Jy blaai in die argief vir 2009 Februarie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Net dankie sê.

Februarie 4, 2009 in Sonder kategorie

Wil net gou kom dankie sê vir almal wat gister so blitsig kom groet het. Waar kom julle almal so vinning vandaan? Ek dog julle het my na drie weke innie Kaap lankal vergeet. Laatlam word nou ingesout daar by Ikeys, ek wonder of sy dit hou daar. Geen antwoord op die selfoon vandag nie. Ek moet ophou worry, die kind is groot.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Kaap toe en terug.

Februarie 3, 2009 in Sonder kategorie

Op 29 Desember 2008 maak ek die Volksblad oop en lees daar Laatlammetjie het vyf onderskeidings in matriek behaal. Genugtig! Waar kry sy al die breinselle vandaan, ek en my vrou is dan maar “average”? Slaan seker terug na een of ander slim voorvader van ons.

Baie trots sukkel ons toe vroeg in die nuwe jaar met n dieselbakkie en treiler vol meubelstukke van Bloemfontein af Kaap toe om n woonstel vir haar en haar maters te gaan kry. Laatlam wil gaan swot, sy wil n filmmaker word van animasie teken prente. Goeters soos Lion King en Lord of The Ring. Volksvreemd vir my, maar n man maak maar of jy saamstem, liefde oorkom alles.

Nou wil ek darem eers sê, die Kaap is daar vanaf  die Oranjerivier tot in Worcester byna net een stuk aarde van gebroke klip en bossies. seker ses honderd kilometer wyd. Die ergste is daar tussen Laingsburg en Worcester, iewers daar n bordjie gesien wat sê ” Moordenaars Karoo”. Dit sal ek maklik glo. Veral as n man teen 80 kilometer per uur in n dieselbakkie deur daardie godsverlate landskap   aankruie.

Die woonstel is klein en duur, twee keer die prys per maand as in Bloemfontein. Alles daar is duurder, behalwe melk, die is goedkoper as hier. En die wind, genade tog, die wind. Almal loop asof hulle teen n steilte uitloop, neus amper op die grond soos hulle teen die wind beur. n Man sukkel om jou kar se deur oop te maak. Ek begin dink ou Jan van Riebeeck is daar ten strande uitgewaai deur die wind, hy het nie uit eie keuse daar geland nie. Maar die berg, mensig dis mooi, met die wolke wat so oorhang en dan verdwyn.

Na n week of twee se slaap op n opblaasmatras en elke dag se wind, is n man moeg en jy verlang na die Vrystaat. Die universiteit en die gronde daar is pragtig, minste wind in Kaapstad ook in daardie kolletjie.

Die groetery ontaard in n tranedal. So word n kind dan groot en onafhanklik en so word n ouer dan weer bang en alleen soos n kind.

Die huis voel verskriklik leeg. Ek betrap myself dikwels in haar kamer, hier staan haar perd se saal op sy blok, daar hang haar goedjies teen die muur, n hokkiestok steek onder die bed uit.

Die bediende is al weg en my vrou kuier hier langsaan by n vriendin. Ek is bly ek is alleen hier by die huis, want ek is op dae soos vandag n regte klein sissie.