Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Trekvolk is koning in Aus.

Februarie 28, 2010 in Sonder kategorie

Die land is verskriklik groot, onmenslik groot en droog,  jy moet nie verkeerd ry en verdwaal nie. Niemand sal jou ooit weer vind nie. Die groot stede is drie ure se vlieg met n Boeiing van mekaar af. Niemand van Perth gaan kuier met n kar vir iemand in Sydney nie. So veroorsaak dit dat n man in Brisbane groot word, daar trou,  daar werk en aftree,  en hy was nog nooit in Perth of Melbourne nie. Dit het weer veroorsaak dat n nuwe nasie gevorm word, die Aussies self noem hierdie mense, “The Grey Nomads.”  Selfs advertensie firmas “target” hierdie stam , want hulle is glo ryk en koop maklik. Kombis, tente, verkykers, kameras, spesiale klere teen die son se hitte, bootjies , rumatiekpille en so aan.

Die Grey Nomads is dus ou afgetrede mense wat n Kombi Camper koop en dan die pad vat om rondom Australia te ry, so kuier, kuier van plek tot plek. So ontmoet ek n ou Grey Nomad en sy vrou op n braai by n vriend van my seun.

“Took us three years, my mate. Three wonderfull years of our lives”, se die ou snaar vir my. ” As a matter of fact, we’ve been home for only five months now. Feels strange to sit in one place all the time, mate, very strange.”

Later die aand, ( ja, almal sit nog buite, want selfs teen 10 uur is dit nog lekker buite), hoor ek die ou grys Nomad praat met ander Aussies daar.  ” Yes, if everything goes fine, we’ll be leaving on the first of April again. Lots of places we missed the first time around, lots of places.”

Wonder nou hoeveel Grey Nomads is daar in Suid Afrika, dit klink mos nou vir my na n lekker lewe. Ons sal die ding net n bietjie beter moet beplan as die Aussies, by ons is daar leeus en ander gevaarlike dinge  wat op jou pad kan kom.

Ek meen hier in Aussieland is die grootste gevaar vir n Grey Nomad dat sy rumatiekpille kan opraak daar waar geen apteek meer is nie en hy dalk nie sal kan afstap na die helder poel water daar onder die waterval waar hy in die oggende  sommer met die een hand was en skeer terwyl hy met die ander hand gou n vet forel vir brekvis  uitpluk nie.

Kom ons stig so nomadiese groep;  dink net, geen vaste adres, geen water en ligte rekenings, geen telebemarkers wat jou pes nie, nie eers die Ontvanger of die spietkops weet waar is jy nie. Permament op pad. Ons noem onself  die Ostrons.     

Vir :    “Ons trek rond”.

Suid Afrika se eie inheemse trekvolk.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Kleinkind loer vir my.

Februarie 19, 2010 in Sonder kategorie

Hy hou daarvan as ek sy ruggie saggies vryf, hy suig soms sy duim, hy het sterk longe, jy besef dit as hy skree vir kos. Hy is twee dae oud en kry net bies. Dokters hier het n helse lang naam vir bies, by ons ken enige plaaskind dit. Daardie eerste paar dae se snaakse melk wat uit die borste van n soogdier kom en die baba sterk maak teen kieme. Hier is so baie verpleegsters en dokters wat elkeen n joppie kom doen, ek het al begin wonder of daar fout is met die kind.

In n koevert daar op die stoel is n brief van die plaalike LP, heet elke kind welkom in die wereld. Nog n brief wat se die ouers kry n geskenk van die staat, R35,000-00. Nog ander briewe en n vyfgang video wat jou leer om n baba groot te maak tot 4 jaar oud, dan kry jy seker nog n video.

Ek kyk in sy ogies en ek fluister skelm vir hom, jy sal nog kom kuier, dan gaan ek en jy n fisant skiet en braai, sommer n stukkie baber ook, en jy gaan leer kettie skiet en kleilat gooi. En vuurmaak, tent opslaan. Sy ogies volg my gedurig.

In my binneste se n  ander stemmetjie vir my, ” Not in your life , my mate”.

Nee, vandag is ek in n ander bui, wonder of ek hom nie kan uitsmokkel  hier nie. Hoekom kry ek hom so jammer, of kry ek eintlik maar net myself jammer?

Dit gaan tog goed met die kinders hier.

Profile photo of ou-top

by ou-top

My kleinkind sien eerste lig in Perth.

Februarie 19, 2010 in Sonder kategorie

Toe kom hy n paar dae na my verjaarsdag; gister gaan kyk hoe lyk hy daar in die hospitaal. Omdat die son verblindend skerp is in Australia is die meeste mense hier al half blind. Net ek kan sien die seuntjie lyk op n druppel water net soos ek. n Foto word geneem waar ek hom in my arms vashou, word by die huis geprint en ek klim op Skype om vir vroulief in Suid Afrika te wys hoe ons twee lyk. Sy roep opgewonde na die enigste ander mens in ons huis doer in Bloemfontein; Polina ons huisbediende. Hulle kwetter saam oor hoe mooi hy is.

” Maar  hoe roep ons hom?”, wil Polina weet. Sy staan agter my vrou en ek sien die twee duidelik op my skerm.

” Ethan”, antwoord ek en spel die naam wat my vrou in groot letters  vir ons ousie neerskyf.

“E-tand”, probeer sy en na n rukkie se sy, ” maar hoekom Ouwaas? Hy es gebore saam met die tand?”.

Ek kyk na die foto voor my, ek lyk so oud en grys. Die baba so pienk en gesond.  Ons twee hier in hierdie vreemde land.

En ek dink aan die skraal ou mannetjie met sy pienk beentjies wat vanoggend toe ek hier voor die huis op die grasperk gesit en rook het, skielik die poedeltjie se chokechain vir sy bejaarde vroutjie gegee het en toe vinnig  en vasberade op my afgepeil het. Hoe ek die sigaret tussen my tande vasgebyt het en vir myswelf gese het,” As hy my kom uitkak oor ek in  hierdie sindelike woonbuurt op n grasperk sit en rook soos n  lunhchtime werker in Afrika, dan donder hierdie boer

vandag n Ausie tot binne in sy militere hospitaal.”

Hy steek hier reg voor my vas:” Good morning mate”, se hy, ” Are you allright?”

Ek se ja, ek is heel oraait.

” Ok mate, thought you had a stroke or something. Had me and the girl there worried for a second. Dont see people on the grass often here.”

Vreemde plek, vreemde mense, vreemde dinge. Ethan sal moet kop hou hier, en hy sal gereeld in Afrika by sy oupa moet kom kuier, anders gaan hy perspektief verloor.

Hierdie plek is te perfek, te gesond, te mooi, te skoon, te ryk, te vooruitstrewend, te veilig ,  en stil, verskriklik stil, nie eers die honde blaf hier nie. Die bokserhonde het lang sterte soos Vrystaat windhonde.

Die naaste aa n Afrika was gisteraand so twee uur, toe probeer n outjie aanmekaar “wheelie” met sy V8 Holden bakkie. Die strepe le vanoggend orals. Almal is kwaad, dit sal more in die koerant wees.

Ek vertel vir vroutjie en Polina dat wit ousies hier dagwerk doen vir R750  per dag. Polina wil weet of sy kan kom, ek se ja, maar sy moet onthou met R750 kan jy net ses pakkies sigarette  koop.