Jy blaai in die argief vir 2009 November.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Hoekom blameer ons die Bokke?

November 29, 2009 in Sonder kategorie

Suid-Afrikaners het n tradisie, n geloof , n kultuur of wat n mens dit ookal wil noem. Kom November dan wil jy afskaal en gereed maak om saam met jou mense te gaan rus en Kersfees te vier.

Jy sien dit by die vulstasies op die N1, Taxis met hengse waentjies agteraan, hemelhoog gelaai met tasse, nuwe komberse, skottels en besems, alles geskenke wat die man of seun met sy geld wat hy op die myne verdien het vir sy familie daar in die Transkei gekoop het vir Kersfees. Hulle is almal vriendelik, opgewek, angstig op pad na hul familie toe.

By ons word die kersboom opgeslaan en versier met liggies. n Ander ou vat sy karavaan in vir n diens. Op die lughawe sit n mooi jong vroutjie blosend en wag vir haar man uit Dubai. Ons wil bymekaarkom met ons geliefdes, dis Kersfees.

Ons is almal so in hierdie land. Hoe kan ons verwag n ou moet nog op sy beste rugby speel in n yskoue land terwyl sy siel reeds in die karavaanpark op Mosselbaai tussen sy vriende en familie is. Waar die son skyn, waar die seewater  en sand n jaar se kommer en sorge  moet wegspoel.

Saam met my vrou in die bybelstudieklas is n Springbok se ouma, sy vertel hy laat weet byna elke dag, hulle moet wag met die krismisboom, hy kom, hulle moet net wag, hy wil meedoen. En het hulle al die kalkoen gekoop, wie bak die krismispoeding vanjaar en sulke dinge.

Nee, ek blameer hulle nie. Ek dink daai nuwe woord wat ek hier op blogland geleer het beskryf die saak die beste.

Om ons Bokke hier voor Kersfees te laat rugbyspeel is n klomp “tos”.

Laat die manne terugkom om by hul geliefdes te wees, dit hoort so hier by ons.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die redelike man.

November 28, 2009 in Sonder kategorie

Die toets vir die optrede van die redelike man het ek destyds van geleer op die universiteit. n Xhosa man slaan n sesjarige kind met n panga in die skemer van n gevlegde hut daar in die heuwels van die Oos-Kaap dood. Hy was oortuig dis n tokkelossie. Die Appèl hof sê die redelike man toets moet uitgebrei word na die redelike Xhosa man van daai geweste. Diè is poepbang vir n tokkelossie en sal beslis slaan voor hy mooi gekyk het. So is die man nou strafloos? Ja, hy slaag die toets van die redelike Xhosa man van daar geweste.

Het hierdie beginsels nou al uitgebrei? As dit nou waar is dat daar elke dag minstens 50 vroue in Suid Afrika verkrag word, dan gee dit mos so 20,000 per jaar en vir tien jaar so 200,000 . Almal verkragte vroue wat hier tussen ons rondloop. Dis genoeg om Loftus, Nuweland,  die Vrystaat stadion en Kingspark stadion stampvol te maak. Bliksem, maar dan het daar mos al n gemiddelde verkragte vrou toets in ons land tot stand gekom. Ek meen, hoe sal die gemiddelde, redelike, voorheen verkragte vrou optree as iemand haar skemeraand volg vanaf haar motor in die woonstelblok se parkeer area tot by haar woonstel? Hy sal nog wil verduidelik dat hy haar beursie opgetel het en vir haar wil teruggee, dan het sy hom al klaar strafloos doodgesteek of doodgeskop. Sy slaag mos die toets van die redelike gemiddelde verkragte vrou loshande. So, moet nie beursies optel en agter vrouens aandraf nie.

Sal die redelike gemiddelde spietkop nie dalk R200 nou dadelik vat as betaling teenoor R500 later, wat sy baas beslis nie met hom gaan deel nie?  Sal n direkte bemarker of n sekte werwer die hekkie by n woonhuis onverskrokke oopruk om in te gaan terwyl daar n Boerboel in die skadu vir hom lê en kyk?  Sal die gemiddelde redelike plakker sommer wegtrek as die balju so n wettige  kennisgewing van die hof op hom beteken? Beslis nie. Hy is strafloos. Hy tree op soos die redelike gemiddelde plakker sou optree.

Die redelike dokter, die redelik hartchirug, die redellike plaasboer, die redelike staatsamptenaar, die redelike polisieman.

Maar wat van die redelike en gemiddelde Suid Afrikaanse landsburger, hoe vêr moet hy gedruk word voordat hy strafloos kan en mag optree. Dit gaan interessant wees om te sien.

Ek hoop ek beleef daardie dag wanneer n gewone landsburger, ongeag van kleur of vel, in die hof kan opstaan en sê:

” Edelagbare, ek het dit gedoen omdat ek n eerlike en ordentlike landsburger is wat die landswette pligsgetrou nakom, en ek beroep my op die beginsels van die ‘ toets van die redelike, gemiddelde landsburger ‘.  My optrede slaag die toets van die redelike landsburger loshande en die hof het geen ander keuse as om my strafloos te laat gaan nie”.

Gelukkig is daar ook blykbaar die beginsel in ons reg dat ” n man nie die hof met vuil hande kan nader nie”.

So die munisipale amptenaar wat my krag op n Vrydag kom afsny kan ek nie sumier aan die keel gryp en strafloos wurg tot hy nie meer asemhaal nie. My hande is vuil, ek moes my rekening betyds betaal het.

Sien jy nou hoe sit n ou man op n Saterdag middag hier in die hitte en borrels blaas soos n kanaalbaber daar in Jacobsdal.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Oudste maak n kind.

November 22, 2009 in Sonder kategorie

Praat ek vanoggend vroeg op Skype met my oudste seun daar in Perth. Die ander seuns het hom voorgespring, sy vroutjie verwag nou eers hul eerste kind en ek wag al lank om te hoor wat die laaste sonar  gaan sê; seun of dogter.

Ek en my seun maak al maande lank of ons glad nie sal omgee wat die geslag van die baba sal wees nie. Maar ek sien my seun se gesig op Skype en hy sien myne en ons twee weet al die tyd nog;  ons wil graag hê dit moet n seuntjie wees.

” Die uitslag het gekom, Pa”, sê hy ewe vroom, want sy vroutjie sit langs hom,” Ons stuur die sonar foto op e- mail vir Pa, n mens kan duidelik sien”.

Hy rek die ding uit met gesels oor ons welstand hier, maar ek het klaar op sy gesig gesien dis n seuntjie wat kom.

” Wat maak Pa nou? Waar is jy Pa? ” hoor ek hom bekommerd vra.

Maar ek het die kamera-oog weggedraai, want ek het skielik hartseer geword. Ek sê ek roep my vrou, want ek speel vir tyd.

Om in Afrika oupa te word van n seuntjie doer in Australia is nie vir sissies nie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Onnatuurlike vrese vir goggas.

November 21, 2009 in Sonder kategorie

Wanneer ek iemand sien wat histeries bang raak vir n goggatjie dan kom daar altyd beelde by my op van hoe die persoon as hulpelose baba getreiter was deur iemand met so n gogga in sy hand. Dis al logiese rede wat ek kan sien hoekom n mens bereid sal wees om deur n glasvenster te duik om weg te kom, of om uit n bewegende motor te spring.

Vat nou maar my swaer, ons hoor hy is bang vir n paddatjie en sit een in sy byna leë pakkie dertig sigarette. In goeie  en stemmige geselskap maak hy die pakkie oop en vat-vat so aan die padda wat toe heel geleerd bo-op sy hand spring. In die volgende chaos wat daarop volg, was daar baie dinge gebreek in ons sitkamer. My suster moes vir hom n hartpilletjie gaan haal het in die motor. Die kinders en kleinkinders sal die petalja egter nooit vergeet nie. Gelukkig het ou swaer n goeie sin vir humor en het my suster gou vergewe. Ja, dit was haar idee. Om te dink hy was op daardie oomblik besig gewees om die kleinkinders te vertel hoe hy destyds leeus gaan jag het in Botswana.

My eie vrou het weer iets teen perdebye. Een van die gewone ou  geel en swart perdebye kom nou die dag in ons sitkamer ingevlieg. In my oë is hy skadeloos.  Maar vroutjie gil en haar oë rol dat jy net wit bolle sien. Ek slaan die ding soos hy verbykom sommer met my hand en omdat ek nooit tennis of krieket gespeel het nie, weet ek nie waarheen die bal gaan trek nie. Ja, ek slaan hom toe binne in haar bos hare vas. Drie dae daarna moes ek nog soms vinnig vir haar kyk as sy  haar self verbeel hy is weer terug in haar kuif. Sy bewe nou nog soos n bokkie hondjie.

Maar met die familiesaamtrek daar op die kampterrein teen die Vaalrivier het ek die moeder van al vrese gesien. My niggie het oor die jare nogal stewig van postuur geword. Daar is net n “longdrop” toilet. Op die bankie is n takkie wat jy moet gebruik om eers in die gat van die sitplek te  roer om alle insekte te verjaag. Niggie het dit glo gedoen maar onder op die bodem was daar glo n ding wat al rasende vlieg, soos n “bumblebee”. Toe hy skrik vang daar onder peil hy al rasende boontoe en vlieg teen die berg Arrarat vas. Die houtdeur van die geboudjie moes ons met sink vervang, want hy was aan flarde soos die berg moeiteloos deur hom beweeg het.

En ek? Net n vlermuis. O, ek haat n vlermuis.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Wat se ding is n Afrikaner, vra Nefertitti vir Neander op sy blog.

November 15, 2009 in Sonder kategorie

Soekend na n antwoord dink ek dadelik aan slim Professore en kokkedore, aan die  ATKV, aan politieke partye, digters en skrywers, niemand het klaarblyklik n aanvaarbare antwoord nie. Selfs nie die tydskrifte en koerante nie.  Ek self is van Duitse afkoms, ja n Afrikaanssprekende Duitse setlaar. Ek wil nie n Hollander se afstammeling wees nie, want hulle het my armgat Oer-oupa op 19 jarige ouderdom in Duitsland gaan koop om aan die Kaap Hollandse setlaars te beskerm teen inheemse volkere ;  omdat die Duitse seuns goed kon skiet en half onverskrokke was. Toe gaan gee die Hollanders later  die land oor aan die Engelse nadat n engelse skip net een skoot met n kanon op die  fort gevuur het.

Wanneer word ek toe n Afrikaner? Ek weet nie, dit het so algaande gebeur. Net so met die Hollanders en die Franse wat hier geland het. Ons word toe almal Afrikaners, met daai bedonderde geen wat Neander van praat. As ons kwaad word veg ons, as ons verloor dan trek die meeste van ons. Middelvingersindroom, sê Murpy. Die hardegat geen.

Wat ek wel weet is dat ek n seun het in Perth, en dat hy die winter kom kuier het en ons het met vriende daar in Kimberley se omgewing gaan jag. En toe dit teen sononder jolig gaan in die lapa waar daar Engels en Afrikaans gepraat word, toe is my seun skoonveld weg. Ek kry hom daar agter die geboue by die vleisbewerking, daar is vuur gemaak en hy gesels met die drie Griekwas wat daar werk. Hy wil nie nou Lapa toe kom nie, ek sê dis ongeskik man, die ouens soek jou, hulle wil hoor van Australia.

Hy antwoord:

” Pa, ek hoor aardse afrikaans vir die eerste keer in twee jaar, deur regte Afrikaners soos hier waar ek met hulle gesels. Ek verlang hierna, ek wil dit hoor, ek wil net nog n rukkie hier bly. Ek het nog nie genoeg gehad nie. Net nog n klein rukkie, Pa.”

Ek kan sien hy geniet homself gate uit.  As ek omdraai en loop hoor ek die een ou Griekwa sê vir hom, ” As al wat n jagter is net so raak kan slat as hom se Pa, sal onse ou lywe ook nie so algans gestrawwe worre met soeke na gekweste bokke nie!”

Ja, my vriend, lyk vir my n Afrikaner is vir elke mens n ander soort van ding.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Mag ek steel as ek honger is?

November 14, 2009 in Sonder kategorie

Op my storie van die wit tsotsi kry ek uit kommentare die gevoel dat daar n soort van vergewendheidsgevoel onder mense ontstaan omdat ons omring word deur werkloses en armes. Ek word al hoe meer onrustig oor die verskuiwing van grense. In Mosselbaai kom ek uit n winkel gestap, daar is n gil en voetstappe klap op die sypaadjie.

n Jong man kom aangehardloop met n groot en duur handsak in sy hand, hy lê oop. Ek gaan staan met my rug teen die winkelvenster en wonder of ek hom moet pooitjie as hy hier verby kom.  Iemand voor my doen dit, dis n local met n visstok oor sy skouer. Hy gryp die neergeslane rower vas en karnuffel hom. Die maergat outjie gee sommer oor en keer net. n Man en vrou kom aangedraf, dis die vrou se handsak. Hulle is vakansiegangers uit Johannesburg. Die visserman trap die rower met sy stewel op sy keel plat op die sement vas en hou hom daar. Met die een hand gee hy die handsak vir die vrou aan. Sy ignoreer die gebaar en haar man vat die sak. Sy stamp die visserman van die rower af en sê’ ‘ Stop it, it’s only a hungry child let him go, you bloody savage!” Sy wil  die visserman  nou ook aankla van mishandeling of skending van menseregte of so iets.

Wat doen die visserman? Hy gryp die handsak uit die man se hand en gooi dit meters vêr na die klein rower wat alweer op koers is. ” Vat hom Tattie en maak gatskoon!” Toe loop hy met sy visstok en die dief nael soos n vlakhaas met daai handsak. Ek sien hoe die man en sy vrou in n baie duur bloedrooi motor klim, hulle gaan nou polisie toe.

Later die dag drink ek en my vriend n dop  in n kroeg daar, “Trap in die Gaatjie”, ek wonder of dit nog bestaan?; daar sit die visserman n  bier  en drink. Hy gesels met sy lokale vriende.

” Sy kak my sommer uit in daai hoogere engels van haar, toe gooi ek die handsak terug, sy kan hom self gaan soek met daai rooi BMW”, sê hy, “maar ons sal met Jakkie moet praat, daai seun van hom word verkeerd groot. Hy gaan nog in die moeilikheid kom. En die skuite staan, die vis is op”.

Ek weet nie, hier is te veel mense wat swaarkry en honger ly. Hulle gaan vat wat hulle nodig het om te oorleef, en al mense wat gaan sleg voel daaroor gaan die 20% van die bevolking wees wat tans genoeg het om selfs openlik daarmee te mors.

Kyk maar in die rykmanswoonbuurtes, kyk na die duur motors by die robots, kyk na die weelde op Top Billing en Pasela.

Gaan ek n rower word of gaan ek beroof word, soos dinge nou staan ,is daar nog nie duidelike sekerheid nie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die eerste wit Tsotsi.

November 14, 2009 in Sonder kategorie

Ek het hom met my eie oë gesien, selfs met hom gepraat. n Mooi, jong, wit seun wat twee swart studente meisies naby ons plaaslike supermark met geweld beroof het van pas getrekte kontant en selfone.

Hy is aangekeer deur wit en swart kliente van die winkel. Sy neus bloei, hy haal swaar asem van die hardloop en worstelling met sy arresteerders. Hy is vloekend aggressief en n verskriklike haat spat uit sy ysblou oë.

My gedagtes bly onrustig dwaal om hierdie seun, hy is seker maar so negentien jaar oud. Ek het aangebied om sy ouers op my selfoon te skakel. Hy antwoord my met: ” Fok jou outop, jy is een van hulle!!”

Mistroostig het ek lank en diep hieroor gepeins; oor wat hy bedoel het met sy woorde aan my.

Ek reken regstellende aksie het nou sy doel bereik in hierdie land van ons.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Laatlam in die Kaap en District Nine in Bloem.

November 10, 2009 in Sonder kategorie

Laatlam in die Kaap laat weet haar Ma  sy moet my bigscreen toe vat om die film District Nine te gaan kyk. Van ons ses kinders is Laatlam Engelsprekend soos haar Ma; ek reken dis omdat my kragte begin kwyn het, want die vyf seuns is Afrikaanssprekend. Sy poog van kleintyd af om my meer modern of andersdenkend te maak. Ek lees oor hierdie weird fliek en probeer uit die ding uit kom; ek wil nie n fliek gaan kyk oor goeters wat soos mudprawn lyk en die land wil oorvat nie. Laatlam hou aan smeek en ek is so lief vir haar, ek verlang so na haar daar in Kaapstad, ek stem toe maar in.

Daar sit ons toe voor die bigscreen, nogal na aan voor weens ons onderskeidelike oog en oor probleme. Na die eerste twintig minute wou ek loop, want ek herken die hoofkarakter onmiddellik: hy was veertig jaar gelede die inspekteur by Bantoesake op die plattelandse dorp waarheen my Pa  moes trek vanaf die plaas nadat hy siek geword het. Die inspekteur het ou Dorcas, n bediende van die plaas, wat van Maandag tot Vrydag in die dorpshuis gewerk het, byna elke Maandagaand kom arresteer, in n groen bakkie gegooi en gaan toesluit. Die volgende dag het my ouers die boete gaan betaal en Dorcas kon uitkom. Aansoek doen vir n spesiale permit was verniet, want Pa was n Sap, n Smutsman.  Ja, ek het vir Wikus van der Merwe met n passie gehaat. En hier is hy die hoofkarakter in die fliek; lyk net so, praat net so, doen net so.

Terwyl ek sukkel om op te staan met my vrou wat  my aan die arm rem, wys hulle Wikus se skoonpa. Ek herken die manier van praat dadelik, maaar die gesig sukkel ek mee: is dit nou Vlok, LeGrange of lang Hendrik van der Berg. Ek is nie seker nie en gaan sit toe maar om verder te kyk. Ek raak verdiep in die storie en in die mense om my se reaksies. Ons reënboog nasie is goed verteenwoordig in die saal. My vrou giggel toe hulle Wikus se Moeder wys wat snik van trotsheid oor sy aanstelling as hoof van die magte wat die  alien mudprawn moet opdonder. Regs voor my sit n paar wit outjies, toe hulle die aggresiewe Kobus die Rekkie wys, skree die een,” Nou gaan die kak spat!”

Toe die mudprawn blikke katkos begin vreet, sê n engelse ou tannie hier agter vir haar vriendin,” Catfood? Dont you find that a bit strange, dear?”  Toe  Wikus sy prawn vinger  met n byl afkap skreeu die swart meisie studente hier voor my histeries, 

” Oh no, dont do that. Serious man, dont do that!”  So gaan ons deur die fliek.

Byna elke mens in die saal vind n ander toneel as vreeslik skokkend vir hom of haar. In n paar tonele stem almal saam, daar waar Wikus die bababtjies van die aliens so laat pop en met n vlam doodbrand, daar het almal in die saal simpatie mee. Daar waar die arme prawn beeskoppe en ander afval ten duurste van die Nigeriers probeer koop, daar lag die hele saal instemmend saam. Ook toe Kobus hulle die Nigeriers begin klits. n Afrikaanssprekende man het vir Wikus kliphard gewaarsku, oor die NIgeriese leier. ” Nei man, bly weg da, daai bru gaan jou arm opvriet, man!”

Toe Wikus verander in n prawn en sy mense hom begin verwerp, hoor jy kort, kort , ” Shame” en ” Hardloop Wikus, hardloop!”

As Wikus se vrou ook teen hom draai, hoor ek n gedempde ” Blerrie teef”, hier uit die agterste gestoeltes. Algaande  staan ons almal soos een man agter Wikus, die hele reënboognasie, en ook agter die prawn en sy kind wat wil terug na waar hulle vandaan kom.

Wikus is nou n afskuwelike mudprawn, hy sit op n ashoop en vleg n persentjie vir sy vrou uit afvalmateriaal. Ek kon sweer ek hoor iemand snik.

Ons stap almal in stilte uit. Iewers het hierdie eienaardige fliek n koord binne n man raakgeslaan, ek weet nog nie mooi wat  en waar nie.

Dankie Laatlam.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Antjie Krog sluk n wind oor ons Afrikaners.

November 9, 2009 in Sonder kategorie

Ja, Antjie, ek het nooit verwag ek sal die dag beleef dat jy Bok van Blerk se liedjie ” Delarey” in die openbaar sal gaan staan en verdedig soos jy verlede week gedoen het in jou toespraak by die Ghoeteinstituut in Johannesburg  nie. Die lied het dan amper n opstand in die land veroorsaak en ons is gou deur die Engelse pers en ander radikale daarvan beskuldig dat ons Afrikaners weer organiseer om die land omver te werp.

Jy beweer ook in jou toespraak dat al wat ons stomme Afrikaners nou kan doen is ” om te wag  totdat die wat wat hulle histories mishandel het, erger word as die Afrikaners self en uiteindelik die historiese behandeling kan regverdig”.

Kry dit in jou kop Antjie, ons wil nie meer die land oorvat nie, ons werk saam met ander rasse om van hierdie land n beter plek te maak. Gaan kyk wie help opkomende Swart boere met raad en daad, hulle Afrikaner bure. Gaan vra enige Swart man vir wie hy eerder sal wil werk, n Griek, n Jood, n Portugees, Duitser of Engelsman of Taiwanees, hy sal eerder vir ons werk, want ons verstaan mekaar.

Gaan kyk hoeveel swart skole is daar op Afrikaner Boere se plase, gaan kyk wie probeer n swart taal aanleer om te praat. Ons, die Afrikaners. Ons Afrikaners is moeg vir julle wegloop Afrikaners en die dinge wat julle oor ons kwyt raak. Ons werk elke dag saam met Swartes. Ja, ons en hulle het mekaar in die verlede en nou nog al dik gedonder, maar ons verstaan mekaar. Ons kom reg, gaan vra vir President Zuma en die minister van Landbou en n hele paar ander Swart leiers.

Ons Afrikaners het egter ook soos enige nasie ook sy donker kolle, ek bedoel een van ons beste digteresse in Afrikaans is so woes dat sy seker die enigste vrou ter wereld is wat  n goeie gedig van haar ge-eindig het met die woord, “po..s”

Genade tog!

Maar ek het steeds moed vir jou Antjie, al sluk jy so nou en dan n wind. Jy gaan vorentoe nog baie beteken vir ons Afrikaners, jy besef dit nog nie, maar ek kan dit sien kom.

Bronne van jou toespraak:  Volksblad 9 November 2009  en die Sunday Times 8 November 2009.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Algehele vryheid van spraak.

November 8, 2009 in Sonder kategorie

My blogvriend Flenters het n ruk gelede so terloops verwys na die nuwe tendens in ons samelewing wat hom ongemaklik laat voel. Ek merk dit ook al geruime tyd op. Dis hierdie houding van mense dat dit oraait is om selfs persoonlike dinge openlik voor ander, selfs vreemde mense,  te bespreek. Ek dink realiteit TV en radio omroepers het dit begin, maar dit word al erger.

Ek wil nie in die ry staan om my rekening by die munisipaliteit te betaal en vasgekeer te word tussen die ou voor my en die ou agter my wat hierdie skaamtelose houding het nie.

” Nee wragtig, ek weet nie wat aangaan nie, maar dis al die derde keer hierdie jaar dat ek aambeie kry”, se die een agter my vir die een voor my.

Vir n oomblik was ek bang die voorste ou wil kom voel hoe groot is die ou agter my se aambei.

Maar die ou voor ons antwoord.

” Nog niks daai nie, ek het al maande lank n pap wiel. Word deesdae sommer pap terwyl ek pomp.”

Ag nee blikskottel mense. Ons wil dit nie hoor nie. Nooi die ou vir n bier en fluister dit in sy oor.

En die radiomense, kry deesdae persone soos arme Amor op die lug en peper hulle met aaklige vrae. Wat het van ons skaamtegevoel geword? Wil jy in die Wimpy sit en die drie vrouens langsaan bespreek hul persoonlike probleme en vreugdes kliphard vir almal om te hoor.  Soos byvoorbeeld,    ” Gisteraand vir die eerste keer daai trippel orgasme gehad nadat Gert daai selle goed as Joost gesnuiwe het!”.

Selfs in ons geliefde koerant, Die Volksblad, skryf  Rian van Heerden n hele bladsy vol; dat hy die ou was wat destyds vir die eerste keer in sy lewe op die plat klip voor die BP Garage in Pretoria n ander man gevry het. En ek hou so van die man as omroeper by OFM. En Rian, al was dit die eerste meisie wat jy daar op die plat klip gevry het, wil ons steeds nie daarvan hoor nie, man.

Ek sukkel om die regte woord te kry, skaamte, sindelikheid, ordentlikheid. Ag nee wat, wens Flenters of Abhram was hier naby, eks te dom.