Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Swaer George en sy rugby.

Oktober 30, 2011 in Sonder kategorie

Vrystaat wen maar min die Curriecup. daarom is ons effens skisofrenies as dit by die finaal kom en die Vrystaatse

Cheetahs is nie daar nie. Ek skreeu gewoonlik vir albei spanne, in die tweede helfte skreeu ek vir die span wat

die mooiste hardloop rugby speel. Hierdie jaar was dit makliker, want die Boubulle  was nie in die eindstryd nie,

ek sukkel rerig om vir hulle te skreeu.

Ek en n paar vriende kyk die eindstryd tussen Transvaa(leeus)l en Natal(Sharks). n Vrystater skreeu nooit in die publiek

vir n ander span nie, net privaat, dis soos n man wat nie in die publiek praat van sy broer wat in die tronk sit nie.

Dis n baie private aangeleentheid.

Swaer George begin sommer van die afskopslag vir die Leeus te skreeu. Ons ander kyk hom skeel aan, het die man dan

nie karakter nie? So met die verloop van die westryd en veral na halftyd toe die Leeus sulke mooi hardloop rugby speel,skreeu ons ander uit volle bors ook vir die Leeus.

Later by die braaivuur vra ons vir George hoekom hy so karakterloos opgetree het aan die begin van die wedstryd.

Dis n belangrike saak wat heelwat selfondersoek en oorweging vereis.

“Ek sal nooit vir die Bloubulle kan skreeu nie, al speel hulle hoe mooi. Daai mense van Pretoria is die grootste

windgatte en snobs in Suid Afrika. En hulle is nogal almal Afrikaans ook. Hulle praat tot anders man, hulle lyk maar

net soos ons. Vir Natal kan ek nie skreeu nie, dis n klomp Ingelse, die meeste het teen ons in die Boereoorlog

geveg. Nee, vir die klomp Ingelse piesangboere kan ek nie skreeu nie. Vat nou vir WP, ek sal nooit as te nimmer vir hulle

skreeu nie, daai klomp wynsuipers wat dink hulle is die kernkultuur van ons Afrikaners, nooit. Hulle kan hulle wyn

landgoede, hulle snoek, hul  patats en hulle topbilling huise vir hulle self hou. Kyk net na hulle”bands” man,  Jack Sparrow

en daai maergat Ninja daggarokertjie met die skoolmeisie, wats sy naam, o ja, Die Antwoord.

Ek kan  vir die Leeus skreeu, want dis Joburg, ek het in Secunda my ambag geleer, dis manne daai. Toe was

Hillbrow nog n lekker jolplek op Vrydagaande.”

Ek bekyk vir George, sien die klein sweis brandmerkies op sy brille, sy hande is so hard soos bakstene, sy liggaam

op 65 nog lenig en taai, kan nog in my huis se plafon inklouter om my geyser te herstel. Kan enigiets van metaal

bou of regmaak. Sal sy klere uittrek vir sy naaste, al word hy meestal misbruik. My eie braaier is deur hom gebou.

En vier maande gelede het ons sy vrou begrawe na n lang siekbed. Ek sien hoe hy die pakkie twintig Lexington

uit sy hempsak haal en een aansteek. Hy blaas n paar kringetjies, ou gewoonte van hom. Dan se hy iets terwyl hy

oor my tuin staar.

” Jy weet Toppie, dis lente, kyk hoe blom jou goed, ou Bets sou dit vandag gelaaik het hier by julle. Dankie dat jy my genooi het.”

Profile photo of ou-top

by ou-top

Miskien het Malema n punt beet.

Oktober 29, 2011 in Sonder kategorie

Ek praat met n geleerde man oor wat verkeerd is met ons land. Ons begin natuurlik by Malema se

staptoer na die bates waarop hy beslag wil le: die Aandelebeurs, die Mynmaatskappye, die Uniegbou en die plase.

In die naam van armoede en werkloosheid, doen hy dit.

Ons gesprek loop so:

Slim Jan: Die blankes is 4% van die totale bevolking, maar hulle besit 78% van alle bates in Suid, Afrika. Dis nou plase, fabrieke, huise, blokke woonstelle, hotelle en besighede.

Ek, Dom Jan: Maar ons het donders hard gewerk daarvoor, elke ding wat ons besit het ons gekoop en betaal.

Slim Jan:  Dit maak nie eers saak nie my vriend, die 96% anderskleuriges besit net 22% van die land se bates, en

van hierdie 96% is 34% werkloos. Met ander woorde, van die 50 miljoen anderskleuriges moet daar amper

19 miljoen mense werkloos wees in hierdie land. Die blankes is skaars 4 miljoen en ongeveer 300,000 is

werkloos. Die 19 miljoen honger en daklose werkloses, steur hulle glad nie meer aan politieke praatjies nie.

Hulle sien elke dag hoe ons werk toe gaan en middae terugkom na ons lekker huise en vol spense.

Dom Jan: Maar hulle kan nie net vat by ons nie. die regering en buiteland kan hulle mos geld leen om ons

goed te koop. Buitendien pas hulle die reeds gevatte en gekoopte goed van ons nie op nie, binne twee jaar

het spogplase woestenye geword, onder hulle hande.

Slim Jan: Kyk Oom, dit gaan nie meer oor ekonomiese beginsels of selfs moraliteit of regverdigheid nie.

Dit gaan oor die oer behoefte van die mens, om te oorlewe of nie.

Dom Jan: Jy bedoel dis soos daai ouens wat met die vliegtuig in die Andes gebergtes geval het, na n week

toe begin hulle mekaar eet van die honger.

Slim Jan: Deur die geskiedenis van die wereld het die armes en die hongeres nog altyd uiteindelik

oorwin,  of dit daarna beter gegaan het,  is natuurlik debateerbaar.

Ek sit vir n wyle en dink oor ons land waarmee dit nou al slegter gaan.

Dom Jan: Jy bedoel dis soos wanneer n luiperd n rooibok platgetrek het,  dan storm tien wildehonde wat

weke laas iets te ete gehad het en val hom aan. Die luiperd gryp sy kos en vlug op in n boom. Die wildehonde

kan nie boomklim nie, toe kou hulle in een nag die boomstam af en daar val die luiperd en die rooibok op die grond.

Die luiperd vlug vir sy lewe en die trop wildehonde vreet die bok in tien minute op.

Slim Jan: Dis omtrent wat hier gaan gebeur, my Oom. Jy kan maar se die boom was ons land se grondwet,

wat ons vir ewig sou beskerm het, hy gaan vernietig word.

Dom Jan:  Ja, ek kan hulle sien, snuiwend teen die wind, angstig  al weer op die spoor van nog n  leeu of luiperd

wat weet hoe om kos te vang. Langs die pad kou hulle elke klimbare boom teen die grond af.

Slim Jan: Vir ons almal om te oorleef sal n soort sosialistiese staat gevorm moet word waar die verskil tussen

ryk en arm gering sal wees. Dis onvermydelik.

 

Ek sit en dink aan Malema se staptoer, hy was al vet man wat ek daar gesien het, die res was nogal dun. Ek glo

nie Malema het die 62 kilometer gestap nie, met daai vet lyf sou hy dit nooit gemaak het nie.

Dom Jan: Ek hoop Shell kry verskriklik baie olie in die Karoo, want Amerika, Engeland en Duitsland beweer mos as

jy n diktator is en jou land het olie, dan gaan ons jou kry. Maar ek het meer hoop vir die klein Zulu meisie wat nou leier

van die DA is in die Parlement.

Soms weet n man ook nie meer of jy herwaards of derwaards moet neuk nie. die beste raad kom nog van

my ou visvang vriend daar langs die Vaalrivier. ” Gee hom lyn , boetie,  gee hom net genoeg lyn, dan vang hy homself.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Man is nooit tevrede nie.

Oktober 20, 2011 in Sonder kategorie

Ou Ben Bakgat was n goeie sakeman en weens ouderdom verkoop hy sy besigheid en gaan sit by die huis.

Ek onthou hoe sy vrou soms met hom baklei het as hy laat van die werk af gekom het. Soms by ons kom sit en

kuier tot ou Ben daar aankom. Soms was hy blink gedrink en dan verskoon hy met,”Ag liefie dis besigheid , man, net die ouens vir

n dop gevat.”

Na twee jaar by die huis kom klae hy by my, sy vrou vind deesdae alles fout met hom, dan staan hy te vroeg op en raas

of dan slaap hy te laat. Hy skeer soms nie sy baard, hy neuk haar tuin op, hy mors in die huis, en hy klae as sy haar vriendinne

besoek. Hy wil vir haar n besigheid koop om haar uit die huis te kry, want sy gee hom n harde tyd. Ek stel n tuisnywerheid voor en ons kry n vrou wat een wil verkoop. Ou Ben koop dit vir sy vrou vir haar verjaarsdag.Sy is

vreeslik in haar skik, dis wat sy altyd wou gehad het, maar Ben en die kinders het haar te besig gehou. Nou is

die kinders groot en Ben pla haar by die huis.

Vir die eerste jaar is die paartjie baie gelukkig. Ou Ben is sommer n ander mens, skoon vriendelik en opgewek.

In die tweede jaar kom klae ou Ben by my. Nee, die vrou word nou te blerrie “cheeky” se hy. Sy kom te laat by die huis

en sy gaan te vroeg werk toe. Sy skeep hom af, hy moet ook nou te veel dinge by die huis doen en hy het ook nie meer lekker houvas op haar nie.Sy maak te veel geld

met die tuisnywerheid. Sy vra hom nooit meer geld nie. Om die waarheid te se sy het nou sommer daar op Mosselbaai geboek vir Desemberhet . Hy wou nog iets se, toe antwoord sy dat hy nie bekommerd moet wees nie sy het sommer klaar vooruit betaal, sy “stick” hom n vakansie. Dit maak n man

moerig se ou Ben.

Hy se ek het hom daardie tyd slegte raad gegee om vir haar n besigheid te koop. Die ding werk nie. Hy

voel afgeskeep en dis te stil by die huis.Daar is niemand om te stuur nie en hy moet te veel dinge nou self daar by die huis doen. Dan kla sy nog oor die huis deurmekaar is as sy van die werk af kom. Ons moet n ander plan maak, se

hy.

Ek en my vrou koop altyd melktert en biltong daar by haar, soms dink ek dat die werkery haar wragtig jonger laat word het.

Sy lyk mooi en gesond, pragtig aangetrek en glimlag altyd.

Nee, ek weet nie, n man is maar n bliksem.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die lewe van n man.

Oktober 11, 2011 in Sonder kategorie

In my jeug het ek net vir die toekoms geleef. As ek net kan klaarkry met swot en begin werk.

Toe werk ek en koop n Volla. As ek net eers n beter woonstel kan bekostig en dalk n Datsun SSS kan koop.

Ek kry dit ook reg. As ek net eers n oulike meisie kan kry en miskien n beter werk. Ek kry altwee reg.

Ek teer op die toekoms, ek leef in die toekoms, ek skrik wakker in die nag en dink oor my toekoms. Die hede is

nie belangrik nie, die toekoms is alles oorheersend. Algaande kry ek beter werke, beter woonplekke, eerste TV, mooi

kinders, ek jaag die toekoms hartstogtelik na.

Ewe skielik hier tussen vyftig en sestig, begin kinders die huis verlaat en n ou beginne dink en praat van aftree. Toe

ewe skielik begin ek in die verlede leef. Ek vertel almal, my kinders ingesluit, hoe lekker was die lewe in die ou tyd, in

die verlede. Ek verveel naderhand almal om my, toe begin ek myself  verveel. Ek wil he die verlede moet terugkom na

hede toe. Niks gebeur nie, ek word al ongelukkiger, byna n klaekous. n Onplesierige ou top.

Ek leer by n man wat baie ouer as ek is. Hy vertel my dis net die hede wat belangrik is, nie die vorentoe en die agtertoe nie, net nou. Soms irriteer hy my, want hy pak so tydsaam n braai vuur aan. Hy se, dis vir hom lekker, dis soos stadig kou aan

lekker kos. Biltongmaak vat twee keer so lank met hom .  Ons gaan dam toe en daar is hy nog stadiger, maar as hy klaar en reg is met sy tafeltjie, sy kampstoel, sy vislyne in die water het, dan lyk dit beter as aan my kant wat lankal klaar is. Hy vang ook die eerste vis, praat nogal met die karp

as hy hom teruglaat in die water. Met sy verkyker bekyk hy die kolganse en bleshoenders, vertel my broeityd is om die draai.

Sien diere en goeters in wolkformasies.

 Soms dink ek die ou man is al kens, maar laatnag daar op my bed, besef ek hoe belangrik is die hede. Ek skakel

die bedlig aan en kyk na my vrou wat rustig langs my slaap. Iewers in die donker daar buite koer n tortelduif, wonder hoekom doen

hy dit soms so laat in die nag.

” Vat elke dag met dankbaarheid aan”, het die oudste gese, ” kyk na die mooi dinge, se dankie vir alles in jou lewe,

kyk hoe verander die lente jou tuin, vat jou vrou se hand en gee dit n drukkie. Vergeet van gister en more se dinge.

Wees net vandag n goeie mens, goeie woorde vir ander, sag op die bedelaar, pas jou goed op, wees skoon en netjies,

en se maar aanmekaar dankie vir vandag, want dis net vandag wat tel. Die verlede en die toekoms put n man genadeloos

uit, vergeet van hulle.”