by

Willie die ” Grave-whisperer”

Oktober 17, 2010 in Sonder kategorie

Hy is effens vertraag, ou Willie, en hy is n vriend van my, hy werk een dag per week in die tuin by my werk. Hy gebruik nooit die woord “ek” nie, hy praat van Willie. Soos, ” Willie moet Vrydag vroeg by Friendly Grocer wees, dan kom die  1 kg pakke bene, as Willie laat is kry Willie net wit bene, Willie laaik rooi bene.”  Dis nou bene met n bietjie meer vleis aan. Willie glimlag baie meer as gesonde normale mense.

Willie maak n bestaan, hy is 45 jaar oud maar lyk 25. Hy is maer en seningrig, hy lag altyd en hy praat aanmekaar met homself. Ek het hom in die ou begraafplaas raak geloop toe ek en my vrou op skoonma se verjaardag blomme op haar graf gaan sit het. Drie grafte verder is daar n massiewe grafsteen van duur marmer. Dit moes n baie ryk man gewees het. Willie kom twee Saterdae n maand met sy blou skottel, sy borsel, lappe en Sunlight liquid en maak alles weer blink en mooi.

Ek en Willie gesels so met mekaar:

Willie: Nee hulle kom altyd die laaste Saterdag van die maand so tienuur vir Willie betaal en check of alles orraait is. Maar vandat die bliksems my baaisiekiel hier geroof het, is hulle bang, hulle kom net tot daar by die kantoor. Willie kry hulle daar, dan gee hulle vir Willie n lift tot naby my plek. Hulle is bang die tsotsis soek Wiilie se geld op payday. dan vat hulle sommer die BMW ook. Hulle betaal vir Willie R250 per maand.

Ek: Hulle kom nie meer tot by die graf nie?

Willie: Nee, Oom, daai mense is baie bang, hulle switch nie eers die kar af daar by die ou kantoor nie, Willie het hulle daai tip gegee, dan is ons is reg vir n getaway, en ek dink daai BMW kan move, my Oom. Willie het die seun al gevra om hom n bietjie juice te gee, maar hy wil nie, bang vir die ou vrou. He-he-he.

My vrou is gewoonlik so halfuur by haar Ma se graf. ek sit op my aluminium opvoustoel naby Willie, maar met my rug na hom. Ek luister hoe hy met die oorledene, praat. Willie gee glad nie om nie.

Willie: Neewat, Kareltjie, jy moenie stress nie, jou familie is maar net bang. Willie weet. Fokken tsotsis het al baie mense hier bul gevang.  Dis hoekom Willie sy skoene uittrek, kaalvoet, dis hoekom Willie sy sakke uitdop en buite laat hang. Hulle moet sien Willie het fokkel, dan los hulle vir Willie. Willie sien hulle daar onder die sipresse lê en gom snuif, hulle dink Willie is dom, maar ek sien vir hulle en ek weet wat hulle soek. Willie weet hulle soek nie n plastiekskottel en lappe nie. Hulle dink Willie is dom, maar Willie weet. Jy moenie stress nie Kareltjie,  Willie pas vir jou op, Willie hou vir jou skoon.

Ja, vriende, Willie bly in n bediende kamer agter die huis van familie. Hy betaal R650 per maand huur. HY het nie elektrieseteit nie, ook nie n stort of n bad nie. Hy het n toilet en die blou skottel en agter sy kamer het hy met n oliedrom n kontrepsie gemaak waarmme hy met ou koerante vir hom vinnig n bietjie warm water kan maak, of selfs ietsie kook.

Hy het een aluminium pot, die lyk al soos n wieldop waaroor n lorry gery het. More kry hy n goeie tweedehandse pot van die Ou-Top.

Want die Ou-Top hou van n man van durf en moed.

6 antwoorde op Willie die ” Grave-whisperer”

  1. louisna het gesê op Oktober 17, 2010

    Mooi geskryf Top.

  2. Ek hou ook baie van Willie.
    Dankie dat jy omgee…

  3. TS het gesê op Oktober 17, 2010

    Willie kom kruip in ‘n mens se siel!

  4. Maghitta het gesê op Oktober 17, 2010

    ja dit laat mens sommer met ‘n omgee hart dink en wens daar was meer ou-tppoe in die wereld,.
    lekker sondag middag vir jul

  5. Dankie Ou Top. Vir Willie.

  6. Dankie Ou Top. Vir Willie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.