Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Hoekom maak vroumense hulle so mooi?

Desember 26, 2010 in Sonder kategorie

Hier van 15 of 16 jaar oud begin meisiekinders hulleself mooier maak as wat hulle is. Blink hare, maskara om die ogies, geplukte wenkbroue, roompies en ander goedjies op die gesig, rooi lippies, gaatjies deur die ore en die naeltjie. Blink goedjies wat oral hang. Beenhare skeer en rooi toontjies. Hierdie proses gaan aanhou tot die dag van hul dood.

Hulle wil mooi lyk. Vir wat? Daar is seker n duisend antwoorde:  vir my man,  vir my boyfriend, vir ander mans as ek nog nie een het nie, net om ander vrouens te wys dat ek mooier as hulle is, of om vir haarself in die spieël mooi te lyk en goed te voel. Ja, daar is baie redes.

Toe lees ek in n koerant hierdie artikel van n vroue joernalis,  haar van is Spoormaker, n pragtige blondekop meisiekind. Sy skryf oor die jaarlikse kompetisie vir etniese danse daar in die Paarl. Glo elke Desember en duisende mense kom elke jaar kyk. Een van die dansgroepies is daar van die verrimplede ou vrou wat n paar jaar gelede op TV ” Lekker ou Jan”. so lekker gesing het. Namakwalanders wat n eiesoortige maar lekker manier het van Afrikaans praat.

Spoorman skryf daar was so n oulike, mooi danseressie van die groep wat sy na die tyd opgespoor het. Sy dra n bloedrooi en baie kort miniskirt. In die kompetisie het sy en haar groepie lang tradisionele rokke met lappies hoedens gedra. Hulle het onder andere die “Riel” gedans.

Vra Spoorman haar uit oor die kort miniskirt wat sy nou aan het. Sê die mooi meisiekind met net so groot glimlag vir haar.

” Nee, ek dra hom so kort want ek wil kyk wat gaan van my word!”

Wragtag, hier kom die waarheid nou uit die mond van n ongekunstelde meisiekind doer uit die klipwêreld langs die Oranjerivier.

Laatlam is ook maar so, wil vir haar hierdie skrywe gee vir Nuwejaar.

Profile photo of ou-top

by ou-top

My grootste vrees kom in die nag.

Desember 24, 2010 in Sonder kategorie

My vrou het twee dvd’s oor die geboorte van Jesus en sy kruisiging. ” Jesus of Nasareth”.  Elke jaar op ou Kersdag kyk en sy en wie ook al by ons is daarna. Vir n tyd daarna kry ek altyd hierdie groot vrees in my slaap, n nagmerrie.

Hy het gekom om ons te laat besin en om ons vergifnis te bied. Hy sou sterf vir ons sondes. Dan droom ek Jesus kom weer aarde toe en ek kan sien en ek weet ons mense gaan hom weer doodmaak. Dan probeer ek daar uitkom om te keer. Ek droom duidelik hoe ek my geweer gryp en patrone in my sak druk, ek gryp n jagmes, soms ander wapens ook, want ek weet ek kan goed baklei, ek skiet raak, ek kan klipgooi ek kan messteek en skop en slaan. Maar ek kom altyd te laat daar aan,Hy hang reeds aan die kruis en ek slaan en skiet almal wat ek daar vind.

Elke jaar maak my vrou my wakker en wil weet wat skreeu ek so in my slaap. Ek lieg maar vir haar, want ek is n simpel trotse ou man. Ek sê maar dis van te veel kalkoen of gemmerbier of al die soetighede.

Maar ek is altyd te laat, en dit laat my skuldig voel. Wanhopig skuldig en natgesweet van al die baklei sal ek daar in die donker lê en dink. Dan onthou ek Sy woorde voordat hy opgevaar het na die hemel.

 Dat Hy ons nie alleen agterlaat nie, Hy stuur die Groot Trooster vir ons, die Heilige gees wat in ons sal woon. Dan bid ek daar in die donker vir die Groot Trooster, en dan slaap ek soos n babatjie.

Elke jaar, simpel ou man wat ek is.

Profile photo of ou-top

by ou-top

My beste Kersfees ooit.

Desember 24, 2010 in Sonder kategorie

Pa het daardie jaar n goeie mielie oes gehad en het besluit om die tradisionele kamp by die Vaalrivier oor Kersfees oop te gooi vir almal,  selfs vir die wat slegs verlangs familie is van hom. Ons sou sorg vir vuurmaakhout, water, veldstorte , longdrops en selfs tente vir die wat nie een gehad het nie. Ja en daar was n bees en n paar skape geslag wat opgesaag in vrieskaste bo by die opstal van die voorman gelê het, want ons het op n ander plaas gewoon. Pa was n stil en eensame mens, n natuurmens en n  diep denker, n regte ou filosoof.

Ons het gereken op so dertig of veertig mense, maar op Kersdag was dit my en my een suster se job om almal te tel, daar was 114 siele teenwoordig. Van oraloor het hulle gekom, in mooi karre en in karre wat skaars kon loop. By die reuse afdak wat bymekaarkomplek en sommer kombuis ook was, het hulle kom inboek en vir Pa kom dagsê en hy moes hulle kampplek uitwys onder reuse wag n bietjie bome, doringbome, wilgerbome en hier en daar n wit stinkhout boom. Die kersboom was n klomp lewendige blou-bos stamme van byna drie meter hoog.

Ek onthou hoe ons jong seuns gehelp het om tente op te slaan, hoe stadsgesinne dom rongeval het en dan uiteindelik as hulle blyplek klaar was, op hulle kampstoele gesit het en dan so rondom hulle gekyk het na kinders wat opgewonde rondskarrel en alles ondersoek het. Dan het daar vrede oor hulle gesigte gekom.

” Hier wil ek bly, hier is stilte en vrede,” het van die mans gesê.

Vlytige vrouens wat onder die afdak bymekaar kom en n kombuis inrig, goort bazaar opvou tafels. Lusernbale vir die kinders om op te sit. Twintig tienermeisies met John Deere kepsies wat aangestel is as polisie en lewensredders. n Foefie slide in die watersloot, n paar kanos, Pa se motorboot met n seun as skipper vir trips rivier op en rivier af. Die vuurmaakplek met roosters en groot swartpotte. Streepsakke vol groenmielies, waatlemoene onder nat goiingsakke, gemmerbier in vyf liter glasbottels in die koelkamer. Pa se generator wat sononder aangeskakel word vir ligte. Mense wat lag en gesels, visstokke in die water, almal is behulpsaam, samelewend, vrede op aarde. Gesinne wat op oopgevlekte komberse op die rivier se wal in die koelte sit.

Oom Schalk, die predikant wat oggend en aand dienste hou, mense wat psalms en kersliedere sing. Daar is iemand met n kitaar, nog een met n trekklavier, bekfluitjies en n saxofoon. Selfs n meisiekind wat die bokfluit kan bespeel.

Die oggend van Ou Kersdag kry ek vir Pa vyf uur die oggend op sy wilgerstomp teen die water. Die vroegopstaners, die kolganse en geelbek eende vlieg oor die water stroomaf. Die bosfisante skreeu onderkant die sloot, iewers kom die fyn roepgeluidjies van tarentale oor die water. Blou bosapies betrag ons van oorkant waar hulle in n doringboom sit.

Pa klop sy pyp uit teen die boom se stam.

” Jy weet my kind, hulle kom agteraf daar na my tent en dan vat hulle my hande so met albei hande vas, en hulle sê dankie vir my. Selfs daardie ryk ou neef van my, hy was gisteraand laat  daar by my. Hy het al vroeg vanoggend gery, hy sê hy gaan nog koeldrank en ys koop vir al die kinders en hy gaan n gas vrieskas koop. Die koelkamer is te klein.”

Ek kan sien my Pa is aangedaan. En hy was bang dat die mense nie die eenvoud sou kon hanteer nie.

n Jong vrou kom met haar seuntjie van so vyf jaar by  ons aansluit.

” More Oom, die kind wil nie meer slaap nie,  hy wil sy visstokie in die water kry. My man slaap nog soos n klip.”

Ek help die skaam grootoog seuntjie, kry sy hoek en aas in die water. Ek weet waar is die voerplek. Hy vang die eerste vissie in sy lewe. Hy en sy Ma storm met die vissie op na hul kamp om die Pa te gaan wys.

” Kom” sê Pa, “ons moet die vuur aan die gang kry, almal gaan vroeg n koppie koffie soek. Ek is self lus vir daai karringmekbeskuit wat die vrou van Wesselsbron saamgebring het.”

En Kersdag met n regte egte Krismisvader op n donkiekar, volgelaai met persente wat boom toe gaan. Klein kinders wat blinkoog en bangerig staar na my neef in sy krismisgewaad.

En Oom Schalck se preek en gebed daardie oggend, met die duiwe en die krismisvoël wat sing in die bos.

Ek is vandag so dankbaar ek kan nog onthou.

Ek het nou net Kammakazi se blog gelees oor wat Anon oor Kersfees sê. Dis pragtig en dis die gevoel wat ek

kry as ek so terugverlang. En nou speel my vrou nog Elvis se kersliedjie ” Little town of Bethlehem”.

Kersgroete aan almal van julle.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die geheime van kinders.

Desember 18, 2010 in Sonder kategorie

Skoolkinders kan geheime bewaar. Grootmense kan nie. Ons was nou net by n verjaarsdag teedrinkery by ou vriende van ons. Die man was op Greykollege op skool, dis n groterige skool hier in Bloemfontein. Hy vertel my n skoolgeheim wat elke Grey kannetjie glo weet. Ek was verstom en ek moet dit met iemand deel. Ek het dit nooit geweet nei.

Die Ou Oom:   Het jy geweet Robbie Leybrandt die rebel was op Grey Kollege op skool, ja hier in die laat dertigs. Hy het as jong man geboks en later medaljes op die Olimpiese spele in boks vir Suid Afrika gewen.

Ek: Ja, baie groot manne kom van Grey, kyk maar na die Springbokke in rugby of krieket, of in die sakewereld. Maar ek het wragtig nie geweet Robbie wat ons land vir Hitler wou oor vat was op Grey nie.

 Oom: Ja, maar hy was n boelie hoor, hy het maklik n man geneuk, selfs die onnies was maar skrikkerig vir hom. Ek het later jare met n oud Grey bevriend geraak, hy was die dag van hierdie voorval self daar, n ooggetuie. Hy en sy jonger boetie.

Ek: Wat het daar op Grey gebeur daardie dag?

Oom:   Nee hy wat Robbue is het met die verkeerde ou moeilikheid gesoek, en die outjie het hom lelik vervies en kans gesien vir Robbie. Soos blits het die woord versprei, ” Fight!!  Fight!! het dit oor die skoolgronde weergalm en almal wou kom kyk hoe slaan Robbie hierdie Joodse outjie uitmekaar uit.

Ek kan my ore nie glo nie, my bek hang oop en ek is bang die Oom wil nie verder gaan nie.

Oom: Nee, maar dit was n Boere- Jood hierdie, hulle het daar naby Tweespruit geboer. n seun van die plaas. Wat was sy van nou weer, ja Lurie, sy van was  Lurie, ek vergeet sy naam nou maar sy ouer broer se naam was Patat Lurie. Boere-Jode.

Ek: Wat maak maak Robbie toe met hom?

Oom :  Nee, Patat het my jare daarna vertel dat Robbie eerste en raak geslaan het, sy boetie het op sy alie geland. Toe word hy kwaad en hy slaan Robbie daarna vier keer plat. Dit was n wilde en woeste geveg met skreeuende en jillende seuns.

Ek: Goeie genade! n Jood? Vier keer plat? Die Nazi teen die Jood fight hier op die skoolgronde in Bloemfontein.

Oom: Ja, maar Robbie het elke keer opgestaan en weer baklei. Na die vierde keer, toe was Robbie al vol bloed en half gedaan en deurmekaar. Toe vra die Boere-Jood vir hom daar op die grond of hy oorgee en Robbie sê – Nooit.

Ek: Wat toe my Oom.

Oom: Nee jy ken mos die Greybrakke en hul tradisies en sportmangees en ander jintelmin dinge. Robbie het gesukkel om orent te kom om verder te baklei. Toe steek die Boere-Jood sy hand uit en sê , ” Ok, lets call it a draw?”

Ek: Wat sê Robbie toe?

Oom: Nee, hy het so rukkie daar gelê en bloei ,  toe sê hy OK en hulle skud hande.

Ek was nie op Greykollege op skool nie, maar dit het ek nou geniet.

Die kinders se geheime.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Musiek vat die baklei uit my lyf.

Desember 16, 2010 in Sonder kategorie

My vrou is sexy en slim, dis Dingaansdag, ek wil opstaan en baklei oor wat in ons land aangaan, al die kinders is weg, by die see of in die berge. Ek het klaar na toesprake geluister, daar is n varkribbetjie in die oond en ek sit en dop en tob oor dinge. Ek wil skiet. Ek is effens getrek en en maak by voorbaat  verskoning indien ek iemand sou afronteer, maar ek is wat ek is. Ek wil baklei en bliksem man. Ek wil Aneli Botes bel en sê ek staan bankvas agter haar. My oulike vroutjie wil my kalmeer met musiek.

Vrou: Ek het vir jou nege plate gekies, sit nou daar en luister, gee jou glas dat ek eers vir jou nog n dop gooi. Hier is daai brand Fritos waarvan jy hou. Relax nou.

Ek: Net nie moderne musiek nie, asseblief, enigiets, net nie moderne musiek nie.

Soms voel ek skaam oor ek so lelik met my vrou kan wees. Sy het n klomp langspeelplate in haar hande, gaan van hulle vir my speel. Almal stokou plate.

Vrou: Hierdie eerste een is ” I can see clearly now ” van Johny Nash.

Ek onthou vir Paul Nash die wit engelsman wat so vinnig kon hardloop en ek luister na Johny Nash.

Vrou: Ek sien jy het daarvan gehou. Johny Nash is n swart man, hoor.

My gedagtes:  My fok, wat traai jy doen?

Vrou: Nou speel ek ” Loving” van Dobie Gray, pragtig.

Ek geniet dit baie.

Vrou: Jy hou daarvan? Dobie is n swart man.

My gedagtes: My bliksem tog vrou, ek wil witmense hoor sing.

Vrou:  Hier is n mooi plaat, ” MY Guy” van Mary Welsh.

Ek:  Dis nou n mooi song.

Vrou:  Mary is n swart vrou hoor.

My gedagtes:  Vandag gaan ek hierdie Engelse vrou van my bliksem.

Vrou: Hier kom nou n oulike een, ” Hold on I am coming” van The Flames, weet jy hulle was van Durban, eg Suid Afrikaans.

My vrou disco dans sommer hierdie oulike plaat vir my. My labrador lig sy kop, hy geniet my vrou se dansery net soos ek.

Ek: Dit was nou oulik, het jy nie n spier gerek nie?

Vrou: Kyk hier op die album, kyk hoe het hulle in die sewentigs gelyk.

Ek:  Maar my donder, dis dan talibans.

Vrou: Skaam jou, Outop.

Vrou:  Ok hier kom nou twee wit outjies, spesiaal vir jou, gee jy om as ek weer dans? Jy lag nie vir my nie?

My vrou geniet hierdie speletjie baie en ek begin skuldig voel omdat ek haar nie baie meer waardeer in hierdie deurmekaar lewe nie.

Vrou: Eerste een is van John Foggerty nadat hy weg is by Creedance Clearwater Revival., dis ” The old man down the the road”.

Sy pluk my uit die stoel en onder my dop uit.

Vrou: Dans met my, man, niemand kan ons sien nie.

Ek dans en ek hou baie van die plaat.

Vrou: Ok hier is die laaste een, “Sheila” van Tommy Rowe, en hy is ook wit hoor.

Ons dans te wild en pragtig, net soos jare gelede, die hond bly neuk tussen ons.

Ek sit nou uitgeput in my stoel, ek blaas effens van al die rumoer. Die hond lek aan my hand.

Ek reken my vrou is al mens op aarde wat my binne n halfuur kan verander van Piet Skiet na Pik Botha.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Wanneer is mens oud en afgeleef?

Desember 4, 2010 in Sonder kategorie

Oud en afgeleef kan jou tref op 35 of 95, hang net af van jou karakter nie van jou liggaam nie.

My een tante is 76 en sy nooi ons vir ete omdat haar jongste seun, sy vrou en twee kinders vir die hele Desember by haar

in haar huis kom kuier. Ja sy bly alleen met n huurder wat die woonstelletjie op haar erf huur. Sy is so opgewonde, sy gaan

skaaplewer in netvet toegerol bak;  dan repies vleis en groente stir- fry van haar eie spesiale resep. Alles kos wat haar oorlede man en die jongste seun so mal oor was. Sy het ons spesiaal kom nooi, in haar karretjie geklim en tot hier gery. Haar ogies blink, sy is klein en skraal gebou, sy hop opgewonde rond soos n tink-tinkie op n tak. Die seun was drie jaar gelede by haar omdat hy glo  in Transvaal woon en werk.

Ons sit daar en ek bekyk hierdie seun, boeppêns op 38, sy werk verloor en doen nou sulke los werkies. Sy vrou het n goeie werk. Hy sug baie, jy kan enigiets positiefs sê en hy het n negatiewe moedelose antwoord. Blameer alles en almal. Suig sy bier en sigarette onophoudelik, order almal rond. Help glad nie sy Ma. Sy het vroeë perskes aan n boom, hy stuur n kind om te gaan pluk. Klae omdat dit nog nie mooi ryp en soet is nie. Sy enkels is dik geswel van diabetes 2 en hy het pantoffels aan.

Oud, afgeleef  en nie plesierig om mee te kuier. Gedaan.

Gister het ek n veraf familielid se dogter en haar maatjie gehelp om n woonstelletjie te huur, want hulle kom volgende jaar hier studeer. Ek bel n ou sakevriend wat ek nog soms in die kerk sien en groet. Hy is 94 en besit drie blokke woonstelle hier, hy nooi my vir tee en ek moet die meisiekinders saambring, hy keur eers al sy huurders persoonlik goed en bel dan van daar af sy prokureur om die huurkontrak op te stel. Hy besoek sy geboue een keer per week en het elke huurder se persoonlike telefoonnomer en hulle syne.

Toe ons by sy huis aankom het n swart bediende in n netjiese uniform eers die hek en toe die voordeur vir ons oop gemaak, sy kondig agtertoe aan dat Mnr. Die OUTOP daar is. n Vrou onmoet ons nou in die voorportaal, daar is n paar netjiese stoele.

” Sit solank, Meneer sal julle nou te woord staan in die studeerkamer.”

n Stem roep nou uit die studeerkamer,  ” Laat my kliente in asseblief.” Die vrou van so sestig, laat ons formeel die studeerkamer betree. Dit is die oom se derde vrou, die ander het hy oorleef.

Hy sit daar agter sy netjiese lessenaar, wit hemp en das, boekrakke en fotos teen die mure. Alles is blink en skoon.

” Toppikie, is dit wragtig jy?”, wil hy weet. Ek sê vir hom nog steeds “Oom”.

Hy neem besonderhede van die kinders, maak notas met sy outydse vulpen. Dan  kry ons tee en gemmerkoekies. Hy ry more na sy strandhuis op Mosselbaai. Sy vrou bestuur die Jaguar, want sy oë is nie meer so lekker nie, vertel hy. Hy gesels aanmekaar. Tussendeur bel hy sy prokureur.

Op pad na my huis sê die een dogter met die groot dromerige donker oë, ” Is die Oom so opgewek en gelukkig omdat hy ryk is of is hy ryk omdat hy so opgewek en gelukkig is ?”

Laat n mens wonder so op n  Saterdag oggend.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Nou skiet hulle kinders op die plase.

Desember 3, 2010 in Sonder kategorie

Enige moeder van jong kinders wat op n plaas woon behoort nou bang te wees as die son sak. Want nou skiet hulle n driejarige dogtertjie in die agterkop nadat  albei haar ouers wreed vermoor is. Nee, julle behoort bang te wees, baie, baie bang.

Want ons verstaan dit nie meer nie, ons weet nie hoekom dit gedoen word nie, ons probeer antwoorde vind, maar ons staan uiteindelik maar net stomgeslaan en verbysterd  met die koerant in ons hand.

In my agterkop hoor ek hoe sing Malema nog steeds, “Kill the farmer, kill the boer.”  En hy is n politieke leier van die jeug. More is hulle die regering.

Wees versigtig, wees paraat, wees op jul hoede, dis al wat ons kan doen.

God, behoewe.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Amper verloor ek n goeie ou vriend weens die gebruik van gif.

Desember 2, 2010 in Sonder kategorie

Tydens n kuier daar by my vriend sien ek n bakkie met voëltjie kos op n tafel staan, dit lyk effens blouerig vir my. Dis gif, beduie hy. Vir die bosduiwe en tortelduiwe wat sy huis se dak so beskyt en ook in die boom waaronder sy kar bedags staan sit en mors.

” Giftig, soos acid man, vreet jou kar se verf op, sal nog my dakplate gate in vreet,” sê hy.

Die man is al baie jare my vriend en hy het oor die jare net netjiesser en strenger geword. Elke ding is op sy plek, in sy pakkamer het die hangplekke van sy gereedskap name op. Jy moet nie n ding verkeerd ophang nie, dan baklei hy. Ons was nog saam in die ou Weermag ook vir ons diens.

Maar ek haat gifgooi vir onskuldige diertjies, veral duiwe. Ek baklei met hom daaroor. Ons raak amper handgemeen, ek wil nie hê hy moet die gif uitgooi vir al wat n duif, mossie of geelvink is nie. Hy is heelwat groter en swaarder as ek, maar ek bedink al klaar hoe ek hom onverwags op die maermerrie gaan skop, die gifbak gryp en weghardloop.

Sy vrou kom red die situasie waar ons buite op mekaar skreeu en beduie. Ek loop, ek wil die ou donder nie weer sien nie.

n Week later gooi my vrou soos gewoonlik om ses uur die oggend n handjievol mieliegruis deur ons slaapkamer venster uit. Die jong bosduifkuiken wag al daar en die ma kom n minuut of twee later ook daar aan. Maar met die gaan sit slag sien ek daar is fout, sy land sommer so skeef en op haar bors, pote is lam. Toe begin haar vlerke klap op die gras, ons hol uit om te gaan help. Sy sterf in ons hande.

Ek drafstap straat af na my vriend se huis, ek kry hom buite waar hy die gifbakkie onder n kraan uitspoel.

Ek kan nie mooi onthou of ek hom n k…nt of n str…nt genoem het nie, toe skop ek kom. Sy vrou keer, want terwyl hy dubbel vou van die pyn  wil ek vir sy kop gaan. My vrou daag ook op, ek het nooit geweet sy kan so vinnig aantrek nie. Hulle kalmeer ons twee ou bulle.

My goeie vriend het Doeksie vermoor. Sy en haar mannetjie broei al jare in die palmboom by my huis. Ek is lief vir hulle. Ek geniet hulle geluide.

Ons sit onder n koelteboom op die tuinstoele, sy vrou smeer Savlon aan sy wond en plak n pleister op. Hy gluur my aan. Ek kan sien hy maak planne om my terug te kry. Toe onthou ek iets en ek verduidelik vir hulle.

” Ons het by die restaurant  daar by die Vrouemonument gaan brekfis eet laasweek. Daar was een of twee lastige vlieë, toe bring die oulike kelnerin n minuatuur blikkie Doom vlieëgif en sit dit op ons tafel neer. Dis sommer n nagemaakte ding en bevat gee gif nie, maar dit lyk net soos n regte Doom kannetjie. Onmiddellik is al wat n vlieg is weg, en hulle het nooit weer teruggekom nie. n Duif is baie slimmer as n vlieg.”

” Ag jy praat strooi, man,” snou hy my toe. Agter sy vrou se rug bal hy sy vuis vir my.

“Nee,” sê ek, ” dis die heilige waarheid, diere en insekte kom gou agter wat hulle seer- of doodmaak. Ek het n ou windbuks by die huis,  man, kom haal die ding en skiet een duif, daarna kan jy net elke dag so een of twee keer met die ongelaaide windbuks in die tuin stap, alles sal padgee uit jou erf.”

Hy snork soos n verwoede bul en loer onderlangs na my. Ek hoop nie die ou blikslaer wil my nou ook gif ingee nie. Ons loop toe maar nadat ek op aandrang van my vrou om verskoning gevra het vir my gedrag.

n  Week later is daar n klop aan my voordeur, dis dieselfde ou vriend van my.

” Dag,” sê hy, ” het jy nog daai ou windbuks hier rond?”.

,