Profile photo of ou-top

by

Die kanniedoods van hierdie lewe.

Desember 12, 2009 in Sonder kategorie

Oktober vanjaar gaan my ou harlyer vriend na die hospitaal vir n heupvervanging. Geen narkose is meer nodig nie, vertel hy my oor die foon daar uit oos-Transvaal, kry glo n epidoraal of so iets, nes vir n vrou wat pynloos wil kraam. Hy sterk daarna by die huis aan en ek bel so nou aan dan om te hoor of ek my swart kerkpak maar weer kan bêre.

Nou bel ek netnou en daar antwoord hy die selfoon in Struisbaai. Hy en Jaffie en Baard is besig om vis skoon te maak. Oor die 200kg se kabeljou van sy boot af gevang vanoggend!

En die heup? wil ek weet.

” Man hy is reg soos n roer, en ek vat net die sagte see, geen stampe en stote se see nie. O, donder Outop, dis lekker. Jy moet kom. Vra hier vir Baard, kom Baard, vat die selfoon dis die Outop, sê vir hom wat maak ons”.
,

Ek praat met Baard: ” My seur, dis tyd lat jy kom, die vis hy loop, hy loop amper bo oppie see. Nei man Jaffie, moenie n man se wyn sta en vat as hy biesig is met die foun nie! Die bakke lê vol, my seur, wit pense net wa jy kyk. En onse boot is vars, staan nie meer innie garage en vergaan nie.”

Aldrie manne is ver bo die sestig. Ek kyk na die fotos van die visse en die drie gryskoppe op my selfoon.

Drie maande gelede, byna bedlêend, vol pyn en n hart wat al flouer klop, so was dit met my ou vriend.  Vriende en familie wat soos met Koning Dawid se siekbed , begin bespiegel oor die einde van n man se lewe.

En daar staan hulle by die ou houttafel buite by die kraan. Op die rand van die tafel is die afgesnyde punt van n ou tekkie  vasgespyker om n vis se snoet mooi vas te hou tydens die skoonmakery. En daar staan n halwe glasie sjerrie vir elkeen:  kameraadskap, vriendskap, n gesonde drif om voluit te lewe. Bokant die laggende  ou gryskoppe dartel seemeeue  pleitend vir binnegoed van die vis.

Hoe lekker voel ek nou, daar is nog mooi dinge in die lewe oor. Ons moet maar net met ander oge kyk en sien.

10 antwoorde op Die kanniedoods van hierdie lewe.

  1. louisna het gesê op Desember 12, 2009

    Mooi stuk Top. Lyk my jy gaan daai swart kerkpak nog baie lank wegbere. Kabeljou is my gunsteling. Inderdaad in T-bone en rump se liga.

  2. Ag hoe lekker lees ek nou – ken daai geraas van seemeeue hier bokant jou kop – hulle baklei vir die eerste vis binnegoed – daai skubbe wat soos blink spatsels op jou bo-arms sit – hoe mis ek daai tyd nou!

  3. het my nou lekker verbeel ek is ook daar…
    nou van ouboet praat dat kabeljou sy gunsteling is laat my sommer lus kry vir ‘n lekker kabeljou’tjie in die oond dik gesrop met met tamatie en uie en ‘n lekker ou knoffeltjie…
    kan jy nie die foto’s van die 3 gryskoppe pos nie?

  4. Ou-Top het gesê op Desember 12, 2009

    Nee, Maghitta, nes ek, sal my vriende en familie altyd maar net ” stemme des roepende uit die woestyn” wil bly.

  5. So visvang help meeste dinge gesond maak? Moet netnie vir die ANC vertel nie, want dan sit ons met miljoene wat saam visvang en net die see sal bemors en mens die moer in maak.

  6. Ou Top, geskryf nes jy kan.
    Ek sien en hoor en voel.

  7. Ou-Top het gesê op Desember 12, 2009

    Ja, boerseun, my vriend is deur die operasie gesond gemaak, sy gees en karakter was nog altyd gesond. Die moer in maak? ja, ek was lank laas so de moer in soos nou die dag op n plat Vrystaatse plaas waar n ou met leeus boer, en verkoop aan mense wat leeus laat jag. Die mooiste mannetjie het tot n naam wat jy hom mee roep om nader te kom. Sien darem dit is nou soort van gestop. Ineteressant Boerseun, ek lees die land wat die meeste leeuvleis eet is Amerika, die Ooste maal glo net die bene en snuif die poeier.

  8. Dankie vir jou pragtige stukkie, ek het sommer heimwee OVS toe(gepraat van gryskoppe wat so visvang….dit was my pa se lewe-lankal nie meer daar nie), en na die see!!

  9. nou laat jy my alweer hier in die nag in dink….

  10. Ek hoop dat dit goed gaan? Voorspoed vir ‘n wonderlike en gelukkige 2010!!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.