Profile photo of ou-top

by

Ou Dirkie vergeet my elke jaar.

Desember 5, 2009 in Sonder kategorie

As die eerste ryp val is hy weg en jy sien hom eers weer so eerste week van November van elke jaar. Dis Dirkie, die boemelaar wat hier naby ons onder die kareebom teen die N1 bly. Ons raak elke jaar byna vriende, maar as hy terugkom ontmoet hy my weer vir die eerste keer. Dan vertel hy my weer dat hy Dirkie Opperman van Phillipolis  is en dat hy n swerwer geword het nadat hy afgedank is as soldaat by die destydse Kleurlingkorps. Hy pas so tussendeur die bedelry mense se karre op by die supermark hier.

Elke jaar so eerste week van Desember maak ons huis en jaart skoon. Onder andere het ek n jaar se bierbottels wat ek drankwinkel toe neem as gedeeltelike betaling op my bottel Whiskey vir die feestye. My vrou gaan saam en terwyl sy in die supermark aankope doen, moet ek die bierbottels inruil. Sy ruil nie n bottel in nie, want sy het baie armer as ek grootgeword en die soort van ding maak haar nou nog skaam. Sy haat ook n malvablom en n selonsroos.

Hier kom Dirkie aan met sy verslete ou bruin weermag oorpak.  ” Handjie bysit meneer, vir n paar sente?”, vra hy beleef.

Ek is skoon bly om hom weer te sien. Daar daar is twee kartonbokse vol bottels, ek het sy dienste beslis nodig.

“My hêl, Dirkie is dit jy?”, groet ek vriendelik.

Hy skrik half.

” Ken die meneer my dan?”, wil hy weet,
 

Ek sê toe maar nee, en hy vertel toe weer sy storie van Phillipolis en die weermag. So dra ons die bokse in en nadat ek gekoop het, dra hy weer die goed vir my kar toe. My vrou is nog nie terug nie en ek betaal vir Dirkie  twintig rand. Ek reken hom as n soort trekvoël vriend.  Hy lyk nogal in sy skik met die bedrag en gesels land en sand met my. Oor die regering oor die weer oor alles onder die son. Hy spog dat hy n Griekwa is en dat van sy familie plaaseienaars is. Omdat ons alleen is en omdat ek soms mense verkeerd wil opvryf vir die snaaksigheid daarvan,  sê ek vir hom hy is geen Griekwa nie, ek is seker hy is n wegloop swarte van Lesotho wat oor Kerstyd hier kom rob en bedel in ons land.

Dit was vroegoggend en Dirkie was nog nie getrek nie, daarom was ek nie voorbereid op wat toe gebeur nie. Hy spring regop, sy oë blits gevaarlik, sy vinger wys na my.

” Ek is n Afrikaner!! Ek is nie n Lesotho k…. nie. Jou bloed is in my bloed, ek is net soos jy!! Ons is een mens ek en jy”, skreeu hy kliphard sodat mense omdraai en kyk na ons. Ag, en hier kom my vrou ook nou aangestap.

Ek moet die situasie vinnig ontlont en kom tot naby hom. ” Fok jou Dirkie, jy weet ek terg jou net”. Sis ek byna in sy oor.

My vrou wil weet wat hier aangaan en ek sien die sekuriteitswag met sy T vormigge knubbel kom aangestap.

” Meneer sê ek is n k….”, sê Dirkie vir my vrou. maar hy is uitgeslape genoeg om dit saggies te sê sodat net ons drie dit kan hoor. Terwyl my vrou my die Leviete voorlees maak sy haar handsak oop en gee hom twee twintig rand note.

” Toe loop nou”, sê sy vir hom, ” hier kom security nou”.

Dirkie draai na my kant toe. ” Ek loop nie, ek gesels hier met my beste vriend. Die meneer is my beste vriend.”

Sy oë lag vir my, hy glimlag selfs. My vrou is skoon onthuts oor Dirkie se houding.

Ek verduidelik vir die sekuriteitsbeampte dat ons maar net n ou grappie geniet en hy is tevrede daarmee.

Maar as ek die deur van my kar agter my vrou toemaak en omstap na my kant sê ek vir Dirkie.

” Ek kan sien jy is nie n boer nie, maar eendag gaan jy nog n beroemde advokaat word, want jy is skerp, ou Dirkman.”

Hy lag dat jy net pienk keelgat en verweerde tande sien.

” Dis die gedagte meneer, dis die gedagte”.

Maar ek is bly om die ou weer te sien, ons het albei nog n jaar gemaak in hierdie land van ons.

9 antwoorde op Ou Dirkie vergeet my elke jaar.

  1. Maghitta het gesê op Desember 5, 2009

    🙂 ja so maak elkeen sy bestaan, my een kolega het eendag opgemerk dat die soor mense die beste lewe het, geskok vra ek toe Kaunda hoe kan jy so se, wel reken hy niemand loop agter hom aan vir skuld eise nie, hy het niks om oor te kwel nie, niemand wat sy water gaan afsny of krag nie…. more is nog net ‘n dag….
    hier was ook so ‘n ou vrou ek het haar rosyntjie genoem maar die spirits het sy tol geeis….

  2. louisna het gesê op Desember 5, 2009

    Pragtige storietjie meesterlik vertel Top.

  3. louisna het gesê op Desember 5, 2009

    Ja, bloutrein het nie brieke nie.

  4. Ou-Top het gesê op Desember 5, 2009

    Ja, Flenters, ek het al gewonder of hy hom nie kom winter in n ou army poncho toedraai en diep onder n digte katbos gaan inkruip om soos n ysbeer te “hibernate” nie, dis hoe hy alles vergeet.

  5. aa3cher het gesê op Desember 5, 2009

    Het jou storie baie geniet! Dankie

  6. en oorleef. gee hoop vir die volgende.

  7. louisna het gesê op Desember 5, 2009

    Sjoe!

  8. loudavisi het gesê op Desember 5, 2009

    Dirkie ken van!

    Mooi storie Ou Top.

  9. zephur het gesê op Desember 10, 2009

    Indien ek jou misloop op die blogs die volgende paar dae…wil ek net nou sê, geniet die verlof (indien enige) en beleef ‘n wonderlike fees tydperk. Mag die Kersfees ‘n baie spesiale tyd wees vir jou en familie.

    So met tyd gaan Blogville nou stil loop, soos almal hul karretjies pak…mag ons almal weer veilig terugkom en aan almal ons ervarings en ondervindings kom deel…onthou die fotos.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.