Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

by ou-top

Ek en my vrou word aangeval.

Maart 20, 2010 in Sonder kategorie

Wat gebeur tydens n aanval op jou huis teen 2 uur die nag? Wel nou weet ek en my vrou ook, en ek is darem nog hier om daaroor te skryf.

Die blinde Labrador gee n blaffie binneshuis, vyf sekondes daarna is daar n helse slag van n groot venster wat breek. Al die honde en die bure se honde blaf. n Klip so groot soos n mens se kop is deur die ruit gegooi en drie mans is besig om een na die ander deur die die gat te kom.

 My vrou skreeu,” Hulle kom in, hulle is binne, hulle is klaar binne.”

My geweer lê naby, met kruppel knieë sukkel ek die gang af met my dapper vroutjie skreeuend langs my sy.

“Ons skiet julle dood!!”, skreeu sy.

Ek het vier koeëls in die geweer se magasyn. My vinger is op die sneller. Alles klink meteens harder en duideliker, selfs die bloed se geruis deur jou are, die hoor jy. Ek is gereed, ek gaan veg tot ek nie meer kan nie, ek gaan my huis en my vrou beskerm tot die dood.

Die deur is oop, die een wat reeds binne is gooi iets na buite en duik dan self deur die gat agter sy comrades aan. Die twee buite lag, dan vloek hulle op ons. Hulle weet ek mag nie buite skiet nie, dan is ek in die tronk. Ek is kwaad, ek is verskriklik kwaad. Ek skiet n waarskuwingskoot in die grond en hulle laat spaander oor die heining, rats soos wildehonde.  Die donker sluk hulle in.

Net my aktestas met my dagboek en n paar lêers is weg. Ons staar na die massiewe klip. Ons bel die polisie, ons bel die kinders wat ook in Bloem woon. Die polisie is eerste hier,  binne sewe minute.

Ek gaan troos vir Smooky die blinde hond. Ons is ongedeerd. Smooky het betyds geblaf.

Maar daar is n  wrang smaak in my mond vanmore. Ek kan sien my vrou is bang. Sy kon nie weer gaan slaap nie.

Ek sit en dink. Aan julle en aan ons land.

Hoekom vloek hulle op ons? Dis dan my huis, my meubels en my aktestassie.

En hoekom het dit vir my gelyk of hulle glad nie haastig is nie?

by ou-top

n Arm vrou lig nie haar hand teen n ryk vrou nie.

Maart 14, 2010 in Sonder kategorie

 Gister hier in Pic&Pay daar by die verpake groente rak het ek die vrou in die grys sweetpak en die goedkoop tekkies raakgeloop. Twee kindertjies is saam met haar en loop  alles groot oë en  bekyk. Sy koop daai 3 vir R10 bargains, kool wortels, groen bone wat besig is om af te gaan en so aan. In haar waentjie sien ek soja-mince, macoroni, no brand konfyt, brood, bruin suiker, n pakkie goedkoop tee, twee koffie bekers wat daar in n drom op n special is.

Skielik is daar n warrelwind van turquois en ander helde kleure, dis n rykmansvrou van die noordelike woonbuurt, hulle kom koop in die suide, net omdat dit goedkoper is hier en omdat die carwatches oormekaar val om haar duur rooi BMW met die swart seildakkie op te pas. Sy is haastig, lyk of sy nou net van die gym af kom, alles sit styf aan haar mooi lyfie. Sy is oud, seker vyftig of so, dit kom jy agter as jy naby haar kom. Die naels is rooi en lank, die hare is auburn, n duur donkerbril sit bo-op die kuif, sy is n goed versorgde rykmansvrou. En die gryspakvrou is in haar pad. Die ryk vrou soek mushrooms en n trossie rooi druiwe.

Die gryspak vrou se lyf is  dun bo en dik onder, sy is soos n peer gebou. Ek sien nogal baie van hulle, ek dink dis n geneties afwyking wat van ons ou Hollandse voorvaders af kom. Die gryspak vrou wonder te lank oor die prys van die pakkie groen  murgpampoentjies,  die haastige ryk vrou praat toe sommer so met haarself. In die lug en daaikant toe, glad nie met iemand spesifiek nie. Dis n fyn kuns, ek het dit al dikwels in ons stad opgemerk. Jou timing en rigting moet reg wees anders kan jy dalk moeilikheid optel.

” Sommige mense staan ook die hele plek vol,” sê sy.  Die arm vrou kyk om en gee dadelik pad, Die ryk vrou sien nou dis n “sorry dat ek leef” armgat vroutjie, sy weet hoe om hierdie soort  jong armgat vroutjies te hanteer.  Die diamante blink aan haar vingers, sy los haar stootwaentjie in die gangetjie en gryp drie pakkies mushrooms en die pakkie rooi druiwe.  As sy haastig terugtree na haar waentjie,  trap sy op n kind.

” En die kinders is net so vetgat soos die ma”, sê sy met haar gesig daai kant toe, maar ek en die arm vrou het dit duskant duidelik gehoor. Ek sien die vernedering in die jong vrou se oë, maar sy swyg, bloos net effens. Vermaan haar twee dogtertjies om tog versigtig te wees.

Ek kry die reënboogvrou weer in die gang, in haar waentjie is twee bottels agurkies, n paar blikkies gerookte oesters, southappies, sousies vir die southappies, rollmops in n botteltjie, swart olywe, geel kaas en blou kaas. Op die punt van die rakke is n special,  bakebeans in tamatiesous. Dis waarna ek soek, ek steek die paadjie oor, die ryk vrou kyk anderkant toe, ek weet sy herken my van netnou. In my haastigheid stamp ek per ongeluk haar waentjie met myne dat jy die rollmops kan hoor kletter. Sy frons en kyk kwaai na my. Nou eers kan ek sien hoe oud haar gesig werklik is, en haar keel.

” Sorry Tannie,” sê ek in my soetste stem. n Tiener meisie met haar Ma raak aan die giggel, die ryk vrou verstik in haar woorde. Het vir my geklink of sy wou weet wie dink ek is my fokken Tannie.

” Jammer Tannie”, sê ek weer en sy storm met n spookspoed daar weg. Sy swets maar ek verstaan niks.

Wonder hoekom dra sy n pienk satyn serpie by haar gym klere , seker om daai kalkoen nekkie weg te steek, wonder ek hardop. Die tienermeisie en haar Ma lag nou kliphard, hulle rugge steeds na my gekeer. Dan draai die Ma om.

” Oom, ” sê sy,” dis nie die platteland hierdie nie, Oom moet versigtig wees vir wie Oom n Tannie hier noem. Die ryk stadsmense hou niks daarvan nie. Oom sal in die moeilikheid kom.”

” Ek is van die stad, ou kinta, ek bly net hier om die hoek,” sê ek.

by ou-top

Armgat en Banggat.

Maart 13, 2010 in Sonder kategorie

Ek was maar net vyf weke landuit en by my terugkom groet ek vriende en familie en be-antwoord al hulle vrae oor Australia. Wat my dadelik tref is dat almal hier banger en armer lyk en voel as toe ek laas hier was. Van my eie familie en vriende het huise in die mark om in sogenaamde veilige aftree-oorde n meenthuisie te koop. Daar is ander wat probeer om klein werkies en ondernemings op die been te bring om ekstra geld te verdien. My eie vrou en haar vriendin maak klere vir jong meisies. My niggie en n maat bak nou koekies vir die boeremark. Want alles het nou so duur geword.

Maar daar is ander ook, die stil bedonderde Afrikaner, ek ontmoet hulle uit die aard van my werk. Hulle is bedrywig.  Die een smous vleis in Lesotho, die ander kap hout in Angola en verkoop dit in Johannesburg vir maak van duur meubels. Die een ou is daar onder waar die Oranje in die see loop doenig, die ander voer karre in, registreer in Namibie en voer van daar af uit hiernatoe. Een snaar verkoop goed tot bo in die Kongo. Die ander boerseun verkoop al sy vee wat nog nie gesteel is nie en plant olywe wat nie eers n blinkgat spreeu sal vreet nie. n Ander boerseun slaan oor na wild, moeiliker om te steel sê hy. Ander veebooere stig hul eie buurtwag, swart werkers op die plase werk ekstra ure as wagters, waar gaan hulle heen as die boer moet trek of begrawe moet word. Skoudae op plattelandse dorpe word al groter. Jong vrouens leer swart mense brei, klere maak, potte maak, selfs om huise te bou, skilder en van God.

Dis jong ouens hierdie,  vlak in hul dertigs, slim, fris, gesond, getroud met kinders,  kla niks, veg vir sy bestaan, berekend, planmatig, uitgeslape en onverskrokke. Die ou Voortrekkers se nasate. Geweld en bloed skrik hom nie af. Hy is taai en nuwe planne kan hy maak. Elke Sondag sien jy hom in die Kerk, met sy babadogter op sy skoot.

Platgeslaan en opgestaan. Tien keer sterker en slimmer as  wat my geslag voorheen was. Hulle moet hier oorleef, want hulle hoort in hierdie land, ons land se grond en water is in hul bloed. Stil en gevaarlik, soos n luiperd in die bos. Oorlewingsdrang brand warm in sy bors. Sy oog is skerp, sy kroos moet eet en veilig wees.

Terwyl Malema en sy speknek kamerade in hul dekadensie stik, swoeg hierdie manne stil en moedig voort. Ek wil vir hierdie manne sê, daar is honderde duisende Suid Afrikaners in Australia, meeste van hulle het  geweldpleging teenoor hom of n familielid hier in Suid Afrika persoonlik ervaar. Ek het baie van hulle daar ontmoet en elke een van hulle dink elke dag aan julle manne hier, met agting en met respek. Soms as daardie mans se vrouens en kinders nie by is nie, kom ek agter hulle is effens jaloers, hulle wil graag hier wees.

Vir hierde dapper jong manne van ons land staan ek vanoggend  alleen hier voor my lessenaar,  kop omlaag, hoed op die bors.

Saluut!

by ou-top

Amper Afrika in Australia.

Maart 7, 2010 in Sonder kategorie

Die een seun bly in Perth in die suide van Australia, die ander een in die noorde, dis byna 3,000 kilometer weg van mekaar. Hulle kuier per Boeing vir mekaar, dis net te ver en wyd.  In die noorde het ek byna tuis gevoel. Die ding het so gekom.

My seun kry n werkopdrag 300 km uit sy dorp, dis op n plaas. n Plaas daar is 40,000 hektaar groot en is n gemeenskap op sy eie. Beeste word per helikopter bymekaar gemaak. Ons ry vroeg, ek het n kaart op my skoot, seun verduidelik ons gaan deur n Station, dis waar n groep van die inheemse volk van Australia woon, die Aboigenes. Hulle word versorg deur die regering. As een n bakkie wil koop moet hy net vyf maande se paaiemente betaal, die regering betaal die res. Australia ly aan n geweldige skuldgevoel dat hulle die mense se land gevat het en hulle toe byna uitgeroei het. Dis n teer punt daar en daar word goed gekyk na hulle, hulle is versorg.

Die Aborigine koop verkieslik n Ford 250 bakkie. Agter is tralies of n canopy. Daar is bitter min van hulle oor. Hulle is maar ongeveer n half miljoen en daar is 22 miljoen mense in Australia.  Die wereld in die noorde is ru en onbewoon, dorpe is vyf honderd kilometer uit mekaar geleë. Ons laat waai op n grondpad wat beter as ons teerpaaie is. My seun sê ek moet uitkyk vir boerbokke en beeste wat wild geword het daar, soos wildsbokke kan hulle voor n ou oor die pad storm. Kamele en donkies ook, alles wild. Nerens is n teken dat daar mense hier woon nie. Geen motors op die pad, geen padstalletjies of huisies nie, Niks, net bos en klippe.

 Om n draai kom ons op n ongeluk af, n nuwe  Ford F250 het n helse groot bees getref. Dit lyk vir my na n kruising tussen n Brahman en n Simmentaler. Die bees is dood, die nege mense wat in en op die bakkie was het net kneusplekke. Die man, byna my ouderdom, het n hoed op soos n oom van Wolmaranstad. Hy sit bo-op die bees se ribbekas en vat n dop Australiese brandewyn, sommer so skoon uit die bottel. Hy lag dat jy net tande sien. Ek lees die naam op die bottel,” Black Bottle”. My seun bied hulp aan en doen die praatwerk. Ek probeer die ou tante keer want, sy skel en skreeu op die ou en probeer hom met n soort handsak bo van die bees afslaan. Die ander klomp is kinders en staan rond en wys waar hulle kneusplekke het.

Die ou se naam is Harvey, al wat hy van ons wil hê is om so paar kilometer verder by n winkel, sy twee seuns af te laai, hulle sal die vriende en familie laat weet. Hy praat vlot Australiaans, my seun verstaan, ek vang net so hier en daar n woord. Ou Harvey is opgewek en vriendelik. Ek simpatiseer oor die arme Ford, sy voorkant het groot skade, bullbar en al. Hy lag net en vra toe of ons n mes het. My seun bly teen die kus en sy visgeeedskap is permanent agterop sy bakkie in n spesiale trommel, ja niemand steel daar nie. Hy gaan haal n mes. Ek dog eers die ou wil sy lastige vrou daarmee onder beheer bring, maar nee, hy sny hier op die rugstring deur die vel n stuk rugstring biltong uit, dis die vleisgedeelte van n T bone steak. Dis so groot soos n boerebrood. Hy gee dit vir my as geskenk, ek het n sakkie met twee lemoene, twee appels en twee mangos in en ek gee dit vir hom, die leë sakkie gebruik ek om die vleis in te sit. Hy bied my n dop brandewyn aan.

My seun sê nog ” Nee Pa”, toe sit ek langs die ou op die bees en vat n sluk uit die bottel. Die ou lag dat jy hom waar kan hoor en klop my op die skouer, ons is nou buddies. Die vrou baklei nou met my seun, sy sê ek is nes haar man. ” Thats all they want, meat en booze. Look at them, rubbish, rubbish”.  Harvey is verskriklik bly oor die klomp vleis, die bakkie gaan die regering vervang, dis mos n ongeluk.

Vriende, toe verlang ek terug na Suid Afrika, na een donker nag lank gelede toe n groep jagters op pad terug huistoe met hul Kombi daar naby Grahamstad van die sykant af deur n koedoe raak gehardloop word en hoe daardie koedoe minute later afgeslag  in swartsakke in daai gebuigde Kombi in verdwyn het.

Die lewe is n lied, man.  En ek het n buddy  doer onder  wat my nog eendag gaan leer hoe om n kangaroo met n boemerang te jag.