Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

My laaste skrywe oor my vriend in eenvoud.

Februarie 27, 2011 in Sonder kategorie

Wanneer jy vir vyf ure saam met n man in sy huis sit en daar is nie vrouens en kinders nie, kan n man nogal wyd gesels. My vorige blog was oor ou Manie se geloof, vandag wil ek n Bybelstorie vertel soos hy dit aan my geskets het.

Manie: Weet jy dat net op een plek in die  Bybel word n spesifieke straatadres aangegee? Ek meen n straat met n naam, soos vandag hier by ons.

Ek: Ag nee Manie, man, ek sou dit al raakgeloop het, kan nie wees nie.

Manie: Ja, nadat hulle Jesus gekruisig het en die Romeinse regeerders in Jerusalem in opdrag van die  Joodse hoë priesters die Christene begin vang en vervolg  en uitgeroei het,  was daar n verskriklike wreed en boosaardige Romeinse Generaal. Hy het  duisende Christene gevange geneem en  doodgemaak. Onder die Christene was hy n gevreesde man, die Jode wat Jesus toe pas gekruisig het,  het saam met Saul gewerk  en het die Christene aan Saulus uitgewys. n Soort van n Gladiator.

 Die Here het op daardie tydstip n man met n sterk karakter en liggaam gesoek om vir hom n Apostel te word, n kryger vir Christus, n sterk persoon om die Christengeloof te versprei.  Hy besluit op Saulus, die wrede Romeinse Generaal. Slaan hom met blindheid bo van sy perd af voor sy eie soldate. Hy praat met Saul, sê Hy het hom nodig vir die Christendom. Saul die soldaat is verskrik, hy het nog nooit met iemand te doen gehad wat sterker as hy is nie. Niemand het hom nog ooit so hard geslaan nie. Hy strompel blind en vreesbevange in die pad rond. Die Here beveel hom om na n huis in Damaskus te gaan, die magtige Generaal het so groot geskrik, hy het vir drie dae en drie nagte nie ge-eet of gedrink nie. Stokblind het hulle hom na n huis in Damaskus gelei.

Ek: Ja, in die fliek The Gladiator het ek gesien hoe wreed die Romeinse soldate in daardie tyd kon wees. Mense is in houthokke op waens gesleep deur perde, geneem na plekke waar hulle vir vermaak, onthoof of verbrand of vir wilde diere gevoer is.

Manie: Toe roep die Here n dissipel wat hy na Saulus wil stuur om hom te help om die Woord van Christus te begin versprei. Ek dink hierdie dissipeltjie was n klein en bangerige outjie, want hy antwoord die Here dat hy dit nie kan doen nie, dat Saul die Romeinse Generaal aan hom bekend is en hy weet  dat die man reeds duisende Christene in Jerusalem  uitgeroei het.  Hy is bang vir Saulus en probeer uit hierdie opdrag kom.

Ou Manie se gesig gloei sommer so lekker kry hy, ek ook, want ek hou van n goeie storie.

Manie: Toe sê die Here vir Ananias, die vreesbevange dissipel, gaan na “Reguitstraat” in Damaskus en vra vir Saulus. Jy sal hom op sy knieë kry waar hy bid. Bewerig is Ananias  daar weg, het seker daar in “Reguitstraat”  n paar keer verby die regte huis geloop uit banggeit, maar uiteindelik het hy vir Saulus. Hy sê vir Saulus hy het gekom in die naam van Jesus wat hom  daar in die pad so hard geslaan het. Dadelik het daar goed soos skille van Saulus se oë geval  en hy kon weer sien. Van daar af was hy Paulus die apostel. Handelinge 9.

Die kinderlike vreugde en geloof van die 78 jarige ou man verstom my;  maar in my binneste is ek effens hartseer omdat ek en so baie ander wat ek ken,  nie soos  ou Manie is nie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die man met die goue lepel.

Februarie 26, 2011 in Sonder kategorie

Wanneer jy n mens byna vir n leeftyd geken het, dan weet jy sonder om te wonder of hy sy  lewe lank voorspoed of swaarkry ervaar het.  Oom Manie is op 78 , so n man. n man wat voorspoed in sy lewe ervaar het.  Sy jonger broer was my vriend en is reeds oorlede. Manie is fris en gesond en selfversorgend, het nog steeds dieselfde vrou en bly steeds in dieselfde middelslag huis,  vir die afgelope veertig jaar.

Oor die jare heen het ons ander hom soms gespot dat hy met die goue lepel in sy mond gebore was. Het altyd op die oog af net die regte ding gedoen, op die regte manier gelewe, het al drie sy kinders deur die universiteit laat leer. Hy is n afgetrede bouer, let wel nie n ontwikkelaar nie, n man wat met sy hande gewerk het, n kleinskaalse  bouer. Dinge het net altyd vir hom reg geloop en die lewe het hom min harde klappe soos vir ons ander gegee.  Ek kuier by hom, ons vrouens werk vandag saam vir die kerk.

Ek het groot respek vir die man, hy het net twee jaar van sy lewe vir n baas gewerk, daarna net vir homself, as bouer. Wat ons gesels kan ek maar hier neerskryf vir interessantheid of miskien vir iemand wat al gewonder het oor die verloop van sy eie lewe.

Ek: Manie, wat sou jy sê is die enkele ding wat jou oor die jare gedra het, hoekom het dit met jou altyd beter gegaan as met my, of jou broers of met ander mense wat ons ken. Jy is een van die gelukkigste mense wat ek ken, jy klae nooit, jy is nooit bedroef, moedeloos of beswaard nie. Jy het nog nooit geldelik swaar gekry nie. Jy en Elsie is gelukkig, julle gesondheid hou en julle is altyd opgewek en plesierig.

Manie: Ken jy Psalm 91 ?

Ek skrik half, want jy kan my  maklik vasvra met die inhoud van die Bybel. Hy neem die Bybel langs sy stoel en wys my. Ek ken die Psalm toe darem. Dit gaan oor die gelowige mens se beskerming deur die Allerhoogste.

Manie: Ek was gelukkig om vroeg in my lewe die Waarheid te ontdek. Hierdie Psalm van die Ou Testament  belowe my die beskerming as ek n gelowige is. Hoe raak ek gelowig? Maklik, ek kom die Tien gebooie na, want dit is die wette wat God vir Moses gegee het. Maar dan moet ek met my mond en met my hart leef soos voorgeskryf in Romeine 10 vers 5 tot vers 13 van die Nuwe Testament. Jesus se kruisiging en opstand moet erken word, ons sondes is vergewe, ons moet net met ons mond Jesus prys en met ons harte glo. My woorde moet ooreenstem met my dade.

Hy gee my sy Bybel en ek lees Romeine. Hy kyk my vraend aan, asof hy wil weet of ek verstaan.

Manie: Dis al, dis kinderlik eenvoudig. Oop vir almal, selfs vir geharde ou sondaars soos jy!.

Ek sit doodstil en dink oor alles.

Ou Manie glimlag: Maar as jy geseën word en dit gaan goed met jou, dan moet jy nie windgat raak nie, want dis net n toets. Nee, dan moet jy vir die armes en die kinders en oumense wat swaar en honger het n tiende gee, want jy gee dit vir die Here: Mattheus 25 vers 31 tot 46.  En as jy bang is jou Kerk spandeer nie jou geld korrek nie, dan gee jy dit direk vir die armes en die siekes, jy hoef nie ver te soek nie, hulle is hier om jou. Wat jy saai sal jy maai. Alles kom tienvoudig terug na jou. Maar doen dit soos in Mattheus 6 vers 1 tot 6.

Manie: Die hek staan wawyd oop vir ons almal, dit is Jesus se belofte aan ons. Hy soek net dat ons monde sy naam prys en ons harte om in hom te glo. Ons sondes is vergewe deur sy bloed aan die kruis.

Romeine 5 vers 6 tot 11

Ek sit nou al lank hier buite my huis onder die boom en dink oor Manie, n eenvoudige, hardwerkende mens met n sagte glans in sy oog. Ek blaai deur die verse wat hy my gegee het en lees dit weer.

In my gedagtes sien ek die groot beskermende vlerke van die Here  wat om hom vou, vir meer as vyftig jaar al.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Van jou sinne beroof.

Februarie 23, 2011 in Sonder kategorie

n Goeie ou vriend, bejaard soos ek, beland op hul kleinhoewe in n struweling met dronk mense.  Ja, vier dronk persone rand n jong man in sy motor aan oor n onbenulligheid, hulle sleep hom uit sy motor en skop en slaan hom reg voor my vriend se woning. Hy storm uit om die geveg te stop en word ook aangerand. Hy bel my, want sy vrou is in die stad en antwoord nie die selfoon. Ek neem hom dokter toe en daarna na die polisietasie om n klag te lê. Gister het almal in die hof verskyn, die dag tevore het hy dreig boodskappe gekry om sy klagte terug te trek. Die ander klaer is op krukke daar, hy het sleg seergekry.

Die saak word uitgestel, want die polisie is nog nie heeltemaal klaar met hul ondersoek nie. Hy kom waar hy sy bakkie vroeër parkeer het en dit is weg, gesteel. Hy bel my, en ek gaan haal hom by die hof se parkeerarea.

Daar het dit so gegaan;

” Maar dis n veilige parkeer terrein, kyk daar is die hokkie, ek het daai man betaal toe ek terugkom. Nou sê hy, hy weet niks, en hy ruik na drank. Ek weet nie, die duiwel is los. Die polisie was hier, maar ek was van vanoggend in die hof, daar gewag dat die saak moet voorkom. Hulle kan al in Lesotho wees.”

Ek skud net my kop. Dinge raak rof.

” Wat gaan Lien sê, ons het net die bakkie, ons is karloos. Die assuransie sal seker iets betaal maar nie genoeg vir n ander bakkie nie. My ID en bankkaarte is onder die matjie op die vloer. Die ratslot is gebreek. Ek weet nie.”

Ek probeer hom troos en wegkry daar. n Polisie man wil weet of daar n vuurwapen in die bakkie was.

Toe haak my vriend se kop uit.

” Ek mag nie meer n vuurwapen dra volgens julle nuwe wette nie, my rewolwer is in my kluis soos die wet vereis. Nutteloos in my ou donderse kluis. Ek gaan hom nou haal en ek gaan my bakkie soek en as ek hulle kry gaan ek skiet en my bakkie terugvat. Ek gaan hom self soek. Duiwelsgoed.”

” Meneer, u is nou onverantwoordelik, los dit vir ons”, sê die polisieman.

” Los vir julle?” skreeu my vriend. ” los dit vir julle klomp poepols? Daar is van nuwejaar tot nou nog elke dag n boer op sy plaas vermoor.

 Hy draai na my, “Toppie, jou huis is nader, het jy n skietyster? Ons twee gaan soek self my bakkie, miskien is hy nog hier rond of in Bochabella. Ons ry n paar draaie, dalk kry ons my bakkie, dalk kry ons hulle. Kom ons mors nou tyd.”

So met die ryery op pad na my huis het hy algaande bedaar. Koffie gedrink en al stiller geword. Ek kom agter hy praat nie juis meer met my nie, hy fluister saggies onhoorbare dinge vir homself. Ek bel sy vrou en sy en haar vriendin kom haal hom daar by my.

Ek kyk na hom as hy na die kar toe stap, sy rug is krommer, sy gesig ouer, wanhoop en moedloosheid straal uit sy houding. Sy oë hang en hy lyk moeg. Hy groet met n slap handjie. Ek sien die steke bokant sy oog waar hy met die aanranding seergekry het, daar is nog n donker bloukol aan sy nek.  n Ou mens se wonde herstel stadig.

 Sy vrou maak die motor se deur vir hom oop.” Klim Pappa, ons sal n plan maak, laat ons net eers by die huis kom, ons sal wel regkom.”

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ware liefde en omgee loop die sterkste vertikaal.

Februarie 19, 2011 in Sonder kategorie

Vier jaar nadat n pragtige jong vroutjie se man tydens n inbraak in hul huis doodgeskiet is, ontmoet ek haar weer. Sy en haar man was opgewekte, lewenslustige jong mense, n jaar getroud en albei het goeie werke gehad. Na die moord en hofsaak het sy verward tussen vriende en werke rondgeval. Toe roep haar Ma haar huistoe, haar Pa is reeds lankal oorlede.

Daar by haar Ma het sy gesond geword, balans gevind en verder begin studeer, is nou besig met haar doktorsgraad in die natuurwetenskappe. Vertel sy ons van haar lewe na haar man se dood.

” Vir  byna n  jaar was almal bekommerd en simpatiek, het my sagkens behandel, maar die lewe moet aangaan en mens verloor vriende, ander getroude paartjies waarmee ons lank vriende was, het begin verdwyn.  Van my vriendinne het aanmekaar vir my n man gesoek, soveel so dat ek wou wegkruip en nie my foon geantwoord het nie”, sê sy.  “Ander het weer net die verskriklike haat teenoor misdadigers in my aangeblaas met praatjies en uitwys van koerantberigte. Vrees en haat, vrees en haat, elke dag van my lewe. In my tweede jaar het ek te veel gedrink en gejol, gedink ek kan so van alles vergeet.”

” Ons het nog nie n kind gehad nie, ek was jare spyt daaroor. Ek wou aan iets vasgeklou het, maar daar was niks, net gedagtes en n paar fotos.  Toe kom haal Ma my met geweld. Ek begin weer studeer. Ma lees vir my in die aande uit die Bybel en ons bid saam. Ons maak tuin, haar meenthuis het n voor en  n agtertuin. Ek sien dinge wat ons geplant het opkom en groei, maak blomme of vrugte wat ons kan gebruik. Ons blaai deur ons ou foto albums en praat oor Pa. “

“Aan die begin was dit vir my verskriklik eensaam en byna vervelig. Een nag kry ek weer die droom, duidelik net soos dit gebeur het.  Ma kom lê langs my op die bed. Sy bid vir my en hou my vas. So raak ons weer aan die slaap. Ek word ligdag eerste wakker. Ma het my een hand in albei haar hande vasgeklem in haar slaap, in my hand is die silwerkruisie wat Pa vir haar gekoop het om om haar nek te dra. Ek kyk na Ma se gesig;  oud, vol plooie, grys hare, maar daar is n sagte glimlag om haar mond. Ek is veilig, want ek is by iemand wat lief is vir my en wat omgee vir my, iemand wat sal sterf vir my.”

” Ma het met haar grenslose liefde en klein eenvoudige dingetjies my weer gesond  gemaak. Van vooraf, soos van geboorte af. Ek het al die pille binne twee maande net so gelos.”

Sy glimlag en groet, sy en my vrou moet nou ry, dis besoektyd in die hospitaal waar die meisie se Ma sterwend aan kanker lê.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Nuwe liedjie is nou net gebore,”fire those darkies in parliament.”

Februarie 15, 2011 in Sonder kategorie

Nee kyk dis nie ek wat so sê nie, dis ou Blade van die SA Kommunistiese party op TV nuus. Ek sê jou vriend, hierdie land kom reg.

Wanneer n minister opstaan en sê die “darkies” aan die stuur van onderwys in ons land doen nie hulle werk nie, en dit sommer twee keer agtermekaar op TV sê, dan kry ek moed. Nou is die meerderheid van die land verskriklik kwaad vir ou Blade. Maar ek sien altyd op koerant fotos ou Blade het nogal n hele paar “whiteys” in sy party.

Wonder wat sê Malema van ons nuwe song, ” Fire the darkies that cant do the job, employ a whitey that can do the job.”

Wel ou Blade praat darem nie van “kill” nie. net “fire” , maar nou kan Winnie dit seker ook heeltemaal verkeerd opneem.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Uitlander laat my stotter.

Februarie 13, 2011 in Sonder kategorie

Jy kry n soort mens wat n onderwerp fanaties kan navors, n soort beheptheid. Hierdie een kom uit Australia en is behep met ons land se geskiedenis en veral ons destydse bosoorlog.  Hy is werklik ingelig en het elke boek daaroor gelees . Nou wil hy by my weet.

” You did won the war, but why did you loose your country?”

Het ons die oorlog gewen?   Ek dink aan n senior ou in die Panster afdeling wat op n heuwel nie ver van Lauanda die hoofstad van Angola, gestaan het.  Hulle het net gewag vir n bevel dan sou hulle Luanda binne n dag oorrompel het. Toe kom n boodskap; draai terug. Verbeel die ou  het gesê van Pik Botha, toe na die Generaals en toe na hulle. Draai terug en kom huistoe.

Het ons die land verloor?  Ek weet nie, soms voel dit vir my so. Soms voel ek nee, ons gaan redelik aan hier. Dis anders nou, maar  daar voor in die wapad brand n lig.

n Land kan sy mense verloor, ja, want mense kom en gaan maar op hierdie aardbol.

Maar jy kan nie n land verloor nie, nee, die Soutpansberg, die Drakensberge, die Vrystaatse vlaktes, ou Tafelberg, die riviere en en die damme. Hulle is sterk en geduldig, hulle sal altyd daar wees. Die land sal altyd daar wees, dis maar net ons mensies wat soms hier kom rammetjie uitnek raak.

Gelukkig net vir kort rukkies, dan maak die land jou weer  mak of dood.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Longbesmette ou myner en vandag se hemel kaartjies.

Februarie 12, 2011 in Sonder kategorie

Eintlik wou ek my ou vriend wat jare vir die goudmyne gewerk het, net n bietjie terg, toe ontaard die ding.

Loop omtrent toe so:

Ek: Het jy gesien Zuma sê ons gaan in die hel brand, want ons het die verkeerde tickets?”

Myner: Sy hele militêre moer man, hy sê daar gaan n ATM wees en jou moet jou ANC kaart indruk om die poorte oop te maak, hy die antichris, hy……”

Toe begin hy te hoes van die longprobleem, maar hy kry dit onder beheer en vat eers n paar suie aan sy Lextington.

Myner:  Hy gaan brand man, hy spot met ons geloof. kind van satan is hy.

Ek: Maar Steve, kan jy onthou in matriek toe die minister ons kom toespreek het by die skool. Toe hy gesê het ons is Christelik Nasionaal, want ons behoort aan die Nasionale Party en ons gaan volgende jaar veg teen die rooigevaar, die antichristene. Dat ons met trots kan veg  teen die sataniese magte wat as antichristene gedoem is tot die hel.  Ons pad boontoe is oop, want ons veg vir die Nasionale Party en n Nasionale Vaderland. Ou PW, ou Pik en ou Magnus het maar byna dieselfde ding gesê as Zuma.  Die regte ticket maak jou pad oop.

Myner, verskriklik opgewonde: Maar jy is bedonnerd in jou kop, man. Sê jy nou Zuma is reg?

Ek: Nee, my ou vriend, hy is hopeloos verkeerd, net soos die vorige ouens ook, almal hopeloos verkeerd. Jy koop nie toegang tot die hemel met n politieke lidmaatskap kaartjie nie.

Ons sit op sy agterstoep, ons wag vir die stronke om kole te maak, ons gaan snoek braai en ons drink Black Label bier.

Myner: Net gedink jy raak nou af.

Ons sit vir die vlamme van die stronke en kyk.

Myner: Ons dag kom nader Toppie, word snags baie benoud. Kom sit dan hier buite en dink, wil nie die vrou pla. Dokter sê die een long is plat. Ons tyd kom.

Ek wou hom nog vra om die verdomde Lextingtons te los. toe sien ek hy koop nou pakkies tien, die klein pakkie.

Toe los ek hom en ons gesels oor sy rooi Cortina Big Six wat hy destyds daar in Welkom gehad het. Die vinnigste kar in die Goudveld. 

Hy praat aanmekaar en het nie een keer weer gehoes nie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Daar staan n pou wat pronk en pik.

Februarie 10, 2011 in Sonder kategorie

My oudste suster is  heelwat ouer as ek en woon al drie jaar in Pretoria waar sy en haar man in die veilige omgewing

van n meenthuiskompleks gaan aftree het. Die plaas word verhuur maar hulle het die woonhuis uitgehou. Sy het drie poue gehad en soms het sy in die ou dae  onder die reuse ou stinkhoutboom wat sy self donkiejare gelede in die tuin geplant het op die bankie gaan sit om mieliegruis en sonneblompitte te voer aan almal wat lus was daarvoor.

Die poue was gereelde besoekers en wanneer hy dikgevreet was het die pragtige mannitjie pou sy stertvere oopgesprei en vir ons gepronk. Sommer net uit vertoon en lewenslustigheid. Dis seker een van die mooiste tonele wat n mens kan

gadeslaan.

Verlede naweek besoek hulle die plaas, haar man is doenig in die huis en sy gaan sit onder die boom. Sy dink aan die poue

wat altyd saam met die ander tuinvoels kom vreet het. Skielik hoor sy die gefladder van swaar vlerke in die lug. Bo-oor

die veiligheidsomheining kom die mannetjie pou gevlieg en land kort voor haar. Hy staan n tree nader en bekyk haar

van bo tot onder, hy draai sy kop eintlik skuins soos hy haar bekyk. Toe is hy seker wie dit is en daar begin hy vir haar te pronk. Hy sprei sy kleurvolle stertvere wyd oop en trippel op en af reg voor haar. Vir twintig minute lank.

Sy staan op, want sy het niks kos by haar nie. Sy vra hom mooi om net n wyle te wag sy gaan  in die huis

kyk vir iets, al is dit  net meel of  n paar stukkies brood. As sy terugkom met die kos, is hy reeds weg, vir drie jaar het die plaaswerkers hom net van ver af gesien. Vandag was hy hier, en hy het vir haar kom pronk.

Sy bel my daar van die bankie af, sy is hartseer en opgewonde , alles tegelyk.

” Hy staan daar en pronk, wys vir my hoe mooi hy is en hoe lief  hy vir my is, hy pik self soms na denkbeeldige kossies op die gras, hy onthou my en hy kom groet my,”  vertel sy  uitasem.

Na n rukkie wil sy weet of ek dink die pou is kwaad vir haar omdat hulle weg is van die plaas.

” Nee, Ousus, ” se ek,” ek dink hy het net kom se hy vergewe jou, en dat hy verstaan, en dat hy wil he jy moet nou

ophou skuldig voel oor die wegtrekkery van die plaas.”

Ek moet leer om n wagter voor my mond te sit, want toe huil Ousus.

    

Profile photo of ou-top

by ou-top

Izak de Villiers skryf so mooi oor ons demokrasie en ons gesonde grondwet.

Februarie 5, 2011 in Sonder kategorie

Ek skep amper moed vir ons land toe ek gister Izak se stuk lees. Het eintlik gegaan oor hoekom vrouens minder verdien as mans vir dieselfde werk. Izak het waardering vir ons nuwe demokratiese land en ons grondwet wat almal gelyk stel.  Ek ook.

Maar iets pla my die hele nag , dis alles waar en mooi, maar hoekom voel ek steeds onrustig? Vanoggend het ek die antwoord vir myself gekry.

n Werklik demokratiese land is n land waar  indien een party die verkiesing sou verloor, die ander partye dit dadelik so sal aanvaar.

Nou kan ek met die beste wil in die wereld nie sien hoe die ANC dit sal aanvaar as Helen Zille of Buthelezi die verkiesing sou wen nie. Dit sal hier dan  veel erger gaan  as in Egipte of in Zimbabwe .

Op papier lyk alles dus goed en wel, maar miskien het ons inderdaad slegs n skyn demokrasie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Genadedood? Ek pas dit al jare toe.

Februarie 4, 2011 in Sonder kategorie

As jy lief is vir honde en jy is oor sestig jaar oud dan het jy al minstens vier honde uit liefde vermoor, want n hond word net so 15 jaar oud. As jy altyd soos ek twee honde op n slag gehad het, dan staan staan jy al aangekla van 8 moorde.

Jy sien, n ou hond besluit nie sommer net een oggend hy is nou oud genoeg en slaan morsdood neer nie. Nee, hy begin eers lam in sy agterlyf word van die rumatiek, dan begin hy doof word en dan begin hy blind word. Op die ou end word hy bedags op sy matjie uitgedra om in die sonnetjie te gaan lê;  en dan kan hy daar soms verskriklik aan die huil gaan oor sy pyn en oor sy lewe.

Almal kry hom jammer en op n dag sê die veearts, nee, julle moor hom nou, sit julle R300 neer en ek sit hom uit. My eerste een was n massiewe Great Dane, ou Duke. Ek was toe so vyftien jaar oud. Pa, wou hom skiet en ek wou mal word, het tot die patrone weggesteek. Toe ou Duke op die huil stadium kom het ons hom veearts toe gevat, die veearts was sommer kwaad vir my, ek laat dan die arme hond so ly. Hy spuit vir Duke, ek staan en huil en vryf hom op sy blad. Ek praat met hom, hy vertrou my, sy groot bruin oë kyk my vas aan. Tot hy dood is. Nooit, ooit weer sal ek dit doen nie. Dit vat te lank, Pa was reg, skiet hom in die kop, n split sekond en hy is dood.  Wreed, maar beter en vinniger as gif.

Ek weet nie wat ek eendag vir ou Duke gaan sê as ek hom weer moet raakloop nie. Ek weet wat hy vir my gaan sê;

“‘ Jou klein donder, jy lok my met klein stukkies biltong daar by die dokter in. jy praat my moed in, jy vryf my lyf en ek lê daar en dink, Outoppie gaan my nou, nou hier uit kry en dan ons gaan huis toe. Toe laat jy hulle my voor jou oë doodmaak. Jou klein bliksem.”

Die ander wat ek geskiet het sal ek net voor sê: Man jy was” flatout” agter n springhaas aan toe hol jy teen n boomstam vas.

Nee, ek sal  ou Duke se oë  nooit vergeet nie, hy het my tot aan die einde toe vertou, en ek het vir hom gelieg.