Wat in wilde woeste tyd was Desember hier in Bloem, kon nie blog, kon ook net hier en daar lees, as die computor werk. Almal is nou weg, almal is hier verby, almal wat dit nie gemaak het nie is begrawe,{vier van hulle} . Vroutjie en ek is nou al twee dae alleen en ek kon uiteindelik n outjie kry wat die computor kon fix. Tussenin voer ek vriende en familie se honde, ape, pappegaaie, katte en kapokkies.
Nee, dit gaan rof hier.
Die een ou wat hier oorgeslaap het, bring netjies verpakte koedoe braaiwors daar uit Noord Transvaal vir my as geskenk. Dis te veel, ek deel uit aan die wat ek weet sit alleen en het iets nodig. So land ek by my goeie ou vriend, sê maar sy naam is Hans. Hy het eers n goeie winkel hier gehad, was jare gelede in n skietgeveg betrokke tydens n roof in sy winkel. Hans was gekwes, maar hy het loshande gewen. Daar was twee lyke in sy winkel. Maar die ding het hom verander, n jaar later was sy vrou en kinders weg, die winkel verkoop. Die hoofhuis op die plot het hy verhuur en hyself het met sy eie hande n eenvoudige arbeidershuisie van blokstene in die hoek van die stuk grond gebou. Daar leef hy met sy perd, sy brak, sy Venda hoenders, sy ganse, sy jaggewere en sy gedagtes. Hy onttrek homself, vereensaam, praat naderhand met homself, trek al snaakser aan en binne drie jaar staan hy bekend as ” daai weird ou Oom wat soos n kluisenaar daar bly”.
Ek vat gister vir hom twee pakke koedoewors. Buite staan sy ou Isuzu bakkie, vaal en grys, uitgebrand. Jy kan sien die ding het net daar waar hy staan, uitgebrand. Hy sit buite onder n kamferboom op n draadstoel met n groot blou beker koffie in sy hand. Voor hom op die gras lê daar die dooie liggame van n pragtige Alsation en n spekvet Rodweiler. Elkeen het n koëlgat deur die blad. Langs die honde lê twee Vendahoenders en drie ganse. Hulle is verskeur deur die honde, vertel hy.
” Het hom al n week terug gaan sê sy honde kom pla my in die nag. Wil nie luister nie, nou fok hy op vakansie en sy dronkgat buurman kyk nie na die honde nie. Toe kom hulle eenuur laasnag, ek vat die spotlight en clip dit aan die bakkie se battery, hulle kou nog so daar onder die bloekoms, toe klap ek hulle met die Hornet.”
“Maar die bakkie, Hans?”, wil ek weet.
” In my haastigheid het ek die ding kop eerste op die sitplek neergesit. Toe gaan kyk ek eers of die honde dood is. Toe maak ek my dooie diere bymekaar, toe sleep ek die honde hiernatoe. Toe vat ek n bier en vergeet van die spotlight, hy skyn mos nie, hy lê gesig ondertoe op die sitplek. Twee miljoen kerse sterk.”
“Met die tweede bier hoor ek iets soos popcorn wat skiet. Ek stap met die geweer om die huis om te gaan kyk, miskien is dit nog n hond. Dis net rook, die bakkie brand, die hele binnekant is aan die brand. Ek neuk die geweer neer en hol vir die hosepipe. Die hosepipe is te kort.”
Hy sit doodstil en staar na my, vat n sluk koffie en kyk dan doer na die horison.
” Toe start die Isuzu vanself”, sê hy.
” Ag nee stront Hans, man”, sê ek.
Hy frons ek kyk na my.
“Ek sê jou, ek dink die vuur het van die drade daar by die ignition gesmelt, n short gemaak of iets. Ek weet nie. Hy was in eerste rat en hy start, hy kom ruk, ruk aangery tot waar ek staan. Toe spuit ek water, toe vrek hy. Die enjin mekaar niks, net nat. Ek het vir n lang tyd gespuit”.
Ons sit in stilte.
Dan sê ou Hans. ” Dis Krismis, hierdie soort van goed gebeur net oor Krismis. Dis Satan se manier, hy haat Krismis, hy traai alles, maar hy kom nie heeltemaal reg nie”.
Binne in sy huis is daar n radio aan, daar word Kersliedere gesing.
Onlangse kommentare