Jy blaai in die argief vir 2010 April.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Was dit n engel of n spook?

April 18, 2010 in Sonder kategorie

Ek was nie vanoggend kerk toe nie, net my vrou en haar vriendinne. Na kerk kom drink die een vriendin by ons tee. Daar was n kort gesprek, die ding het so geloop. Uit respek en geheimhouding noem ek geen name of dorpe nie.

Vriendin:  Ek sal dit vir niemand anders vertel nie. Dis verskriklik, ek kan nie meer slaap nie. Ek worry. Ek weet nie of ek aan die slaap geraak en of ek gedroom het nie. Ek weet ook nie of dit my bloedsuiker of iets was nie. Maar dit het gebeur, en ek kan glad nie meer slaap nie.

My vrou: Maar jy het dan bestuur, as jy aan die slaap geraak het, sou jy van die pad af gery het?

Vriendin: Ja, ek was alleen op die pad. Ek het die ryloper al van vêr af langs die pad gesien staan. Ek het nog nooit n ryloper opgelaai nie en ek sal ook nie. Mens lees te veel in die koerante oor ontvoerings en verkragtings. Ek weet nie hoekom ek stilgehou en hom opgelaai het nie. Maar ek het.

Sy sit nou en vee met n sakdoekie aan haar neus en oë. My vrou slaan haar arm oor die vriendin se skouers. Ons ken haar al lank, sy is ons ouderdom. Haar oorlede man was n geleerde  mens. Sy is n gewone mens met groot kinders en so aan.

Vriendin: Hy het ingeklim en doodstil gesit, hy het geen tas of enige bagasie by hom gehad nie. Die man het geen woord gepraat nie. Ek het gewonder hoekom ek hom opgelaai het en wou stilhou om hom weer af te laai. Dis nie hoe ek is nie. Ek weet nie hoekom ek hom opgelaai het nie. Hy praat niks.

Ek begin wonder waar die ding nou gaan eindig, want die vrou lyk werklik ontsteld.

Vriendin: Na sowat twintig minute praat hy vir die eerste keer. Hy sê, ” Can I touch you?”

Sy begin snik.

Ek: Maar wat antwoord jy toe, kon jy nie by n dorpie injaag nie.

Vriendin: Ek wou, die volgende dorp was net 10 minute weg. Ek het my lam geskrik, ek het gedink, ja, hier is dit nou, dis n moordenaar verkragter. Ek trap petrol om by die dorpie in te jaag. Hy sit sy hand saggies op my skouer, dit voel of iets uit my liggaam uit skeur. Ek vra hoekom doen hy dit en hy sê saggies ” The coming is  very near.”   Ek het toe my kop na hom gedraai om te vra wat hy bedoel, toe is hy weg. Daar is  niemand in my imotor nie. n Duisend gedagtes en vrae flits deur my brein. Ek bewe ek wil by mense uitkom.

My vrou: En toe?

Vriendin : Ek is by die volgende dorp, ek jaag in, die polisiestasie is naby. Ek praat met die man op diens.

Ek: Wat sê hy vir jou?

Die vrou sit en bewe op haar stoel.

Vriendin: Ek vertel hom alles wat gebeur het. Hy kyk net verergd na my.

Polisieman:  Mevrou, jy is nou die vyfde mens wat  vandag haar instap en dieselfde kakstorie aan my kom vertel. Ons het belangrike werk om te doen. Ons kan nie na julle oumense  se stront stories staan en  luister nie. Is jy gesuip? Of is dit n April fools grap wat julle op my probeer speel? Julle moet ophou, ek sal n klag teen julle almal lê.

Ek: Wat doen jy toe?

Vriendin: Ek het my seun gebel en gesê ek sal n uur laat wees.

Ons drink maar ons tee en eet n gemmerkoekie. Ek weet nie, ek wil ook nie weet nie. Ek kan maar net sien die vrou is erg ontsteld, baie erg. Ek dink sy het sielkundige hulp of berading nodig.

Al wat sy verder hieroor nog kon uitkry is: Ek weet nie hoekom ek hom opgelaai het nie, ek doen dit nooit, ek het dit nog nooit in my lewe gedoen nie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die winter kom, want die boemelaar het kom groet.

April 18, 2010 in Sonder kategorie

Dirkie die boemelaar het hierdie week kom groet, hy trek nou Noorde toe, tot die somer weer kom. Nou weet ek die winter is hier, sommige witstinkhout bome in ons straat se blare word al geel. En ek was die oggend nie eers tuis toe die ou kom dagsê het nie. Hy was n lid van die ou Kleurlingkorps destyds innie Kaap. Net Polina ons huishulp en Thomas die tuinjong was tuis. Polina sê die groetery het so afgeloop.

Dis Donderdag, ons swartsakke is buite op die sypaadjie maar ons het op TV gesien die Munisipale werkers staak. Polina moet dophou, as hulle lorry dit nie kom laai nie, moet sy dit inbring anders krap katte, honde en honger boemelaars die sakke stukkend en more lê die hele straat vol gemors. Thomas hoor die slaapsiek hond blaf en as hy gaan kyk is dit Dirkie wat in die sakke krap. Thomas is n klein outjie en amper so oud soos ek, hy probeer ou Dirkie verwilder maar hy kry vinnig n antwoord.

” Man gaan doen jou blêrrie werk, kyk hoe lê die honnestront daar op n gras. Los my uit, ek kom vir die Seur groet. Gaan sê vir die Seur ou Dirkie is hier. Sê vir hom ek loop vandag.”

Thomas dreig hom nog n slag daar van sy veilige posisie daar agter die ysterhek, toe vervies ou Dirkie hom.

“Jy dink jy is Malema nê? Jy dink jy kan op my kom skrou? De Lille gaan vir julle almal nog opdonder man! Wa is Polina, roep vir Polina, ek praat nie met n tuinier nie. Jy tel net drolle op man!”

Polina het die gedoente deur die kombuisvenster gesien en gehoor. Sy stap uit, sy het n aansienlike gewigsvoordeel bo Thomas en ou Dirkie.

” Jy breek weer onse sakke, en more kom Thomas nie werk nie dan moet ek optel. Sien jy hier, dis my selfoon, ek bel nou die polisie laat hulle jou kom haal”, bulder Polina en stap onverskrokke na die hek.

” Jy dink jy is n whitey, jou vetgat. Bel, bel ek sal hulle vertel wat julle vir my sê. Julle dink ek is n hond,” skreeu Dirkie terug.

Polina stuur my n “please call me”. Ek bel haar terug. Ek sê vir haar sy moet dit op ” speaker phone” sit.

Dirkie hoor dis ek, ek vra Polina om nader te staan, ek wil met Dirkie praat maar sy is te bang hy sal weghardloop met haar foon. Sy hou dit maar naby die traliehek.

Dan hoor ek vir Dirkie praat. ” Seur, Seur ek kom net groet, ek gaan vandag, dit word nou nat en koud hier. Maar  hulle vloek op my, ek het fokkel vir die lang pad Noorde toe, Seur. Hulle vloek my hier. Hierdie dik ousie het n graaf in haar hand.”

” Jy moet mooi loop ou Dirkman, staan daar, Polina sal vir jou iets bring. Wag net daar. Ons sien mekaar as die somer weer kom,” sê ek vir hom.

” Nee Seur, ek kom nie weer, ek is klaar, ons sien mekaar eendag weer daar Bo, Seur,” sê Dirkie en hy wys vir Polina die sere op sy bene, hy is verskriklik maer. Polina sê sy een oog kan nie meer oop nie. Hy haal swaar asem.

Ek beduie haar na n blou boek in my studeerkamer, daarin is geld weggesteek; twee een honderd rand note vir die wis en die onwis. Sy kry dit uiteindelik en gaan gee dit vir ou Dirkie. Hy is tevrede  en skuifelend daar weg.

Net n siel wat ek hier op aarde raakgeloop het en om een of ander rede n goeie rapport mee gehad het. n Groetende siel, vir ewig weg. Polina en Thomas sê hy sal dit nie eers vir n week maak nie, hy is gedaan, kan skaars loop. Hy het hulle bedank en het daarop aangedring om elkeen van hulle met die hand te groet. Polina sê hy het kliphard gehuil toe hulle sy hande vat.

Wederom my ou boemelaar vriend.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ons staan vas, ten spyte van Malema en arme Terreblanche.

April 17, 2010 in Sonder kategorie

Was maar half rof die afgelope tyd. Moes dinge hier doen en vroulief onder bedaring bring en my sekuriteit opknap. Die akademiese seun maak hierdie jaar klaar met sy dotorsgraad en dan kry hy ook koers buiteland toe. Maar ek en my klein Ingelse blondekop vroutjie, ons staan vas in die kloof, soms met n traantjie in die oog en soms met n laggie op die lippe. Kom ek vertel julle maar liewer van die laggie op die lippe.

Na die aanval  stel ek my ou army boobytraps met vislyne en goeters in die nag orals om die huis. Ek verduidelik vir my vrou wat om die doen as n “trap” afgaan, so ook aan die akademiese seun. Ek slaap met die haelgeweer, my vrou met n kleiner vuurwapen en die seun met n Samurai swaard van my laatlam dogtertjie wat daar in die Kaap studeer. Ons is paraat soos wat kan kom, maar dit sê nie veel nie. Ek is kruppel, my vrou weeg skaars 50 kilogram, die seun is akedemies en hou niks van bloed en gewelddadigheid nie, die oudste Labrador is 14 jaar oud en vrot van van die rumatiek, die ander een ly aan slaapsiekte en Smooky die jong Labrador is blind gebore.  Hulle slaap almal binneshuis. Ja, ek weet ek moet na regte van hulle laat uitsit en nuwe jong honde kry. Maar ons is te lief en te jammer vir hulle.  Tog sien ek ons as n gedugte span in hierdie oorlewingsstryd. Jy kom nie staan en neuk met ons nie. Hierdie is ons  ” last stand”.  Vir selfrespek, vir eer, vir nasietrots, vir  vaderland en vir die hoop op n beter toekoms in hierdie land vir ons almal.

Een van die “booby traps” gaan om een uur die nag af. Dis n helse slag en en ek is blitsig op, geweer in die hand. Ek sien my vrou is voor my al op pad sitkamer toe waar die “booby trap” afgegaan het. Buite in die tuin moes iets beweeg het, dis waar die  een vislyn gespan was en die emmer met klippe in die sitkamer bo van die boekrak laat val het.

Die akademiese seun spring ook uit sy kamer in die gang voor ons, Samurai swaard klaar omhoog  gereed vir die  kap van die dood na onder. Ek skreeu op hom, ” Pasop dis jou Ma!”  Byna word my arme vrou onthoof, gelukkig val sy half oor Smooky en die seun duik uit skaamte terug in sy kamer. So kry ek kans om verby te kom, ek hoor hier agter my hoe Smooky huil omdat iemand op hom getrap het, ek hoor die akademiese seun sy Ma ophelp en vertroos. Ek en die ou rumatiek hond kom so gelyk in die sitkamer aan en ek skakel die buitelig aan. Ek is gereed om n waarskuwing skoot  deur die venster te skiet indien ek die vyand buite sou gewaar.

Daar sit n allemintige uil op die grasperk, hy moes te laag gevlieg het . Effens bedremmeld styg hy op en vlieg die donker in.

Uiteindelik sit ons  almal daar in die kombuis vir mekaar en lag terwyl ons koffie maak. Soos Pruimtwak sou sê.

Ons is maar n “fucked up” peleton, maar ek sê vir jou, ons gaan veg. Tot die dood toe gaan ons veg vir ons bestaan in hierdie heilige  en wonderlike land van ons.