by

My hart trek met n punt.

November 23, 2010 in Sonder kategorie

Hierdie tyd van die jaar wil n man op vakansie gaan, kan jy nie, soos ek vanjaar, dan droom jy maar oor dit wat was. Op vakansie by Santos Karavaanpark  daar in Mosselbaai. Vure wat laatmiddag aangesteek word, gesinne wat in karavane en tente kamp  sit buite op hul opvoustoele. Jongmense wat gaan stort en mooimaak vir vanaand se jol in die saal op Hartenbos.

En die seelug wat koel tussen tente deur waai. Musiek wat gemaak word, mense is plesierig, loop rond en almal gesels, jy ontmoet weer nuwe mense van orals deur die land. Sononder se stap op die strand, oestervretertjies met hul rooi bekke wat vir oulaas ietsie op die rotse kom aas. Moeders wat op hul kinders roep om nou klaar te speel op die strand, hulle moet kom was en eet.

Die reuke en die geluide, mense wat lag en klets, jillende kinders, vreugde en samesyn. Iewers speel iemand n banjo en nog een n trekklavier. Op die tafel in ons voortent is n bak vol perskes, mangos, druiwe en n spanspek.  Tuisgemaakte gemmerbier in kanne, koekies n n groot blik. My visstokke leun teen die windskerm, vroegoggend gaan ek probeer vir blacktail, elf of n mosselkraker, sommer hier voor langs die swemstrand waar die rotse begin.

Persente toedraai en ons krismisboompie met sy liggies word opgesit. Heelbo hang n beeldjie van n engel. Op die silwer klokkies is elke kind se naam geskryf.

Alles tervergeefs sê ou Salomo, alles tevergeefs. Maar ek verskil van hom, daardie dinge is in my kop en in my hart, ek het dit gehad en ek klou daaraan vas. Sonder dit kan ek nie meer ek wees nie.

Ek pas met graagte my eie huis en n lid van my familie se huis op hier oor Desember, want die wildehonde loop en snuffel in die nag, elke dag lees ek dit op die voorblad van ons koerant.

More haal ek en die vrou al ons ou albums uit, ons gaan hulle afstof en hier oor die feestye weer bekyk. Dan lag ons lekker saam oor die lekker tye en hoe ons almal verander het.

Nee, ou vriend, alles was nie tevergeefs nie. Ons het dit vir altyd hier in ons binneste.

8 antwoorde op My hart trek met n punt.

  1. abrham het gesê op November 23, 2010

    ons is ons herinneringe

  2. Aah lekker. Ek het aanvanklik my neus opgetrek vir karavaan. Deesdae strandhuis ons, maar almal is blouerig as ons verby die karavaanpark ry en de vure brand, en die kinders jil, en ons is nie ook daar nie!

  3. jy skilder so gesellige atmosfeer dat dit vir my ook al die ou herinneringe wakker maak

  4. louisna het gesê op November 23, 2010

    Geniet dit Top. Jy en mammie verdien dit.

  5. Trakie het gesê op November 23, 2010

    Van my lekkerste herinneringe toe ek ‘n kind was, is karavaanvakansies. Deesdae doen ons dit net met ‘n tent.

  6. Ou Top is Tops met sy beskrywing van kamp ens.

  7. OuTop!
    Dis my strand daai!
    Ons was destyds die enigste karavaan op die wal, voor dit nog ‘n karavaanpark was. My oom het die Bakke Kaffee gehad. Daar waar jy visvang het ons visse probeer skiet met pylgewere en van die rotse afgeduik…later was ek ‘n lewensredder daar so (1969, 1970) selfs daar gewittebrood.
    My hart se wens is om nog een keer in daai see te kan swem.

  8. zephur het gesê op November 25, 2010

    Visvang…ai hoe lus raak ek nou vir lyn natmaak

Los ’n antwoord vir abrham. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.