Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ek het baie om voor dankbaar te wees.

Augustus 27, 2010 in Sonder kategorie

Ek gaan aanhou werk tot ek neerslaan;  ek het die geld nodig want inflasie en stygende lewenskoste het my ingehaal.  Ek het ook agtergekom dat as ek by die huis sit en niks doen nie word ek stadigaan siniel.

Nou kom ek uit die aard van my werk by hierdie twee oumense aan wat hul fabriek al twee jaar gelede gesluit het en die kantore voor aan die punt van die groot gebou in n soort woonstel ingerig het waarin hul nou permanent woon. Dis beknop en half deurmekaar, vol glaskaste met ornamente, fotos en silwer bekers wat iemand gewen het. Hulle het geen skuld nie en  besit net die fabrieksgebou wat seker n miljoen of twee werd is. Verkoop kry hulle hom nie. Hulle leef maar van hul annuiteit wat maar karirig is. Albei is siek, die een loop moeilik en het ernstige rugprobleme, die ander het al n paar hartomleinings gehad.

Ons drink koffie en ek kyk na die opgestopte bokkoppe teen die mure. Ek vra maar deur wie en waar is hulle gejag. Ja, sê die oom, sy een seun was so lief vir jag en die natuur, dis sy klomp trofees. Die tante staan op en  verskoon haarself, sy wil glo eers haar pynstillers gaan drink. Die Oom vertel dat die seun drie jaar gelede om sewe uur die aand op n Vrydag deur n rower by n robot in Johannesburg doodgeskiet is. Hulle het hom uit die kar gegooi en met sy kar weggery. Sy Ma het vyf minute voor die voorval  nog met hom op die selfoon gepraat en hy het gespot en gesê hy is binne tien minute daar, sy Ma moet die gebakte vetkoek warm hou, die botter moet sommer nog smelt as hy dit aansmeer, en hy soek appelkooskonfyt daarby, dankie Ma. Die seun was altyd vol grappies en dinge.  Hulle het die naweek by die seun en sy vrou gaan kuier, dit was n paar maande na die Oom sy eerste operasie.

Die Oubaas vee so met die hand oor sy gesig. Die ander seun, sê hy,  die jonger een, hy is in Februarie vanjaar deur n groot lorry vol stene  op die pad na Delmas reg van voor gestamp. Hulle moes saag en breek om sy stukkende lyf uit die bakkie te kry. Daar is vyf kleinkinders, maar hulle is ver van hier.

Die tante kom terug, ek kan aan haar oë sien dat  sy in die kombuis gaan staan en huil het.

Ek vra niks meer oor die bokkoppe uit nie.

Ek sit daar en dink aan my ses kinders wat almal nog leef.  Tog is ek soms ondankbaar en kla te veel oor my lewe.

Jy moet jou seëninge tel, Outop, jy moet hulle tel.

Profile photo of ou-top

by ou-top

My blinde hond en die vuvuzela..

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

Smooky is klaar groot, blind soos n mol maar sy ander sintuie het oorontwikkel, veral na die aanval op ons so paar maande gelede. Hy het groot geskrik en ek dink dit het sy groeihormone in sy neus en ore verskriklik gestimuleer. Dis al verdedigging wat hy het, as hy voor die tyd kan hoor of ruik hier kom moeilikheid. Hy hoor die sagte voetval van n vreemde kat drie uur in die nag buite ons huis op die grasperk. Hy kan n veldmuis teen n hoë spoed jaag deur net sy neus op die grond te hou, en hy vang hulle soms!

Nou kyk ons sokker, ek en my blinde hond. Bafana speel gelykop  en ek begin drome kry oor die worldcup. Toe wen ons vir Frankryk en ek gaan koop dadelik vir my n goudgeel vuvuzela. Ek blaas en Smooky huil sulke lang note soos n wolf. Dit help niks, Bafana hou aan verloor. Ek bêre die vuzela en Saterdag haal ek hom weer uit toe die Bokke teen die All Blacks daar in Soweto speel. Ek blaas verwoed en Smooky huil kliphard saam. Dit werk en ons wen. Maar toe haal hulle vir klein  Hougaard van die veld af en later ook vir Jean Smith die Vrystater. Onmiddellik is daar n insinking in ons spel en wragtig hier kom die All Blacks en wen ons.

Pietertjie, belowe nou vir oom, jy haal nooit weer n goeie speler van die veld af nie, nooit nie. Ja en ek het die vuvuzela nou maar as speelding vir Smooky gegee, hy kan daarmee maak wat hy wil. Daai ding bring net bad luck vir my spanne.

Nou weet ek nie of ek my vandag iets verbeel het nie, maar tienuur elke oggend is dit honde voertyd by ons, en so een minuut voor tien kon ek sweer daar blaas nou n vuvuzela hier voor ons huis waar Smooky by  die hondebakke staan!

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die perskeboom blom pienk in die wind.

Augustus 22, 2010 in Sonder kategorie

Die boom stoot sy pienk blomme eers as die nagtemperatuur nie meer vriespunt haal nie. Die ou langhaar wolf strompel uit sy grot en asem die lentelug gulsig in. Hy sien hoe die Augustuswinde oor die vlaktes waai, die rooigras se sade wuif soos hande in die wind, miskien kom die lentereën vroeg vanjaar.

Dit was n lang winter hierie, pyne en siekte het hom in sy grot gehou. Hy strek sy stywe  bene een vir een  en luister hoe sy  verkalkte skarniere kraak soos hulle stadig weer in regte plekke val.

Hy snuif  teen die wind. Is dit die reuk van n verdwaalde skaap wat daar uit die rantjie laer af kom?

Bliksem, maar n man is honger!

Die oggendson laat die bloed gou weer loop. Oor die los klippes voor sy grot struikelstap hy stadig windop in die rigting van die reuk. Sy krom lyf is maer en dun, sy hare gekoek en grou, die brandwag dassie hou hom dop en sien dat sy ou vyandf vanjaar geen gevaar sal  inhou nie. Hy is en lyk gedaan. 

Die ou wolf is nou oud genoeg, sy jare meet hy nou maar van winter tot winter.

Hy het dit wragtig weer gemaak. Verlig of teleurgesteld maak nou nie  saak, hy moet daardie skaaplam kry.

n Man moet tog  doen wat sy hande vind om te doen.