteldhede.”

 

Onderwerp: mans klae oor almal deesdae vegetariers wil word, dis glo gesond en jy leef langer. Romeine 14 vers 2; ” Die een glo dat n mens alles mag eet, maar hy wat swak is eet groente.”

 

Onderwerp: Stout kinders wat nie wil hoor nie. Spreuke 23 vers 13 en 14, ” Hou jou tug nie terug van die seun nie,as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. Jy sal hom wel met die roede slaan,maar sy lewe van die doderyk red.”

 

Onderwerp: Betaling van werknemers en bediendes: Jakobus 5 vers 4 tot 6 ; ” Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande ge-oes het, wat julle agtergehou het, roep uit en die geroep van die maaiers het gekom tot die ore van die Here van die leerskare. Julle het op aarde n weelderige en losbandige lewe gelei, julle het julle harte vet gevoer soos op n slagdag”

 

Onderwerp: Oor die regering wat alles wat hulle verkeerd doen en alles wat verkeerd gaan, blameer op apartheid. Spreuke 17 vers 9 ” Wie n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar.”

 

Onderwerp: Soustrein en vet katte in regering:  Spreuke 3 vers 21 tot 22. ” Onder drie bewe die aarde, onder vier kan hy dit nie uithou nie. Onder n slaaf as hy koning word en n dwaas as hy volop brood het.”

 

Onderwerp: Die groot, swart en weelderige motors wat langs ons by die robots stop of ons uit die baan wil druk:

 Spreuke 19 vers 10: “Weelde pas nie vir n dwaas nie, hoeveel minder vir n kneg om oor vorste te heers.”

 

Onderwerp: Die ongenaakbaarheid van sommige Afrikaners teenoor arm mede Afrikaners:

 Jakobus 2 vers 15 en 16; ”  As daar nou n  broeder of n suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het. En een uit julle sou vir hulle se, ‘ Gaan heen in vrede, word warm, word versadig’, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie- wat baat dit ?”

 

Onderwerp: Oor vuilis op straat in die woonbuurte en inwoners weier om self voor hul huis skoon te maak:  Jakobus 4 vers 10. ” Verneder julle voor die Here en Hy sal julle verhoog.

 

 

Onderwerp: Oor geskeide mans wat nie betyds of glad nie onderhoud betaal aan sy sukkellende eks en haar drie kinders nie.  1 Timotheus 5 vers 8 ; ” Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral vir sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloen en is slegter as n ongelowige.”

 

En toe ek klae oor die koue en pyne in my bene. Spreuke 18 vers 14; ” Die gees van man ondersteun hom in sy krankheid;  maar n verslae gees–  wie kan dit opbeur?”

 

Onderwerp: Werklose arm blankes wat sukkel en die familie moet help: Spreuke 19 vers 7

” Al die broers van die arme, haat hom; hoeveel te meer hou sy vriende hulle ver van hom af! Hy jaag agter hulle aan met woorde — maar weg is hulle”.

 

Onderwerp: Malema se opstokery oor plase en myne en hoe hy die gepeupel aanhits:. Spreuke 17 vers 8; ” Die woorde van n kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste.” en ook Prediker 5 vers 8 ; ” Maar n voordeel oor n land, is dit: n Koning wat aan die landbou diensbaar word.”

 

Onderwerp: Die lotto.  Spreuke 17 vers 33. ” In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan, kom van die Here.”  Asook Spreuke 13 vers 11; ” Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaar maak, kry altyd meer.”

 

Onderwerp: Hoekom voel mense hulle gebede en smekinge val op dowe ore by die Here. Bid ons dalk net vir ons self?

 

Job 42 vers 10. ” En die Here het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die Here het Job se besittings vermeerder tot dubbel wat dit voorheen was.”

 

En toe my vrou spog oor die mooi matriekafskeid rokke wat sy maak, raak hy die volgende kwyt. Spreuke  31 vers 24 en 25; ” Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaaars. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.”

 

Oor n kwaai vrou: Spreuke 21 vers 9; ” Dit is beter om op die hoek van n dak te woon as by n twisgierige vrou.” en Spreuke 21 vers 19 ” Dit is beter om in n woeste land te woon as as by n twisgierige vrou en ergenis.”   Ek het hieroor nogal gewonder of dit is hoekom party ouens die Kongo of op n olieboor in die Noordsee  of in n woestyn gaan werk. Seker maar die geld en nie die vrou, of altwee saam.

 

 

Oor politiek, toe ek hom subtiel  probeer oorhaal om volgende keer vir my party te stem, sidestep hy my blitsig met Prediker 10 vers 2 , ” Die hart van n wyse man is na regs, maar die hart van n dwaas is na links”.

 

Wat doen n man met n vriend soos hierdie? Jy verdra, glo my, jy verdra en waardeer hom, want sy soort sal een van die dae nie meer op hierdie aarde wees nie en ons gaan hulle almal mis.

 

 

 

 

 

 

 

Profile photo of ou-top

by ou-top

In my hart se ek dankie, op my lyf rys my hare.

Junie 7, 2012 in Sonder kategorie

 My tweede kleinkind is pas in Australia gebore, n dogtertjie. Sy le klein en fyn in haar kombersie met oop handpalms en staar na die nuwe wereld om haar. Ek bid haar die beste lewe toe, hoop sy het n gesonde, veilige lewe met volop geleenthede om haar geskenkte talente ten volle te ontwikkel.

Ek bid ook vir n 12 jaar oue seun iewers in Pretoria, wat vadaq n rietkruisie aanmekaar timmer om dit te gaan plant daar waar sy Pa die naweek voor sy oe op n gesellige fietsrit doodgeskiet is vir sy skoene en n bergfiets. Die seun was eerste aangeval. Ek dink aan jou ou seun en ek bid vir jou, ek bid vir ons land en vir die mense wat ons land regeer.

Gee my die krag en oortuiging om ook ter enige tyd met my eie lewe die van n kind of n naaste te beskerm.

n Rietkruis as monument vir sy dapper Pa. Wat n hero was jou Pa, ou seun.