by

Waar loop ons werklose kinders rond om geldelik te oorleef.

Oktober 21, 2010 in Sonder kategorie

n Vriend van my seun kom gisteraand by ons braai. Hy is 36 jaar oud, ongetroud en was voorheen by Moord en Roof in ons Polisiediens. Moes plek maak vir ander en het daarna gesukkel om n goeie werk te bekom. Toe kom die ding van om op n patrollieboot te gaan werk aan die Ooskus van Afrika. Om seiljagte en skepe teen seerowers van die vasteland te beskerm. Ses weke op die see en twee weke by die huis.

Ons gesprek daar om die vuur loop so:

Ek:   Hoeveel is julle op die boot?

Matroos:  Net sewe Oom. vyf Marines en ons twee Suid Afrikaners. Die boot is maar so 22 meter lank, dis beknop daar.

Ek: Wat is die slegste daar?

Matroos:  Die beknopgeit, as n ou praat, hoes of poep, is dit sommer hier by jou. En die stilte en wagtery. Jy raak uitgepraat en jy wag vir die bliksems. Jy ry op en af en jy wag vir n oproep.

Ek :  Hoe is daai seerowers?

Matroos: Vreesloos my Oom. Hulle hou nie op nie. Hul bote is soms sulke klein bootjies wat glad nie seevaardig is nie, maar as hulle n boot in die oog het, hou hulle nie op nie. Hulle is taai en vreesloos. Daar waar hulle vandaan kom is die mense baie arm, hulle word as helde beskou, want hulle bring geld huistoe. Hulle is Heroes op die vasteland.

Ek: Hoe lank dink jy kan n man daar hou?

Matroos: Geteken vir n jaar, sal nie langer wil bly nie, al is die geld hoe goed. Nee daai beknopgeit en die wagtery vang n man. Jy vaar op en af, soms is daar reusagtige golwe. Daai seerowers kan wragtig op n oop see wegkruip laat jy hom nie sien nie. Daar is niks, dan ewe skielik hier is hulle. Hulle is niks bang vir die see nie, niks bang om dood te gaan nie en lus vir baklei. Hulle is daar om te roof.

Ek: Nou wat soek n man eerste as jy so van n boot afklim na ses weke?

Matroos: Eers jou balans weer kry, leer om nie so te wieg nie. Dis gou, dan soek jy mense, vriendelike mooi mense wat lag en Afrikaans praat. Dan n vuur en die reuk van beesvleis wat braai, dan weet jy alles is nou weer oraait met jou.

Ek: Nou spaar jy darem of blaas jy alles?

Matroos:  Nee, ek pak weg. Na n jaar wil ek n klein besigheidjie koop of een begin. En ek wil begin om vir my n vrou te soek.

Ja, vriende, net n gewone Vrystaatse boerseun wat weens omstandighede gedwing word om n baie ongewone werk te doen.

 Steeds lief vir sy land.

5 antwoorde op Waar loop ons werklose kinders rond om geldelik te oorleef.

  1. hmmmm, hartseer, maar ek wens hom alle voorspoed toe!

  2. Druktyd het gesê op Oktober 21, 2010

    Dis so hartseer! En daar is SOVEEL sulke stories!

  3. Ou Top, hier raak jy ‘n teer puntjie aan waaroor ek liewer stilbly, voordat ek opgesluit word

  4. zephur het gesê op Oktober 22, 2010

    Ongewone werk…maar daai boere hart is nog reg…

  5. bloukaap het gesê op Oktober 22, 2010

    Dag Outop.

    Ja, soms is dit onlekker oor die plekke en maniere waarheen Suid Afrikaners gaan om heenkome te soek. In beginsel behoort almal ‘tuis’ te wees en om die ‘akker’ daar uit te bou.

    Maar ook moet ons onthou, daar is ook vele Suid Afrikaners, en 100’e duisende sou ek skat, wat vir baie ander redes oor die aardbol verspreid is. En baie het nie die aardbol gaan bewandel net om heenkome te vind, of weg landuit is oor geweld en misdaad ‘tuis’ nie.

    Deur die jare heen het ek Afrikaners in dosyne lande raakgeloop wat nie land verlaat het ‘om weg te kom of wees’ vanaf iets nie. Maar eerder om ‘by’ iets te wees, om ‘na iets te gaan’. Of so plein weg as om net bietjie die lewe aan die ander kant te gaan beloer en beleef. Soos jy weet was ons ou Volkie mos vir dekades lank net daar onder Suid, en nerens anders nie.

    En ek bewonder jou Matroos vriend. Ek is seker daar is baie tye wat hy smag na vaste grond onder sy voete. Tog ter selfde tyd beny baie mense sy geleentheid om te kan ‘leef’, groei, ondervindinge op te doen en ‘die ander kant’ eerstehands te kan beleef. Een maal het ek ‘n Afrikaner boer in Switzerland teen ‘n berg met sy koei met ‘n klok om die nek raakgeloop. Aan die einde van ons gesprek toe vra ek hom of hy baie verlang na SA. Toe reken hy my; ”Ja, elke dag, maar afstand verander mos nie wie ek is nie”.

    Die nare waarheid bly steeds dat ons verspreid is. Amper soos Israeliete gestrooi oor die aarde. Slegs tyd sal wys of ons in die afwesigheid van ‘n gemenedeler (soos in die geval van die Israeliete se Joodse geloof) ons Afrikaner identiteit sal kan behou. Maar dis seker onderwerp vir ander dag of geslag.

    Groete

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.