Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Eienaardige voorval by die kasregister.

Januarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Dag voor Nuwejaar moet ek n laaste dingetjie gaan koop by ons woonbuurt supermark. Dis ekstra besig, ek het n fris man van so veertig twee keer in die gange gehelp om iets te vind, jy kon sien hy is nie gewoond aan inkopies met n trollie doen nie, ongeduldig wanneer hy nie die goed kan vind nie. Hy is al effens geswaai en praat- mompel so met homself.

” Nie hompe kaas nie, plat stukkies in n plastieksakkie vir toebroodjie, wa die moer is dit.” Sy vingers dartel oor aldie kase in die rak. Ek wys hom. “Thanks, uncle, vroumense is vol fiemies, kyk hierie lys.” Hy waai n hele bladsy voor my neus.

Ek kry hom later by die beskuitjies se rak. Hy soek die plat Joodse broodjies, sulke harde dun goedjies in n pakkie, smaaklose goed. Hy mompel en kry dit nie, hy praat al harder met homself en skiet amper n koronêr, ek wys hom toe die goed. “Thanks, uncle.” Teen die spoed wat hy vind en laai moes hy seker al n uur voor my daar gewees het, sy trollie is darem nou vol. Hy is voor my by die betaalpunt. Hy kyk op sy horlosie en praat nou aanmekaar kliphard met homself. Meestal oor sy kwaai vrou en oor sy tjomas wat vir hom wag. Ek maak uit dat sy skoonma daar kuier, en dat hy laat is vir n vinnige paar doppe saam met sy vriende  by n afgesproke punt wat beslis nie by sy huis is nie.

Die kasregister word beman deur n jong swart vrou met n breê glimlag, sy werk al lank daar, altyd vinnig en vriendelik, die mooiste paar tande in die Vrystaat.

Terwyl hy wag vir die persoon voor hom, praat hy aanmekaar.

” Sy kon die goed gister al self kom koop het, maar nee, sy wil my vandag treiter want sy weet ek moet Hunters toe. En die ou heks eet net sekere kossies vir haar maagseer. Nee, hulle weet.”

Dis nou sy beurt. Hy pak die goed op die toonbank, praat nou eers lekker.

” Kyk hier, nie gewone mushrooms nie, fokken gesniperde mushrooms in n blikkie moet dit wees. Nie groen kool nie, nee hierdie donderse rooi Russiese kool moet dit wees. Hulle maak my mal Lerato, hulle is heeltemaal bedonnerd.”

Die meisie lag net, sy is lenig en aantreklik, werk so vinnig as moontlik. Van die ander mense begin nou notisie neem.

” Ek moet ek vir my eerder n swart vrou kry, Lerato. Soos jy. Daan by die werk het een gevat na sy vrou hom gelos het. Julle het geen moeilikheid nie. Luister vir n man. Ja, Daan sê sy maak sing, sing kos, voer die honde, was die wasgoed doen alles asof dit n speletjie is.  Doen shopping en die huis blink. Nee, ek moet ook n plan maak. Het jy n man Lerato?”

Die meisie lag verleë. Die ander swart meisie by die kasregister langsaan, giggel oonbedaard. Die vloerbestuurder, ook n swart vrou,  staan nader. Mense daar rond klik tonge, een vrou sê kliphard” dronkgat”. Die vloerbestuurder kyk laggend na die bestuurder daar waar hy by die sigarettoonbank staan . Hy staan nader.

” Julle is baie beter vir n man, met min dinge tevrede, baklei nooit, hardwerkend en luister vir n man. My vrou baklei elke dag, en haar Ma help haar, ek moet gedurig spring, dan hier dan haar. Sy is lui, sy en haar Ma, en die ousie het af, nou is hulle eers moeilik.  Nee ek kry swaar, man,  kyk hoe suffer ek hier op die ou jaar. Almal hou party en ek suffer.”

Ek begin ook nou te lag.

Ons lag nou almal daar, swart en wit.

Maar ek sit nou hier en dink, ons volkie vorentoe. Hoeveel sulke ouens is daar, is ons wit vrouens lui? Ek weet nie, ek vertel maar net wat ek gesien en gehoor het en ek wonder.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Is my pad vorentoe dan uitgekap?

Januarie 22, 2011 in Sonder kategorie

Nee, ek glo nie daaraan nie, want dan sal ek vrek van depressie. Pruimtwak het nou die dag hiervan gepraat. Dat daar so n begrip onder sekere nasies en gelowe bestaan, is waar. Dat alles wat gebeur reeds in die groet boek geskryf staan, jy kan niks daaraan doen nie, aanvaar dit maar net so en gaan aan.

Ek kan nie, ek wil nie, ek glo ek kan myself en my lewe verander as ek wil. Ek kan slegter word as ek wil of ek kan beter word as ek wil. God het my as mens keusus gegee. Indien nie, dan is ek maar net n zombi.

Jare gelede het ek as negentienjarige in n peleton gestaan terwyl n hardegat korporaal ons welkom heet by 1 Valskermbataljon. Sy weerbarstige toespraak, met hier en daar n vloekwoord in, kan ek tot vandag toe onthou. Een van sy sinne was as volg.

” Ek kan eerste minister word as ek wil, ek kan John Vorster se werk doen as ek wil, dis alles in jou hart, jy moet die hart en die wil daarvoor hê. Jy kan enigiets word, n snydokter of n boemelaar, n slapgat of n soldaat. Hier ruk ons vir jou uit jy slapgat lewetjie uit. Ons soek manne met harte hier op die Rooiplaas.”

Ja, sy naam was Korporaal At Schoeman, en ek dink hy het sy loopbaan as Bigadier ge-eindig.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die dronk siel van n mens.

Januarie 17, 2011 in Sonder kategorie

Ek werk kliphard en loop te veel, kry pyn en gaan stop op die verste parkering by die waterfrornt, amper teen die water. Ek het n bottel water en wil n pynpill sluk en so rukkie daar sit en kyk na die bleshoenders en die ganse.

Kom die wit boemelaar so koes. koes nader. Hy is vuil, verniel en stink na sweet en ou suur wyn.

” More Meneer, as Meneer my sal verskoon, soek net ietsie om my kop reg te maak, as Meneer dit kan spaar.

Wel hy is darem eerlik, dink ek, lyk nog half geswaai van die naweek. was baie plattelanders in die stad met die skole en technicons wat begin het.  Dit lyk of daar op sy neus n hele paar uitgeteerde blou erdwurms wriemel. Sy ouderdom skat ek enigiets tussen dertig en vyf en sestig.

Ek moet iets eet voor ek die pil drink anders word ek effens naar. Ek gee hom vyftig rand en sê hy moet oor die straat na Checkers gaan, ek soek een bruinbrood en n liter Amazi.

” Kom Meneer van plaas af? Hier drink geen witmens Amazi nie, dis mos suurmelk. Ek ken hom van die plaas se dae af.

” Ja, man ek drink hom vir my maag,” antwoord ek.

“Kan ek n ietsie vir my kry?”, wil hy weet.

“Ja ” sê ek” n meatpie of n dop, jy besluit maar self, glo nie daar is genoeg vir altwee nie.”.

Binne minute is hy terug, hy lyk sommer springlewendig. Het twee brode gekoop en n skroefprop wyn, so groen bottel.

Ek klim uit en sit op die reling naby die water. Eet n sny bruinbrood en sluk my pil met die suurmelk af. Ek gee vir hom en sê hy moet eers eet voor hy suip, dis gesonde kos.

“Nee, ” sê hy,” eers n apperitif, dan eet, ons het mos maniere.”

Hy vat twee slukke, skroef die bottel toe en sit hom versigtig neer daar op die gras. Verstommend hoe slordig boemelaars met alles anders is, maar met hul drank, die behandel hulle soos porselein. Ook snaaks hoe vinnig die drank hom vang. Sy tong is binne sekondes los soos die van n slim pappegaai.

Ek waarsku hom om nie verder te drink nie en dit te bere vir later.

” Ag nee wat, Meneer, as hy klaar is gaan ek daar onder die riete by die bruggie lê en slaap, tot ou Slapoog kom, hy is hier af na sy spot by die Munispaliteit se gebou. Goeie spot daardie.”

Alle boemelaars lieg vir simpatie, en almal begin dadelik vertel, veral na n sluk wyn.

” Was nie altyd so sleg nie Meneer, was n ingeneur in Joburg gewees, ook innie Weermag, in die bos baklei ook.”

Ek loer vir hom, “Ag stront man, jy weet nie eers wat is n windbuks nie, wat van bosoorlog.”

Hy raak so ontsteld, hy verstik aa die wyn.

” Ek?”, skreeu hy amper, ” ek was n parabat man, ek het uit donderse vliegtuie gespring man,  met n fokken LMG man, ek…ek…. ag wat weet jy, kom koop n dop vir my en dink ek is n faktap dronkgat. Ek is sleg, maar nie altyd nie, nie van altyd af nie, Meneer.”

” As jy n parabat was, sê my wat se ding is n marble en wat se ding is n aapkas?” vra ek hom.

Hy is skielik doodernstig en lyk skoon nugter. Hy kom nader en gryp my aan die arm.

“Meneer, was jy op die Rooiplaas?”

Ek sê ja.

Hy sit die wyn neer en kom flink regop. Hy staan met sy regterhand so oor sy maag, beskermend oor sy noodvalskerm. Sy linkerhand geklem om die tou waarmme sy valskerm aan die vliegtuig gekoppel is.

“n Dakota Meneer, Peppie van Zyl met sy rooi snor stuur ons af, jak twee, jak twee, jak twee, groen lig aan, staan in die deur, spring.” En hy spring, slaan op die gras neer en bly net daar lê, ek dog hy het homseld seergemaak en staan nader.  toe hoor ek  hy  lê daar  en huil.

” Sersant Soppies  ou tjomma,  Sarge Kruger, Jakes, Pottie waar is julle manne. Almal vrek man, vir wat.  Fok julle man, fok julle almal.”

Hy kom op sy hurke,

” Jy ook man,  julle is almal dieselfde, vat jou ou Camry en fokof.”

Ek kyk maar na hom, ek moes nie die wyn gekoop het nie, soms is ek dom.

” Troep”, skreeu ek so hard as wat ek kan,” gedra jou soos n parabat man, jy is nie n pantser of n blerrie voetsoldaat nie. Jy is van die Rooiplaas, vasbyt, vasbyt, vasbyt.”

Hy begin saam te sing. n Sekuriteitswag kom vra of die man my pla, ek se nee, ons praat oor die ou dae, die ou dae waarvan niemand meer weet nie.

Ons is okay.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Gesprek met n baie ryk ou man.

Januarie 12, 2011 in Sonder kategorie

Ek kry met hom die doen uit die aard van my werk en ons raak vriende. Hy is 82 jaar oud en het die afgelope jaar sy vrou, sy enigste broer en n seun afgestaan aan die dood. Ons sit maar net daar in sy sitkamer en tee drink met outydse gemmerkoekies wat sy dogter vir hom gebak het en in n pakkie van Kanada vir hom aangestuur het. Hy was besig om daardie boek Die Groot Gedagte van Gideon Joubert te lees en hy sit sy leesbril terug in n ou brilkassie, van daai wat so klap as jy hom toemaak.

Die man is uiters welgesteld, daar is ou huise, ou plase, ou woonstelblokke, ou fabrieksgeboue en miljoene se kontant op beleggings by banke en ander instansies. Die koffietafel is van Rhodesian Teak gemaak en as jy hom wil skuif moet jy met krag vat so swaar is hy. Ons gesels maar so oor die lewe en alledaagse dingetjies.

Oom: Ons moet almal doodgaan, maar dit was bietjie vinnig en n bietjie baie op n slag. Jy weet, ek is half oor die hartseer, daar is te veel mooi dinge om te onthou. Maar ek voel alleen man, dis die alleengeit wat n man vang. Die kinders en kleinkinders het hulle eie dinge en is besig. n Man wil ook nie pla nie. Ek bel ou vriende dan kan hulle my nie onthou nie, Alzheimers is besig om hul op te vreet. Of soos ou Freek, lê al ses maande in die hospitaal en krimp weg. Maar hier sit ek en ek wil nog roer, wil n spekulasie huisie bou daar op Brenton on Sea. Eienaar bouer speel, wil volgende week afgaan as die vakansiegangers pad gevat het. Die alleenheid man, dis maar al, verder is ek OK.

Ek admireer hierdie man, hy het my geskakel om n tjek vir die liefdadigheidswerk van ons kerk te kom haal.

Oom. Jy weet Toppie, ek lees hier oor die nietigheid van die mens. Dis maar geboorte, werk vir n bestaan en dan die dood. Dis maar die pad wat elke mens loop, sien. My broer was n baie slim man, mediese dokter en later spesialis geword. Eendag het hy vir my gesê dat elke baba gebore word met sy vuisies geklem, hy gryp na dinge en wil dit houvas, dit sy eie maak. ook het hy gesien as n ou mens sterf, dan maak sy hande oop asof hy alles laat los, hy gee alles weer net so terug wat God hom geleen het. My broer was ook so, ses maande voor sy dood het sy hande al oopgegaan, ek het dit gesien en ek het met hom baklei daaroor, maar hy het amper alles in daardie ses maande weggegee, vir kinders vir kleinkinders vir liefdadigheid. Hy  het geweet hy gaan sterf en sy palms het ses maande voor sy dood al begin oopgaan. Ai, man ek mis die ou darem baie, enigste broer gewees. Kyk daar is twee susters, maar n broer is n ander ding.

Hy praat niks oor sy vrou en seun se afsterwe nie, en ek weet hoekom, dis nog te seer, soms skuif hy die twee fotos van sy vrou en seun op die kassie naby hom effens rond, so asof hulle nie mooi reg staan nie. Hy en sy vrou staan by rotse, die see is in die agtergrond, sy het n bloedrooi serpie aan. Die foto van sy seun is op n boot op die Knysna lagoon, seun was toe so twaalf jaar oud, sy arm is om sy Pa se lyf. Die ou man se oë dwaal kort, kort na die fotos.

Oom: n Man het baie om dankbaar voor te wees. Nie dat ek nog gespaar is nie, daarmee het ek geen probleem nie, maar vir die goeie lewe wat ons gehad het. Ek en Trix.

Toe haal hy die koevert uit en gee dit vir my, ek kan sien hy is aangedaan. Ek groet en gaan. Hy maak of hy die potplante water gee, maar hy het vergeet die plastiek kannetjie is leeg, hy kom dit nie agter nie.

Ek vermoed hy dink aan Trix.

Ek lewer die koevert af en was skaars terug by die huis toe bel ons dominee. Hy is bekommerd.

” Ons kan nie hierdie geskenk aanvaar nie. het jy self met die man gepraat?  Dis te veel, is hy by sy volle positiewe.?”

Vat hom dominee, sê ek vir hom, die man se verstand is tien keer beter as ek en jy se koppe saam. Moet nie n wyse ryk ou man aan sy gesig vat nie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Kramp in die gat.

Januarie 11, 2011 in Sonder kategorie

Verlangs familie van my se seun verhuis met sy gesin van Johannesburg na Bloemfontein. Ek moet saam met hulle gaan huise kyk omdat ek die wereld hier ken en hulle ouers wil nie hê die kinders moet ingeloop word nie. Die eiendomsagent is n pragtige, vlytige jong dame wat ons n huis in n natuurreservaat hier teen die stad gaan wys. Dis eksklusief, die pryse beslis ook.

Nou kom ons by die huis aan en die eienaars is van daardie hoogvaardige, baie beter as jy, soort van mense. Op die koffietafel lê drie groot hardeband boeke, oor tuinbou, watervalle en een met pragtige fotos van die natuurlewe in die Krugerwildtuin. Ek dog nogal, maar dis mooi van hulle miskien het ek te gou ge-oordeel, die mense is wel belese en stel belang in die natuur. Toe sê die vrou van die huis met haar dun lippies. ” En hier is nog n diensklokke in die biljard kamer.”

Dis die vierde diensklokkie in die huis. Sy het ons nog n paar klokkies daarna ook gewys. Die vrou is behep met diensklokkies. Ek wonder stilweg hoe die huisbediende dit hier hou met al die klokkies wat gelui kan word. Sy gaan beslis nie n oorgewig  amakeia tipe wees nie. Dit lyk of hier gedraf kan word.

Vrou van die huis: En hier onder ons voete is die wynkelder, nie dat ou manlief juis n drinker is nie. Ons beskou die versameling eerder as n belegging.

Die wynkelder  is groter as my huis se sitkamer. Volgepak met horisontale bottels wyn.

Vrou : En hierdie is die binnebraai vertrek vir daardie koue, winderige dae. n Baie gesellige ou vertrekkie. Dan kan die skuifdeure ge-open word na die oop lapa vir daardie warm somerdae. O, en u self merk dat die swembad geverf is met n donkerkleurige swamdodende middel.

My donder, ek het nog nooit n  swembad met n swart bodem en kante gesien nie, ek dog eers hul boer met platannas daar.

Die man sluit nou by ons aan, hy het met n siwerkleurige BMW 4×4  hier aangekom.

In die gang sien ek vier of vyf van ou Vader Klaerhout se se kaalgat Sothovrou sketse. Die vrou verduidelik dat hulle dit ook as n baie goeie belegging beskou, veral nou dat ou Klaerhou gesterwe het.

Ons is bo op n enorme balkon, het sy eie kroegie, dakkie en pragtige houtmeubels en n borrelbad.

Man van die huis: En van hier kan jy die wild dophou teen sononder of vroeg in die oggend. Kyk daar, hier reg voor die huis, daar stap n steenbokkie.

Ek kyk na die man, is hy dan blind, dis n duiker rammetjie wat daar stap.

Man: En kyk daar teen die bome, dis die Impala ram.

Ek kyk weer na hom, dis n Tsessebi wat daar staan.

Hier kom die plankdun  bediende vlytig ingedraf  met n skinkbord tee. Sy groet beleefd in Engels. Daar is vier soorte suikerpotjies. Wit, bruin en wit met reën boog kristalle daarin. Ook n potjie met suikerpille.  As sy verdwyn sê die vrou.

” Sy is van Zimbabwe, het haar eie kamer hier, hulle werk baie harder vir baie minder geld as ons eie volkies.

My fok tog.

Die mense praat n ander soort Afrikaans vir my, hulle siening en gedagtes is vreemd vir my. Hulle is baie welgesteld en hulle gooi gedurig sulke fyn skimpies oor n huisie of twee by die see, n onlangse trip na die Ooste en n bellegging in die ontwikkeling van n golflandgoed in die Laeveld. Hulle wil jou goed laat verstaan met wie jy hier te doen het. Jy moet nie dink hulle het dalk geld nodig nie.

Net toe dit vir my voel ek gaan n kramp kry, toe is ons klaar. In die motor sê my familie sê seun vir ons.

” Oom Toppie, dit was een moerse steenbok daardie, bietjie vaal, maar n moerse steenbok. En daai Impala ram is beslis op steriods.”

Ek wonder oor daai borrelbad op die boonste dek met die skuifdeure van die hoofslaapkamer wat daarop uitloop. Sou die deftige en stemmige kultuurvrou nie dalk op n warm somersaand haarself kaal  uittrek en die ou man uitsleep na die borrellende water toe nie. Met koggellende impalas en duikers in die agtergrond .

Ek wonder oor hierdie soort van mense.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Stroewe stoere nasie, die Afrikaners.

Januarie 9, 2011 in Sonder kategorie

Die Afrikaner man is n stroewe mens, hard, ongenaakbaar en hy word grootgemaak met die begrip dat n man nooit mag huil nie, bitter min moet lag en homself nie mag ophou met enige ligsinnigheid nie. Sy gesin moet hy met n ysterhand regeer en sy woord is die wet. Grappies en lawwigheid moet gelos word vir vroumense en kinders. Sy emosies moet hy vir homself hou, hy moet n ware man wees. Sterk en standvastig.

Toe is ek gister op n troue en n stokou omie kry n spreekbeurt van twee minute lank: hy moet n boodskappie oor die getroude lewe vir die bruidegom gee.

Hy sê:

Verlede week was ek by n ou vriend van my daar in die Oos Kaap, sy vrou het gesterf en ons hou begrafnis. By die graf is my ou vriend verskriklik hartseer. Almal is naderhand weg, net ek en hy en dominee staan nog daar langs die graf van sy vrou. My ou vriend was n baie sterk soort mens, liggaamlik en geestelik. n Ware man onder die manne. Dis die eerste keer in my lewe dat ek hom sien huil.

 Hy sê vir dominee:  Ek was verskriklik lief vir haar, dominee.

Dominee: Ons weet dit almal, broer, jy was goed vir haar. Vyftig jaar getroud. Nee, jy was goed vir haar.

My ou vriend raak nou onbedaarlik aan die snik en hy gryp dominee se arm vas.

Vriend:  Ek was werklik baie lief vir haar….. en weet dominee, ……….ek het dit  eendag  amper vir haar gesê.

Ons moet verander, die Here weet, ons moet verander.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Moet nooit vir n Nerd sê hy is n Pateet nie.

Januarie 8, 2011 in Sonder kategorie

Op 37 jaar oud bly hy nog by sy Ma, hy is ongetroud, het n goeie werk en is baie saggeaard. Hy bring sy tyd om met boeke en computors. Hy is lank en maer, bleek en het n bossiekop vir hare. Ek hoor die jonges sê hy is n nerd. Sy Ma is ons vriendin en sy is hier voor Dingaansdag weg see toe saam met haar ander seun. Die twee singende geel kanaries het sy by die nerd gelos, hy moet die huis en die kanaries oppas tot sy terugkom. Die kanaries is haar lieflingkindertjies.

Kom ons sê die nerd se naam is Pietertjie. Hy pas die huis mooi op, maar die dag na Krismis bel hy sewe uur die oggend. Hy hakkel skoon van ontsteltenis.

Pietertjie: Oom Toppie jy moet kom, hier is moord en doodslag by die huis!

Ek jaag soontoe. In die kanaraie hok wat hy laasnag buite op n tafel van die oop stoep vergeet het, lê net vier puntjies van die vlerkies en ook vier pienk pooitjies. As ek hy is sal ek emigreer voor sy Ma terugkom, sy kan nogal moeilik raak. Hy oorweeg dit sterk, en toe sê ek die verkeerde ding.

Ek: Heerlikheid Pietertjie, jy kan soms so pateties wees. Jou Ma gaan haar of dood huil of sy gaan vir jou dood bliksem.

Hy staar na my en ek kon presies die oomblik bepaal toe hy verander het na n wreedaardige monster.

In n ysige stem vra hy of Oom George op vakansie is. Ek se nee. Hy vat oom George se selfoonnmmer. George  was n fitter en turner by die ou Spoorweë, hy kan enigsites van yster maak.

Twee dae na nuwe jaar bel Pietertjie my, ek moet kom, hy het die kwaaddoener.

George het vir hom n vanghok gemaak. Binne die hok het Pietertjie n vars stuk snoek van Captain Dorego vasgebind. Die kat is in en die valdeur het agter hom toegeslaan.

Ek sien nie die hok daar op die stoep nie, Pietertjie is besig met sy derde Windhoek Lite.

Ek: Maar waar is die blikslaer nou?

Pietertjie: Ek was so kwaad vir hom Oom, toe gryp ek die hok om hom grasperk toe te dra, toe krap die bliksem my deur die tralies. Toe bind ek die grassnyer se elektriese kabel aan die hok, toe sleep ek hom uit tot op die gras. Hy grom en sis aanmekaar vir my. Ek wou hom kalmeer met n dispirin en melk om hom SPCA toe te vat. Dis n groot grou kat vol luise en goed.

Hy vat nog n sluk Windhoek Lite.

Pietertjie: Toe sien ek die swembad hier agter my en ek sleep die hok so skuins oor die hoek tot dit in die water val. Toe gaan haal ek na paar biere uit die yskas Toe ek weer hier kom toe is hy stil in sy hok daar op die bodem.

In n netjiese seephouerkassie, mooi uitgevoer met wattetjies, lê die vlerkies en die pote. Vir sy Ma om te begrawe, sê hy.

Pietertjie: Ek het nie die moed om hom uit te trek nie. Oom.  Ek gril as ek dink wat ek gedoen het. Ek kan nie glo hoe maklik dit was om n kat te vermoor nie. Ek is nou skoon naar. Ek dink ek gaan kots.

Ek sien hoe sy hande bewe as hy die bierbottel neersit.

Ek maak vir hom nog een oop en vir myself ook een.

” Pieter”,  sê ek vir hom, “soms moet n man doen wat jy moet doen, soms is dit die regte ding en soms is dit die verkeerde ding.

 Maar ek dink in hierdie geval bly dit n geheim tussen ons twee, dis beter so. Miskien moet ek en jy more petshop toe gaan, jy weet jou Ma se oë is ook nie meer wat dit was nie.”

So begin ek alweer die nuwe jaar as n sondaar.