by

n Arm vrou lig nie haar hand teen n ryk vrou nie.

Maart 14, 2010 in Sonder kategorie

 Gister hier in Pic&Pay daar by die verpake groente rak het ek die vrou in die grys sweetpak en die goedkoop tekkies raakgeloop. Twee kindertjies is saam met haar en loop  alles groot oë en  bekyk. Sy koop daai 3 vir R10 bargains, kool wortels, groen bone wat besig is om af te gaan en so aan. In haar waentjie sien ek soja-mince, macoroni, no brand konfyt, brood, bruin suiker, n pakkie goedkoop tee, twee koffie bekers wat daar in n drom op n special is.

Skielik is daar n warrelwind van turquois en ander helde kleure, dis n rykmansvrou van die noordelike woonbuurt, hulle kom koop in die suide, net omdat dit goedkoper is hier en omdat die carwatches oormekaar val om haar duur rooi BMW met die swart seildakkie op te pas. Sy is haastig, lyk of sy nou net van die gym af kom, alles sit styf aan haar mooi lyfie. Sy is oud, seker vyftig of so, dit kom jy agter as jy naby haar kom. Die naels is rooi en lank, die hare is auburn, n duur donkerbril sit bo-op die kuif, sy is n goed versorgde rykmansvrou. En die gryspakvrou is in haar pad. Die ryk vrou soek mushrooms en n trossie rooi druiwe.

Die gryspak vrou se lyf is  dun bo en dik onder, sy is soos n peer gebou. Ek sien nogal baie van hulle, ek dink dis n geneties afwyking wat van ons ou Hollandse voorvaders af kom. Die gryspak vrou wonder te lank oor die prys van die pakkie groen  murgpampoentjies,  die haastige ryk vrou praat toe sommer so met haarself. In die lug en daaikant toe, glad nie met iemand spesifiek nie. Dis n fyn kuns, ek het dit al dikwels in ons stad opgemerk. Jou timing en rigting moet reg wees anders kan jy dalk moeilikheid optel.

” Sommige mense staan ook die hele plek vol,” sê sy.  Die arm vrou kyk om en gee dadelik pad, Die ryk vrou sien nou dis n “sorry dat ek leef” armgat vroutjie, sy weet hoe om hierdie soort  jong armgat vroutjies te hanteer.  Die diamante blink aan haar vingers, sy los haar stootwaentjie in die gangetjie en gryp drie pakkies mushrooms en die pakkie rooi druiwe.  As sy haastig terugtree na haar waentjie,  trap sy op n kind.

” En die kinders is net so vetgat soos die ma”, sê sy met haar gesig daai kant toe, maar ek en die arm vrou het dit duskant duidelik gehoor. Ek sien die vernedering in die jong vrou se oë, maar sy swyg, bloos net effens. Vermaan haar twee dogtertjies om tog versigtig te wees.

Ek kry die reënboogvrou weer in die gang, in haar waentjie is twee bottels agurkies, n paar blikkies gerookte oesters, southappies, sousies vir die southappies, rollmops in n botteltjie, swart olywe, geel kaas en blou kaas. Op die punt van die rakke is n special,  bakebeans in tamatiesous. Dis waarna ek soek, ek steek die paadjie oor, die ryk vrou kyk anderkant toe, ek weet sy herken my van netnou. In my haastigheid stamp ek per ongeluk haar waentjie met myne dat jy die rollmops kan hoor kletter. Sy frons en kyk kwaai na my. Nou eers kan ek sien hoe oud haar gesig werklik is, en haar keel.

” Sorry Tannie,” sê ek in my soetste stem. n Tiener meisie met haar Ma raak aan die giggel, die ryk vrou verstik in haar woorde. Het vir my geklink of sy wou weet wie dink ek is my fokken Tannie.

” Jammer Tannie”, sê ek weer en sy storm met n spookspoed daar weg. Sy swets maar ek verstaan niks.

Wonder hoekom dra sy n pienk satyn serpie by haar gym klere , seker om daai kalkoen nekkie weg te steek, wonder ek hardop. Die tienermeisie en haar Ma lag nou kliphard, hulle rugge steeds na my gekeer. Dan draai die Ma om.

” Oom, ” sê sy,” dis nie die platteland hierdie nie, Oom moet versigtig wees vir wie Oom n Tannie hier noem. Die ryk stadsmense hou niks daarvan nie. Oom sal in die moeilikheid kom.”

” Ek is van die stad, ou kinta, ek bly net hier om die hoek,” sê ek.

10 antwoorde op n Arm vrou lig nie haar hand teen n ryk vrou nie.

  1. DallaSePa het gesê op Maart 14, 2010

    Ek wens ek kan ‘Oom’ se blad skud …

  2. jvdw4 het gesê op Maart 14, 2010

    Skerp storie!

  3. louisna het gesê op Maart 14, 2010

    Pragtig geskryf Top.

  4. abrham het gesê op Maart 14, 2010

    ou top vir president

  5. loudavisi het gesê op Maart 14, 2010

    Whahaha
    Laat dit vir haar ‘n les wees!

    Mooi geskryf.

  6. lindiew het gesê op Maart 14, 2010

    Sulke mense kry my onder! Baie goed geskryf! En Good for you!!!

  7. bloukaap het gesê op Maart 16, 2010

    dag ou vrind

  8. zephur het gesê op Maart 19, 2010

    Sy is seker 50 going on 60

    Volgende keer hit-en-run haar om met die waentjie…met die spoed wat sy opstaan sal jy kan bepaal hoe oud sy is.

  9. Ou-Top het gesê op Maart 19, 2010

    Dankie aan almal wat my soms sinnelose mymerings hier kom lees. Maar net gedagtes wat deur n ou man se kop gaan.

  10. HeavyHenry het gesê op April 17, 2010

    Dis nou nice!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.