Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die aarde het toe nie vergaan nie, maar dit gaan rof.

Mei 28, 2011 in Sonder kategorie

Die snare wat hier in Bloem van huis tot huis rondgedraf het met die boodskap dat ons onse tasse moet pak vir die wegraping,

is nou skoonveld. Soek seker nou weer huurhuise en karre.Die een ou en sy buddies moet glo n hotel duisende betaal

vir hulle naweek se bymekaarkomslag daar.

Maar dit gaan steeds wild hier op ons planeet. Net in my eie familie het in hierdie week n jong vrou n pothole geslaan, bakkie

het gerol en afgeskryf. Sy ly darem net aan skok. Nog n neef word van sy fiets af gery deur n wilde motoris, tragies

sterf hy later aan breinbeserings. n Jong man, broerskind, kom van die werk en n ellendige taxi swaai voor hom in, slaan

n pothole op sy motorfiets en val. Hy loop rond met verbande, maar het oorleef. Nog n jong man beland in n hospitaal

met n allergie vir n spinnekop byt, kry daar n weerstandige hospitaal kiem in die long en sterf na n paar dae.

Ja, ons verpleeg en begrawe jong mense, almal onder die veertig jaar oud, dis tragies, dis hartverskeurend, dis verkeerd.

Intussen spreek n paar polisiemanne n skool toe oor misdaad en veiligheid en n paar uur daarna word hulle self vir

verkragting van n 16 jarige meisie gearresteer, blykbaar van dieselfde skool. Nog twee senior polisiemanne word gearresteer

weens diefstal van derduisende rande se bewystukke uit die veilige pakhuis van die polisie.

Die premier van Limpopo spreek sy mense toe en bring hulde aan sy twee helde, Mugabe en Ghadafi, hulle is volgens hom reg en bewonderingswaardig. En Malema sing nog steeds terwyl ses mense in die hof getuig hoe hulle n jong plaasboer

sy vrou en n babadogter wreed vermoor het.

Maar die DA het veld gewen en n slim ou in die polisie maak n veselglas renoster met die moeder van alle renosterhorings.

Widdiewe gewaar hom om 2 uur op n donker nag en skiet hul magasyne leeg, maar hy wil nie val nie. Toe is die polisie op hulle

en dis oorlog; een dood en n klomp is gevang.

Nee, my vriend, ons moet nie tou opgooi nie, die goeie mense in hierdie land gaan nog wen, ons moet miskien net n bietjie meer hardegat ook word.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Gaan n stemmery ons land red.? Nee….dit sal van binne moet kom.

Mei 18, 2011 in Sonder kategorie

Ons het vir Laatlam in die Kaap gaan kuier en baie mense ontmoet waarvan sommiges weens die stemmery

graag oor politiek en ons land se toekoms wil praat. As ek n kort opsomming moet gee sou ek maar net se daar

is baie minder potholes in die Kaap as in Bloemfontein.

In n koffiekroeg, terwyl ek vir vrou en kind wag om klaar te koop, gesels ek met n ouerige Kleuringvrou wat daar werk

Sy stem DA, vir Zille en De Lill. As ek vertel dat ek van die Vrystaat kom antwoord sy:

“Ja, maar ons hier is n bietjie anders as daar bo, da by julle is alles mos werkskeppend, laat alles eers ten gronde gaan

en dan vra jul regering vir tenders, gee dan die kontrakte vir boeties en sussies. Nie hier nie, ons werk, kyk na De Liil en Zille.”

Ek laat my kar was by n karwassery, die besigheid behoort aan n Xhosa maar die ou wat my help praat met n

vreemde aksent engels. Ek vra hom waar hy vandaan kom. Sy naam is Timothy.
” Zimbabwe is my country.” se hy.

Ek vra sy baas Patrick in Afrikaans of  die Zimbabwier n goeie werker is. “Die beste” se hy,” die ander wil pay he en

staan heeldag en rook of meisies  chaff.”

Patrick se hy stem vir die ANC al laaik hy hulle nie, want hulle verwaarloos die locations en blaas geld op karre.

Ek hoef nie vir Patrick te vra hoekom stem hy vir n party wat hy nie laaik nie, want ek weet. Timothy se hy kan nie stem nie, sy papiere is nog nie reg nie.

In Beaufort Wes kom vier bakkies met sirenes verbygejaag, agterop is gillende jongmense met plakate en luidsprekers. In die hoofstraat tel ek vier cash loan bedrywe.

Op Colesberg vloek n fris boerseun n petroljoggie wat tussen petrolgooi en bande pomp n aanvallige kortrok meisietjie

probeer oortuig dat hy die regte man is vir haar.

Op Trompsburg koop ek gou biltong by n ou vriend wat n slaghuis daar het. ” Kop staan Suid – Wes toe , ou maat, het gaan kyk verlede maand. Nee, my kop staan Suid-Wes toe, want hier kom groot kak.”

Terug in Bloemfontein hoor ek almal gaan die volgende dag stem, plakate orals op pale. Mense wat driftig praat, families wat twis, beskuldiggings van verraad, slapgattigheid en liberalisme.

Maar ek kyk en luister  na alles, en ek weet dis alles net n gejaag na wind. Geen politieke party kan hierdie land red nie,

dit moet van binne af kom, uit almal se harte en siele uit.

Want daar diep in ons binneste weet ons tog almal wat is reg en wat is verkeerd, wat is goed en wat is sleg. Of ons nou geel, groen of pienk is, ons weet almal ; en dis tyd dat ons hande vat en dit verkondig.

Politici, van watter kleur of van watter party mag nooit weer die absolute mag gegee word om met n land te maak wat hy wil nie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Rooikop en Malkop

Mei 7, 2011 in Sonder kategorie

Die angswekkende gille van n vrou bars los terwyl ek nog in my kar voor die supermark sit. Ek spring uit,

iemand het hulp dringend nodig, iemand  hier buite word beslis vermoor, ek moet gaan help.

Links van die voordeur, half in die gangetjie staan n grys ou dame, dis haar dogter van so twintig jaar oud

wat so skreeu. Die ou tante lyk kalm en vertroos die kind, ek sien geen bloed op die vloer of aan hulle twee nie.

Die grys tante maak sagte kloekgeluidjies soos n ou hen wat met haar ontstelde kuiken praat. Sy omhels die

skreeuende dogter en vryf haar agter op die rug om haar so te laat bedaar.

Die tante se vir my alles is oraait, en daar stap hulle twee terug die winkel in. Die mense kyk nuuskierig, want die kind

huil nou, maar sy het darem opgehou skreeu. Sy is wat ons in die ou dae genoem het n waterkoppie, ongevoellige

mense het hulle destyds sommer pleinweg n vertraagde genoem. Blykbaar wou die dogter daar binne in die winkel n Kit-Kat gehad het, maar die tante kon weens gebrek aan geld nie een vir haar koop nie, hulle het net n bruinbrood by hulle . Dis

hoekom die dogter so bedroef geraak het.

Ek loop hulle weer by die till raak, hulle is eenkant op die blad van die toonbank besig om koper muntsukke te tel.

Die mense in die ry is ongeduldig, sommige brom onderlangs. Voor my staan n groot jong man man rooi hare, hy het stewels aan sonder kouse, n blou keps en het songebrande geel hare op sy dik voorarms. Dis nie n man  waarmee ek moeilikheid

sal soek nie.  Hy se vir die tante hy sal vir die twee bar Kit Kat betaal, maar die dogter wil nie die Kit Kat vir die vrou

by die kasregister gee om te “scan” nie. Ek dink sy is bang hulle vat dit weg van haar, sy klou styf daaraan vas met albei hande teen haar bors geklem.

Die jong man draai om na my,” Oom, gaan haal vir ons tien Kit Kats, ek sal my goed solank stadigaan laat oplui.”

“Hou my plek”, se ek vir die vrou agter my en draf-stap na die Kit Kats. Ek kom terug en gee dit vir die rooikop reus.

Daar is mense wat brom in die ry, veral die een ou. Dan draai die rooikop reus om;  ” As jy wil kak praat met my, kom doen dit hier voor my, moenie agter vrounmense se rugge staan en vloek nie”, se hy met n bulderende stem. Niemand roer nie. Die kasregister dame “scan “die Kit Kats elf keer. Die grys ou tannie gee die ekstra tien vir haar dogter. Haar ogies blink en sy lag aanmekaar. Die tante wil haar koper geld vir die rooikop reus gee.

” Nee, my Oumatjie, jy pas jou dogter mooi op, hier, vat hierdie vyftig rand vir vorentoe.”

Buite sien ek hoe hy in sy Landcruiser bakkie klim, op die deure  is n konstruksie firma se naam geverf. Ek kan sien hoe

hy groot  en swaar sementblokke met gemak rondgooi. As hy verbykom druk hy die toeter twee keer vir hulle, die  tante waai

skamerig terug vir hom.

Ek sien  die dogter is reeds besig met die tweede Kit Kat, haar wange staan sulke bolle.

Iewers binne in my voel ek hartseer en trots.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Soms sien n ou maar net dit wat jy wil sien.

Mei 2, 2011 in Sonder kategorie

Gesonde jong mense is in hul hordes hier af Kaap toe om die Two Oceans marathon te gaan hardloop.

Suster se kind, sy vrou en kinders is ook hier af met kar en treiler. Goed gehardloop en op pad terug naby

Laingsburg bars die Venterwaentjie se band. Geen probleem, ruil net gou wiele om, maar toe vind hy uit sy spaarwiel

is gesteel daar waar hulle innie Kaap oornag het. Los n seun by die treiler en jaag in na Laingsburg, alles is toe.

Terug na die treiler, vrou en kinders is gatvol, pak alles oor in motor, “abandon” die treiler en ry terug Vrystaat toe.

Suster drink tee by my, sy  bel om te hoor hoe vorder hulle en vind toe uit van treiler. Ek vat die foon.

“Draai terug man,” se ek, ” ek sal die probleem oplos”.

” Nee Oom, hierie Kaapse mense wil nie help nie, nie eers die vrou by die garage nie, hulle gooi net petrol, verder niks en ken niemand nie. Dis n  regte  gattie plek daai.”

” Gee my vyf minute,” vra ek.

Ek bel die hotel, dis nie n heilige vakansiedag nie, die kroeg moet oop wees. Ek kry iemand op die lyn. Ja, hy ken van treilers,

sal hom nou gaan haal, het n spaarwiel te koop ook. Niks staan  vir sy hande verkeerd nie. Sal enigiets doen vir

n man in nood.

Ek bel die seun.

Ek: Draai terug, treiler is reg, hier is  ou Hennie se selfoonnomer.

Seun: Ek is al tagtig kilos weg, ek laaik nie daai dorp nie en ek laaik nie daai mense mense nie, en hy gaan my n fortuin vra. Ek hoor hoe die vrou en kinders in die agtergrond luidkeels saam met hom stem.

Ek: Daai treiler is R8,000 werd, draai terug.

Hy doen dit  en oor n uur of so bel hy ons terug.

Seun: Hy wil nie geld vat nie, Oom , die man is arm, was by sy huis, is baie arm. Hy se ek moet vir hom blesbokbiltong saambring as ek weer eendag verbykom. Hy wil glad nie geld vat nie.

Aan sy stemtoon kan ek hoor die seun het iets gesien wat hy die eerste keer heeltemaal mis gekyk het.