Jy blaai in die argief vir 2009 Desember.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Net n dankie sê.

Desember 31, 2009 in Sonder kategorie

Aan almal wat my ou simpel stories soms lees en kommentaar daarop lewer. Baie dankie vir jul tyd en aandag. Mag almal van julle n goeie jaar beleef en mag almal wat soekend is na die waarheid dit hierdie jaar vind.

En dankie aan al julle vlytiges wie se blogs ek ongesteurd kon lees en n beter insig kon kry van hoe dit met ons mense gaan in hierdie land van ons. Ook die pragtige fotos van vreemde plekke en vreemde dinge wat ek kon sien. Zeppie wat my laat lag, Pruimtwak wat my laat huil, Neander wat my verstom met sy fotos, Penkop wat daar in die vreemde swoeg en smag na n nuwe lewe, Kammi wat n ding so raak kan sien.

Dankie julle klomp “aliens”,  ek ken julle gesigte nie, maar ek hoor wat julle sê.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Om n boek te lees.

Desember 31, 2009 in Sonder kategorie

Jare al gaan ek en my vrou tussen Dingaansdag en nuwejaar nie weg van ons huis nie. Die meeste vriende en familie lê dan by die see of oor die see op goue strande en vakansie hou. So kry ek vir dae lank kans om te lees.

n Boek wat my diep laat dink het is “The Last Resort” wat n joernalis uit New York oor sy Pa en Ma wat nou nog in Zimbabwe n lewe probeer maak, geskryf het. Elke Suid Afrikaner behoort die boek te lees. Wat ek baie amusant gevind het is dat Cecil John Rhodes van Engeland en na wie Rhodesië vernoem was, destyds goud gevind het in Rhodesië. Hy word skatryk en stig naderhand in Suid Afrika die De Beers diamand groep. Hy is as biljoenêr oorlede en het n trustvonds gestig waarmee slim, arm kinders aan die Oxford Universiteit, London, verniet kon gaan studeer het. Nou ja, twee bekendes wat daarvoor gekwalifiseer het was; Bill Clinton, oud president van Amerika en die sanger Kris Kristopherson. Kan jy dit glo; ons goud en diamante wat met graaf en pik  meer as n eeu gelede uit Afrika se grond gegrawe is deur swetende en onderbetaalde boere, Xhosas , Zulus en Sothos, het die twee manne jare daarna in Engeland verniet laat studeer. Ja, en daar staan die klein windgat Billy toe later in die Whitehouse se breë gange en latswaai met onse geld in sy gatsak!

In n kortverhaal van die skrywer von Melle, lees ek dat tydens die Boere oorlog, nadat die plaashuise afgebrand was en vrouens met hul kinders na konsentrasiekampe geneem was; n swart vrou wat as bediende op n plaas gewerk het, uitgevind het in watter konsentrasiekamp haar miesies en die kinders aangehou was. Sy het myle gestap en daar by die Engelse garnisoen aansoek gedoen vir werk as skoonmaker, en dit ook gekry. Sy moes haar eie grasbesem gebruik en het daarin allerhande kruiemiddels vir verkoue, maagaandoennings, borskwale en luise weggesteek vir haar nooi en dan vergeet sy die grasbesem daar in die kamp waar die mies dit kan sien en neem. So het die groepie die gevangenisskap oorleef.

Die swart bediende en die boervrou het dit vreemd gevind dat tussen die Engelse soldate daar heelwat wit boere was wat vir die Engelse soldate gewerk het. Hulle het bekend gestaan as die ” joiners”.   Maar onder die boeresoldate het hulle bekend gestaan as die ” kieriemeide”. Lyk vir my asof die Engelse hulle ook nie heeltemaal met n geweer vertrou het nie.

Ons bly in n interresante land.

Toe gaan kyk ek ook nog die fliek  20 12  en wragtag, die aarde vergaan en die moderne ark vaar weke rond op soek na land, hulle kry net een stuk grond wat bo die water staan, die Drakensberge in Afrika.

Nee wat, ek hou lekker vakansie hier by die huis.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Iemand kyk vir ons

Desember 30, 2009 in Sonder kategorie

Verlede jaar oor hierdie feestye kom n man wat ek jare ken as n goeie sakeman by my huis aan. Hy wil buite onder die akkerboom alleen met my praat. Sy besigheid is bankrot, hy moet voor in die lewe  begin en hy is al 50 jaar oud. Vrou en drie kinders waarvan net een al werk. Ek los hom dat hy stoom afblaas en ek kan vir u sê dit gaan erg, die man is verbitterd. Hy blameer die regering, die ekonomie, die banke, sy kliente en sommer almal om hom.

Hy steek sy voorvinger in die lug en sê met n skor, beskuldigende stem.

” Hoekom neem die Here nie my vrou of n kind van my af weg nie, hoekom my geld? Ek het daardie geld nodig om vir my vrou en kinders te sorg. Hoekom vat hy my geld !”

Ek probeer die ou moed inpraat, maar dis moeilik. Hy wil niks meer van die kerk ook weet nie, hy voel die Here moes dit nie aan hom gedoen het nie. Hy is dan n christen mens. Hy is geregtig op beter behandeling as dit.

Vandag lui my foon, dis weer hy, presies n jaar het verby gegaan.

“Outop”, sê hy,” jy is mos n man met kontake, wie is die beste egskeidings prokureur in die Vrystaat ?”.

Ek sit en dink voordat ek hom antwoord, hy raak naderhand ongeduldig aan die ander kant.

Toe sê ek maar,” Ou vriend, ek weet wie is die tweede beste egskeidingsprokureur in die Vrystaat”.

“Nee man,” skreeu hy terug, ” ek soek die beste een, ek kan betaal. Ek gaan my nie laat rond donder nie. Sy wil nou skei van my en sy wil my leeg bloei”.

Ek dink aan die ou se vrou en sy twee kinders. Sy vrou is n sagte mens.

” My vriend”, sê ek toe vir hom,” jy moet mooi dink wat jy nou gaan doen. Die beste egskeidingsprokureur  ken ek goed en hy vra nie eers n fooi nie. Jy kry hom  net in die Bybel. Gaan lees eers vanaand wat hy oor die huwelik sê, dan praat ons more weer.”

My vrou kom sit my oros en water op my lessenaar neer.

“Met wie praat jy nou?”, wil sy weet.

” Met iemand wat dink God  sien of hoor ons nie”, antwoord ek.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die kanniedoods van hierdie lewe.

Desember 12, 2009 in Sonder kategorie

Oktober vanjaar gaan my ou harlyer vriend na die hospitaal vir n heupvervanging. Geen narkose is meer nodig nie, vertel hy my oor die foon daar uit oos-Transvaal, kry glo n epidoraal of so iets, nes vir n vrou wat pynloos wil kraam. Hy sterk daarna by die huis aan en ek bel so nou aan dan om te hoor of ek my swart kerkpak maar weer kan bêre.

Nou bel ek netnou en daar antwoord hy die selfoon in Struisbaai. Hy en Jaffie en Baard is besig om vis skoon te maak. Oor die 200kg se kabeljou van sy boot af gevang vanoggend!

En die heup? wil ek weet.

” Man hy is reg soos n roer, en ek vat net die sagte see, geen stampe en stote se see nie. O, donder Outop, dis lekker. Jy moet kom. Vra hier vir Baard, kom Baard, vat die selfoon dis die Outop, sê vir hom wat maak ons”.
,

Ek praat met Baard: ” My seur, dis tyd lat jy kom, die vis hy loop, hy loop amper bo oppie see. Nei man Jaffie, moenie n man se wyn sta en vat as hy biesig is met die foun nie! Die bakke lê vol, my seur, wit pense net wa jy kyk. En onse boot is vars, staan nie meer innie garage en vergaan nie.”

Aldrie manne is ver bo die sestig. Ek kyk na die fotos van die visse en die drie gryskoppe op my selfoon.

Drie maande gelede, byna bedlêend, vol pyn en n hart wat al flouer klop, so was dit met my ou vriend.  Vriende en familie wat soos met Koning Dawid se siekbed , begin bespiegel oor die einde van n man se lewe.

En daar staan hulle by die ou houttafel buite by die kraan. Op die rand van die tafel is die afgesnyde punt van n ou tekkie  vasgespyker om n vis se snoet mooi vas te hou tydens die skoonmakery. En daar staan n halwe glasie sjerrie vir elkeen:  kameraadskap, vriendskap, n gesonde drif om voluit te lewe. Bokant die laggende  ou gryskoppe dartel seemeeue  pleitend vir binnegoed van die vis.

Hoe lekker voel ek nou, daar is nog mooi dinge in die lewe oor. Ons moet maar net met ander oge kyk en sien.

Profile photo of ou-top

by ou-top

My nagmerrie droom.

Desember 12, 2009 in Sonder kategorie

Neef Sarel kom hierdie week verby Bloemfontein  en laai by my n allemintige boks vars beesvleis af. Vleislustige en armlastige ou man wat ek is, oorvreet ek my aan gebraaide T-bone en rump. Ek reken dis hoekom ek gisteraand die moeder van alle nagmerries belewe het, oor Julius Malema en verwoede Rodweilers wat by die poorte blaf dat die wit skuimbolle so spat.

Ek woon op die pragtige sekuriteits landgoed bekend as die ” Milk and Honey Garden Estate”, in die linkervleuel wat gereserveer word vir gegoede gatkruipende witmense. Langsaan is die luukse eenhede vir regeringsamptenare, hulle het hul eie besige stasie waar die blou soustrein elke dag nuwe inkomelinge aflaai.  Regs voor en agter is die welgestelde Indiërs en skatryk Kleurling sakemanne. Die duiwelsvurk omheinings en elektriese bedradings word subtiel met pratige struike en blomme verbloem. Die wat binne is kan dit glad nie sien nie.

Die Rodweilers se geblaf maak my wakker en geirriteerd druk ek my diensklokke, dis drie uur in die nag. My huiswag kom aan, en ek wil weet.

” Wat draai jy so lank? Gaan kyk wat blaf die donnerse honde so daar by die hekke.”

Hy kom gou terug en rapporteer.

” Daar is mense, duisende of miljoene van hulle, hulle kom aangestap na ons toe”.

” Is hulle wit of swart?” wil ek weet.

“Kan nie sien nie, nog te donker, party huil of sing saggies”, antwoord my huiswag.

Ek klim uit die bed,” Wat de hel wil die gepeupel nou hier oor die feestye nou kom staan en toi-toi, hulle gaan weer die hele wereld hier buite beskyt en vol rommel strooi. Gaan sê vir Julius hy moet die Kommissaris gaan wakker maak. n Ryk man het ook nie meer rus vir sy siel in hierdie land nie!”

Ek stap uit met my nagsig verkyker uit en klim teen die naaste uitkyktoring op. Ek kry die voetslepende massas in beeld.

Heel voor is duisende uitgeteerde jong vrouens met babas op die heupe, hulle tieties hang ontbloot vir almal om te sien,  uitgedroog en sonder melk. Daar is wit en daar is swart vrouens. Agter hulle stap knapies en dogtertjies met vuil gesiggies en sere op die mond.  Dan kom die oue mense met hul verslete klere. Geplooide gesigte vertrek van armmoede en angs vir die nuwe vreemde wereld waarin hulle nou moet woon.

Agter hulle kom massa vigslyers aan. Hygend rus hulle kort, kort en leun teen mekaar. Hulle oë is reeds dood.

Heel agter is daar n grommende donker golf van gesonde sterk mans en vrouens. Maar wat blink so daar? My, bliksem, dis pangas en blinkgevryfde lope van duisende AK 47’s. Die uitdrukking op hul gesigte is skrikwekkend. Ek  skrik myself uit my pajamas uit. Ek storm terug na my huis. Maak my vrou wakker.

“Ounooi, gryp die nodigste, ons moet in die tonnel kom, hier kom moeilikheid”, skreeu ek vir haar.

As ek die swaar deksel van ons ontsnappings tonnel optel, hoor ek die eerste honde tjank, toe hoor ek die vreesbevange gille vanuit die huise naaste aan die hekke. Oor luidsprekers hoor ek Malema kondig aan,” All white people must go to the gates, immediately. All white people, force them to the gates.”

Ek skrik wakker toe my vrou aan my ruk. ” Outop, Outop, word wakker, wat gaan aan?

Met n natgeswete voorkop en bewende stem antwoord ek haar.

”  Miskien moet ons begin met n tonnel, want dit lyk vir my selfs n armgat met vars vleis is nie meer vandag veilig in hierdie verdomde land van ons nie.”

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ou Dirkie vergeet my elke jaar.

Desember 5, 2009 in Sonder kategorie

As die eerste ryp val is hy weg en jy sien hom eers weer so eerste week van November van elke jaar. Dis Dirkie, die boemelaar wat hier naby ons onder die kareebom teen die N1 bly. Ons raak elke jaar byna vriende, maar as hy terugkom ontmoet hy my weer vir die eerste keer. Dan vertel hy my weer dat hy Dirkie Opperman van Phillipolis  is en dat hy n swerwer geword het nadat hy afgedank is as soldaat by die destydse Kleurlingkorps. Hy pas so tussendeur die bedelry mense se karre op by die supermark hier.

Elke jaar so eerste week van Desember maak ons huis en jaart skoon. Onder andere het ek n jaar se bierbottels wat ek drankwinkel toe neem as gedeeltelike betaling op my bottel Whiskey vir die feestye. My vrou gaan saam en terwyl sy in die supermark aankope doen, moet ek die bierbottels inruil. Sy ruil nie n bottel in nie, want sy het baie armer as ek grootgeword en die soort van ding maak haar nou nog skaam. Sy haat ook n malvablom en n selonsroos.

Hier kom Dirkie aan met sy verslete ou bruin weermag oorpak.  ” Handjie bysit meneer, vir n paar sente?”, vra hy beleef.

Ek is skoon bly om hom weer te sien. Daar daar is twee kartonbokse vol bottels, ek het sy dienste beslis nodig.

“My hêl, Dirkie is dit jy?”, groet ek vriendelik.

Hy skrik half.

” Ken die meneer my dan?”, wil hy weet,
 

Ek sê toe maar nee, en hy vertel toe weer sy storie van Phillipolis en die weermag. So dra ons die bokse in en nadat ek gekoop het, dra hy weer die goed vir my kar toe. My vrou is nog nie terug nie en ek betaal vir Dirkie  twintig rand. Ek reken hom as n soort trekvoël vriend.  Hy lyk nogal in sy skik met die bedrag en gesels land en sand met my. Oor die regering oor die weer oor alles onder die son. Hy spog dat hy n Griekwa is en dat van sy familie plaaseienaars is. Omdat ons alleen is en omdat ek soms mense verkeerd wil opvryf vir die snaaksigheid daarvan,  sê ek vir hom hy is geen Griekwa nie, ek is seker hy is n wegloop swarte van Lesotho wat oor Kerstyd hier kom rob en bedel in ons land.

Dit was vroegoggend en Dirkie was nog nie getrek nie, daarom was ek nie voorbereid op wat toe gebeur nie. Hy spring regop, sy oë blits gevaarlik, sy vinger wys na my.

” Ek is n Afrikaner!! Ek is nie n Lesotho k…. nie. Jou bloed is in my bloed, ek is net soos jy!! Ons is een mens ek en jy”, skreeu hy kliphard sodat mense omdraai en kyk na ons. Ag, en hier kom my vrou ook nou aangestap.

Ek moet die situasie vinnig ontlont en kom tot naby hom. ” Fok jou Dirkie, jy weet ek terg jou net”. Sis ek byna in sy oor.

My vrou wil weet wat hier aangaan en ek sien die sekuriteitswag met sy T vormigge knubbel kom aangestap.

” Meneer sê ek is n k….”, sê Dirkie vir my vrou. maar hy is uitgeslape genoeg om dit saggies te sê sodat net ons drie dit kan hoor. Terwyl my vrou my die Leviete voorlees maak sy haar handsak oop en gee hom twee twintig rand note.

” Toe loop nou”, sê sy vir hom, ” hier kom security nou”.

Dirkie draai na my kant toe. ” Ek loop nie, ek gesels hier met my beste vriend. Die meneer is my beste vriend.”

Sy oë lag vir my, hy glimlag selfs. My vrou is skoon onthuts oor Dirkie se houding.

Ek verduidelik vir die sekuriteitsbeampte dat ons maar net n ou grappie geniet en hy is tevrede daarmee.

Maar as ek die deur van my kar agter my vrou toemaak en omstap na my kant sê ek vir Dirkie.

” Ek kan sien jy is nie n boer nie, maar eendag gaan jy nog n beroemde advokaat word, want jy is skerp, ou Dirkman.”

Hy lag dat jy net pienk keelgat en verweerde tande sien.

” Dis die gedagte meneer, dis die gedagte”.

Maar ek is bly om die ou weer te sien, ons het albei nog n jaar gemaak in hierdie land van ons.