Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ek pak vir Perth.

Januarie 23, 2010 in Sonder kategorie

My kleinkind skop verwoed in sy Ma se pens, want hy weet sy Oupa kom en ons wil graag bladskud as hy die eerste lewenslig aanskou. Ek sal moet roer as ek betyds daar wil wees en dit lyk al meer of die mannetjie presies op my verjaarsdag gaan verskyn. Nou is ek nog bang die verdomde vliegtuig val en ek sien hom nooit. Genade tog, die senuwees knaag.

Ek kom net vir al  my spookvriende sê ek gaan vir ses weke van lyn af wees om met my klein kangaroo seuntjie te gaan speel. En ek vat vir hom so klein wollerige  Afrika leeutjie saam, ja nie n Amerikaanse teddybear nie. Dan kan hy in die aande met die leeutjie speel en dink waar kom sy Oupa hier in Afrika vandaan en of hy eendag dalk sal wil terugkom na waar hy hoort.

Hoe op aarde gaan ek oor ses weke afskeid neem van die mannetjie.

Fok tog !

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ek en my vrou is ietwat skynheilige mense.

Januarie 10, 2010 in Sonder kategorie

Het gister iets oor Laatlam se vertrek geskryf en so baie van julle het so mooi ge-antwoord. Ek sit netnou en lees julle skrywes weer n slag op my blog en vroutjie wil weet wat glimlag ek so.

” My gesiglose vriende verstaan en ken my pyn” sê ek,  “ek voel hulle warm handdrukke en vertroostende  kloppe op my skouer. Sommige sit vandag net soos ons in dieselfde  Groot Stilte by hul huise” .

Sy draai net daar om en gaan was die twee borde wat ons vir middagete gebruik het, ek gaan loer en sien sy was dat die trane spat.

Ek mompel dat ek buite n sigaret gaan rook, ek wil nie hê sy moet sien ek pik n traantjie weg nie. So steek ons die hartseer vir mekaar weg, probeer ons mekaar troos is dit erger.

Buite sit ek en dink aan daai ou liedjie, dink sy naam was Jack The Knife, waar hy sing ‘ The first cut is the deepest’.

Ja, die eerste Sondag alleen is maar n bliksem.

Dankie julle klomp “aliens” vir julle ondersteuning.

Profile photo of ou-top

by ou-top

As die kinders ry word alles stil.

Januarie 9, 2010 in Sonder kategorie

Laatlam het toe al haar vakke daar op Ikeys goed deurgekom, op ander gebiede het sy blykbaar ook nie te sleg gevaar nie. Sy het nou n kêrel, en hulle twee het gister teruggery Kaap toe. Nou sit ek hier in die groot stilte onder my akkerboom en dink.

Sy maak vir hom brekfis en skink vir hom Oros. Hy vee die haarkrulletjie uit haar oë en hou soms haar handjie vas. Hy praat sag en mooi met haar. Ek hou nogal van hom.

Waarom voel ek dan eensklaps so hartseer en alleen?

Met die vyf seuns was dit dan heeltemaal anders.