Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Ek lewe – hulle sterwe.

Oktober 24, 2009 in Sonder kategorie

Ek moes lankal hieroor geskryf het. Van  die twee Britse Setlaar afstammellinge daar van die  Oos-Kaap wat my destyds gehelp het toe ek in die nood was. Fred Jackson en Bob White, ou vriende daar van die Oos-Kaap. Te min mense weet hiervan, en ek is bang ekself  begin vergeet.

Gedurende die somer van 1981 is daar n diepsee visvangkompetisie aan die Wilde kus se kant noord van Oos-London. Daar is seker veertig deelnemers en die eerste prys is n  splinternuwe boot met enjin. Groot mans is opgewonde soos kinders. maar dit reën en dit storm, die see is woes. Die tweede dag is daar minde reën maar die see is rof. Die prys moet gewen word. Net drie bote met waaghalsiges daarop gaan uit. Ek is op een van die bote, want ek is n waaghalsige.

Skaars buite op die oop see hou ons kajuitberaad. See is te rof, te gevaarlik, ons beslluit ons jaag terug na die riviermond waar ons uitgekom het. Ek sit agter naby die twee enjins en ek sien eerste die monster van n brander wat uit die onstuimige see opstaan en op ons afkom. Ek skreeu vir die skipper voor. Daar is weinig wat hy kan doen, die monster tel ons op en gooi ons deur die lug, die boot maak n vorentoe bollemakiese, ons trek soos vrot velle deur die lug.

Die wind is stormsterk, deurmekaar branders, weerlig en reën. Dis soos n boksgeveg teen n baie groter en sterker man. Jy word deurmekaar geslaan. Sterk systrome keer dat jy vir die kant kan swem. Dis n draaikolk van meer as 200 meter, om en om terwyl jou kragte kwyn. Soms sien ek mense op die strand op en af hardloop. Iemand kom ingeswem met n tou, vorder tot naby my, toe vat die systroom hom. Hulle trek hom uit en hy land in die hospitaal. Die wereld om my word al witter, ek is doodmoeg, ek weet ek gaan sterf, en ek gee wragtig nie meer om nie, dis al amper twee ure lank wat ek veg om my lewe. Wat van die ander drie wat saam op die boot was geword het, weet ek nie. Ek is klaar, gedaan, halfpad versuip, halfpad bewusteloos, die reddingsbaadjie hou my bo.

Op die sand staan twee vriende van my, Bob en Fred. Hulle is nie booteienaars nie, hulle soek n boot om my te kom haal. Lewensredders wil nie meer in, na die eerste probeerslag, die water is bruin, gaan haaie ook wees.

Fred staan met n bier in die hand,” Jongtop gaan versuip, slapgatte wil nie n boot leen, ek sal hom gaan uithaal!”

Bob staan langs hom op die sand.” Hulle sê n helikopter is op pad, maar kan ure vat, Jongtop gaan dit nie maak nie.”

Bob is my assuransie agent. Hy gryp n booteienaar vas,” Ek doen die man se polisse, as hy sterf sal ek sorg dat sy vrou jou betaal vir die boot. As jou boot skade het en hy leef, sal hy jou self betaal. Ek kan die man goed. Leen jou boot vir Fred.”

Bob skryf agterop n pakkie dertig Stuyvesandt sy borgakte uit. Fred het n boot, Fred is bekend as een van die beste skippers in die Oos-Kaap. Bob is al grys, Fred wil hom nie saam vat nie. Fred soek n vrywillige, hy is al op die boot wat teen die wal in die rivier staan. Niemand wil klim, see is te kwaai. Fred vloek wal se kant toe,” Fokken slapgatte, ek sal die man alleen gaan haal!”

Oor die sand kom n jong man aangehardloop, hy gooi n kitbag neer, hy trek sy klere uit, hy sit sy rooi beret terug op sy kop. Net n beret en n swart PT broekie het hy aan. Dis n jong parabat wat vir die naweek duimgooi na sy ouerhuisi en hier kom skuil het teen die reën. Iemand het hom beduie wat hier aangaan.

In die water weet ek van niks, ek het reeds aanvaar my einde is hier, ek probeer maar net asem skep as die branders my n kansie gee. Dit lyk soos bruin berge hier om my. Ek wil slaap, ek is moeg en vaak en alles om my lyk na wit.

Ek hoor iemand skreeu. My oë gaan oop, ek sien n geel  bootjie skuins van my. Voor in die boeg staan n jong man met n rooi beret. ” Left, left, keep it left from him!” skreeu hy op Fred wat agter die stuurwiel staan. Die jong soldaat het n langs stok met n reuse hoek vooraan, n diepsee “gaff”. Hy hak my deur die reddingsbaadjie op die blad. Die see ruk hom amper oor die kant. Hy beweeg af nader na die agterkant van die boot, het my  uiteindelik aan die kraag beet, sleep my oor die kant tot binne in die boot. Fred, “duck” en “dive” die verwoede branders wat my wil terughê in die see. Ons kronkel kruis en dwars om nie omgedop te word nie. Dan kry Fred n groot brander, hy bly net agter die kruin, die enjins kerm, ons beur tot in die rivier. Alles is ewe skielik kalm.

Ek staan op sand en wil aanmekaar agtertoe val, darom beur ek vorentoe, dan val ek nie. Iemand gryp my vas, dok Dempers wil my ondersoek, maar hy kan nie as ek aanhou loop nie. Ek braak seewater uit, my keel brand, my longe brand, my hart klop teen my ribbes, my liggaam bewe. ek is half blind.  Ek leef.

Ja, ek leef tot vandag toe, hoekom weet ek nie. Fred en Bob is reeds daar waar net groot visse boer.

Saluut Fred en Bob, vriende in nood.  En jy klein parabat ,waar jy ookal is vandag, die Outop onthou en ek dra jou merk hier op my blad.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Daar is n spook in die boks.

Oktober 18, 2009 in Sonder kategorie

Wanneer n man die toppunt vann sy beroep bereik het staan hy bekend as n senior vennoot.By sy werkplek, by die huis en in die gemeenskap is hy nou n ge-agte man wat respek afdwing. Hul geaardheid verander ook soms na ietwat strenger, beginselvaster, n waardige man wat hom nie met nonsens ophou en ook nie nonsens vat nie. Ek het twee sulke gewaardeerde vriende; die een n ouditeur en die een n prokureur, senior vennote. Toe kry ons drie met iets heeltemaal benede ons waardigheid te doen; met spoke. Ja, spookagtige dinge, man. Die ding het so geloop.

Die ouditeur het sy eerste vrou verloor weens siekte, tragies gewees man, was kanker. Groot begrafnis gewees en dit was die eerste keer dat ek my vriend sien huil het. Sy was n pragtige, liedevolle mens gewees. Vyf jaar later ontmoet hy net so n mooi en goeie  vrou, n weduwee. Haar man het aan n hartaanval gesterf. Hulle trou. Die ouditeur het sy eerste vrou stigtelik in n begraafplaas begrawe. Die tweede vrou dra die assies van haar oorlede man in n boksie saam met haar. My vriend gril vir die boks in die huis en sy moet dit in die motorhuis bêre, in n trommel. Hy is n baie streng man.

Ons kom gereeld bymekaar, ag so met rugby, by die skaapkopgilde en so aan. Daar vertel hy ons dat die nuwe vrou n juweel is, hy is na twee jaar byna net so lief vir haar as vir die eerste vrou. Hy kom goed met haar kinders, wat al groot is, oor die weg en sy eie kinders hou ook baie van haar. Sy gee glad nie om as hy partykeer met haar gesels en vertel van sy lewe met die eerste vrou nie, dan vertel sy soms van haar goeie lewe saam met haar eerste man. Soms haal sy die oorlede man se boksie as uit die trommel, maak die boksie skoon terwyl sy daar buite in die sonnetjie op die stoep sit. Sy weet sy mag nie die ding in die huis vat nie. Nou sê my ou vriend, hy het besluit dat sy maar die boks in die huis kan plaas, daar in die kas van die sonkamer. Sy is vreeslik dankbaar en hy voel dis darem beter as daar tussen die spinnekoppe en goeters in die garage. Sy gaan partykeer saam met hom en sy kinders op die eerste vrou se verjaarsdag na haar graf om vars blomme, wat sy self gekoop het, daar te plaas. Sy is n goeie vrou vir hom.

Net n paar dae later bel hy, ons drie moet bymekaar kom. Ons doen dit, hy lyk vir my anders, so asof hy effens van spoor af is.

“Kyk, julle ken my”, sê hy afgemete,” ek is nie n kakprater nie………. maar.”

Hy vat nou eers n sluk van die whiskey en soda.

” Die dag toe ek vir haar sê sy kan  haar man se as inbring huis toe, toe het sy gehuil. Ek het nogal aardig gevoel daaroor, het nie besef dit beteken so baie vir haar nie”.

” Die volgende oggend vroeg toe ek opstaan, koffie maak en die skuifdeur oop maak om vars lug in te laat, toe…… Ag, bliksem tog, ek weet julle gaan vir my lag……… Toe vlieg n spierwit “fantail” duif van my buurman die kamer in en kom sit op my skouer.”

Die prokureur: ” My fok, wat maak hy, sit hy net daar?”

Ek: ” Ding was seker siek, man,”

Ouditeur: ” Hy sit doodstil op my skouer, ek stap uit, amper tot by die swembad, toe vlieg hy eers weg.”

Ons sit in doodse stilte. Ons drie weet dat ek soms kan lieg, die prokureur kan soms n ding verdraai, maar die ouditeur, oor al die jare het hy nooit gelieg nie.

Prokureur: ” Het jy haar al vertel van die duif?”

Ouditeur: ” Nee man, ek kan nie. Alle vroumense glo mos aan spoke, nee o hêl, ek kan nie.”

My gedagte is dat die arme man se gees so dankbaar was om weg te kom daar van die knopiespinnekoppe en snuiwende muise, dat hy in die wit duif ingevaar het net om gou vir my vriend te kom dankie sê. Maar ek kan dit nie in hierdie geselskap sê nie. Ek dink maar daaraan.

n Maand of twee na hierdie voorval, toe gaan staan en doen die verdomde stoutgat prokureur dit met sy eie vrou oor sy skoonma se boksie in die motorhuis. Hy bel  ons uitasem, ons moet bymekaar kom.

Prokureur: ” My vrou kon dit nie glo nie, sy pamperlang die boksie en dit staan in die vertoonkas van ons TV kamer. Ek was vroeg vanoggend daar. Daar fladder n mossie rond, hy land op my bors en kruip onder my japon se kraag in. Al die deure en vensters was nog toe! Gooi, gooi n dubbel. Die donnerse spoke is in die bokse in ons huise.”

N/S  Ek het natuurlik gelieg oor die name en beroepe van my vrinne.

Profile photo of ou-top

by ou-top

My blinde hond en die engelse generaal.

Oktober 3, 2009 in Sonder kategorie

Smoekie is blind gebore maar as die koerantseun om vyf uur die oggend die opgerolde Volksblad oor die devilsfork gooi, dan blaf hy my wakker. Ja, hy slaap binne in die huis en ons gaan vroegoggend saam die koerant haal. Lê ek vanoggend so in die bed en lees terwyl my engelse vrou hier langs my nog vas lê en slaap. n Wakker joernalis het ou geskiedenis gaan opgrawe oor ene generaal Lord Milner wat destyds tydens die Boere-oorlog sulke wreedaardige dinge teenoor die stomme boere, hul vrouens en kinders gepleeg het. Praat nie eers van die duisende pragtige ou plaashuise wat hy laat afbrand het nie.

Toe kom ek by die paragraaf waaroor ek hier wil skryf; Hoe het hierdie wreedaard toe self aan sy einde gekom? Twintig jaar na die oorlog besoek hy wragtig weer ons land om soos n roofdier te kom snuiwe aan die ou karkasse van sy prooi. Daar byt n muskiet hom toe iewers daar in die Laeveld. Hy word siek en vier maande daarna sterf hy in Engeland. Dit het ek nooit geweet nie, my arme oorlede Pa ook nie. Ook nie my oulike engelse vroutjie hier langs my nie.

Ek spring sommer regop in die bed. ” Lekker, jou ou bliksem!! “, skreeu ek kliphard. Die blinde hond kan hoor ek is opgewonde en spring nou sommer bo-op ons bed, ongelukkig doen hy dit aan vroutjie se kant. Sy het half wakker geword toe ek so gepraat het van die generaal, maar sy word  eers mooi wakker toe Smoekie bo- op haar duik. Sy skrik vreeslik, so erg as wat n vrou kan skrik in hierdie misdadige land van ons.

” Los ons uit, skiet Outop, skiet hulle”, gil sy verward en skop die blinde hond dat hy doer teen die hangkas se deur vasslaan.

Ek bring haar tot bedaring. Ek probeer verduidelik van generaal Lord Milner, maar sy verstaan nie mooi nie. Al wat sy uit kan kry is:

“Ek het gehoor hoe vloek jy op hulle,  toe gryp hulle my vas. O, dit was n aaklige nagmerrie! Gaan maak vir ons tee, assebief.”

As ek en die blinde hond wegstap kombuis toe hoor ek hoe sy mompel, ” Die Vader moet ons asseblief spaar, ons moet hou tot laatlammetjie eers klaar geswot het daar in die Kaap. O, dit was n verskriklike droom”.

Ag wat, ek sal haar maar later vertel hoe moeder Afrika wraak geneem het oor die pleeg van bloeddorstige wandade teenoor sy kinders.