by

Amper Afrika in Australia.

Maart 7, 2010 in Sonder kategorie

Die een seun bly in Perth in die suide van Australia, die ander een in die noorde, dis byna 3,000 kilometer weg van mekaar. Hulle kuier per Boeing vir mekaar, dis net te ver en wyd.  In die noorde het ek byna tuis gevoel. Die ding het so gekom.

My seun kry n werkopdrag 300 km uit sy dorp, dis op n plaas. n Plaas daar is 40,000 hektaar groot en is n gemeenskap op sy eie. Beeste word per helikopter bymekaar gemaak. Ons ry vroeg, ek het n kaart op my skoot, seun verduidelik ons gaan deur n Station, dis waar n groep van die inheemse volk van Australia woon, die Aboigenes. Hulle word versorg deur die regering. As een n bakkie wil koop moet hy net vyf maande se paaiemente betaal, die regering betaal die res. Australia ly aan n geweldige skuldgevoel dat hulle die mense se land gevat het en hulle toe byna uitgeroei het. Dis n teer punt daar en daar word goed gekyk na hulle, hulle is versorg.

Die Aborigine koop verkieslik n Ford 250 bakkie. Agter is tralies of n canopy. Daar is bitter min van hulle oor. Hulle is maar ongeveer n half miljoen en daar is 22 miljoen mense in Australia.  Die wereld in die noorde is ru en onbewoon, dorpe is vyf honderd kilometer uit mekaar geleë. Ons laat waai op n grondpad wat beter as ons teerpaaie is. My seun sê ek moet uitkyk vir boerbokke en beeste wat wild geword het daar, soos wildsbokke kan hulle voor n ou oor die pad storm. Kamele en donkies ook, alles wild. Nerens is n teken dat daar mense hier woon nie. Geen motors op die pad, geen padstalletjies of huisies nie, Niks, net bos en klippe.

 Om n draai kom ons op n ongeluk af, n nuwe  Ford F250 het n helse groot bees getref. Dit lyk vir my na n kruising tussen n Brahman en n Simmentaler. Die bees is dood, die nege mense wat in en op die bakkie was het net kneusplekke. Die man, byna my ouderdom, het n hoed op soos n oom van Wolmaranstad. Hy sit bo-op die bees se ribbekas en vat n dop Australiese brandewyn, sommer so skoon uit die bottel. Hy lag dat jy net tande sien. Ek lees die naam op die bottel,” Black Bottle”. My seun bied hulp aan en doen die praatwerk. Ek probeer die ou tante keer want, sy skel en skreeu op die ou en probeer hom met n soort handsak bo van die bees afslaan. Die ander klomp is kinders en staan rond en wys waar hulle kneusplekke het.

Die ou se naam is Harvey, al wat hy van ons wil hê is om so paar kilometer verder by n winkel, sy twee seuns af te laai, hulle sal die vriende en familie laat weet. Hy praat vlot Australiaans, my seun verstaan, ek vang net so hier en daar n woord. Ou Harvey is opgewek en vriendelik. Ek simpatiseer oor die arme Ford, sy voorkant het groot skade, bullbar en al. Hy lag net en vra toe of ons n mes het. My seun bly teen die kus en sy visgeeedskap is permanent agterop sy bakkie in n spesiale trommel, ja niemand steel daar nie. Hy gaan haal n mes. Ek dog eers die ou wil sy lastige vrou daarmee onder beheer bring, maar nee, hy sny hier op die rugstring deur die vel n stuk rugstring biltong uit, dis die vleisgedeelte van n T bone steak. Dis so groot soos n boerebrood. Hy gee dit vir my as geskenk, ek het n sakkie met twee lemoene, twee appels en twee mangos in en ek gee dit vir hom, die leë sakkie gebruik ek om die vleis in te sit. Hy bied my n dop brandewyn aan.

My seun sê nog ” Nee Pa”, toe sit ek langs die ou op die bees en vat n sluk uit die bottel. Die ou lag dat jy hom waar kan hoor en klop my op die skouer, ons is nou buddies. Die vrou baklei nou met my seun, sy sê ek is nes haar man. ” Thats all they want, meat en booze. Look at them, rubbish, rubbish”.  Harvey is verskriklik bly oor die klomp vleis, die bakkie gaan die regering vervang, dis mos n ongeluk.

Vriende, toe verlang ek terug na Suid Afrika, na een donker nag lank gelede toe n groep jagters op pad terug huistoe met hul Kombi daar naby Grahamstad van die sykant af deur n koedoe raak gehardloop word en hoe daardie koedoe minute later afgeslag  in swartsakke in daai gebuigde Kombi in verdwyn het.

Die lewe is n lied, man.  En ek het n buddy  doer onder  wat my nog eendag gaan leer hoe om n kangaroo met n boemerang te jag.

10 antwoorde op Amper Afrika in Australia.

  1. Neffertiti het gesê op Maart 7, 2010

    Oulike storie, geniet jou verblyf daar.

  2. O jy maak jou lewe lekker vol, geniet dit!!!

  3. DallaSePa het gesê op Maart 7, 2010

    Lekker Oom!

  4. loudavisi het gesê op Maart 7, 2010

    Ek sien jou en jou nuwe pel op die bees sit en cheers maak.

    Dit maak die lewe soooooo lekker.

  5. HeavyHenry het gesê op Maart 7, 2010

    Lekker storie die.

  6. brands_oli4 het gesê op Maart 7, 2010

    Ai oom, dit klink so lekker.

  7. plankloper het gesê op Maart 7, 2010

    Baie lekker storie. Jy moes foto’s geneem het!

  8. louisna het gesê op Maart 7, 2010

    Pragtig geskryf Top.

  9. Trakie het gesê op Maart 7, 2010

    DIS nou die héél beste van ‘n saak maak 🙂

  10. Ou-Top het gesê op Maart 7, 2010

    Ja, die foto-ding; dit was die voorwaardes van my sponsers op die komper en internet lyn. Geen fotos, geen name, geen identifikasie nie, ek het verbale toestemming van die foto van my gatkant op my blogblad. Ek is n spook en ek bly n spook.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.